Toorbos. Dalene Matthee

Toorbos - Dalene Matthee


Скачать книгу
nadat sy die motte gevang het nie, hoop maar net altyd hulle versmoor gou. Soms leef hulle egter nog as mister Ferndale hulle uithaal. Dan druk hy hulle vinnig met sy voorvinger en duim agter die kop dood en sê sy in haar hart ekskuus vir die motte. Alles in die bos en op die aarde het ’n prys. ’n Pond vir ’n mot. Drie motte, drie pond. Soms vang sy meer. Hang net af. En amper elke keer sê mister Ferndale weer dieselfde ou storie: Jy’t niemand van die motte gesê nie, het jy? Nee. Belowe jy sal nooit sê nie. Belowe.

      Die motte is ’n geheim. Hy verkoop hulle oorsee en party stuur hy vir museums. Sê hy. Soms torring hy aan haar om meer te vang, dan sê sy nee, sy’t ’n ooreenkoms met die bome waar sy hulle vang: nie te veel op ’n slag nie. Dan lag hy en torring dat sy hom moet gaan wys waar sy hulle kry. Nee. Is sy séker hulle kom net tussen Februarie en April uit die bas? Ja.

      Spookmot. Swift moth. Leto venus. Sy ken al die mot se name. Mister Fourcade het dit vir haar geleer. Slimste man van die bos, al woon hy nie meer in die bos nie maar iewers anderkant Plettenbergbaai. ’n Paar keer in die jaar kom hy plante versamel in Diepwallebos of agter by Gouna; sit hulle in sy plantkissies, skryf hulle name in sy boek. Dan spoeg van die houtkappers sywaarts en sê: Fourcade? Dis mos die blikskottel wat destyds vir die goewerment die bos in blokke kom uitmeet het! Plaas die olifante hom vrek getrap het!

      2

      Mensland.

      Waar sy met die motte by juffrou Claassens, die nuwe kerkverpleegster, se kamers herberg kry. Soos altyd. Juffrou Crouse, die vorige verpleegster, het op ’n dag nie verder kans gesien om onder die houtkapper-gesinne te werk nie. “Dit neem my ses maande en langer om by die ergste gevalle uit te kom, ek loop my voete op. En vir wat?” Toe pak sy haar goed en gaan klim op die groot trein. Weg.

      Amelia Claassens is nog moedig.

      “Dis goed om jou te sien, Karoliena. Jy weet nie hoeveel nagte ek my troos aan die gedagte dat jy ’n ogie hou oor die mense daar bo in julle deel van die bos nie.”

      “Moenie te gerus raak nie, daar’s menige nag wat ek my voorneem om nooit weer ’n voet op ’n bos-eiland te sit nie. Daar’s nou nog tweehonderd ses-en-veertig houtkappers oor, ou Jan Tait is laas week dood. Kiertsregop langs ’n kershout gesit en sy asem uitgeblaas, hulle sê die byl was nog in sy hand. Hy en die twee oudste seuns het dwarslêers duskant Kalanderdraai gekap.”

      “Hoe gaan dit op Swart-eiland by Marta Barnard se huis?”

      “Ellendig. Sy het my weggejaag, ek het gedreig om daardie klomp maergat katte te vang en in ’n sak te stop en in die rivier te gaan gooi.”

      “Mevrou Stopforth wat op Suurvlakte skoolhou, sê al meer kinders kom bedags sonder kos skool toe. Nie eers droë brood of patat nie. Sy gee waar sy kan, maar sy het nie altyd om te gee nie.”

      “Ja, die winkel wil nie meer skuld gee nie. Moet vir party tot die houtliksense se geld ook voorskiet.”

      “Daar’s kinders by mevrou Stopforth in die skool wat van so ver as Millwood af kom. Dis ses myl heen en weer se stap, en dis amper al weer winter. Hulle kleding is so karig. As dit koud en nat is, kom hulle verkluim by die skool aan.”

      “Is daar nie iemand wat kan brei nie?”

      “Waar moet hulle wol kry? Wat het van die Zeelie-dogter op Veldmanspad geword?”

      “In huisdiens hier op die dorp. Die byverdienste help. Toon Barnard se oudste seun – die een wat uitsleper in Gouna-bos was – is weg Port Elizabeth toe. Hy werk in ’n fabriek wat motorbande maak.”

      “Van die ongeregistreerdes kry darem werk. Twee meisies van Suurvlakte is ook Port Elizabeth toe, na ’n klerefabriek. Jy sal hulle ken: twee van die Tait-susters. Dominee het baie moeite gedoen om vir hulle die werk te kry.” Amelia laat sak haar kop tussen haar hande. “Ek weet nie wat gaan word nie, Karoliena. Armsorg het net nie die nodige fondse om oral te help nie. Daar kom nie lig nie.”

