God se pad van vryheid. Engela Linde
voorafgaande gebeure laat jou hare rys. Dit wys hoe mense hulle eie maatstawwe as “godsdiens” kan bedryf (dagstukkie 7 Jun). Die Benjaminiete het, by alle wreedheid verby, ’n byvrou deur massaverkragting gedood (Rig 19:25-20:7). In Israel se weerwraak sterf duisende Benjaminiete, ook vroue. Geen stamverwante vroue mag nou met hulle trou nie, en ’n vroueskaarste ontstaan. Nou volg ’n nog wreder daad: twaalf duisend “dapper soldate” gaan ’n weerlose dorp uitroei, behalwe vier honderd maagde wat hulle as vroue wegvoer. Dietrich Bonhoeffer het tereg gesê: “Tot die leeus hulle eie geskiedskrywer kry, sal die jagter altyd die held wees.”
Die vroue is nog te min, en tydens ’n fees in die godsdienssentrum Silo (Rig 21:19) kruip ’n bende Benjaminiete in die wingerde weg en steel ’n groep danseresse. Hulle besluit ook om, indien die vaders en broers ’n klag teen hulle lê, dit te omseil (Rig 21:22). En wie was heeltyd die Benjaminiete se raadgewers? Die einste Israeliete met wie hulle in die eerste plek kwaaivriende was, want “daar mag nie ’n stam uit Israel verdwyn nie” (Rig 21:17). Eers toe die Benjaminiete geholpe is, gaan die res van Israel huis toe (Rig 21:24).
Twee dinge val op: die Bybel verswyg nie hierdie grusaamhede nie; deur boekstawing en oorvertelling word alles herroep, sonder dekmantel. Daarnaas het die optekenaar die insig om te meld dat elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë omdat daar nog nie ’n koning was nie. Aan die rigters, behalwe enkeles, het niemand hulle veel gesteur nie. Sou ’n koning alles regstel? Hoegenaamd nie. Lees maar Konings en Kronieke. Die enigste Koning wat suiwer genoeg sou leef om die mens tot beter maatstawwe op te hef, was die Messias wat sou kom (dagstukkie 7 Mrt). Hierdie Skrifgedeelte laat ons besef presies hoe nodig Hy was.
GEBED: Vandag nog gebeur daar soveel grusaamhede en gewone verkeerdhede, Here, dat ons besef hoe nodig u suiwer maatstaf in ’n sondige wêreld is. Lei U ons, Heiland.
14 Maart Rut 1:1-16
RUT SE KEUSE
“Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan … nie …” (Rut 1:16).
Hulle moet om die Rooisee trek, oor die Jordaan, en dit te voet. Hulle is verwaarloos, moeg en sonverbrand, hulle brood verdroog en hulle voete vol blase. Plek-plek moet die jonger vrou die ouer een se bondel help dra en haar kopdoek help reg bind.
Mens kan amper vra: Wie kies nou ’n skoonmoeder? Maar die stereotipe van die skoonmoeder gaan nie regtig op nie. Deesdae voer albei oumas ’n heldhaftige stryd om hulle oorlaaide kinders met die kleingoed te help. Daar is drie soorte grappe wat ek laak: oor dowes, oor hakkelaars en oor skoonmoeders. Gewoonlik is dit ook die verveligste soort grappe, of afgesaag, en daar word van jou verwag om te lag.
Rut se keuse is waarskynlik nie ’n refleksie op haar eie moeder nie. Tuis sou sy egter die weduweedogter wees wat die sleurwerk moet doen, en ten einde raad dalk aan ’n ongeliefde tweede man afgesmeer word. Sy aanbid nie meer die gode Baäl en Kamos nie. So groet sy haar Moabsberge en werp haar lot finaal by Israel in … waagsaam en waaksaam, want die verbod op die Moabiete, veral vroue, was baie sterk (Deut 23:3; Num 25). Skynbaar was Naomi so gelief in haar óú omgewing dat sy Rut se teenwoordigheid kon regverdig.
Hierdie verhaal van twee sonvoos, stofvaal vroue wat een skemeraand Betlehem binnestrompel, is ’n lieflike korrektief op die situasie in Genesis 27:46, waar Rebekka vir Isak sê: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau.” Nog ’n korrektief is die gesindheid tussen Moses en sy skoonvaders Jetro (Eks 18) en Goban (dagstukkie 23 Jan), om nie te praat van Petrus se dienende skoonma nie (Matt 8:14). Die harde woorde van Jesus oor verwydering tussen skoonmoeder en -dogter (Matt 10:35), handel oor geloof en ongeloof, nie oor die verwantskap nie. Betoon aan skoonmoeders en -dogters die hulde wat hulle toekom.
GEBED: Here, U weet van die wrywing tussen my en sekere familielede, hetsy eie of aangetroud. Help my om die eerste tree te gee en die verste pad te loop.
