Wanneer God jou vashou. Johan Smit

Wanneer God jou vashou - Johan Smit


Скачать книгу

      19 Januarie

      Jesaja, geroepene en gestuurde

      Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” Jesaja 6:7–8

      ~

      Ek ken nie een profeet in die Bybel wat ’n gewilde volksheld was nie. Trouens, talle profete het as martelare gesterf. Waarom dan so? Waarskynlik omdat profete God se woordvoerders was en gevolglik verplig was om namens God mense se sondes uit te wys. En geen mens hou daarvan dat sy sonde aan die groot klok gehang word nie.

      Jesaja is een van die groot skrifprofete. In hoofstuk 6 lees ons van Jesaja se roeping as profeet. Want natuurlik was dit tog belangrik dat enige Jan Rap en sy maat nie daarop aanspraak sou maak dat hulle die Here se woordvoerders was nie. Dit was ’n baie besondere gebeure in Jesaja se lewe. Hy het op ’n uitsonderlike wyse in ’n visioen van God se teenwoordigheid bewus geword. Hy was diep bewus van sy eie onheiligheid in die teenwoordigheid van ’n heilige God. En in die visioen het daar hoofsaaklik drie dinge gebeur. God het geroep. Jesaja het voor die uitdaging te staan gekom om op God se roepstem te antwoord. Wat hy toe gedoen het. Tweedens het God gereinig en toegerus. Die gloeiende kool waarmee Jesaja aangeraak is, was niks minder as God se daad van sondevergifnis nie. En derdens het God gestuur. Jesaja word geroep om te gaan, om namens God ’n boodskap van oordeel en verlossing te verkondig, wat dit ook al vir hom sou kos.

      Geroep om te gaan. Is dit nie maar die uitdaging waarvoor elke kind van God te staan kom nie? Hoe voer ons ons getuienisopdrag uit?

      Waarheen het God jou gestuur om te getuig?

      20 Januarie

      Jeremia, die breker en bouer

      Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Jeremia 1:10

      ~

      Toe die Here vir Jeremia roep om profeet te word, het hy eers heftig wal gegooi. Nee, hy is darem nog te jonk vir so ’n verantwoordelike taak. “Nee,” sê die Here, “jy moet gaan waarheen Ek jou sal stuur, en wat ek jou beveel om te sê, moet jy sê.” En só het die jongman toe sy opdrag ontvang, min wetende wat dit alles vir hom sou kos.

      Jeremia het ’n moeilike pad in die Here se diens geloop. Dit was ’n rampspoedige fase in Israel se geskiedenis. Dit was tydens die regeringsjare van die laaste goddelose konings van Israel en die begin van die Babiloniese balling­skap. Jeremia se ernstige waarskuwings het op dowe ore geval, nee, dit het eer­der die konings se woede laat ontvlam. Hy is etlike kere gevange geneem en in kerkers opgesluit. Nogtans het Jeremia bly praat: “Só sê die Here!” ’n Mens kan verstaan dat Jeremia se prediking nie deurgaans met entoesiasme ontvang is nie. God het hom immers geroep om af te breek en uit te roei, bedoelende dat hy hom vreesloos teen sondige praktyke moet uitspreek, en probeer om dit wortel en tak uit te roei. Maar hy is ook geroep om te bou en te vestig. God se woord is nooit net oordeel nie; dit is in die eerste plek genade.

      Jeremia het die profetiese uitdaging aanvaar en in die Here se krag aangepak. Alhoewel dit ’n pynlike pad was, het hy getrou aan sy roeping gebly. Hoe beny ek nie sy waagmoed en onverbiddelike Godsvertroue nie.

      God se woord is nooit net oordeel nie; dit is in die eerste plek genade.

