Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
moet alleen gaan bly nie.”
Lara sug saggies en die hartseer glimlaggie huiwer nog in haar een mondhoek. Hulle bedoel dit so goed! Maar ... Soms kan ’n mens op jou eensaamste wees tussen ’n klomp mense ... selfs tussen jou dierbares. Het sy die waarheid hiervan dan nie leer ken nie?
Maande lank was sy omring van mense in die hospitaal – dierbare, goeie mense wat haar smart wou ligter maak. Maar nog nooit in haar lewe was sy eensamer as juis daar nie. Bert en Thelma het haar kom haal toe sy uit die hospitaal kon kom en haar hierheen gebring. En weer was sy omring van dierbares wat niks ontsien het om haar haar smart te help dra nie.
Maar saans wanneer die kamerdeur agter jou toegaan ... en die huis stil word ... is jy alleen ... en weet jy dat hierdie eensaamheid maar net ’n verlenging is van die eensaamheid wat jy al die hele dag in jou saamdra. Ondanks al die liefde wat jy ontvang, weet jy dit vul nie daardie bodemlose put van eensaamheid wat binne-in jou oopgeruk is nie. So spoel die gedagtes deur haar ...
’n Weemoedige dankbaarheid vul haar in hierdie oomblik. Hoe dierbaar van Bert en Thelma om hul huis met haar te wil deel. Want hoe kosbaar is ’n huis nie, hoe wonderlik kosbaar is die klein kring van die huisgesin nie! Vandag eers besef sy hoe waardevol dit is; watter groot genade dit is om deel van ’n huisgesin te wees: die ma daarvan, of die pa, of een van die kinders.
Dis ’n sirkel wat God self getrek het, en hoe dierbaar en na aan die hart enigiemand anders ook al mag wees, pas niemand anders in hierdie volmaakte kring van die Skepper in nie. Nee. Hierdie kan nooit haar huis word nie, want dis Bert en Thelma en hul kinders s’n. Haar huis ... Die oorbekende sametrekking van die hartspiere is meteens weer daar, en dit laat haar bleek en moeg. Sy het haar huis gehad. Al wat sy nou nodig het, is ’n woonplek – net ’n plek om te eet en te slaap en ... te bestaan.
“Daar is die posbode nou. Ek gaan gou kyk,” laat Thelma hoor en spring op, diep bekommerd. Lara het vir ’n oomblik weer so sleg gelyk. Sy het weer so bleek en belangeloos voorgekom.
Toe sy die koevert gewaar, ruk haar hart ’n oomblik. Dis geadresseer aan Lara en sy is oortuig dis die langverwagte brief!
“Lara! Lara, kyk hier! Dis hier!”
Thelma se opgewonde stem ruk haar uit haar somber bepeinsing en belangstelling flits in haar oë.
“Hoe weet jy dis ...?”
“Dis ’n vreemde stempel en die adres is getik. Ek sweer dis van daardie wewenaar af. Maak oop!” Sy giggel amper soos ’n skoolmeisie. “Aardetjie, ’n mens sou sê dis mý brief!”
Lara gehoorsaam met bewende vingers en sy lees die kort briefie hardop voor. “Geteken: Henk Beukes.” Sy laat sak die brief en hulle kyk mekaar eers ’n rukkie stil aan terwyl hulle die inhoud ’n rukkie in hul gedagtes herkou.
Dan sak Thelma terug teen die kussing agter haar en laat reguit hoor: “Dank die Vader! Bert sal net so verlig wees.”
Lara kyk haar vraend aan. “Waaroor?”
Thelma lag skuldig. “Liewe mens, jy weet nie watter spookbeelde ek en Bert al oor hierdie man opgetower het nie! Besef jy nie dat hy enigiets kon gewees het nie, van ’n ontsnapte bandiet tot ’n ... wel, enigiets op aarde. Maar hy is ’n skoolhoof! Dit sê al baie, hoewel hy nie oorvloedig met besonderhede is nie. Eintlik praat hy net oor die tweeling.”
“Dis waaroor hierdie korrespondensie gaan – die tweeling.”
“Ja, dis waar. Hy soek mos raad.” Thelma frons. “Daar is darem iets snaaks ook aan die hele ding. As hy ’n skoolhoof is, behoort hy mos darem te weet hoe om kinders te hanteer en so aan. Dis vreemd dat hy iemand in só ’n rubriek sal soek wat hom met raad moet bystaan, is dit nie?”
