Kringe in 'n bos. Dalene Matthee
nou sommer daar.”
“Die Kaffirskoppers sal nie met hulle laat skoor van hom nie … Toe, Saul! wat staan jy soos ’n stoets byl en sukkel met daardie onderbos? Kap! En gaat links by daardie upright verby anders sleep ons ons boontoe vas … Gert Willemse sê hierdie Goewermentsman gaat lol. Hy’s glo moeilik. Hy praat van alles bewaar vir die agtergeslagte of iets en hy wil glo al die grootvoete ook laat tel.”
“Klink my na ’n mal man.”
Kort voor halfdag is Saul terug skerm toe om die patats in die vuur te kry en die katotjies oor te hang vir etenstyd se koffie. En dit was net nadat hulle klaar geëet het dat die twee skote Keurkop se kant toe klap.
“Dis raak,” het oom Anneries gelag, “nog een minder vir … Hoe’s die man se naam, Joram? Harrington?”
“Harison.”
“Nog een minder vir Harison om te tel!”
“Ja,” het sy pa beaam. “Die boswagters kan liewers loop kyk of daai skoot onder ’n liksens afgetrek is en of dit tandesteel se skiet is.”
“Hulle sê die base van die skippe by die dorp betaal goed vir die tande,” sê oom Anneries. “Hulle neem dit glo saam Engeland toe vir messegoed se hewwe. Kan jy dit nou glo!”
“Net Joram Barnard wat nie daardie klas geluk kry nie. Hy het nie geld vir koeëls en kruit en skietliksens nie.”
“Aagneveryoumine, Joram,” het oom Anneries met ’n skelm laggie getroos. “Een van die dae trek ons vir ons een plat op jou houtliksens. Wiljam gaat mos nou self koeëls maak. Ons kry by hom en dan trek ons sommer vir Oupoot plat … Ek wonder wat hulle nogal betaal vir so ’n tand?”
Ná halfdag was die bokkie in die wip. En hy het hom self by die skerm gaan afslag; bietjie geskeur by die lieste maar glad nie sleg nie. Hy was nie net bly oor die vleis omdat dit sy verjaardag was nie, maar ook vir sy pa en Jozef en oom Anneries se part. Sy pa het altyd gesê daar is twee dinge wat ’n moeë man weer man maak: ’n stukkie vleis en sy pyp.
En ’n bloubokkiekop gooi jy saam met die binnegoed weg, want sy gal sit in sy kop. Jy eet nie sy kop nie. Sommer van nuuskierigheid vat hy die handbyltjie en kloof die koppie middeldeur om te kyk hoe die gal nou eintlik in die kop sit. Maar dit lyk nes enige ander bok se kop, hy kry nêrens ’n galsakkie nie! Hy het tussen die binnegoed gaan krap en die gal op die gewone plek gekry … Hy is weer terug na die koppie toe en het met sy vingers in die oopgevlekte harspan gaan krap, geproe of dit bitter smaak, maar niks. Hoe is dit dan moontlik? Die gal sit dan nie in sy kop nie? Dit was al of ’n onrus deur hom trek.
Oorkant by Keurkop het nog ’n skoot geklap. Hy is weer uit boontoe en het niks gesê van die bloubokkie nie.
“En jy sê ons niks?” lag Jozef die aand toe die vleis oor die kole hang. “Pleks jy lankal verjaar het, man!”
Hy het gewag tot sy pa-hulle rook. “Sit sy gal regtig in sy kop?”
“Ek het gesien lat die honde hom jaag totlat hy blind is en gaat staan vir die vat,” sê oom Anneries. “Hulle jaag hom totlat die gal in sy oë in loop.”
“Het oom die gal in sy kop gesién?”
“Nie lat ek kan onthou nie … Gee daar ’n stukkie vuur aan, my pyp is dood.”
Hy het ’n stompie vuur uitgesoek en aangegee en weer gevra: “Het oom dit gesién?”
“Wat gesien?”
“Die gal in sy kop. Ek het gekyk en daar is nie gal in sy kop nie, oom.”
“Kry end met jou gekef, Saul!” het sy pa hom stilgemaak.
En die onrus was weer in hom: Die grootmense het óf opsetlik vir hom gelieg óf hulle het self die lieg geglo.