15 Maart Rut 2:1-7
DIE OPTEL VAN DIE ARE
“Mag ek lande toe gaan om are op te tel …?” (Rut 2:2).
Rut was gelukkig, of hoe? Die Joodse wette het bepaal dat afval-are moet bly lê vir behoeftiges en vreemdelinge (Lev 23:22). Maar “are optel” is nie so idillies nie. Suinige mense was daar altyd, en ’n opteller kon suur kyke kry, of die gebrom in die donker baard van ’n landeienaar hoor. Daarby verniel die heeldagse gebukkery ’n vrou se rug, hoe soepel ook.
My pa het vertel hoe hy en vriende in die depressietyd rondom 1933 op ’n plaas gekom het waar die mense net ’n brood vir ete gehad het. Dit was ’n kosbare en byna onbekombare weelde. Hulle is genooi om saam te eet. Die oom sit met sy hand op die brood en sê: “Kêrels, sê net as julle nog wil hê.” Toe sê een bedees: “Oom, ek sal nog ’n stukkie vat.” En die oom sny ’n snytjie, en so gaan dit aan … tot die brood op was. Hierdie oom het nie net sy are gegee nie, maar sy verwerkte oorlewingsbroodjie, tot seermakens toe.
’n Vrou sê onlangs, ná ’n vakansie by haar kinders: “Ek sal goed op hulle oorskiet kan lewe.” Sy het spaarsaam grootgeword en ken die kuns van “are optel”. Maak maar enige ouer vrou se yskas oop, en jy staan verstom oor al die houertjies met oorskietkos. Alles saam fyngedruk en met eier en meel gemeng, kan dit in vlak olie tot brosbruin “moerby”-koekies gebak word. ’n Pastorievrou met ’n groot gesin het Vrydae van ’n paar brode toebroodjies gemaak vir naweeketes. Dit was ’n les om te sien hoe sy die krummels sorgvuldig by die botter inroer voor die smeerdery begin.
In die deursneehuis is armoede nie meer so sigbaar nie. Tog lewe massas mense van oorskietkos. As jy dan kos moet weggooi, sorg dat dit apart en deeglik toegedraai op die vullisterrein aanland. Dis die eerbiedige are langs die soom van jou land.
GEBED: Ons wil bid soos ons voormense, Here: “Vir spys en drank sê ek u Naam lof en dank.” Leer ons ook om die are nie te vergeet nie.
16 Maart Rut 3:1-11
RUT SE PAD NA GELUK
“Moet nou nie verder bekommerd wees nie …” (Rut 3:11).
Rut ly meermale onder verterende heimwee. By die dorpsput tussen die kletsende vroue wat haar tóg half eenkant hou, staar sy saans suidooswaarts na waar haar verre vaderland in persdonker gebergte lê. In sy “Ode to a Nightingale” stel Keats hom dié heimwee voor (eie vertaling): “Miskien is dit dieselfde lied/ in Rut se hart toe sy, van weemoed siek/ in trane staan te midde van die vreemde graan.”
Soos Naomi se terugkeer ou nuus raak, verminder die aalmoese. Boonop hou die dorpsvroue ’n streng oog oor hulle hubare seuns. Tog red juis hulle wette vir Rut van honger, want afvalare moet bly lê vir armes, weduwees en vreemdelinge (Lev 23:22). Rut was al drie. Sy beland nie terloops op Boas se lande nie. Naomi beduie met hoopvolle hand die pad soontoe. Sy waag baie om ’n jong vrou te laat inkruip by die veldbed van ’n alleenloper. Sy bring kruit by vuur; dit was oestyd, met sy vrugbaarheidsrites en volrypheid. Maar sy trek peil op die karakter van Boas en Rut. Dalk wou sy tog vir Boas effens kompromitteer? Jonk is Boas nie meer nie, maar forsbruin in die rooigeel aandlig op die dorsvloer. Geurig in ’n pan op die oop vuur braai die gars vir sy aandete. Hy en Rut moet ewe groot geskrik het toe hy teen voordag orent kom en haar by sy voetenent vind.
Hy hanteer egter die saak soos ’n wyse en nie soos ’n dorpsgek nie. Losser nommer een word eerbaar uitgeskakel. So kom Rut tot rus in haar nuwe huwelik. Eenkeer is geskryf: “Die huweliksklokke wat op Rut se bruilof lui, is dieselfde wat lui op die bruilofsfees van die Lam.” Die vae, innerlike dryfkrag daar aan die grens tussen Israel en Moab het bestemming geblyk te wees. Met die lees van die latere stamboom (Matt 1:5-6) sou dit blyk hoe God hierdie swakke menslike keuse gerugsteun het.
GEBED: Ons dank U, Here, vir die verhaal van Rut, soos ’n nagtegaalslied in die harde geskiedenis van Israel van daardie tyd. Dit wys ons dat dit soms doodgewoon goed kan gaan.
17 Maart 1 Samuel 1:9-18
DIE HANDOMKEER VERANDERING
Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie (1