Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
reg, Bert. Ek hoop van harte jy is reg en dat dit gou sal gebeur.” Sy tel ’n pak tydskrifte op. “Dis ’n klomp tydskrifte wat Lenie hier aangebring het. Ek sal dit vir haar gaan gee. Miskien blaai sy darem daarin.”
“Ja. Ek moet gaan. Ek gaan laat wees vir die vergadering. Tot siens, skat.”
Thelma kyk haar man agterna, en dan dwaal haar blik weer terug na die vrou in die tuinstoel. Haar oë verteder. Hoe sou sy gereageer het as sy Bert en die kinders op een dag, in een aaklige oomblik, verloor het? Sou sy die moed en die geloof gehad het om weer die lewe aan te pak ... alleen?
Sy sug weer saggies en stap dan uit. “Hier is ’n paar tydskrifte om te lees, sus. Kan ek nie vir jou nog ’n koppie tee bring nie?”
Die bleek gesig draai skaars na haar, die oë leeg, amper leweloos.
“Nee, dankie.”
“Nou maar goed. Ek gaan net gou na die kos kyk. Hier.” Sy sit die tydskrifte op haar skoonsuster se skoot neer en sien hoe sy dit belangeloos optel.
Sy bid byna hardop toe sy terug in die kombuis is. Iets, iets moet gebeur wat Lara weer belangstelling in die lewe sal gee. Sy kan nie so voortgaan nie. Elke dag is haar blik net na binne gekeer, lewe sy alleen in ’n wêreld van herinnering en smart. Hulle wat haar liefhet, doen enigiets om dit vir haar makliker te maak, maar dis of alles, die hele lewe, ver buite haar verbystroom. Sy is net nie meer deel daarvan nie.
En buite, op die stoep, neem die bewende vingers die boonste tydskrif op, maar haar oë sien nie eens watter tydskrif dit is nie. Ook sy bid, bid met woordelose, stom lippe. Ook in haar lê die besef hier diep binne waar dit so dood en gevoelloos geword het: sy kan nie so voortgaan nie. Die een of ander dag sal sy moet opstaan, weer moet begin lewe. Want dis Daan en die tweeling wat op slag dood is. Sy lewe nog. Sy het alleen agtergebly ... en sy sal alleen moet voortlewe ... Die een of ander dag ... maar nie vandag nie. Nog nie vandag nie! Sy het nog nie die moed en die krag om alleen verder te stap nie. Sy wil nog net vandag sit en staar ... en staar ... Nog net vandag die lewe buite haar sien verbystroom ... Nog net vandag ...
Haar blik sak moeg af na die tydskrif. Met willose vingers blaai sy die een bladsy na die ander om, sonder om werklik te sien waarna sy kyk, sonder om enigiets in te neem. Sy blaai maar net ... omdat Thelma gesê het sy moet blaai.
Lank rus haar blik op die vetgedrukte woorde: SOEK EN VIND. Sy knip haar oë. Dit maak nie vir haar sin nie. Soek ... Soek ken sy. Nagte lank, dae lank soek sy na hulle ... en dan kom die oomblik dat die besef, daardie vreeslike besef tot haar deurdring – sy soek tevergeefs. Sy sal hulle nooit weer terugvind nie. Hulle is vir altyd weg. Vir ewig ...
Sy kyk weer na die krul van die letters: SOEK EN VIND. Haar blik sak af, laer, al met die ry name af.
Vaag begin dit tot haar deurdring waarna sy kyk. Sy weet nou wat dit is. Baie tydskrifte het so ’n afdeling. In die verlede het sy altyd vinnig daaroor heen geblaai. Dit was nie vir haar nie. Haar lewe was vol. Sy was nie eensaam nie. Sy het ’n lewensmaat gehad. En daar was die tweeling ...
Maar vandag is dit of die lang rye name haar oë vashou, vastrek op hulle. Nou is sy een van hulle ... die eensames ... dié wat alleen is ... wat soek ...
’n Bietjie meer lewe kom in die blou blik terwyl dit van die een lang ry na die ander gly. Sy het altyd so vinnig oor hierdie bladsye geblaai, nooit besef nie ... nooit besef hoeveel eensame alleenmense daar is nie ... Dis rye en rye vol van hulle ... mense wat nie langer alleen wil stap nie ... nie langer alleen kán stap nie ...
Haar blik haak vas op ’n woord: tweeling. Sy frons effens. Iets van ’n tweeling ...
Hier binne trek dit pynlik saam. Tweeling ... Vlugtig verskyn twee gesiggies voor haar ... dan konsentreer sy weer op die woorde voor haar ... raad kan bystaan ... tweelingdogters ...
Die hande wat die tydskrif vashou, bewe merkbaar. Vir die eerste keer in baie maande is daar weer ’n glinstering van lewe, van bewustheid, in die blou oë. Êrens het iemand tweelingdogters ... wat raad nodig het ... Haar oë soek na die eerste deel. Eensame wewenaar soek raad. Hul ma is dus dood ... Hulle het alleen agtergebly, soos sy alleen agtergebly het ... Êrens is ’n tweeling wat iemand nodig het, soos sy iemand nodig het ...
