Wanneer God jou vashou. Johan Smit
se naam het ’n skelwoord geword: bedrieër, agterbakse verraaier! En tog: kan dit waar wees dat ’n man wat deel van Jesus se intieme dissipelkring was so geheel en al teen Hom gedraai het? Hy was een van diegene wat uitgestuur is om wonders te doen. Hy het al die wonders wat Jesus gedoen het aanskou. Hy het na Jesus geluister en drie jaar lank saam met Hom geleef. Dit is mos onmoontlik dat dit nie sy lewe verander het nie. Waarom dan die radikale ommekeer? Van dissipel tot Godloënaar?
Ek reken die antwoord moet gesoek word in die twee verwysings na geld in Judas se storie. Ons hoor in Johannes 13 dat hy die “voorsitter van die kerkraad se fondsekommissie” was. Hy het die beurs gedra. Dit lyk asof Judas ’n obsessie oor geld gehad het. Toe hy 30 silwerstukke vir ’n daad van verraad aangebied word, het dit die deurslag gegee.
Óf Jesus, óf persoonlike wins. Dalk het Judas ’n ideaal gekoester om in Jesus se koninkryk die minister van finansies te word. Dalk was hy so teleurgesteld in Jesus se geweldlose optrede dat hy sy ideaal op ’n ander manier probeer verwesenlik het. Die feit is net dat Jesus en sy ryk nie meer vir Judas prioriteit was nie. Jesus se koninkryk was nie meer vir hom ’n uitdaging nie; sy eie rykdom het ’n groter uitdaging geword. En dit het toe tot selfmoord gelei.
’n Sug na geld en mag en status kan van dissipels verraaiers maak.
29 Januarie
Om jou hande in onskuld te was
Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.” Matteus 27:24
~
Dit is ’n uitdaging om onder alle omstandighede eerlik en regverdig te wees al sou dit nie tot jou voordeel strek nie. En dit is juis hier waar mense so maklik kop verloor. Eiebelang speel tog so ’n belangrike rol in mense se lewens. Om jouself aan verlies van status of geld bloot te stel as jy deur maar net anderpad te kyk die gerieflike status quo kan handhaaf is nie die moeite werd nie. Ek dink dis wat Pilatus gedink het.
Pilatus was as goewerneur in ’n groot mate van die Joodse leiers se goeie gesindheid afhanklik. As hulle die wêreld vir hom ondraaglik sou maak, kon dit hom sy pos gekos het. Die Romeinse owerheid het nie van oproere gehou nie. Sy eerste verantwoordelikheid was om orde te handhaaf. En met die verhoor van Jesus van Nasaret het ’n oproer gedreig om plaas te vind. Hy kon nie begryp waarom die Jode die man uit die weg wou ruim nie. Hy was seker die man is onskuldig. Maar liewe aarde, die mense het skoon mal geraak! Luister net hoe dreunsing hulle: “Kruisig Hom!”
Toe voer hy ’n simboliese handeling uit: hy was sy hande in onskuld. Dis nie hý wat die man veroordeel nie; dis die mense (demokrasie?) wat besluit het. Die maklike uitweg. Maar nog altyd net maar simbolies. Dit bly Pilatus wat vir Jesus na die kruis gestuur het. Om jou hande in onskuld te was en tog aandadig te wees aan iemand se ondergang of verlies hou jou steeds volledig aanspreeklik.
Om jou hande in onskuld te was, is net ’n manier om jou gewete te sus; jy bly skuldig.
30 Januarie
Op pad na Damaskus
Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
“Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.” Handelinge 9:3–5
~
Paulus het van uitdagings gehou. Hy was ’n dinamiese jongman wat sy oortuigings met geesdrif uitgeleef het, maak nie saak hoe sterk die teenstand ook al was nie. As ywerige verteenwoordiger van die Joodse geloof het hy hom hart en siel beywer vir die totale uitwissing van die nuwe sekte wat in die sogenaamde Jesus geglo het. Dit was dan ook die rede waarom hy die tog na Damaskus aangepak het om die klomp Jesus-volgelinge daar gevange te neem.
