Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
Dan verdwyn haar glimlag effens. “Bokkie, wat ... wat gaan met jou ... broek aan?”
Twee blou oë rek onskuldig. “Nee, juffrou. Niks.”
“Kom hier, Bokkie. Ek sê, kom hier!” Die juffrou stap self nader, en nou deins Bokkie terug en daar is ’n geskraap en geklingel. Die glimlag is nie meer so stewig om haar lippe nie en Henk Beukes kom ook vinnig nader.
Hy frons. “Bokkie, wat gaan hier aan? Wat raas so?” Hy klap op die agterstewetjie wat agterdogtig bulterig vertoon en absoluut niks met “ontluikende vroulikheid” te doen kan hê nie. “Wat het jy hier ingestop?”
Bokkie het nie ’n keuse nie. “Ons ... ons albasters.”
“Om liefdeswil, hoekom? Hoekom stop jy die goed daar in?”
“Juffrou ... juffrou wil dit verbrand ...”
Henk Beukes se frons verdiep en sy blik gaan na die ander tweeling. “Jy het ook iets by jou ingestop. Wat is dit, Tokkie?”
“My kettie ... en die tolle en ... Dis ons goed, Pa!”
Juffrou Huizeman het tyd genoeg gehad om haar gesig weer op die regte plooi te kry en sy laat vinnig hoor: “Maar ek het nie geweet julle is so lief vir jul goedjies nie, skatjies. Natuurlik kan julle dit maar hou as julle wil.”
Die blou oë kyk haar stip aan. Haar deuntjie is skielik baie anders. Henk Beukes voel dat dinge ’n bietjie gespanne raak en sê vinnig: “Haal uit daardie goed uit jul klere en sit dit terug in die kartondoos. Niemand sal jul goed verbrand nie, maar jul klerekas is nie die regte bêreplek daarvoor nie. Dit kan in die buitekamer gehou word.” Hy probeer op die onskuldige gesig langs hom af glimlag.
“Jy sal hulle maar eers baie moet verskoon, Estelle. Hulle het baie tyd nodig ...”
“Natuurlik, Henk. Ek verstaan. Moenie jou kwel nie. Nou toe, tweetjies, alles terug in die kartondoos.” By die deur draai sy om, haar glimlag breed, onheilspellend. “Môre gaan ons verder!”
Sy is nog skaars by die deur uit, toe die twee hulle begin uitskud.
“Tweetjies! Skatjies!” Tokkie trek haar geliefde kettie uit. “Sy laat ’n mens gril!”
“En het jy gehoor dis al Estelle en Henk? Ek sê vir jou, ons sal vinnig ’n ma moet kry of hier’s groot moeilikheid!”
“As Pa hom net kan inhou totdat ons van daardie hoekie gehoor het ... Watse koorsigheid is dit dan ook nou skielik met hom?”
Bokkie trek weer haar broek reg nadat alles uit is. “Hy is seker nou op sy derde wind.”
“Op sy wat?” Tokkie kyk haar fronsend aan. “Watse ding is dit? Waar kom jy daaraan?”
“Ek weet self nie wat dit is nie, maar ek het nou die dag gehoor ou tant Sofie sê vir tant An die ou wewenaar wat nou by haar kuier, is nog glad nie so gedaan nie. Hy is nog op sy derde wind.”
“O ...” Tokkie knoop ook weer haar klinknaelbroek vas. “Wel, op watter wind Pa ook al is, moet dit hom nie nou begin pla nie, in elk geval nie met ou Huizeman nie. Kom. Kom ons gaan steek self hierdie goed weg. Daardie ou gifangel was vas van plan om ons goed te verbrand.”
Toe hulle met die kartondoos verbykom buitekamer toe, kyk tant An op van die stoof, jammerte in haar oë, maar wetende dat sy haar nie durf inmeng nie. “Julle moet sommer voor aandete gaan bad. Jul Pa moet net ná aandete klaarmaak om na ’n vergadering te gaan.”
Toe hulle klaar is in die badkamer, is daar niks aan die natgespatte vloer of die sopnat handdoeke wat tant An kan vertel daar is nie gebad nie. Sy sug maar by haarself en maak ’n bietjie aan die kant voordat Henk die badkamer moet gebruik. Soms kry sy die tweeling jammer, maar daar kom tye soos nou wat sy juffrou Huizeman alle seën en sukses toewens.
Dis aan etenstafel dat tant An skielik haar neus in die lug hou en snuif.
“Iets ruik nie lekker nie. Dis weer Broekies wat ’n muis ingedra het en dit net hier êrens laat lê het,” beskuldig sy die groot, vet huiskat wat op sy bespreekte plek tussen die tweeling se stoelpote sit en wag vir sy snapsies van die tafel af.