’n Mens begin so rondom veertien dink. Vóór dit dink iets anders vir jou. Miskien dieselfde iets wat vir die diere dink? Miskien dink jy voor jy veertien is sonder dink. Hy weet nie. Hy weet net dat die ander dink op ’n dag in jou begin. Van binne af. Ook nie altyd nie. Soms dink jy jouself in ’n bosbraam vas omdat jy nie na die dink wat van binne af kom, luister nie. Nie wil luister nie. Soos wat hy op hierdie oomblik nie wil luister na iets wat vir hom sê dat Oupoot nie Kwê-se-Draai toe is nie! Dat by besig is om tyd te mors.
Sou hy vandag as vyand in hierdie bos geloop het as hy nie daardie dag die bloubokkie se kop oopgekloof het nie? Sy soektog na Oupoot is besig om dinge in hóm oop te kloof wat hy nie oopgekloof wou hê nie! As hy nie daardie dag die bloubokkie se gal gesoek het nie, sou hy vandag Jozef se hand kon vat en vir hom sê: Ek is jammer oor jou seun? As hy terugdink, het die eerste weerbarstigheid dáárdie dag in hom losgekom …
Jozef.
Jozef met die goeie hart. Jozef wat eenmaal die rieme van sy skouers afgehaal het.
Die derde oggend ná sy veertiende verjaardag het hulle met die uitsleep van die waenhout begin. As sy pa-hulle gekap het waar dit te skuins was om die osse af te bring, moes hulle self die hout stuk vir stuk uitsleep tot waar die osse aangehaak kon word. Afgesien van die kalander vir die buikplanke, was die hout daardie keer nie te swaar nie. Sy pa het besluit dat hulle eerste die kalander sou uitsleep tot bo in die sleeppad. In die sleeppad word al die hout dan eers hoopgesleep en van voor af kantig gewerk en in die regte lengtes gesaag voordat dit op die slee gelaai en met die osse tot by die wa gesleep word.
Self uitsleep is eintlik maar net soos uitsleep met osse; al verskil is dat hulle dan die osse is. Eers woel jy die rieme goed om die blok vas en dan, nes met osse, span jy die sterkstes agter teen die blok in: sy pa en oom Anneries. Tussen hulle deur kom dan twee ander rieme tot voor by hom en Jozef, en eers moes hy Jozef se riem ook oor sy skouer vat. Jozef moes agter met die handspar lig sodat die blok kopkant kon opswaai en agter omswaai.
Gewoonlik het ou Maska kom help met die uitsleep as dit te skuins was, maar Maska was by oom Gert Oog aan die help en gevolglik moes Saul in sy plek die rieme vat. Hy het nogal uitgesien daarna.
“Is jy reg vir ons, Jozef?” het sy pa geskree toe hulle ingespan was.
“Ja, Pa.”
“Hiep!” het sy pa die bevel gegee en almal lê gelyk vorentoe. “Kry voete! Trek!”
Die rieme het oor sy skouers gespan en om sy hande styf getrek.
“Gelyk, manne!”
Die blok het geroer; die vastrap was sleg, maar hy het geroer.
“Lig sy kop, Jozef! Swaai sy gat!” Sy pa het die woorde ritmies afgemeet en soos rympies laat klink.
Die blok het weer ’n ent gekom. Saul kon die krag waarmee sy pa en oom Anneries agter hom trek, voel en het self nog harder vorentoe gebeur. Dit het gevoel of sy bloed in sy kop saamdam en agter hulle het daar weer ’n skoot in Keurkop se bos weerklink.
“Gelyk nou! Weer so! Nog ’n slag!”
Sy pa het altyd gesê hout-uitsleep is nie menswerk nie …
“Swaai sy gat, Jozef! Laat hom kom!”
Die sagte bosvloer het onder hul voete gesak.
“Weer so! Hiep! Hou hom! Bring hom!”
Die blok het mooi gekom.
“Kyk voor jou, Saul!” het sy pa vir hom geskree toe hy wou omkyk. “Sak! Gelyk!”
Die rieme het in sy skouervleis ingesny, sy een voet het gegly en hom op sy knieë laat beland.
“Op, Saul! Hou! Kry voete en hou hulle onder jou! Kom vat hier voor, Jozef!”
Die blok het nog steeds gekom. Jozef het sy riem kom vat en langs Saul ingeval.
“Gelyk! Wys hom, manne! Wys hom! Nog ’n slag. Vat hom uit!”
Langs hom het Jozef se asem hard en egalig geblaas; met sy linkerhand het hy nog die sware handspar ook saamgesleep. Hy het sy broer se sweet geruik en die spiere op sy arms sien bult.
“Hou