God se pad van vryheid. Engela Linde
was nie werklik ’n koningskind nie (Rig 8:18), wel ’n toonbeeld van plattelandse adel, kalm en sterk. Dit maak hom ’n goeie leier (daar is ’n Afrika-gesegde dat ’n kaptein nooit hardloop nie). Dit neem die grusaamheid van antieke oorlogvoering egter nie weg nie. Gideon ontvang die twee bebloede mensekoppe sonder om ’n oog te knip. Die Efraimiete wat dit bring, is egter woedend: Waarom was hulle nie tot die hoofgeveg opgeroep nie? Hier kom Gideon se natuurlike takt na vore: Hulle het veel meer reggekry as hy; is die trossies nádruiwe nie soeter as die groot trosse van die hoofoes nie? Die Efraimiete se bui sak.
Wie weet, as Gideon die koningskap aanvaar het (Rig 8:22), of hy nie ’n vroeë Dawid sou kon wees nie? Maar elke mens se krag en swakheid lê in homself. Gideon handel onsielkundig met sy seun (dagstukkie 10 Mrt ), en bruusk met die mense van Sukkot wat nie sy leër wil voed nie (Rig 8:7). As hy meer taktvol ook met hulle was, het hy dalk voedsel gekry. Maar, nou ja, ’n soldaat marsjeer op sy maag en honger is ’n swak onderhandelaar.
Ons moet Gideon, ten spyte van sy minder wyse besluite en veral latere afgodsdiens, onthou vir hierdie een groot daad van takt, waaruit veel te leer is. Sê vir ’n moeilike mens hy is moeilik, en jy maak hom net moeiliker. Gee meer as wat hy vra, en jy kom dalk verder met hom (of haar). ’n Nuwe plaaseienaar sê ontevrede aan sy besoekende buurman: “Volgens die landmeterkaart staan jou heining 10 cm in my grond in. Jy moet dit skuif.” “Goed,” kom die antwoord, “maar ek skuif dit sommer 20 cm net om doodseker te maak.” Die nuweling peins en frons, gee dan toe: “Aag, nou ja, dis seker onnodige moeite. Los dit so. Kom, ons drink koffie.”
GEBED: Help ons, Here, om die gawe van takt aan te wend eerder as raas en verwyt. Ons kan soveel beter met mekaar oor die weg kom as ons ’n sagte woord gebruik.
10 Maart Rigters 8:18-27
ONMOONTLIKE EISE AAN ’N BLOTE KIND
Maar die seun het nie ’n vinger verroer nie, want hy was ’n blote kind en hy was bang (Rig 8:20).
’n Beter illustrasie van die chaotiese, leierlose tyd in Israel is kwalik te bedink. Gideon, een van die min ligstrale, is ’n dapper leier, maar sy besluite slinger soos ’n stukkende kompas. Hy bemiddel met groot takt (Rig 8:1-3), maar straf dan weer koelbloedig (Rig 8:16). Hy weier koningskap, maar vat oorlogsbuit om ’n afgod te smee (Rig 8:23-27).
Ná ’n teleurstellende rugbytoetswedstryd sê iemand van die skopper: “Hy het nie net swak geskop nie, hy het ook swak besluite geneem.” Gideon slaag met ’n paar goeie “skoppe”, maar sy haglikste besluit is sekerlik om sy jong seun (moontlik so dertien) aan te sê om die twee moordenaars van sy (Gideon se) broers dood te maak. Inderdaad ’n geval van kinders wat die oorloë van hulle vaders erf. Dan, die verskriklike patos wanneer die seun weier en soos ’n riet bewe, want “hy was ’n blote kind en hy was bang”. Hy was, soos die Nederlanders sê, “stees”, verlam van angs, sodat hy geen lit kon verroer nie. Skynbaar kry selfs die veroordeeldes hom jammer, want hulle daag Gideon uit om hulle self dood te maak.
“Ik ween om bloemen in den knop gebroken,” dig Willem Kloos. Vergewe my, maar ek kry swaar om stil te staan by koerantberigte oor kinders wat mishandel, vermoor, gemolesteer, wees gelaat of weggesmyt word. Dit alles is genoeg om vir ewig aan die voete van die Heiland te wil ween. Die rampspoedige Kinderkruistog van agt eeue gelede was nie die einde van kindermisbruik nie. Al die verlore huilstemmetjies, met dikwels niémand om hulle saak te stel nie. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie …” (Mark 10:14) was stellig nie bedoel as liewe, sagte woordjies soos die geruis van engelevlerkies nie, maar is dalk die strengste en striemendste opdrag wat uit Jesus Christus se mond gekom het.
GEBED: Dankie, Here, vir elke kind op aarde wat teer versorg word, maar strek in genade u Hand uit oor hulle wat swaar laste op klein of jong skouers moet dra.
