Bewys van liefde. Christine le Roux
Hy hou sy hand in die lug. “Dankie, Marcia. Dis voldoende. Ek moet my seëninge tel.”
Haar gesiggie is weer ernstig. “Presies, meneer.”
“Maar dis moeilik,” sug hy.
“Ek weet, maar nou het meneer iets om na uit te sien.”
Hy lig sy wenkbroue. “En dit is?”
“Sondag.”
Sy lippe word weer dun. “Ek sien. Ek moet daarna uitsien om heen en weer geskommel te word en dan vir die res van die dag bejammerend aangekyk te word.”
Sy sug, duidelik nou leeg van verdere optimistiese en opbeurende gedagtes. “Dis darem meneer se familie.”
“Ja, dit is.”
Sy kyk na die verlepte toebroodjie en sien skielik weer lig. “As ek nou vir meneer lekker warm tee gaan maak, sal meneer dan ietsie eet?”
Hy lig sy hande en laat hulle weer sak. “Ja, Marcia, maak vir ons tee. As jy dink dit sal help, sal ek eet.”
“Dit help altyd, meneer,” sê sy ernstig.
Hoofstuk 2
Karel stap galant om die motor om die deur vir Corinne oop te maak. Sy glimlag vir hom en hy rus sy hand vir ’n oomblik teen haar arm voor hy die motor toesluit en hulle begin aanstap na die voordeur van sy ouerhuis.
“Senuagtig?” vra hy speels.
Sy gee ’n laggie. “Nee, hoor. Dis nie die eerste keer dat ek ’n vriend se ouers ontmoet nie.”
Hy voel afgehaal. Corinne is altyd net effens te eerlik en uitgesproke na sy sin, maar dan moet hy erken, haar koel afsydigheid is juis wat hom van die begin af aangetrek het. Sy het ’n manier om ’n man te laat voel sy het hom regtig nie nodig nie en dit maak op die plek die sterkste gevoelens wakker. Toe Karel haar die tweede keer gesien het, het hy reeds besluit niks in die lewe is belangriker as om Corinne te verower nie. Hy erken vryelik dat dit sy voorvaderlike bloed is wat nou so bruis; as hy nog in ’n grot gewoon het, het hy haar oor die kop geslaan met ’n knuppel en haar saamgesleep. Ongelukkig is sy nie die soort wat haar oor die kop sal laat slaan nie; hy weet hy sal versigtig moet trap. Daarom wys hy nie nou hoe hy voel nie, vat haar net besitlik aan die arm en stap om die huis na waar hy stemme op die stoep hoor.
Dis ’n lekker sonskyndag alhoewel effens koel. ’n Los windjie speel met die blare en veroorsaak dat almal tog truie dra.
“Karel!” sê sy ma en kom vorentoe om hom te soen.
“Corinne, dis my ma,” stel hy voor.
“Welkom hier by ons,” sê mevrou Knobel gul.
Corinne glimlag vir die gryskopvrou wat haar so hartlik groet en staan nader om die hand te skud van die meer bejaarde meneer Knobel.
“Verskoon tog dat ek so bly sit,” sê hy vir haar. “Tussen die rumatiek en my swak oë is ek nie meer wat ek was nie.”
Sy wens hom geluk met sy verjaardag en sit ’n pakkie op sy skoot neer. “Ek weet nie wat u lees nie en Karel was ook nie eintlik behulpsaam nie, maar ek dink tog u sal die boek geniet.” Die oomblik toe die woorde gesê is, kan sy haarself skop. Die man het nou net gesê hy sien nie meer goed nie en hier gee sy vir hom ’n boek. Sy neem haar voor om Karel aan te spreek dat hy haar nie gewaarsku het nie.
“Baie dankie,” sê meneer Knobel galant. “Al kom ek reg met my sterkste bril, het ek en my vrou ’n nuwe plesier ontdek: sy lees vir my hardop voor.”
“Ek is bly,” sê sy. “Want ek het nie besef . . .”
“Kom, hartjie,” sê mevrou Knobel. “Laat ek jou voorstel aan die ander mense.”
Sy kyk op. ’n Jongerige man met ’n kleuter op sy heup staan by die braaivleisplek waarheen Karel hom ook gewend het. In ’n tuinstoel sit ’n hoogs swanger jong vrou langs ’n ouerige egpaar, maar haar oë word gevange gehou deur ’n man in ’n rolstoel. Waar al die ander mense reeds vriendelik in haar rigting glimlag en wag om voorgestel te word, sit hy strak voor hom en uitstaar, sy oë verberg agter ’n donkerbril, sy hande bewegingloos op sy skoot.