En op pad na Damaskus word hy toe onverwags in sy spore gestuit. Presies wat daar gebeur het, kon hy later maar net broksgewyse probeer deurgee: ’n skerp lig, ’n stem, ’n openbaring, blindheid … Maar al wat eintlik saak maak, is dat hy helder en duidelik geweet het dat dié Jesus wat hy besig was om te vervolg aan hom verskyn het.
Ons praat vandag nog van ’n Damaskus-ervaring wanneer ’n mens op ’n radikale en onverwagte manier ’n ommekeer van oortuiging en gedrag ondergaan. Jesus het vir Paulus ’n nuwe roete vir sy lewe uitgewerk. In plaas van vervolger word Paulus medewerker en voorvegter. Miskien het baie van ons ’n Damaskus-ervaring nodig om uit ’n vervelige, geykte en lustelose bestaanswyse met nuwe geesdrif en oortuiging toegewyde dissipelskap aan te durf.
’n Damaskus-ervaring ruk jou tot stilstand sodat jy ’n nuwe koers kan inslaan – God se koers vir jou lewe.
31 Januarie
Hallelujas in die tronk
Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Handelinge 16:25–26
~
Hoe reageer jy op teenspoed? Raak jy moedeloos, kwaad, iesegrimmig, terneergedruk? Onttrek jy jouself en verknies jou dikmond oor jou leed? Bekla jy die onregverdigheid van die lewe en die feit dat jy aan die kortste ent moet trek? Dink goed na oor hoe jy die vorige kere op negatiewe omstandighede gereageer het. En luister net weer ’n keer hoe Paulus dit hanteer het.
Paulus was die ywerige agtervolger wat al sy energie ingespan het om weerlose mense agter die tralies te kry. Ná sy bekering raak hy toe die vervolgde en word hy telkens die teiken van hartelose vervolgers. Soos die keer in Filippi toe hy ’n bose gees uit ’n lastige waarsegster gedryf het. Ongelukkig vir hom het dié daad daartoe gelei dat die vrou se baas sonder inkomste gesit het. Die stad se mense het teen hom en Silas in opstand gekom, hulle gevange geneem, geslaan en in die tronk gegooi. Dinge het sleg gelyk. Met hulle voete in die houtblok vasgeklem, met lywe stukkend geslaan het hulle gesit en wag op die volgende dag se verhoor en vonnis.
Hoe reageer ’n mens op sulke neerdrukkende omstandighede? Kan jy dit dalk as ’n uitdaging sien om jou ware karakter te bewys? Vir Paulus en Silas raak dit ’n geleentheid om te getuig. Hulle God is groter as omstandighede! Hulle sing lofliedere tot eer van God.
Sjoe! Sal ons probeer?
In neerdrukkende omstandighede kom jou ware karakter aan die lig.
Februarie
Die Here is my herder
Psalm 23 is seker een van die heel bekendste Bybelgedeeltes. Hoeveel preke het ons nie al daaroor gehoor nie. Hoeveel keer het ons nie in ons stiltetyd ons toevlug tot die teksgedeelte geneem nie. “Die Here is my herder” is woorde wat geborgenheid, versorging en vertroosting spel. Maar dit is ook meer as net ’n trooslied. Dit is in die eerste plek ’n geloofsbelydenis. Om die Here as herder te ken, moet jy bereid wees om God se skaap te wees – getroue en gehoorsame volgeling.
Ons gaan hierdie maand die pad saam met ons Herder aanpak. Ons gaan verder as Psalm 23 loop en vasstel hoe die verhouding tussen Israel en hulle herder verloop het. En dan gaan ons luister na die stem van die Groot Herder wat sy lewe vir sy skape afgelê het.
1 Februarie
Die Here is my herder
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
“Die Here is my herder” – sekerlik van die heel bekendste woorde in die Bybel. En dit is goed te verstane. Dit pas volkome by die beeld wat die mens vir hom