Toorbos. Dalene Matthee
Miskien.
Is dit waar dat hulle wilde mense is?
Nee.
Soms gesels sy met die vreemdes, soms gee sy net die antwoorde.
Die meeste pret was om in die vakansies, toe sy nog skoolgegaan het, aspris die treintjie by Diepwalle se stasie te gaan inwag. Met haar oudste rok aan, hare ongevleg sodat sy wilder kon lyk, kaalvoet. Trek haar gesig op die vriendelikste. Help met die piekniekmandjies, verseker hulle dat die trein ten minste twee uur gaan vertoef om die houttrokke aangehaak te kry. Engels en Afrikaans deurmekaar. Ja, daar is plek in die bos waar hulle sal kan piekniek maak. Is dit gevaarlik? Baie gevaarlik. Soms het van die vreemdes dan verskrik teruggespring in die trein en die hele twee uur daar bly sit. Die beste kere was as hulle haar gevra het of sy saam met hulle die bos sal in en wys waar hulle in veiligheid kan gaan piekniek maak.
Dan het sy haar lyf krom gemaak en sulke lang stadige treë gegee om hulle met die voetpad langs die helse ruigte in te neem. Sy het gedurig bly rondkyk soos een wat gevaar te wagte was, en omgekyk om vas te stel hoe bang die gesigte agter haar al is. Sy het elke oomblik van die speletjie geniet. Lekkerste was die dae as ’n loerie naby hulle met sy harde roep begin kok-kok-kok en hulle ’n groot skrik ingejaag het.
“Wat maak so?”
“Toemaar, dis net ’n loerie, hy sal niks maak nie.” Geluk was as ’n groenlyfloerie rooivlerk van boom tot boom gesweef het sodat hulle hom boonop kon sien ook, en oopmond van verwondering vasgesteek het.
Dan loop sy met hulle dieper die bos in tot by die ou groot stinkhoutboom waar die twee stompe lê waarop hulle kon sit en die piekniekgoed uitpak. Die lekkerste snytjies brood met botter en konfyt op. Gekookte eiers. Frikkadelle, stukkies tamatie. Partykeer sulke lekker dik skywe vleis of ’n gebraaide hoender. Koekbroodjies. En van alles gee hulle haar ook te ete. ’n Fees. Vra haar uit na die bos, die olifante, die bosmense. Na haarself. How old are you, dear girl? Twelve, antie. Luister geskok hoe sy hulle belieg en sê sy is een van twaalf kinders, die enetjie gebreklik. Nie dat dit regtig lieg was nie, sy’t sommer van die bosmense geleen wat oral in die ooptes in die bos gebly het om voor te stoot.
“Waarvan leef julle arme mense?”
“Meesal van brood en patats.” Dan gee hulle haar al die orige kos. En dikwels nog ’n sjieling of twee ook.
Sy sê nie dat elke houtkapper se geluk vir ’n vleiskossie ’n bosbok in gister se strik is nie. Of ’n bloubokkie, of ’n wildevark en van die groentetuine vir huiskos nie.
Maar daar was ook dae wat sy banger was as die vreemdes. Soos die dag toe die twee Engeland-vroue en hulle mans – ewe ’n bediende ook by om die witgestyfde tafeldoek oop te gooi en te dek – “aansit” om te eet. Vra nie háár, Karoliena, om saam te eet nie. Pik met silwer vurkies en opkrul-pinkies aan die heerlikhede asof dit niks is nie. Sit in bevreemding oor die bos; verkyk hulle aan die oranje swamme wat uit die dooihoute groei, ’n halfmaan rooiswam uit ’n boomstam, bruin en room streepswamme so groot soos borde aan die koeltekant van die bome; paddastoele op dun beentjies wat opstaan uit die blarevloer, die varings – sê dis magic, ’n fairyland …
Spatseltjies son val oral deur die blaredak oor hulle lywe, oor die kos, oor die vroue se blink boste hare in bondels op hulle koppe vasgetoor en laat haar wonder hoe dit moontlik is dat ’n mens só mooi kan wees? Die fynste kantjieskraag-bloesies, pêrels om die halse …
Toe sien sy die groot swart kol agter hulle in die skemer ruigtes en haar hart begin te doef-doef. Olifant. Roerloos. Nee, twee olifante, want daar was nog ’n donkerder kol na die suidekant toe. Net die week tevore het ouvrou Perkes by die stasiewinkeltjie haar gewaarsku: “Karoliena, jy moenie die vreemdes so diep die bos in vat nie, dis gevaarlik! Die dikbene gaan hulle trap, hulle gaan verdwaal.” Sy trek skewebek agter die ouvrou se rug en sê: “Aag, antie is net jaloers omdat antie te bang is om hulle bos-in te vat en nie van die lekkergeite kry nie.”
