Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
daarop te antwoord, maar skud dan eenparig die kop ontkennend. Maar hul pa is nie tevrede nie. Sy blik is skerp.
“Ek het al opgemerk dat hulle albei met oop monde asemhaal. Ek dink dokter Gerber moet na hul mangels kyk. Dis ’n teken van vergrote mangels, nie waar nie? Dan kan dit sommer eerskomende vakansie uitgehaal word.”
Twee paar blou oë rek verskrik oop, flits vlugtig na mekaar, keer terug na hul pa en asof uit een mond kom dit gelyk: “Ons mangels makeer niks nie!”
“Maak dan jul monde toe en haal deur jul neuse asem soos normale mense!” Henk Beukes se stem klink streng, strenger as wat hy dit bedoel, maar hy is ’n bekommerde man sedert ’n paar dae gelede.
Hoe meer hy oor die saak dink, hoe duideliker lê die pad van plig voor hom – ’n pad waarvan hy tot dusver nog weggeskram het. Maar omstandighede en die beloop van die lewe het hom begin inhaal. Die tweeling se ontluikende vroulikheid het eindelik ’n stopteken op sy pad aangebring. Hy sal aan trou moet dink. Hy het sy plig in daardie opsig reeds te lank versuim. Sy dogters het ’n ma nodig.
Hy voel soos iemand wat in ’n rigting gedryf word waarin hy nie wil gaan nie. Hy kyk weer na sy twee dogters wat vanaand duidelik moeite ondervind om hul kos opgeëet te kry. Sy kommer verdiep. Hulle het gewoonlik ’n baie gesonde eetlus, maar hy dink nie daar skeel iets fisieks met hulle dat hulle skielik sonder eetlus is nie. Hy weet sy kinders voel vanaand in ’n mate soos hy – hulle word ook in ’n rigting gedwing waarin hulle nie wil gaan nie. Maar nie hy, of hulle, het juis ’n keuse nie. Hulle sal nou moet leer en aanvaar dat hulle meisies is wat aan die grootword is. En hy ... hy sal moet aanvaar dat hy ’n vrou sal moet vat.
Die tweeling is dankbaar dat die aandete verby is en hulle maak spore kamer toe. Maar voordat hulle verdwyn, hoor hulle hul pa sê: “Ons gaan môreaand almal na ’n balletuitvoering toe. Juffrou Huizeman sal julle môreoggend kom haal om vir julle die regte klere vir die aand te koop. Julle sorg dat julle hier is wanneer sy kom.”
Bokkie is sommer van voor af ontevrede. “Ek is g’n lus vir die ou balletstorie nie. Die dansery is mooi, maar die mense se klere sit te styf en hulle is te vol knoppe en bulte en dinge. En hul gesigte is altyd soos spoke s’n opgemaak.”
“Dit sal nie help om te kerm nie, jong. Ons sal maar net moet gaan. Pa het nooit in die verlede so danig in sulke goed belanggestel nie. Dis weer ou Huizeman se dinge hierdie. En ons sal natuurlik moet rokke aantrek,” sug Tokkie met die grootste misnoeë. “Nou kom. Ons moet liewer maar hierdie goed afkry van ons af voordat ons mangels nog onnodig uitgehaal word en die hele skool afgebreek word.” Hulle glimlag teenoor mekaar. “Pa kry die aapstuipe as hy moet weet waar daardie reuk vandaan kom!”
Met goeie hoop begin Tokkie haar suster se verbande afdraai, en hoe verder sy vorder, hoe ondraagliker word dit om asem te haal.
Maar ondanks die goeie hoop en die stank – want met niks anders kan jy dit beskryf nie – kan duidelik gesien word dat die ontluiking hom geensins daardeur laat stopsit het nie. Die duiwelsmengsel het absoluut geen uitwerking gehad nie.
“Ek wonder as ’n mens dit baie styf vasdraai ...” begin Bokkie met haar nuwe plan van aksie. “As dit nie ruimte het nie, kan dit mos nie groei nie. Jy weet, soos die Japannese vroue hul voete verbind om nie groot voete te hê nie.”
“Dis nogal ’n idee. Ons sal dit Maandag op die proef stel. Môre moet ons mos gaan klere koop. Ou Huizeman kry ’n floute as sy op ’n spul verbande afkom.”
Hulle oorleef darem die naweek met balletuitvoering en al, en teen Maandagoggend is tant An oortuig dat Broekies weer sy muis uitgedra het en op ’n wonderlike manier het die slegte reuk oor die naweek uit die klaskamer verdwyn.
Maandagmiddag het hulle weer ’n ekstra naskoolse klas in klere opvou, en dis met verligting dat hulle hul leermeesteres sien gaan. Toe word die deur goed toegedruk en hul tweede poging kom in werking.
