Bewys van liefde. Christine le Roux
>
Christine le Roux
Bewys van liefde
[no image in epub file]
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Die telefoon lui hard en aanhoudend. Die skril geluid versteur die stilte in die huis en verdoof die effense piepgeluid van rubberwiele. Siegfried suig sy asem in toe hy teen ’n tafeltjie bots en bereik die instrument toe hy sy soveelste moedelose skree gee.
“Ja?” sê hy uitasem en kortaf.
“Hallooo,” koer sy ma. “Is dit jy, Siegfried?”
“Mamma,” sê hy bot. “Ja, natuurlik is dit ek. Wie anders kan dit wees?”
Sy lag, onverstoord deur sy bruuskheid. “Ag, ek maak net seker. Hoe gaan dit vandag?”
“Nes altyd, dankie.”
Haar stem is effens minder jubelend toe sy weer praat. “’n Slegte dag?”
“Nie slegter as gewoonlik nie. En daar?”
“Geen klagtes nie, dankie, my kind.”
Siegfried glimlag wrang. Hy en sy broer, Karel, probeer al dekades lank om hulle ma sover te kry om hulle as volwassenes te aanvaar. Karel is dertig jaar oud en hy vier en dertig, maar hulle ma spreek hulle nog steeds aan as “my kind”, “liefie”, of “hartjie”.
“Luister,” sê sy ma. “Jy weet van Sondag, nè? Jy het nie vergeet nie?”
Siegfried soek in sy geheue rond. Sondag? Wat gebeur Sondag? Hy kyk na die kalender wat langs die telefoon staan en sien daar’s ’n rooi kring getrek om die datum. “E . . . ja,” sê hy dus, maar op sy hoede. “Ek het dit gemerk.”
Sy ma lag. “Net sowel ek het gevra. Ek kan sommer hoor jy het vergeet. Dis Pa se verjaarsdag.”
“Natuurlik. Ek sou nie vergeet het nie.”
“Ek weet,” speel mevrou Knobel saam. “Maar het jy onthou dat ons almal hier saamkom?”
Hy is nog meer op sy hoede. “Ons almal? Wie is ons almal?”
“Wel, dis ek en Pa en natuurlik Karel. Hy bring ’n vriendin saam en dan is daar oom Anton-hulle en klein Anton met sy vroutjie en . . .”
“Die hele familie,” merk hy toonloos op. “Ek dink nie ek sal kan kom nie, Mamma. Dit is buitendien moeilik en . . .”
“Nee, nee,” sê sy. “Ek weet wat jy gaan sê. Klein Anton het mos ’n kombi – jy weet met dié dat hulle nou al die vierde een op pad het – en hy’t gesê dis vir hom geen moeite nie, hy ry by jou langs en . . .”
Siegfried se mond word styf. “Dankie, Mamma, maar dis regtig te veel moeite en ek voel nog nie gereed om . . .”
“Siegfried,” sê sy en haar stem klink presies soos dit geklink het toe hy tien jaar oud was en sy uitgevind het hy het die modderbesmeerde hond onder sy laken laat slaap. “Ek aanvaar dit nie langer as verskoning nie. Dis tyd dat jy uitkom. Dis ongesond om jou so af te sonder. Dit moet end kry.”
“Ek is seker dis soos Mamma voel, maar ek sien eenvoudig nog nie kans vir so ’n groot sosiale gedoente nie.”
Sy speel haar laaste troefkaart; haar stem word diep en seer.
“Dis jou pa se vyf en sewentigste verjaardag, my kind. Dink jy nie jy kan vir sy onthalwe ’n bietjie moeite doen nie?”
“Nou speel Ma op my skuldgevoel.”
Haar stem word weer normaal, sy is nie die soort vrou wat die rol van gekrenkte moeder lank kan speel nie. “Ek weet,” erken sy eerlik. “Maar as dit is wat nodig is, doen ek dit.”
Hy sug. “Dit gaan ’n lang en vermoeiende dag wees.”
“Nee, dit hoef nie. Klein Anton sal jou so twaalfuur kom oplaai. Kyk, Sanet is self op haar laaste en sal nie te lank wil bly nie. Ons het beplan om te braai, jy weet hoe lief is jou pa vir braai en een van die dae is dit winter. My aarde, jy moet sien hoe val die blare al af, as ek nie elke oggend die stoep vee nie, warrel alles by die stoepdeur in en . . .”