11 Maart Rigters 11:11-28
DIE KORTSTE EN KRAGTIGSTE BOODSKAP
Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur … (Rig 11:14).
Die Ammoniete is op die oorlogspad, en Jefta stuur ’n oorredende boodskap. Dis helaas lank en ingewikkeld, en die vyandige koning luister nie … of nie enduit nie (Rig 11:28).
Langenhoven se eenbedryf Die ingewikkelde boodskap was op ’n tyd ’n gewilde item op ’n skool- of kampkonsert. My pa stuur my, dogtertjie, eenkeer tydens lusernwerktyd met so ’n veelwoordige boodskap na die buurman oorkant die sandlaagte. Iewers ingeweef was die kern, naamlik dat die oom nog steeds môre my pa moes kom help. In my gesukkel om alles te onthou, laat ek hierdie stukkie uit. Benoud sien ek die volgende môre my pa op die werf rondstaan … tevergeefs wagtende. Ek moet toe herhaal wat ek gesê het. Ek doen dit ewe gehoorsaam, en onthou om vinnig by te voeg: “Maar hy moet nog môre vir Pa kom help.” Ek kan nie onthou of en hoe die saak opgelos is nie … ek het my eenkant gehou.
Jefta se boodskap in die Bybel is ’n hele kolom lank. Die kern is: “Hoekom het jy nie drie honderd jaar vroeër die grond probeer terugvat nie?” Hy sou kon byvoeg: “Kom ons praat.” Maar die oorlog volg onvermydelik. Jefta trek op en doen ’n onverantwoordelike gelofte: As God hom laat wen, sal hy die eerste een wat hom uit sy huis tegemoetkom, offer. Toe dit sy geliefde, enigste dogter is, offer hy haar skynbaar in die vorm van ’n nonnelewe. Goddank dat hy sy eensydige, heidense brandoffer-“gelofte” bietjie aangepas het.
Kort, kragtig en onweerstaanbaar is hierteenoor die grootste boodskap van alle tye: “… kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding … Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (Luk 2:10-11). Iemand wat dit nie verstaan nie, het ’n probleem … nie met die boodskap nie, maar met sy wil.
GEBED: Soet en kort is die blye boodskap, Here, en ons hoef nie te sukkel om dit te verstaan en oor te dra nie. Dankie dat U nie baie woorde soek nie, net die waarheid.
12 Maart Rigters 16:23-31
VERDIEN SIMSON SY PLEK IN HEBREËRS?
“Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!” (Rig 16:28).
Dit kan verwar dat Simson gelys word saam met die aartsvaders en Moses, Samuel en Dawid (Heb 11:32). Simson het immers losbandig gelewe, sy krag en leierskap verraai, in oneer geëindig. Daarby laat sy prestasies die wenkbroue lig, soos die vang van drie honderd jakkalse (Rig 15:4). Iemand sê eenkeer: “Dis nou van ’n jakkals: As jy hom sien, dan hét jy hom gesien.” Maar Simson sou sy metodes hê; dalk ’n roepende, hitsige wyfie in ’n hok? En weer eens, die wilde diere was nog nie so wild nie (dagstukkie 5 Jan).
Geen daad van Simson is ongeloofwaardig nie, behalwe een: dat hy sy lewe en rigterskap so kon wegsmyt. As daar ooit ’n vrou was wie se kussing pal van trane deurweek was, sou dit Simson se moeder wees oor haar seun, volmaak geskape soos ’n pragtige maanhaardier. Simson se onwyse liefde word deur die verteller opgeteken as God se opdrag (Rig 14:4). Eintlik was dit Simson se keuse en die begin van sy ondergang, want ná hierdie slinkse vrou (Rig 14:17) was daar Delila (Rig 16:4-22). Wat sy laaste wanhopige wraakdaad betref, het ’n dominee opgemerk dit herinner aan die filosofie van die Taliban se selfmoordvlieëniers. Simson het wel gebid om krag, maar daar is geen opgetekende antwoord nie. Die preek het verder uitgewys hoe eiewillige dade as godsdiens opgedis kan word.
Dat God ’n gebed sal verhoor om wraak te bemagtig, kom uit die antieke denke van oog om oog (dagstukkie 6 Mrt). Maar dit oortuig nie dié wat in die Messias-voleinding lewe nie. Hoekom word Simson dan in die Nuwe Testament onder die getuies gelys? ’n Sinikus vra eenkeer aan ’n gelowige: “Hoekom het Jesus vir Judas Iskariot as dissipel gekies?” “Ek weet nie,” kom die antwoord, “maar ek het ’n ander vraag: Hoekom het God mý gekies?”
GEBED: Simson se verkeerde keuses laat ons skrik, Here. Ons misluk dalk nie so sigbaar nie, maar meermale op klein skaal. Hou ons waaksaam op u pad van vryheid.
13 Maart Rigters 21:1-25
DAPPER MANNE, OF EIESINNIGE OPTREDE?