“Dis oom Anton,” sê mevrou Knobel langs haar en sy beweeg met die stoele langs, glimlag en skud hand met almal tot hulle voor die rolstoel staan. “En dis ons oudste seun, Siegfried,” sê mevrou Knobel en Corinne verbeel haar die vrou se stem het verander, behoedsaam geword.
“Aangename kennis,” sê Corinne hoflik en is bly om te sien die man steek darem sy hand uit en het ’n verbasend sterk greep. “Maar ek dink ons het al ontmoet.”
Hy lig sy kop, maar agter die donkerbril kan sy niks sien nie. “Het ons?” vra hy gelykmatig.
Voor sy verder kan praat, vat mevrou Knobel haar haastig aan die arm en lei haar na die tafel waar koeldrank en wyn gereed staan. “Wil jy iets drink?”
Vir die res van die kuier, dwarsdeur die ete en die koffie daarna, bly sy bewus van die man se stilte. Hy antwoord as iemand hom direk iets vra, maar hy neem nooit deel aan die gesprek nie en dis asof almal moeite doen om dit te verberg. Gelukkig is daar tussen die drie kinders en die grootmense meer as genoeg geselskap. Mense beweeg heen en weer tussen die vuur en die tafel, die kinders raak bietjie rumoerig tot hulle kos in hulle mae het, die twee honde kom bedel vir oorskietbene en stamp ’n wynglas om, wat gelukkig nie breek nie, en Karel is besonder besitlik asof hy vir sy versamelde familie wil wys aan wie sy behoort. As sy by die vuur staan, sit hy sy arm om haar skouer en hy gaan uit sy pad om te kyk dat sy kos het en iets om te drink.
“Ek hoop ons sien jou nog baie,” groet mevrou Knobel haar toe sy en Karel so teen vieruur vertrek.
“Baie dankie,” sê Corinne. “Dit was ’n heerlike ete.”
Agter haar hoor sy hoe die jong egpaar kinders begin bymekaarmaak.
“Moet ons weer die oom in sy waentjie inlaai?” vra die oudste.
Almal praat gelyk om die ontaktvolle opmerking te probeer verberg en klein Anton klap sommer na die kind, wat moeg en onoortuigend begin huil. Corinne kyk terug na Siegfried. Hy sit steeds bewegingloos in sy rolstoel, maar langs sy mond keep diep lyne en sy lippe is styf opmekaar gepers.
“Kom,” sê Karel vir haar en sy stap saam met hom na die motor.
“Vertel my van jou broer,” sê sy beslis toe hulle wegtrek. “Ek weet nou waar ek hom gesien het. In die hospitaal, maar hy was nie een van my pasiënte nie. Wat het gebeur?”
Hy sug en verander die ratte so hewig dat die motor protesteer. “Hel, dit was ’n gemors.” Hy lig sy hand en vee oor sy mond asof hy iets wil uitvee. “As jy Sieg voor die tyd geken het . . .”
“Vertel vir my, Karel.” Sy skud haar kop effens. “Hy is ’n baie ongelukkige man.”
“Dit kan jy weer sê.” Hy frons diep. “Nie dat ek hom kwalik neem nie. As dit met my moes gebeur het . . .” Hy uiter ’n effense steungeluid. “Ek het rugby gespeel en hy krieket. Eerste span. Topswemmer in ons skool. Ek was so trots op my broer. Ouboet.” Hy skud sy kop. “Hy was alles wat ek ook wou wees. Slim én goed met sport.” Hy kyk vlugtig af na sy fris lyf wat wil dik word. “En hy trek na my pa se kant, die langes, ek is meer soos oom Anton, kort en geneig om gewig aan te sit. Hy, Siegfried, was my ideaal. Op skool was die ander ouens jaloers op my omdat hy my broer was. Almal se held.”
“En toe?” vra sy toe hy nie verder praat nie.
“Snaaks vir so ’n ou,” sê hy nadenkend. “Al die meisies was mal oor hom, maar hy was baie versigtig. Ons het hom geterg. Hy kon enigeen kry wat hy wou hê, jy weet tog hoe dit is.”
“Nee,” sê sy nugter. “Ek was nog nooit die soort meisie wat vir die skoolheld val nie. Hoofsaaklik omdat hulle altyd sulke enorme ego’s gehad het.”
“Nie hy nie,” sê