“Ek het vir jou ma gesê jy’s ’n onmanierlike maaksel!”
Daardie tyd was haar ma al met oom Cornelius Kapp getroud en woon hulle in Langvleibos, aan die oostekant van Diepwalle. Haar ma is te bly oor die vreemdes se kos waarmee sy soms by die huis kom. Vir die sjielings ook. Deel uit aan die ander houtkappers se huismense.
Sy sê vir die Engelanders hulle moet klaar eet, die trein gaan nie vir hulle wag nie. Die een man haal ’n horlosie aan ’n lang goue ketting uit sy sak, hy sê volgens sy berekening is dit nog ’n uur voordat die trein weer vertrek. Toe sis ’n loerie benoud bo hulle in die bome en begin gorrel. Sy skree vir die loerie om die olifante te gaan sê om asseblief nie moeilikheid te maak nie. Die vreemdes lag, hulle vra of sy miskien met die bome gepraat het? Ja, sê sy, die bome sê hulle moet uit die bos, daar’s mis op pad.
Loerie sis, loerie gorrel.
Die Engelanders vra: Wat het daardie vreemde suisgeluid gemaak? Sy sê dis die voël daar bo in die boom, hy sê ook hulle moet padgee. Kan sy voëltaal praat? Ja. Kan al die wilde mense van die bos voëltaal praat? Ja. Veral dáárdie voël se taal.
Die bediende in sy stywe wit pak begin “afdek” – alles terug in die groot rottangmandjie; gee haar nie ’n krummel nie. Net voor hulle op die trein klim, gee die een man haar darem ’n sikspens.
Toe sy by die huis kom, sit oorlede oom Freek van Rooyen se suster by haar ma in die voorvertrek en vee nuwe trane af oor haar broer wat die jaar tevore so doodvermorsel is deur ’n beneukte olifant in Gouna-se-bos.
Sy klim by die tweede laaste stasie van die trein af; ry nie tot bo by Diepwalle nie. Tom Botha is ook op die grond.
“Hoe gaan dit, Karoliena?”
“Goed, mister Botha.”
“Vir wie’s die kombers?”
“Anna van Rooyen.”
“Ek hoor sy staan nie meer uit die bed uit op nie.”
“Nee, haar bene het nou heeltemal ingegee.”
“Ek sê vir mister Kennet ek weet nie wat in hierdie bos gaan word van die mense nie, lyk my dit gaan net al meer agtertoe. Gaan jy saam tot by Diepwalle? Ons moet nog drie trokke haak.”
“Nee, ek moet eers dinge hier op Veldmanspad doen. Anna se kombers gaan oorgooi.”
“As daar net meer goeddoeners soos jy was, Karoliena.”
“Ek is niemand se goeddoener nie, mister Botha. Net my eie.”
Woorde, woorde. Om nie te sê dat sy eintlik wou kortpad vat Kleineiland toe om te gaan hoor wat daar gepraat word nie. Sy moet net eers by Anna van Rooyen aangaan.
Boshuisie van plank en sink op die rand van die bos – soos baie ander boshuisies. Moeg van staan, moeg van leef; met ’n eensaamheid wat soos mos aan hom kleef. Drie hoenders, ’n vark voor die deur, drie snotneuskindertjies, hulle ma wat lusteloos in die voorste vertrek in ’n ou stoel skeefgekantel sit. Anna se skoondogter, Fransina. Skaars dertig. Die man, Martiens, Anna se seun, is iewers in die bos.
“Klop jy nie?” vra die skoondogter nukkerig toe sy die voordeur oopmaak nadat sy die vark uit die pad geskop het.
“Nee. Ek het die kombers gebring.” Grondvloer. Klam. Rofgemaakte katel in die hoek, bondels beddegoed, kleiner bondels in die venstergate gedruk om die lig en die lug buite te hou; ’n tafel, twee stoele, rommelgoed, kitaar aan ’n tou teen die muur. Armoede hang soos ’n slegte reuk in die lug. Sy kyk, maar sy sién nie.
“Ma slaap.”
“Wanneer is hier laas aan die kant gemaak? Wanneer was daardie kooi laas opgemaak?”
“Luister hierso, Karoliena Kapp, moenie in my huis kom bek gooi nie!” Fransina spring uit die stoel uit op, vererg. “As jy iets te sê het, loop sê dit in die spieël vir jouself en loop soek liewerster jou man waar jy hom weggegooi het. Of is ou simpel Bothatjie beter as die ordentlike Johannes Stander?”
“Is dit jy, Liena?” roep