“Ja,” sny hy die woordevloed kort. “Dit word herfs.”
“Dié dat ek sê dis seker die laaste keer dat ons buite sal kan braai.” Haar stem word sagter. “En ons wil jou graag weer sien, boet. Met dié dat Pa self nie meer so maklik rondry nie, mis hy jou.”
“Goed,” sê hy, moeg van die redenasies. “Goed, ek sal kom.”
“Uitstekend,” sê sy bly. “Wonderlik. En jy weet, kindjie, dit sal net familie wees. Oom Anton is Pa se enigste broer wat nog leef en klein Anton die enigste neef wat na genoeg aan ons bly om te kom kuier en . . .”
“Mamma,” sê hy. “Dis goed, ek het gesê ek sal kom. Wat wil Pa vir sy verjaardag hê?”
“H’m,” sê sy. “Wel . . .” Hy kan letterlik hoor hoe versigtig sy nou haar woorde kies. “Kom jy nog by . . . e . . . die winkels?”
Hy trek sy skouers agteroor, sy hand klem die gehoorstuk harder vas. “Ek kan my sekretaresse stuur.”
“O. Nouja . . .” Sy begin verduidelik in watter winkel sy presies die oopknooptrui gesien het wat sy pa wil hê en hy maak ’n aantekening in sy kop om dit te onthou. “Dankie, boet. Dit gaan lekker wees om jou te sien.”
“Mooi bly, Mamma,” sê hy. “En groete aan Pa.”
“Sal so maak.” Sy groet en lui af.
Toe hy die volgende oggend vir Marcia, sy sekretaresse, vertel van die trui, lyk sy buitengewoon opgewonde.
“Gaan meneer uit?” vra sy.
“Nee, dis juis hoekom ek vir jou vra. Jy moet asseblief etenstyd winkels toe gaan. Sommer eers vir my geld trek ook.”
“Ja, maar ek bedoel, gaan meneer na die partytjie?”
Hy leun terug in sy stoel en kyk haar stroef aan. Marcia is nie mooi nie, maar sy is die beste sekretaresse wat hy nog ooit gehad het. Soms miskien ’n bietjie naïef en by tye ook irriterend, maar so flink en veral so onopvallend dat hy nie durf kritiseer nie. Sy vorige sekretaresse was ook goed, maar toe omstandighede verander en hy haar inlig dat hy nou van die huis af gaan werk en of sy bereid is om soontoe te kom, het sy vasgesteek.
“Haai nee, meneer,” het sy gesê en haar witblonde kapsel geskud. “Haai nee, ek weet darem nie daarvan nie, meneer.”
“Die werk bly presies dieselfde. Niks verander nie. Ek rig die slaapkamer langs my studeerkamer vir jou in as kantoor en . . .”
“Ja, maar meneer verstaan nie.” Sy het om haar gekyk, en in die rigting van die gang gewys. “Hier is al my vriendinne en al die ander mense en . . .” Sy het skielik skuldig gelyk asof sy hom nie behoort te blameer nie, asof sy weet sy behoort onder die omstandighede meer tegemoetkomend wees. “Ek weet dis seker vir meneer swaar en . . . alles, maar ek meen, kyk, etenstye is ons mos almal saam en ons gaan na die winkels of sit in ’n kafee en . . .”
“Dis heeltemal in orde,” het hy haar in die rede geval. “Ek verstaan. Vanselfsprekend sal dit vir jou eensaam wees.”
“Dis die ding, meneer.”
Hy het geadverteer vir ’n sekretaresse en die omstandighede duidelik uitgespel. Hy was nie lus om ’n lang lys kandidate te woord te staan net om uit te vind hulle soek ook meer na sosiale omgang nie. En soos dit gebeur het, was dit juis Esta, die blondekop, wat Marcia by hom aangebring het. Hy was skepties toe hy die bedeesde meisietjie voor hom sien staan, maar hy het doelgerig begin vrae vra met dieselfde presisie waarmee hy elke kleurlose, doellose, hopelose dag aangepak het. Wat is haar naam, vorige ondervinding, ingesteldheid, kwalifikasies. Hy kon nie foutvind nie, sy het voldoen aan al die vereistes.
“Dit gaan dalk vir jou eensaam wees,” het hy gesê. “Dis net ek, en my huishulp op die dae dat sy kom. My huis is in die voorstede.”
“Ek gee nie om nie, meneer Knobel.”
Hy