Lara frons ook liggies en dink eers ’n bietjie. “Miskien – maar miskien ook nie. Hy is dalk baie besig en hy is ’n man. Hoewel dit algemeen aanvaar word dat ’n onderwyser ’n kind se binnekant verstaan, is daar maar baie van hulle wat lelik kleitrap wanneer hulle met meisies van hierdie ouderdom te doen kry. Dis ’n baie moeilike stadium hierdie, en soos ek kan aflei, is dit nie sommer net ’n gewone tweeling hierdie nie. Hulle moes van sesjarige ouderdom af sonder ’n ma se invloed en leiding klaarkom, met net ’n ou tante van oor die sewentig wat na die huishouding omsien. Daar sal probleme wees. Dit kan ek heeltemal begryp.”
Thelma neem die briefie op en lees dit weer deur. Die man kon darem ’n bietjie meer van homself vertel het, voel sy. Maar soos Lara uitgewys het, die hele korrespondensie is as gevolg en ter wille van die tweeling. Die handtekening onderaan is sterk en stewig en stel haar gerus. Die bewoording is miskien ’n bietjie stokkerig en sonder verbeelding, maar dit kan ’n mens ook begryp. Dis ’n wildvreemde vrou aan wie die man skryf en aan wie hy sy probleme moet voorlê. Nee, oor die algemeen hou sy sommer van hierdie man.
“Is daar nie nog iets in die koevert nie? Laat ek kyk ... Hier is nog twee foto’s in! Kyk! Dis natuurlik die tweeling en hier is ’n foto van hom. Lara, maar dis ’n bak ou hierdie!” laat Thelma opgewonde hoor en maak sommer gebruik van haar kinders se woordeskat.
Lara kyk egter nie eens na die laaste foto nie. Dis die tweeling se foto wat sy gretig gryp. Haar gesig verstil. Lank rus haar blik op die twee identiese gesigte wat so vriendelik na haar glimlag. Dan sluit sy haar oë en die trane kruip stil onder haar ooglede uit.
“Lara ... Ag nee, moenie ...”
Sy skud haar kop, dwing die nat oë oop, pers die lippe saam. “Dis ... dis maar net ... Ek het maar net daaraan gedink dat ek so graag sou wou gesien het hoe Estertjie en Esmétjie op hierdie ouderdom sou gelyk het.” Sy sluk, probeer dapper glimlag, dwing haar stem tot kalmte. “Dis twee oulike meisies, nè?”
“Ja. Hulle is baie oulik.” Sy wil byvoeg dat die pa self baie oulik vertoon, maar besef dat dit nie nou van pas sal wees nie. Sy druk die foto van die tweeling en die brief weer terug in die koevert en laat die ander foto in haar roksak glip. Sy sal dit graag eers vir Bert wil wys sodat sy vrese ook gestil kan word. “Jy moet gou terugskryf. Dit klink asof daar nog baie ander probleme in die toekoms lê en wag.”
“Ja. Ek sal sommer vanaand skryf.”
Daardie aand, toe Lara haar na haar kamer terugtrek om die onbekende wewenaar met raad by te staan in die groot probleem van klinknaelbroeke en onwelkome ontluiking, kan Thelma oopbars om haar man van die nuwe verwikkelinge te vertel. Sy wink met haar kop kamer se kant toe sodat die kinders, wat by die tafel hul skoolwerk sit en doen, nie iets moet agterkom nie. Bert reageer op die wenk en in die gang plaas hy sy arm om sy vrou se middel en kyk tergend op haar af.
“My skat, weet jy wanneer laas jy my so openlik kamer toe gelok het? Dit laat my weer tien jaar jonger voel!”
“Moenie laf wees nie, Bert! Daar is iets in die kamer wat ek jou wil wys.”
Hy trek ’n teleurgestelde gesig. “O! Ek het gedink ...”
“Ja, toe nou maar, jy! Gedra jou volgens jou jare, meneer! Hou nou op met jou lawwigheid en kyk hier.”
Bert se wenkbroue skiet omhoog toe hy die foto in sy hand neem. “En wie is hierdie meneer?”
“Dít, my skat, is Lara se wewenaar!”
“Lara se ... wat?”
“Ag, man, die man aan wie sy geskryf het – dié een wat raad oor sy tweeling wil hê!”
“O!” Hy frons. “Dit kan enigiemand anders se foto ook wees.”
Thelma kyk hom vies aan. “Hoekom sal hy so iets doen? Hy is ’n skoolhoof op ’n plek met die naam Jagershoek, êrens in die Karoo.”
“So?”
“Ja, en Lara sit en skryf nou vir hom terug. Bert, dink jy nie ...?”
“Stadig, stadig nou, skat. Moenie dat jou verbeelding weer met jou op loop sit nie.”
“Ja, maar ek sê maar net ... Ag, nou toe maar, ek sal niks sê nie, maar ek kan dink wat ek wil, kan ek nie?”
“Ja,