Tokkie voel blou in die gesig toe Bokkie met haar klaar is. Sy kan kwalik asemhaal. Teen die volgende middag voel dit vir hulle hul longe sit soos ’n paar ekstra mangels in hul keel vas en weer is hulle verplig om deur hul monde asem te haal. Hulle begin ook bleek lyk en Henk begin oortuig raak dat daar wel iets met sy kinders se gesondheid skort. Hul monde bly oophang en hulle eet omtrent niks meer nie. Toe hy fyner kyk, sien hy dat hulle ook snaaks en stokkerig beweeg asof hulle ’n laaistok ingesluk het.
Werklik bekommerd roep hy Estelle se hulp in. “Daar skort iets groots met die tweeling. Ek dink hulle moet maar dokter toe.”
“Ja, ek het opgemerk dat hulle die afgelope paar dae beslis nie hul gewone self is nie. Ek sal hulle neem, as jy wil.”
Dis eers toe juffrou Huizeman met hulle voor die dokter se spreekkamer stilhou dat hulle hond se gedagte kry.
“Kom saam,” is die kortaf bevel en hulle kyk haar met groot oë aan.
“Hoekom?”
Sy draai na hulle en nou is daar geen teken van die soetsappige glimlaggie waarmee sy die tweeling gewoonlik wil versmoor, veral wanneer Henk in die nabyheid is nie. “Kyk, dis tyd dat ons mekaar goed verstaan. Wanneer ek julle ’n bevel gee, word daar nie gevra hoekom nie. Julle doen dit net. Verstaan? Julle het gans te lank jul eie besluite geneem. Van nou af neem ek dit. Verstaan julle dit ook? Dokter Gerber moet kyk of daar iets met julle skort, maar ek dink ek weet wat julle kortkom,” voeg sy dreigend by, en hulle moet haar maar gedwee volg.
Teen die end moet hulle hulle maar uittrek, en gelukkig laat die ontvangsdame hulle alleen. Dis ’n groot verligting om van die stywe lakenrepe ontslae te raak. Bokkie kyk wanhopig rond, op soek na ’n plek waar hulle dit kan wegsteek. Ten einde raad word dit onder die een punt van die mat ingebondel en ’n stoel daaroor getrek, waar die skoonmaakster dit die volgende oggend sal kry en nie die vaagste benul sal hê wat die betekenis van die lakenstukke is nie.
Toe hulle eindelik terug is in die motor, is die tweeling stil en is dit juffrou Estelle wat praat.
“Kyk, dokter sê daar skort absoluut niks met julle nie. Nes ek natuurlik vermoed het. Julle wil net aandag trek. Nou wil ek julle vooraf waarsku. Ek gaan geen twak verder van julle verdra nie. As julle my dogtertjies is ...”
Tokkie kan dit nie meer verdra nie. “Ons is nie juffrou se dogtertjies nie, en ons sal dit nooit raak nie.”
Bokkie wens in stilte dat hul pa nou die gawe juffrou Estelle kan sien. Hy sal onmiddellik van sy derde wind afgaan as hy nou in daardie blitsende oë moet kyk.
“Ek wil nie jou parmantigheid hê nie, dametjie. Jy praat nie weer so met my nie.” Haar glimlag is glad nie mooi vir die tweeling nie. “Moenie so seker wees nie. Ek kan dalk nog jul ma word en ... dan sal ons sien. Julle behoort in ’n kosskool gesit te word waar julle dissipline kan leer, en dit is presies wat gaan gebeur as ...”
Sy swyg en met ’n laaste blitsende kyk skakel sy die motor aan. Die tweeling staar mekaar woordeloos aan. Hier is sommer ’n groot lollery aan die kom. Hul enigste hoop lê nou in SOEK EN VIND. Mag dit gebeur dat hulle gou sal vind, anders ...
’n Hele klompie kilometer van Jagershoek af is daar ’n ander soort krisis aan die gang.
“As ek net iets kan kry, hoe gering ook al, waarin sy weer belangstelling sal toon,” laat Thelma Kirsten teenoor haar man hoor terwyl haar blik na buite dwaal waar ’n vrou, onder ’n reisdeken toegemaak, belangeloos oor die pragtige tuin sit en uitstaar.
“Dit sal seker mettertyd regkom, my vrou,” laat Bert hoor. “Jy moet onthou dat sy ’n geweldige skok en ’n ontsaglike verlies gehad het. Dit sal tyd verg om weer die lewensdrade saam te vat en opnuut te begin lewe.”
“Nogtans, Bert. Sy is darem nou al twee maande uit die hospitaal en die ongeluk het al vier maande gelede gebeur. Sy moes in hierdie tyd tog al besef het sy sal moet aanvaar wat gebeur het en alleen vorentoe stap. Haar absolute belangeloosheid begin my eintlik paniekerig maak. Ek is bang dat sy haar verstand nog gaan verloor.”
“Ag nee, kom nou, my vrou. Daarvoor is Lara ’n te intelligente en gebalanseerde mens. Hou maar moed. Op