Vrou van formaat. Helene de Kock
nee, Simon! As julle dokters eers só begin redeneer! Dit klink so of jy sit en wag dat my bloeddruk weer moet handuit ruk soos laas Desember en as dit nie was vir daardie nuwe pil wat jy my gegee het nie, weet ek nie so mooi nie! Tussen hakies, die newe-effekte is maar erg, hoor! Ek sweet my dood en …”
Genadiglik besluit Janneman om ’n keel op te sit, want midde-in die geklike gesprek het hy uit pure frustrasie sy ma se vurk te hard teen sy teer tandvleisies gedruk. Danika skrik toe sy dit sien en Surien buk beangs oor die kind. Maar dis Simon wat kalmpies die oopgesperde mondjie bekyk en gou-gou vasstel dat daar darem nie bloedskade is nie.
Danika glimlag verlig. Sommige dinge het immers dieselfde gebly: Simon se onverstoorbare panache, al is hy by tye so onhebbelik moedswillig; Surien se sonnigheid, al het Danika haar nou die dag betrap dat sy snik asof die lewe geheel uitsigloos is; haar pa se stil, diepvloeiende smart; en mevrou Renske se verbete pogings om toegang tot hierdie kring te verkry. Selfs Gesie is nog net dieselfde, al is sy intussen met Piet getroud. Dis net sy, Danika, wat as vreemdeling teruggekom het. Maar net sy weet dit. Dis sy wat snags alleen met hierdie buitestander worstel. Hierdie nuwe, ander Danika, in wie emosies bot wat so onverhoeds stekelrig is soos dorings aan ’n blomstruik.
Haar gedagtes stol. Sy luister afgetrokke na Simon se gekweel om die kleintjie te kalmeer en mevrou Renske se geteem oor messegoed wat liefs buite bereik van ’n kind geplaas moet word. Sy hoor net dofweg haar pa se sonore stem in die gang en kyk vraend op toe hy inkom. Maar hy vou net swyend sy maer hande voor hom toe hy gaan sit.
“Wat is dit?” fluister Surien met intuïtiewe skrik en Danika begin stadig inskep.
“Dis dominee Rudolf Theron,” sê haar pa sag. “Hy kom volgende week al. Sy huwelik is afgestel.”
“Haai, foei tog!” adem mevrou Renske tongklikkend. “Wat het dan gebeur?”
Danika plak ’n lepel vol breyani in Simon se bord. “Wat wil mens maak as mens weet?” vra sy koud.
“Haai, nee,” keer die vrou vervaard, “’n mens wonder tog maar net …”
Tot Simon kyk Danika openlik verbaas aan. Maar sy gee nie om nie. Dis die nuwe Danika wat praat toe sy inskep en aangee asof sy besig is om rantsoene in ’n strafkamp uit te deel. “As dominee Theron se verloofde hom voor die kerkdeur gelos het, is dit sy saak en syne alléén. Nét hy sal weet wat wát is!”
Haar pa staar haar stip aan, toe hou hy sy hande na weerskante uit en sê bedaard: “Kom, laat ons bid.”
2
“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig …”
Danika luister na dominee Rudolf Theron se vriendelike, welluidende stem, maar haar binneste kolk soos ’n onstuimige see – nes in die mite van die twee gedoemde vroue wat die oseaan sout moes maak deur ewig op die bodem die meulsteen te bly draai.
En tog, die boodskap is eenvoudig: net één ding is nodig. Danika loer sydelings na Surien wat langs haar sit, met Janneman vas aan die slaap teen Simon se breë bors. Dis of die malende soutwaters in haar opstoot, haar hart taai maak – te taai om te glo of te vertrou. Sy is nie meer die ou Danika nie. Sy, wat ten spyte van haar broeiende ontevredenheid met haar hoekige, lang lyf en windverswiepte rooibruin hare, haar tóg vir baie vreugdes kon oopstel; hinderlikhede kon opsy skuif en geniet. Ook Surien het dit. Al het smart haar gemaal, is sy steeds dieselfde Surien wat lewensbly stroomaf swem. Sy hét daardie een ding wat nodig is: die vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Sy kyk met hernieude aandag na dominee Rudolf Theron se fris gestalte op die kansel. Sy swart kuif wat net so effens springerig terugstaan van sy voorkop, sy oë wat met diepblou erns elke woord uit sy mond beaam: “Ons is so besig met die dinge van die Here dat ons nie by die Here van die dinge uitkom nie …”
Dis waar, bely sy, kyk af op haar saamgeklampte hande. U weet ook dat ek U wil kwalik neem vir alles. Ek verkies dit nou om soos Marta liefs dolbedrywig te wees, want as ek stil word, gaan hierdie verskrikking my inhaal. En ek weet nie of U my genoeg sal kan vertroos nie, want niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Daarom, Here, moenie vir my kwaad word nie.