“Hier is jou tee.”
Sy kyk vinnig op, en haar skoonsuster laat val byna die koppie tee uit haar hand. Wat sou gebeur het dat daardie oë skielik, ná soveel weke, weer lewe? “Lara ...? Wat ...? Het iets gebeur?”
“Thelma, kyk hier. Kyk wat staan hier. Wag, ek lees dit vir jou.”
Thelma lyk steeds verward, selfs nou ’n bietjie verdwaas toe Lara se stem stil word. “Ek ... verstaan nie ...”
“Kan jy nie? Hier is ’n tweeling, tweelingdogters soos myne ... soos wat ek gehad het ... en hulle is sonder ma ... hulle het ’n ma nodig. Dit spreek tog so duidelik uit die beriggie. Die pa vra raad, iemand wat hom kan help met sy tweelingdogters. Hulle is dertien, staan hier. Op die moeilikste stadium. Myne was maar ... ses ...”
Thelma se stem is waaksaam. “Jy bedoel ... jy voel om vir die man te skryf?”
“Ek ... weet nie ... Ek ... is nog so verward, maar ...” Sy kyk op, haar oë pleitend. “Onder gewone omstandighede sou ek nooit droom om aan so ’n persoon te skryf nie. Ek bedoel, dis nie dat ek dink daar skort iets mee nie, maar ... Hierdie geval is anders. Dis nie soos die ander nie.”
Haar skoonsuster sit haar koppie tee neer en neem die tydskrif uit Lara se hande. Haar blik gaan vlugtig oor die beriggie. Dis nie presies soos al die ander nie, nie die gewone ding soos jy dit maar altyd in hierdie soort rubriek aantref nie. Maar tog ... Eensame wewenaar ... Dit kan iemand wees wat deur sy dogters vroue soos Lara in ’n situasie wil betrek. Hy stel darem nie net belang in die raad wat ’n gewillige dame hom kan gee nie. Hier staan dit tog duidelik. Dames tussen vyf en twintig en twee en dertig kan skryf. As hy net in raad belanggestel het, sou die ouderdom nie saak gemaak het nie. Sy sou dink hoe ouer ’n vrou, hoe meer ervare sal sy wees om hom met raad by te staan. En hy wil ’n vollengtefoto hê. Dit word duidelik versoek.
Sy kyk onseker op, sien dat daar al weer minder lewe in die mooi oë is, sien dat daardie doodse belangeloosheid weer stadig in hulle terugkruip.
“Vergeet daarvan. Ek ... ek het maar net gedink ... dit kan nie kwaad doen om te skryf nie ...”
“Nee, natuurlik kan dit nie, en ek dink dis ’n puik idee wat jy het, sus,” laat Thelma teen haar beterwete vinnig hoor. Wat maak dit saak wat die man beoog? Vir die eerste keer in maande het Lara weer ’n opflikkering van belangstelling in iets buite haar eie smart getoon. Sy durf nie hierdie flou vlammetjie demp nie. Sy moet dit aanblaas. Sy het dan netnou nog in die kombuis gestaan en bid dat die Vader iets, enigiets moet stuur wat hierdie gebroke mens weer tot die lewe sal laat terugkeer ... En hier is dit nou, hier voor haar op die wit bladsy met sy warboel swart letters. Daar kan nie juis iets hieruit voortspruit wat miskien later nuwe probleme kan meebring nie, want Lara se volle en enigste belangstelling in hierdie beriggie is net in die tweeling. Die pa van die tweeling is net ’n bysaak.
Sy spring op. Voordat alle belangstelling weer verdwyn, moet sy optree. “Ek gaan haal sommer dadelik die skryfblok. Dan skryf jy sommer nou aan hom.”
Lara kyk weer op, onsekerheid in haar oë. “Dink jy ... ek moet, Thel? Dit was maar net ’n impulsiewe gedagte ... Miskien moet ek liewer nie ...”
“Natuurlik moet jy.” Sy sluk, bid in haar hart dat sy nie nou haar skoonsuster van die wal af in die sloot help nie. “Eintlik sal dit baie selfsugtig van jou wees as jy nie hierop reageer nie. Jy is die ideale persoon om die man te help. Jy het intieme kennis van tweelingdogters. Jy het self tweelingdogters ... gehad. Dis mos ook nie oor die man wat jy skryf nie. Dis mos eintlik ter wille van die tweeling.”
“Natuurlik, ja.” Sy aarsel, kyk weer af op die tydskrif en sê dan: “Goed. Gaan haal die skryfblok.”
Toe Bert later die middag van sy vergadering terugkeer, kan sy vrou nie wag om hom eenkant alleen te kry nie. Sy wink met die hand en wys deur die venster.
“Kyk