Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan


Скачать книгу
bly haar ’n antwoord skuldig.

      Leia staan op en laat Silo alleen met sy musiek. Haar liedjie het weer al die ou verlange teruggebring en sy wil liewer alleen wees.

      Silo laat haar gaan. Hy skud sy kop stadig. Die heimwee sal haar opeet. Leia sal nie lank hier wees nie.

      In haar hut gaan sy op die matras lê en verberg haar kop in haar hande. Daar lê sy haar hart en uitsnik. La Liberté … die plaas se naam beteken vryheid, en tog is dit dieselfde plaas wat haar vir altyd hier in kettings sal hou.

      ’n Donker skaduwee vul die deuropening. Leia lig haar kop met die vae gevoel dat alles nie pluis is nie. Dan hoor sy die deur toegaan en ruk orent. In die duisternis van die hut kan sy niks sien nie, maar sy kan aanvoel dat sy nie meer alleen is nie.

      “Wie’s daar?” vra sy onseker.

      ’n Man lag sag. “Ek dink nie monsieur Mendoza hoef die enigste een te wees nie.”

      Sy wip orent. Dis die voorman wat sy die middag by die rivier gesien het! Haar keel trek toe.

      “Loop!” skree sy skielik beangs en skuif weg tot teen die muur. “Loop of ek gaan skreeu!”

      Hy lag. “Dit sal jou niks help nie. Ses weke lank al pronk jy hier rond asof ’n man nie oë in sy kop het nie. Of wou jy dalk jou pragtige lyfie vir iemand anders bewaar?”

      Sy skuif al teen die muur af. Haar oë begin stadigaan aan die donker gewoond raak. As sy net in die hoek kan kom, kan sy die beenmes in die hande kry.

      “Bako!” gil sy skielik. “Bako!”

      Die voorman bereik haar met twee hale, maar Leia duik onder sy grypende arms weg. Sy val eenkant toe en haar hand sluit in die donker om die hef van die patetiese klein messie.

      Die volgende oomblik word sy eenkant toe geslinger. Net ’n sekonde lank voel sy half bedwelm van die val. Dan is hy skielik hier by haar en sy kan sy sweet ruik.

      “Los my!” gil sy voordat hy haar hard deur die gesig klap.

      “Hou jou mond!” sis hy woedend. Hy probeer haar onder hom vasdruk.

      Leia besef dat sy baie gou iets sal moet doen as sy nog van hom wil wegkom. In die duister steek sy blindelings na hom en hoor hoe hy vloek. Dan klap hy haar hard deur haar gesig. Sy spartel onder hom uit.

      Net ’n oomblik lank huiwer sy voordat sy met al haar krag agter die mes na hom steek. Hy uiter ’n gil van pyn. Donker bloed sypel uit sy skouer en bevlek sy wit hemp. Dan sak hy stadig vooroor en bly met sy kop in sy eie bloed lê.

      4

      Leia staar ’n oomblik lank geskok na die man aan haar voete. Selfs in die stikduisternis van die hut kan sy die donker kol bloed aan sy hemp sien. Dan draai sy om en ruk die deur oop. In haar hand het sy nog die mes met die vars bloed aan die lem.

      Bako het die gegil gehoor, en die oomblik toe Leia die deur oopmaak, bereik hy haar uitasem. Leia se bleek gesig en die bebloede mes in haar hand vertel hom wat gebeur het. Hy vloek en roep boontoe om hulp voordat hy by die hut ingaan.

      Leia strompel na die vuurtjie wat intussen al tot ’n hopie gloeiende kole uitgebrand het. Daar bly sy staan terwyl haar skouers ruk van geluidlose snikke, en sy bewe van skok.

      Silo en die ander kom ook te voorskyn. Een van hulle gooi swyend nog hout op die kole, en die vlammetjies begin stadig weer lek en groei.

      Bako kom uit die hut. Sy gesig is asvaal.

      “Ek sal die meester moet gaan roep,” sê hy skor.

      Leia kyk op na hom, maar sê niks. Haar oë is onnatuurlik groot in die flikkerende lig van die vuur. Haar gesig is wasbleek, behalwe vir die rooi hale oor haar wang waar die man haar geklap het. Dan dwaal haar blik weg na iewers agter Bako.