      “Dalk is lig op pad, ek hoor daar word rondgesnuffel in die bos agter die armblankes aan.”

      “Ja, dominee is ’n hele span verteenwoordigers te wagte. Hy sal van hulle na die blyplekke in die bos moet vergesel. Hy sê dit gaan nie maklik wees nie, hulle tyd in die bos gaan taamlik beperk wees.”

      “Mensliewers kom jaag al jare deur die bos, Amelia. Kom met ruim harte, hol haasvoet weg van skrik en loop sê dis die olifante wat hulle gejaag het.”

      “Haai, sies, Karoliena, jy spot – maar dit is tog goed om iemand ’n slag te hoor lag.”

      “Ek lag lankal.” Sy sien die skok oor die goeie vrou se gesig kom en gaan luiters voort. “Ampie Stroebel en sy neef, Jakobus, is week voor laas saam met die groot trein weg na goewermentsgrond iewers bo in die land, Magaliesberg. Word glo van ’n kamer en ’n plotjie grond voorsien waarop hulle moet grondbone plant en oes.”

      “Die goewerment doen wat hy kan, Karoliena!”

      “Ja, met die een hand broei die goewerment al die onheil uit, met die ander hand paai hy waar hy nie anders kan nie.”

      “Hoe kan jy so iets sê?” vra Amelia geskok.

      “Mister Fourcade sê so. Die land moet hout hê, baie hout. Hout groei in die bos, iemand moet dit kap en uitsleep. Harde werk. Vir wie? Die houtkappers. Nie die houtkopers nie, hulle is te ryk en vernaam. En hoe bly die houtkappers aan die kap? Die kopers hou hulle arm. Goewerment traak nie regtig nie, hy wil net die hout hê. Paai so dan en wan die houtkapper met ’n ekstra boom om te kap, maar in werklikheid is die goewerment lankal moeg van hulle gekla. Dis net dat die goewerment nog nie ’n plan kon bedink om die klompie wat oor is uit die bos te kry nie. Of ’n manier bedink kry om self die hout te laat kap nie. Staan jare lank al nie meer kapliksens toe aan nuwe kappers nie. Maar die oues wil nie vinnig genoeg dood nie, hulle is te taai.”

      “Karoliena! Jy sê gevaarlike dinge. Dominee sê die kommuniste is die adder wat besig is om onder ons in te seil.”

      “Dominee weet nie waarvan hy praat nie.”

      “Dis g’n wonder mense kla jy maak moeilikheid in die bos nie.”

      “Dis nie waar nie, dis my mond wat nie wil toe bly vandat my oë oopgegaan het nie.”

      “Ek het Johannes gister by die winkel gekry.”

      Sy’t geweet Amelia Claassens wag kans af om by Johannes Stander uit te kom. ’n Klip te gooi. “Hoe gaan dit met hom?”

      “Hoe dink jy gaan dit met ’n man wie se vrou bly wegloop? Hy’s ’n goeie man, Karoliena. Ek dink nie jou oë het oopgegaan nie, hulle is eerder met blindheid geslaan!”

      “Dis tyd dat jy weer by ou Elmina Vlok op Barnardseiland ’n draai maak en gaan kyk hoe eenvoudig ’n wonderwerk soms is. Sy hou nou selfs die huis beter aan die kant.”

      “Moenie die onderwerp verander nie.”

      “Daar is nie ’n onderwerp nie. Kom ons gaan slaap, ek moet vroeg op.”

      “Hoe oorleef jy in die bos, Karoliena? Mense praat.”

      Toe die houttreintjie die volgende môre uit die stasie trek, is daar sewe vreemdes in die coach. En sy. Ook Anna van Rooyen se kombers, ’n pak wol en breipenne, ’n sakkie tabak vir ou Bothatjie en £1.8s.6d in haar sak.

      Die vreemdes in die coach is woelig soos losgelate kinders: een oomblik hang hulle deur die venstergate aan die meerkant, dan weer aan die boskant. Vra die gewone vrae wat vreemdes deur die jare vra: Wanneer kom ons by die koningskind, George Rex, se graf? Hulle sê dis net buite die dorp.

      Nog ’n entjie.

      Wanneer kom ons in die bos?

      Die trein moet eers bo by Bracken Hill goed aflaai.

      Is dit waar dat die trein soms ’n olifant doodtrap?

      Nee.

      Sal ons ’n olifant sien?

      Nee.


Скачать книгу