Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
tyd nie!
Hulle kyk mekaar vinnig aan toe hulle weer die huis binnestap, en tant An hulle in kennis stel: “Juffrou Huizeman is in jul kamer.”
“In ons kamer? Wat soek sy daar?”
“Sy kyk jul kaste deur. Jul pa het gesê sy sal van nou af jul klere haar verantwoordelikheid maak – en daarvoor is ek innig dankbaar. Toe, loop kamer toe. Sy sal seker iets te sê hê vir julle. Sy het byna ’n floute gekry toe sy jul kasdeure oopmaak. Ek het haar gesê dit lyk maar altyd soos ’n uitgeskropte hoendernes.”
Hulle kyk haar beskuldigend aan, maar tant An verhard haar hart. Dit is hoog tyd dat iemand hierdie twee kortvat. Of juffrou Huizeman dit ooit sal regkry om van hulle dames te maak, wil sy nog sien. Maar al kan sy hulle ook net leer om netjieser te wees ... Aarde, kyk hoe lyk hulle!
“Bokkie, wat staan soos ’n sweer daar in jou broek se agtersak?”
“Dis my tolle.”
Tant An sug diep. “En hoeveel keer het ek jou nie al gesê die goed se punte steek gate in jou broek nie? Ag, loop tog kamer toe. Juffrou Huizeman sal vir julle regkry, hoop ek.”
Sleepvoetend gehoorsaam hulle, en twee paar oë kyk vyandig rond toe hulle die kamer binnestap. Hul kaste staan hulle dolleeg en aangaap en die inhoud lê oor die hele kamer versprei.
’n Soet, sagte glimlaggie sprei oor die juffrou se gesig toe sy hulle gewaar, maar die staal onder daardie sagtheid is onmiskenbaar.
“Kom binne, tweetjies. Ons gaan nou kaste regpak. Ek het alles voor die voet uitgehaal! Ons kan reg van voor af begin. Eers wil ek julle wys hoe ’n mens klere reg opvou voordat jy dit in ’n kas wegpak. Kom staan hier langs my, julle albei.”
“Wat is in hierdie boks?”
“Jy bedoel kartondoos? Dis ’n klomp goed wat ek in jul kaste gekry het wat ons later gaan verbrand. Dis nie goed wat in dametjies se klerekaste hoort nie.”
Die tweeling buk gelyk. “Wat ...? Maar dis ons goed hierdie!”
“Ek weet.” Steeds die glimlag. “Dit was. Maar dametjies gebruik nie sulke goed nie ...”
Tokkie trek iets tussen die ongelooflike variasie van rommel uit. “Dis my kettie, juffrou!”
“Dit gaan verbrand word, Tokkie. Dis seunsgoed daardie.”
“Maar dis ’n sonde, juffrou! En al ons albasters! Kyk, hier is my mooi groot ghoen ook! Daar is nie ’n seun in die skool wat so ’n ghoen het nie ...”
“Bokkie!” Die glimlag wil begin styf word. “Kom nou. Hier by die bed. Ek wys net een maal. Gee aandag, asseblief. Eers moet al die knope van die hemp vas wees, natuurlik.”
Hulle skuifel nader, kyk bot op die demonstrasie af.
“Hoekom? Dit moet los wees as jy dit moet aantrek,” brom Tokkie.
“Dis om dit netjies opgevou te kry. Dan lê jy dit só neer ...” Toe die demonstrasie klaar is, word die hemp weer losgeskud. “Nou goed, Tokkie. Vou dit nou weer vir my op, asseblief.”
Die man in die deur se effense geamuseerdheid verdwyn toe hy die uitdrukking op sy twee dogters se gesigte gewaar. Die bedenkinge in sy hart is weer helder op die voorgrond. Hy het sommer ’n voorgevoel gehad dat sy dogters nie hierdie nuwe fase in hul lewe maklik gaan aanvaar nie. Maar hulle sal moet. Nou eers sien hy werklik raak wat al ’n hele tydjie onder sy oë was. Sy hart trek effens saam. Hulle het gou grootgeword. Gister was hulle nog klein ... Hy onthou so goed toe hulle die eerste dag skool toe is ... Maar dit was sewe jaar gelede! besef hy amper met ’n skok. Sewe jaar gelede al!
Hy kom nou binne en die vyandigheid in die twee paar blou oë wat na hom opkyk, slaan hom op ’n teer plek. Maar soms moet ’n ouer dinge doen wat nie aangenaam is vir sy kinders nie, maar wat tot hul beswil strek.