Broekies knip net sy oë en kyk meerderwaardig eenkant toe. Die tweeling loer vinnig na mekaar, kyk dan blitsig op hul borde terug. Waar hulle ander kere gou hul geliefde kat verdedig, laat hulle hom vanaand skandelik in die steek.
Die volgende dag in die klaskamer wil dinge ook net lol. Almal kom agter dat iets vandag nie hier pluis is nie.
Juffrou Estelle Huizeman is ná pouse na die hoof se kantoor. “Ek wonder of daar nie miskien iets op die een of ander manier onder die klaskamer se vloer ingekom en toe daar doodgegaan het nie. Dis net in ’n sekere hoek van die klaskamer waar dit baie duidelik ruikbaar is – daar waar die tweeling is. Daar sal beslis ondersoek ingestel moet word.”
Maar hoe die skoolhoof en die skoolopsigter ook al soek, kan hulle nêrens ’n plek, binne of buite, kry waar ’n dier onder die vloer van die klaskamer kon inkom nie. Hulle besluit om maar nog so ’n dag of twee kans te gee. As dit dan nie anders kan nie, sal die vloer eenvoudig opgebreek moet word.
April het skielik enkele warm dae voordat die winter in sy volle glorie begin. Teen die derde dag besluit die skoolhoof dat die hoek van die klaskamer se vloer maar opgebreek moet word.
Tant An besluit dat elke meubelstuk in die huis verskuif moet word. Daardie muis moet eenvoudig gevind word. Broekies lewe swaar. As hy dit waag om sy kop by die deur in te steek, word hy na buite verwilder. Dis net snags dat hy skelmpies deur die tweeling se kamervenster getel word. Maar ná twee nagte binnenshuis, besluit hy uit eie vrye wil dat dit verkiesliker is om buite te slaap, want nie eens meer die koel nagwind deur ’n wawyd oop venster wil ’n kat laat asem kry in daardie kamer nie.
Tant An se lugverfrisser gewaar dit. Sy is later heilig oortuig ou Peet Veldman verkoop halwe kannetjies aan haar, want soos wat dié goed darem op en gedaan raak in hierdie huis is ongelooflik.
Teen die derde dag is juffrou Estelle Huizeman saam met die skoolhoof en skoolopsigter dronkgeslaan. Die hele hoek van die klaskamer se vloer is opgebreek, maar niks kon gekry word nie. Maar die reuk bly hang in die lug, en nou moet Henk Beukes saam met sy personeellid stem: iets moet êrens onder hierdie klaskamer se vloer lê en ontbind. Die prikkeling in jou neusgate is ’n onomstootlike bewys.
“Ons sal maar oor die naweek kyk wat ons kan doen, Estelle. Dis gelukkig vandag Vrydag.”
3
Die tweeling hou hulle deesdae taamlik eenkant en pouses staan hulle weer effens apart nadat hulle seker gemaak het watter kant die wind waai.
“Ons sal hierdie goed moet afhaal, jong,” pleit die een. “Hulle gaan die hele skool opbreek en niks kry nie!”
“Kom ons hou nog tot môre uit. Ek moet sê, ek kan myself beswaarlik verdra. Dit ruik darem onmenslik sleg, veral as jy jou neus laat sak.”
“Ek weet nie meer hoe dit is om deur my neus asem te haal nie! Ek het gesien Pa kyk vanoggend so na my oop mond.”
Toe hulle daardie Vrydagaand aan tafel sit, klink tant An by wanhoop verby.
“Ek het nou hierdie huis van hoek tot kant deurgesoek. Hier is nie ’n meubelstuk wat ek en Mieta nie verskuif het nie, maar daardie muis kry ek nêrens nie.”
Die hoof van die huis frons ergerlik, maar hy moet simpatie met tant An hê. Ook hier in sy eie huis ruik iets beslis nie lekker nie. Sy blik val op die tweeling wat net sit en peusel aan hul kos. Nie dat hulle nie honger is nie. Nee! Maar as ’n mens eet, moet jou mond tog die een of ander tyd toegaan en moet jy asem deur jou neus kry en daarvoor sien hulle nie meer kans nie. Die natuurlike kanale vir asemhaling is by hulle beslis taboe.
“Hoekom eet julle twee nie? En wat makeer julle om so onverfynd te kou? Maak toe jul monde as julle kou. Liewe aarde, julle is al groot meisies.”
Tant An bekyk ook die tweeling met meer aandag. Dis waar. Hul eetlus is die afgelope dae nie wat dit altyd was