Ná aan my hart. Christine Ferreira
tog te bang dat ons die oefensessie misloop. Ons is nie heeltemal seker van ons roete nie, maar dis pragtig buite. Dit het die vorige nag baie gereën en die grond is dik onder ons voete. Heeltemal te nat vir die perde om te kan oefen, besef ons toe ons die oefenbaan bereik. Daar is nie ’n perd in sig nie.
As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?
-Jer 12:5
Teleurgesteld draai ons om en begin terugstap. Aan die einde van ’n lang laning eikebome hoor ons meteens die gedreun van hoewe. En daar in ’n kamp in die verte sien ons ’n groep merries met hul vullens, uitbundig aan die galop. Onbewus van tyd en plek verwonder ons ons aan die perde se spoed, die krag waarmee hulle hardloop.
Terug by die huis haal ek Eugene H. Peterson se boek oor die lewe van Jeremia, Run with the Horses, uit die boekrak en blaai daardeur. Ek laat toe dat sy woorde en verskeie kantaantekeninge, gekrabbel in potlood, my inspireer en van voor af laat strewe na die beste lewe wat slegs moontlik is deur God se krag en leiding. En terwyl die boom buite ons kamervenster se groot blare stil-stil begin val, word dit my wens om élke dag, ongeag die omstandighede, dit reg te kry om saam met perde te kan hardloop.
Here, vul my met u krag om hierdie dag met durf en waagmoed aan te pak.
Tien
Ek word per e-pos genooi na die oorhandiging van ’n gesogte toekenning in die tydskrifbedryf. Ons tydskrif wen glo ’n prys, sê die vrou. “Dis in die middel van die KKNK; ek is dan in die Klein-Karoo,” probeer ek verduidelik. Ek besef ek sal my dinge maar so moet reël dat ek vir dié geleentheid terugvlieg Johannesburg toe.
… alles kom tot niks, dit is ’n gejaag na wind
-Pred 1:14
Ek beplan haarfyn. My vlug uit George Johannesburg toe vertrek net ná drie die middag. Ek behoort net voor vyf te land – betyds vir die aand se byeenkoms. ’n Halfuur buite Oudtshoorn kom ek agter die omgewing lyk baie onbekend. Daar is nie ’n naambord in sig wat wys waarheen ek op pad is nie. Hier’s moeilikheid. Gelukkig trek ’n minibustaxi by ’n afdraaipad voor my af. Ek hou dadelik stil en vra of dit die pad George toe is. “Néé, mevrou. Jy sal ál die pad moet terug Oudtshoorn toe!”
In George styg ons uiteindelik op en by O.R. Tambo vlot dinge soos dit moet, maar op die hoofweg staan die verkeer botstil weens ’n ongeluk. Ek draai by die eerste afrit af en jaag deur die donker op soek na ’n kortpad. Digby Sandton verdwaal ek ’n tweede keer die dag. Toe ek ’n uur later flou gejaag by die balsaal instap, is alles verby. Kollega Wynand sit met ’n breë glimlag met die goudgeraamde sertifikaat op die leë stoel langs hom. Eers later besef ek watter kosbare les ek uit dié ervaring moes leer. Na góúd hoef ons nooit te jaag nie.
Vader, laat my in die wete rus dat U op u bestemde tyd vir my méér sal gee as waaroor ek ooit kan dink of waarvan ek ooit kan droom.
Elf
Vir my is ontydige reën altyd ’n teken van God se genade. So asof Hy op ’n bestemde tyd die sluise van die hemel oopmaak om my te herinner aan ’n vervulde belofte, of aan die matelose seën wat Hy oor ons uitstort.
Ek en Johan woon die NG-gemeente Moreletapark se eerste diens in die nuwe imposante Woodlandsgebou by. Die opwinding is groot oor die inwyding van dié nuwe kerkgebou met sitplek vir meer as seweduisend mense. Die ruim parkeerterrein is reeds vol toe ons daar aankom. Die groot baksteengebou met die wit kruis op die dak troon triomfantelik voor ons. Binne vind ons sitplek op die tweede balkon. Onder is dit klaar stampvol.