      21 Januarie

      Wanneer die leeu brul

      Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie? Amos 3:8

      Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.” Amos 7:10

      ~

      Om oor sosiale ongeregtigheid te preek was nog nooit vir enige prediker die gewildste onderwerp op sy preekrooster nie. Die rede is voor die hand liggend: Dit gaan oor die dinge wat menseverhou­dings raak en dinge wat meesal ook die regering van die dag aanspreek. Amos was ’n boer uit die omgewing van Tekoa, ’n dorpie in Juda, en hy profeteer teen Israel in die tyd van koning Jerobeam. Hy maak dit uit die staanspoor duidelik dat ’n mens nie durf stilbly as die Here gepraat het nie: “Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie?”

      En Amos het inderdaad nie geskroom om die gruwelike sosiale misdrywe van sy tyd aan die kaak te stel nie. Die vertrapping van die armes, die uitbui­ting van arbeiders en verwaarlosing van minderbevoorregtes het hy stuk vir stuk aan die orde gestel. En daarmee die uitspattige leefstyl van die rykes ten koste van hulle ondergeskiktes aan die lig gebring. Natuurlik tot groot ontsteltenis van die regering wat die dinge toegelaat het en dikwels die voorlopers was in die wanpraktyke.

      En van wie kry Amos toe die ergste teenstand? Van die kerk! Ja, die priesters in Bet-El is deur die staat onderhou en dié mense wat Amos se boodskap moes beaam, trek teen hom te velde. Amos het hom nie laat afskrik nie, maar enduit God se woord onverskrokke verkondig.

      Sosiale ongeregtigheid is ’n teken dat ’n volk en kerk van God afvallig is.

      22 Januarie

      Gemaksone of hardepad?

      Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. Nehemia 2:18

      ~

      Die Israeliete was reeds geruime tyd in ballingskap toe Nehemia op die toneel verskyn. Die Babiloniërs is deur die Perse verslaan en Nehe­mia het ’n uitsoekpos in die Persiese koning se paleis beklee. Vir ’n banneling was hy in ’n hoogs bevoorregte posisie. Maar toe kry Nehemia op ’n dag berig oor die gang van sake in Jerusalem. ’n Groot klomp bannelinge is vantevore deur die Perse toegelaat om na hulle moederstad terug te keer. Met groot opgewondenheid het hulle die reis aangepak. Maar hoe is hulle nie ontnugter nie! Die stad was vervalle, sonder ’n muur en met ’n tempel wat verwoes is. Daarbenewens het die mense van heidense herkoms wat intussen die land beset het heftig teenstand gebied.

      Nehemia was baie ontsteld. Dis tog sy mense en sy land en stad waaroor dit gaan. Wat kan hy doen? Hy kom toe voor ’n geweldige uitdaging te staan: Sal hy die koning nader en vra om sy mense te gaan bystaan, of sal hy maar in sy gemaksone agterbly? Nehemia kies die moeilike pad. Die koning is hom goedgesind en laat hom toe om Jerusalem toe te gaan. En daar moes Nehemia hom­self as ’n betroubare leier bewys. Wat hy toe ook doen. Hy neem leiding deur die mense te organiseer en aan te moedig. Hulle herbou die stad se muur te midde van felle teenkanting.

      Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat en daadwerklik te gaan hulp verleen. Bly ons nie maar meesal met goeie bedoelings en selfs trane van meegevoel in ons gemaksone agter nie?

      Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat … en jy?

      23 Januarie

      Beskikbaar vir diens

      Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Lukas 1:38a

      ~

      Maria, Jesus se moeder, is ’n vrou in haar eie klas. Wat met haar gebeur het, het met niemand voor of na haar gebeur nie. ’n Mens voel dus huiwerig om lyne vanaf haar na ons eietydse omstandighede deur te trek. Dit is net nie dieselfde nie. Maar Maria was tog ook ’n mens net soos ons. En al het sy ’n buitengewone openbaring ontvang, het sy as ’n gewone mens van vlees en bloed daarop gereageer. En dus kan ons tog by Maria die een en ander leer, veral hoe om te reageer op ’n Goddelike uitdaging.

      Toe die engel aan Maria verskyn met die boodskap dat sy swanger gaan raak en dat die


Скачать книгу