Ná aan my hart. Christine Ferreira
Ná aan my
hart
Christine Ferreira
Opgedra aan Johan, Francois en Christoff.
Vir ’n lewe van liefde.
Voorwoord
Hierdie bundel dagstukkies spruit uit die redakteursbriewe wat ek die afgelope agt jaar as redakteur van Lééf – met hart & siel geskryf het. Nooit sou ek kon droom dat dit eendag tot ’n boek sou lei nie.
Elke stukkie en storie is ’n klein blik op God se alomteenwoordigheid en betrokkenheid by elke aspek ons daaglikse lewe. Ek is geen prediker of wysgeer nie; net ’n doodgewone vrou en ma wat nie sonder haar Vader kan klaarkom nie. Elke skryfsel is van Hom afgebid. Maand ná maand het Hy my gelei in dit wat ek moes neerpen en daarvoor is ek diep dankbaar.
Mag dié boek jou seën, en mag God se liefde en groot genade, ook vir jou, op elke bladsy sigbaar wees. Aan Hom al die eer.
“Om skulpe en ander mooi goed langs die see te loop en optel, was nog altyd vir my stilwordterapie …”
Een
In die hoek van my kantoor lê ’n spoelklip. Soms val my oog daarop. En onthou ek weer wat dié klip eintlik vir my beteken.
In die middel van die jaar kry ons geleentheid om ’n paar dae in ou vriende se strandhuis te gaan wegkruip.
Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip uitverkies vir die ereplek
-1 Pet 2:6
Toegevou in windjekkers en truie bring ons die meeste van ons tyd op die verlate strand deur. Die kinders speel kaalvoet aan die soom van die branders. Ek en Johan stap ver ente langs die strand. As deel van ons vakansieritueel tel ons elke dag ’n spesiale spoelklip op om saam te neem huis toe.
Om skulpe en ander mooi goed langs die see te loop en optel, was nog altyd vir my stilwordterapie – so asof ek met elke kosbare vonds ’n stukkie van dié belewenis met my sal kan saamneem na daar waar die see ver is.
Ons versameling vakansieklippe word by die dag groter. Van koeëlronde kleintjies tot dieprooi grotes met ongewone kleurpatrone en vorms. Op die laaste dag van ons vakansie word ’n paar van die mooistes ingelaai huis toe.
Dis tydens ons stiltetyd ’n paar dae later dat Johan dié stukkie Skrif raaksien: “Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie” (1 Pet 2:6). En dít word die boodskap van my kantoorklip, ’n belofte waaraan ek my daagliks wil herinner.
Vader, mag elke klip wat ek iewers optel, my elke keer laat dink aan U, die Hoeksteen waarop ons ons lewe bou, die Rots wat ons anker. Mag ek ook ’n lewende klip wees wat u Naam in liefde uitroep.
Twee
Op ’n Vrydag, kort ná my aanstelling as redakteur van Lééf – met hart & siel, kom ek vroegaand moeg van die werk by die huis. Toe ek deur die oop kombuisdeur vanuit die motorhuis my man, met sy denimvoorskoot aan, voor die stoof sien werskaf, wéét ek daar wag iets spesiaals.
Aan tafel gesels ons oor die dag se gebeure. Skielik daal ’n ongekende gewyde stilte oor die tafel neer. Christoff, my jongste, vroetel in sy broeksak, terwyl Pa en ouboet Francois met erns toekyk hoe hy ’n pragtige antieke diamantringetjie ewe plegtig aan sy verblufte ma oorhandig. “
… Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed
– Joh 10:10
My lief, hiermee vier ons jou redakteurskap, en dít is wat ons vir jou en die nuwe tydskrif toewens,” sê Johan.
Christoff maak ’n klein handgeskrewe briefie sorgvuldig oop en begin lees. “Liewe Ma, hierdie is my wens vir jou. Pret, vreugde, vrede, voorspoed en blydskap; dit is wat die vyf diamante in dié ring beteken.”
Nou kom Francois, my oudste, aan die beurt. Nóg ’n ringetjie met vyf diamantjies; nóg vyf wense. “Wysheid, insig, sukses, plesier en seëninge is wat ek jou vir jou werk by die nuwe tydskrif toewens, Ma.”
Johan kom laaste aan die beurt. “Die derde ring bring dié wense met hom saam: kennis, energie, guns, baie kere se skaterlag en fokus. Vir jou en die tydskrif.”
Vader, mag my lewe oorloop van liefde, vreugde, blydskap, wysheid, insig, kennis en nog meer. Mag ek kies om met oorgawe te leef omdat ek wéét Jesus het aan ’n kruis gesterf sodat ek kan lééf.
Drie
Op ’n Vrydagmiddag bel ’n ou vriendin. “Kom drink môre saam met my koffie. Ek mis jou.”
’n Welkome uitnodiging van een van my beste vriendinne wat ek maande laas gesien het. Nie omdat sy ver bly of landuit was nie, maar bloot omdat ek nie tyd gemaak het om haar te sien nie.
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het
– Joh 3:16
Ons kuier by ’n straatkafee op ’n besige hoek in ’n boomryke woonbuurt. Soos dit ou vriende betaam, vat ons die drade saam asof ons mekaar gister laas gesien het. Ons gesels oor ditjies en datjies sonder om mekaar te probeer beïndruk of vermaak.
’n Paar dae later bevind ek my saam met een van my nuwe kollegas in ’n huurmotor op pad na ’n vroue-oggend op Moorreesburg. Dié keer is die Kaap op sy mooiste. Vars en groen ná die reën, die landskap wyd en ver. Ons gesels land en sand, en leer mekaar ken. Ons deel in die vreugde van die natuurskoon en gee iets van onsself. Dis die begin van ’n nuwe verwantskap.
’n Week later sit ek aan ’n keurig gedekte tafel by ’n deftige buiteklub tussen sowat driehonderd vroue. Dié oggend is ek die gasspreker by ’n fondsinsameling vir ’n kleuterskool. Om my sien ek vroue wat van hulself, hul tyd en hul liefde gee. En ek weet dat ek vanoggend uit gehoorsaamheid en ter wille van die Liefde iets van myself aan vreemdes moet gee.
Here, help my om minder van goed en meer van myself te gee omdat ek reeds die grootste Geskenk van almal ontvang het.
Vier
Ek is moeg toe ek by die vrouekonferensie opdaag. Uitbranding, rus en die vroulike siel is van die besprekingspunte op die agenda.
Die eerste spreker vertel rustig hoe sy haar rug op die “streng” God van haar kinderdae gedraai het – net om ’n paar maande later weer sy sagte stem in liefde te hoor roep. Depressie en uitbranding het hul tol geëis van dié lieflike vrou. Sy vertel hoe sy weer vreugde moes vind in die stilte van haar agtertuin, van die belangrikheid van rus en afsondering, om haar eie grense te ken en te weet dat God nooit meer van haar verwag as dit waarvoor Hy haar gemaak het nie.
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee
-Matt 11:28
Die tweede spreker praat oor ’n nuwe manier van asemhaal. As jong kortafstandswemmer het sy haar verwonder aan die langafstandswemmers wat moes leer om op ’n nuwe manier asem te haal om te kon volhou. Sy vertel van ’n tyd later in haar lewe toe sy ’n duur prys moes betaal bloot omdat sy nie reg kon