Waar die stroom kom, sal alles lewe
-Eseg 47:9
Dis byna tyd vir die diens om te begin, maar die mense bly instroom. Soos in die kerk in my kleintyd dra die kerkraadslede ekstra stoele in. Later is selfs die paadjies vol. Die tema van die preek tref my diep. Daar word gepraat oor die stroom van lewende water wat in Esegiël se visioen in hoofstuk 47 uit die tempel tot in die Dooie See vloei. Alles wat dood was, word hierdeur weer lewend gemaak. Dis toe ds. Dirkie van der Spuy vertel hoe dit die vorige aand saggies begin reën het terwyl die gemeente van hul ou kerkgebou na die nuwe gebou gestap het, dat die trane in my oë opwel. Ook hiér is die reën ’n teken van God se genade.
Toe ons ná afloop van die diens buite kom, bol die wolke donkergrys. Dit het intussen weer ontydig begin reën.
Here, dankie vir die seën van reën. Laat strome lewende Water vandag ook deur my vloei.
Twaalf
Dis langnaweek en ons is op pad na ’n wildplaas in die Bosveld. By die tydskrif het ons die voorafgaande paar dae een van die moeilikste weke in ’n lang tyd agter die rug. Produksieprobleme en ander klein jakkalsies het die spanning hóóg laat styg. Teen middagete draai ons by die reservaathek in. Ons blyplek voldoen aan alle verwagtinge, met kamers wat oor ’n watergat uitkyk. Die omgewing is stil en rustig.
Bedaar en erken dat Ek God is …
-Ps 46:11
Laatmiddag vertrek ons op ’n wildrit. Ek sit styf teen Johan agter op die oop voertuig. Om my is die veld groen en oop, en die wind waai koel teen my gesig. Tog bly die vrede my ontwyk. Nie eens die stilte van die omgewing bring my heeltemal tot rus nie.
Die aand kuier ons om die boma-vuur. Die kinders kwetter opgewonde oor die dag se belewenisse. Ons gaan slaap vroeg om ligdag vir ’n wildbesigtigingsrit te kan opstaan.
Die volgende oggend ry ons in gewyde stilte terwyl die oggendson die veld begin inkleur. Om ons word die dag verwelkom deur ’n blinkmooi troupant, rooivinke en ander veldvoëltjies. Later die oggend kom ons af op twee pragtige, jong leeumannetjies wat luilekker in die middel van die grondpad lê. Ons sit sonder haas doodstil in ons voertuig om die konings van die veld te bewonder. Niks anders maak nou saak nie. Ek voel hoe die rustigheid van die natuur my koester en die langverwagte vrede in my begin posvat. En ek besef dat die groot vrede nie van buite nie, maar van bínne kom.
Here, help my om vandag wéér te midde van ’n besige wêreld vol uitdagings opnuut u vrede te vind.
“Daar is ’n mengelmoes van irisse, lelies, malvas, kappertjies, papawers, dahlias en ander blomme wat welig en deurmekaar groei.”
Dertien
So ’n paar jaar gelede bring ek ’n paar dae in Parys, Frankryk, deur. “Jy móét planmaak om die skilder Monet se tuin te besoek,” raai ’n vriendin aan. My program laat my toe om dié beroemde tuin op Giverny, ’n dorpie sowat ’n uur vanaf Parys, te besoek. Nie eens my vriendin se liriese beskrywing van die rye papawers, antieke rose en ander blomme kon my voorberei op wat agter die hoë tuinmuur wag nie.
Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens
-Matt 13:37
Op die Japannese bruggie wat oor die bekende waterlelietuin uitkyk, moet ek my knyp om seker te maak dat ek hiér is. Hoewel die res van die reusetuin in simmetriese rye uitgelê is, is daar geen presiesheid of orde in hoe die blomme en plante uitbundig groei en blom nie. Daar is ’n mengelmoes van irisse, lelies, malvas, kappertjies, papawers, dahlias en ander – vir my onbekende – blomme wat welig en deurmekaar groei. By ’n toeristewinkeltjie koop ek ’n pakkie rooi papawersaad om saam te neem huis toe.
Terug