Hy gaan sit op die een bed en hou sy hande uit. “Kom hier, Bokkie, Tokkie.” Hulle skuifel onwillig nader. “Luister mooi. Julle is nou vinnig aan die grootword. Eintlik is julle glad nie meer klein nie.” Hy sluk aan ’n lastige knop wat skielik in sy keel gevorm het, gaan moedig voort: “Eintlik is julle nou groot meisies. Juffrou Huizeman was so gaaf om aan te bied om julle ... e ... te wys hoe om groot meisies te wees.”
Bokkie se lip bewe agterdogtig, en die blou oë kyk pleitend op. “Ek wil nie ’n groot meisie wees nie, Pa!”
Sy oë verteder verder. So vergroot die skuldgevoel in sy hart. Sy kinders moes lankal ’n ma gehad het. Hulle het te alleen en op eie stoom grootgeword.
“ ’n Mens kan dit nie keer nie, Bokkie. Dis iets wat net eenvoudig kom. Niks kan dit keer nie.”
Tokkie kyk haar pa fronsend aan. “Is Pa seker?”
“Heeltemal seker, Tokkie. ’n Mens word groot en jy kan dit nie keer nie. So word ’n mens ook oud, en jy kan dit ook nie keer nie,” sê hy met ’n skewe glimlaggie. Dis waar. Die jare het ongemerk verbygegaan. Hy self is nie meer so waffers jonk nie. Die beste jare snel vinnig ten einde. As hy dan nog wil, of moet, vrou vat, sal hy nie langer kan wag nie ...
Hy maak keel skoon. “Ek hoop julle sal juffrou Huizeman jul volle samewerking gee, want sy gaan iets baie groots vir julle doen. Ek weet dis lekker om saam met die seuns rugby te speel en om boom te klim en so meer. Maar daar kom ’n tyd dat ’n mens dit nie meer kan doen nie. ’n Mens moet dit dan net so aanvaar. Daardie stadium van julle is nou verby. Nou moet julle leer om meisietjies te wees, en juffrou Huizeman gaan julle help.”
Hy glimlag bemoedigend na die twee somber gesiggies. “Ek weet ek gaan nog baie spog met my twee mooi dogters!” Hy staan op. “Solank ek en juffrou gaan tee drink, kan julle oefen hoe om ’n hemp reg op te vou. En as julle daardie kuns bemeester het, kan julle gerus my hemde ook netjies gaan opvou – teen vergoeding, natuurlik!”
Maar nie eens die vooruitsig dat daar êrens ’n moontlikheid van ’n ekstra geldjie op hulle wag as hulle ’n hemp netjies kan opvou, laat hulle enigsins blymoediger voel nie. Inteendeel.
Toe hulle alleen is, kyk Bokkie die ander grootoog aan. “Het jy gehoor? Pa sê niks keer dit nie. Ons kan maar hierdie gemors afhaal.”
“Ag, man, Pa is ’n mansmens. Wat sal hy nou ook daarvan af weet? Toe, jong, vou op die hemp.”
“Ek kan nie meer onthou nie. Probeer jy eerste.”
En terwyl die tweeling staan en sweet met hemp opvou terwyl hulle honderd maal liewer saam met die seuns sou wou gaan sokker speel het, kyk juffrou Estelle Huizeman hul pa met haar soet glimlaggie aan.
“Moenie so bekommerd lyk nie, meneer! Die tweeling sal gou regkom. Jy het my woord daarvoor.”
“O.” Hy dwing ’n glimlag na sy mond. Sy ken nog nie die tweeling nie. “Wel, ek is seker hulle is in goeie hande. En terwyl ons in die toekoms baie met mekaar te doen gaan kry uit die aard van omstandighede, kan ons mekaar gerus minder formeel aanspreek wanneer ons buite die skool is. My naam is Henk.”
Die soet glimlag verwyd. “Goed, Henk. Ek is Estelle. Dit sal miskien ’n minder gespanne atmosfeer skep. Ek wil so graag hê die tweeling moet my as ’n maat aanvaar, en nie heeldag onthou ek is hul juffrou nie.”
Hy knik. Hy sal sy kant ook moet bring om dit vir almal makliker te maak. “Ja. Hoe lyk dit? Saterdagaand is hier mos ’n balletuitvoering. Sal dit nie goed wees as ons dit by die tweeling se ... e ... opvoedingsplan inwerk en almal saam daarna gaan kyk nie?”
“O, natuurlik! Dankie, dit sal wonderlik wees!”
Toe sy ’n rukkie later weer die kamer binnestap, is dit duidelik dat daar nie veel vordering gemaak is nie. Hulle kan die flits in haar oë sien – ’n flits wat hulle al goed in die klaskamer leer ken het – maar vandag bly die soet glimlaggie om juffrou se mond. “Ons kan maar weer môre verder probeer. Ek sal gou opvou en julle pak weg. Ons kan môremiddag weer verder gaan.”
Hul oë flits ’n onuitgesproke boodskap