      Jacques de la Fontaine bly net binne die ligkring van die vuur staan. Sy blik dwaal oor die slawe wat verskrik agteruitstaan, oor Bako wat nog asvaal van skok sukkel om woorde te vind en oor Leia wat hom met wydgerekte oë aankyk. De la Fontaine sien die bebloede mes in haar hand en sidder. Sy kom uit die donker hart van Afrika, dink hy. Daar beteken ’n man se dood nie veel nie. Hoeveel ander het sy nie al so om die lewe gebring nie?

      Hy draai na Bako. “Is hy dood?”

      “Nee, meester.”

      “Gaan haal ’n dokter.” Hy kyk terug na Leia toe Bako weghardloop asof hy vlerke aan sy voete het. “Wie was dit?”

      Die aandwind roer haar glimmende blonde hare en waai slierte oor haar bleek gesig.

      “ ’n Voorman,” sê sy hees. Die mes glip uit haar hand en val in die stof. “Die een met die rooi baard.”

      De la Fontaine kyk na die ander slawe wat nog roerloos in ’n kring staan.

      “Gaan na julle hutte.”

      Traag gehoorsaam hulle. Leia kyk verlangend na hulle asof sy liewer graag by hulle sou wou wees. Eers toe almal weg is, praat De la Fontaine weer.

      “Ek sal jou swaar hiervoor moet straf,” sê hy kil.

      Die lig verdwyn uit haar oë toe sy wegkyk. Hy sien die opgehewe hale aan haar wang en hy onthou die dag toe Beatrice hom vertel het wat by die wingerde gebeur het. Hy onthou hoe Leia vroeër die aand gesing het en hoe daardie iets in hom geroer het wat hy nie kon begryp nie.

      “Besef jy wat jy gedoen het, Leia?” vra hy op ’n sagter stemtoon. Sy is nog rou, dink hy half moeg. Ek kan haar nie nóú haar vryheid gee nie. Dit sal haar einde beteken omdat sy nog volgens die wette van die wildernis leef. Sy moet eers die beskawing verstaan voordat ek haar kan loslaat.

      Sy kyk op na hom. “Ek het een van jou mense met ’n mes gesteek.”

      “Dis nie waaroor dit gaan nie. Jy het ’n man gesteek wat oor jou aangestel is. Dis opstand teen gesag.”

      Daar kom lewe in haar oë. “Moes ek hom maar toegelaat het om te doen wat hy wou doen?”

      “Jy kon net om hulp geroep het.”

      “Ek het … niemand het kom help nie.” Sy byt op haar tande. “Silo het die man by my hut sien ingaan … hy móés dit gesien het, maar hy het nie kom help nie. Hy is net so bang soos die ander.”

      Die graaf frons. “En Bako?”

      “O, hy het kom kyk wat aangaan, maar hy is ook bang. Niemand van ons weet wat jy volgende gaan doen nie. Elkeen moet hier vir hom- of haarself sorg.”

      De la Fontaine staar ’n ruk lank swyend in die vlamme van die vuur wat nou lustig brand.

      Die dokter daag op met Bako kort op sy hakke. Hy en die graaf gaan na die hut om te kyk wat daar vir Jules gedoen kan word.

      Bako kom staan by Leia. “Wat het hy gesê?” vra hy versigtig.

      “Niks … niks waarop ek kan hoop óf wat ek kan vrees nie.”

      Bako frons bekommerd. “Jy moet by hom pleit, Leia. Hy is nie so ’n harde man nie. Vra hom om jou nie te swaar te straf nie.” Die lig van die vlamme flikker op sy beplooide gesig. “Jy sal nou nederig moet wees. Jy het ’n verskriklike ding gedoen, en as jy opstandig is, sal hy jou nog swaarder straf.”

      “Ek soebat niemand vir iets nie,” sê sy koppig. “Ek gaan my nie so verneder deur op my knieë voor hom te pleit nie.”

      “Asseblief … dis jou enigste kans!”

      Leia swyg. Ek was nie verkeerd nie. Elke mens het tog die reg om homself te verdedig. De la Fontaine kan nie van my verwag om myself vir die gebruik van die arbeiders beskikbaar te stel nie.

      Die dokter en De la Fontaine kom weer uit die hut. Hulle lyk nie baie bekommerd nie, en Bako sug van verligting. Die voorman sal nie sterf nie, en dus sal Leia se straf nie heeltemal so erg wees nie.

      Die dokter vertrek weer.


Скачать книгу