Só bid Danika en haar vingers kramp swetend in mekaar. Verdra my dan, Here, omdat ek nog nie verby al die dinge kan kom tot by U nie. Goed en kwaad is te intiem vervleg in my. Dis so heerlik om Ribbebeen te omskep tot ’n oase, maar dis so aaklig om propvol bitterheid te wees, om geen vreugde te kan put uit die tyd in Frankryk nie. Selfs die mooi het muf geword net omdat één enkele mens ’n ander nie wou ag nie.
Sy praat met God en met haarself, sy hoor die Woord, maar raak verstrik in haar eie woorde. Oplaas smeek sy met ’n radelose, redelose verdriet dat alles – hóé weet sy nie – weer eendag moet regkom. Tog, toe sy opstaan om die slotgesang saam met die gemeente te sing, doen sy dit met dieselfde soete onverstoorbaarheid waarmee sy haar lewe voor die mensdom probeer leef vandat sy terug is. Sy knipoog selfs vir tant Raaitjie wat omkyk na Simon en Surien se saamsingery uit een gesangboek.
Ná die diens staan almal in groepies en tee drink by die stoeptoonbank van die kerksaal. Die Augustuswind is geniepsig en die susters skink ywerig. Eureka Renske voeg haar by Simon en die pastoriedogters, en haar voorvinger wink in dominee Roux se rigting toe die kerkraad uit die konsistorie kom.
Sedert die ontvangs van die nuwe predikant is daar so ’n ekstra aura van besitlikheid om haar, dink Danika geïrriteerd. Iemand moet ingryp of ek kry nog die stuipe.
“O,” sug mevrou Renske toe sy vir dominee Roux ’n koppie tee aangee, “die man preek darem maar gevoelvol! Ek raak skoon bewoë!”
Dominee Roux staan net swyend en teug aan die warm tee, maar Danika kan dit opeens nie meer hou nie. Surien wil-wil nog vir haar groot oë trek, maar sy is by omdraai verby. Dis nou die derde Sondag dat sy moet aanhoor hoe mevrou Renske se emosies lewe kry onder die nuwe dominee se preke sonder dat sy eintlik veel van die inhoud kan oorvertel; om nie te praat van toepas nie.
“Ja,” sê Danika, “maar ons sal almal moet leer om ons gevoelens in toom te hou en ons prioriteite reg te kry. Ons moet liefs heel eerste by die Here van die dinge uitkom.” En toe mevrou Renske haar met saamgeperste lippe aankyk, vaar sy voort: “Dit help nie ons skarrel soos mal hase rond om ’n ontvangs vir die nuwe man te reël en ons byt mekaar se koppe in die proses af nie!”
Eureka Renske se nek verstyf. “Anna Malan,” sê sy uitdruklik, “het daarna gesoek om oor die vingers getik te word!”
“Omdat sy dit gewaag het om te sê dat ons ’n stemmige koek-en-tee-ontvangs moet hou pleks van ’n vleisbraai-makietie wat aan ’n mallemeule herinner?”
Danika kyk na die kring verslae gesigte om haar. “Luister,” sê sy meer gedemp, “tant Anna was reg. Toe dominee Theron vroeër opgedaag het omdat sy huwelik afgestel is, was dit nie om hom vas te loop in ’n sirkus van gawe gebare nie, maar in die hoop om sagkens begelei te word totdat hy beter voel oor die hele affêre. Maar dít, besef ek nou, is nie iets wat deur almal begryp sal word nie!”
“Dít,” snak Eureka, “is ’n kwessie van opinie!” Sy kyk hulpsoekend na dominee Roux, maar hy staar stoïsyns voor hom uit. Surien buk skielik om Janneman se loopneus af te vee. Hulp kom uit ’n onverwagte oord. Dis Simon wat Danika stewig aan die elmboog beetkry en ewe gaaf glimlag: “Ja wat, ek stem saam met u. Al die bedoelinge was immers goed en ek dink Rudolf het dit so verstaan.”
Danika probeer haar arm vergeefs loswikkel, terwyl sy met nuwe momentum voortgaan: “Goeie bedoelinge kan soos skape en bokke geskei word. En ons weet almal watter verskil daar tussen dié twee spesies is!”
Toe pak mevrou Renske darem ook die bul by die horings. “Nou maar, Danika, dan moet ek en jy maar die ding uitpraat. Dit lyk my jy en Anna Malan stook kwaad wat kon gebly het en …”
“O nee!” kap Danika terug. “Ons hou net nie daarvan om gedomineer te word nie. Reëlings is in die vroue se kele afgedruk sonder dat daar konsensus was en …”
“Dis genoeg, Danika,” sê dominee Roux eensklaps in sy oppas-vir-jou-stem