Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock
en hy is … gaaf en so aan. Maar ek en hy sit nie juis langs een vuur nie.”
“So? En wanneer het julle dit nogal uitgevind?” vra hy op sy ou, skerpsinnige manier.
“Ons … het een aand gesels,” sê sy aarselend en jok ’n stukkie by: “Sommerso op die strand, weet jy. En dit het my laat besluit dat hy sedert ons prille jeug baie verander het, te veel om my mee te versoen.”
“Hm.”
“Wat hm jy?” vra sy kriewelrig. “Dink jy nie ook hy het verander nie?”
“Moenie dig wees nie,” praat hy asof hulle nog op skool is, maar vervolg in alle erns: “Alfons Minnaar mag bolangs ’n bietjie blink geraak het, maar in sy hart der harte is hy nog dieselfde ou Alfons met wie ek kopstukke kon gesels.”
“O ja? En waarom kom hy nie meer so dikwels hier nie? Waarom maak hy asof ek en jy en ook Paul byna nie bestaan nie?”
Hy pers sy mond peinsend saam.
“Hm … ek wonder ook daaroor, maar nie te veel nie. Miskien gaan hy deur ’n fase. So ’n liberale een. Sommige wetstudente kry so ’n gier. Maar in Alfons se geval sal dit oorwaai. Nou nie dat ek dink dat hy ooit kliphard konserwatief was nie, maar iemand soos hy sal nooit heeltemal die kluts kwytraak nie. Sy lewenswaardes was nog altyd reg. So van gesels gepraat … ek en hy het ook nou die dag so ’n bietjie gesels. Sommer in die water toe ons geswem het. Enne … laat ek jou nou maar vertel: Alfons is nóg Alfons.”
Sy sit ’n oomblik doodstil, toe glimlag sy en gee sy bruin krulkuif ’n plukkie. “Nou ja, sien, dan is jy mos verniet bekommerd. Jou vriend Alfons sal weer na jou terugkeer!”
Maar hy kyk haar streng aan. En sy oë het dieselfde sware kyk as wat haar pa s’n soms dra as hy haar betig: “Moenie hiermee spot nie, Danien. Alfons is ’n mens om mee rekening te hou. As hy jou vriend is, het jy baie; as jy die risiko loop om hom te verloor, kan jou verlies onmeetlik wees.”
Haar mond word kurkdroog. Hou op, wil sy sê. Hou op, of ek huil my hart net hier uit. Weet ek dit dan nie?
En sy ken Frans ook. Hy is iemand wat ’n goeie vriendskap koester soos wat die wynboere in hul kontrei met hul erfgrond maak. Dis net iets wat ’n mens nooit, ooit uit jou hande laat gaan as jy dit enigsins kan verhelp nie.
“Ek spot g’n,” sê sy kortweg, en toe met ’n ligte laggie: “Kom ons praat liewer oor jou en Anel. Sien jy uit na die troue, boet?”
Sy mond roer verleë en toe glimlag hy sy breë, seunsagtige glimlag, en sy gesig kry ’n kleurtjie. “Ja …” hy sug effens, “laat ek dit nou maar erken. Ek is mal oor Anel, was nog altyd. Ek weet nie mooi wat dit aan haar is wat my hou vir hou so bewerig maak nie, maar ek soek nie meer na redes daarvoor nie. Sy’s my meisie, ou sus, en elke liewe keer as ek haar sien, wens ek ek kan die dae een vir een op my kalender omblaai tot by die vierde April, sjoe, dit gaan ’n groot dag wees!”
“Wat is dit nou?” vra Anel nuuskierig, toe sy met ’n skinkbord met koffie inkom.
Danien staan op van die mat af en neem haar beker koffie sommerso in die verbygaan.
“Ek gaan boontoe om nog geskenkies toe te draai. Laat hy jou vertel!”
Frans is nie links nie en neem die skinkbord by ’n verbaasde Anel om dit op die koffietafel neer te sit en haar net daar in sy arms toe te vou en haar te soen totdat sy snakkend na asem begin lag. By die voet van die houttrap staan Danien hulle onbeskaamd en dophou, en voel hoe die verlange na Alfons in haar saamkramp.
Frans lig sy kop en maak groot oë. “Loop! Dis nie vir kinders nie!” sê hy, en Anel laat haar kop laggend teen sy skouer sak.
“Ag wel,” sê Danien koeltjies, “ek moet ook iewers leer, nè?”
Toe eers stap sy ewe waardig die trap op en hoor hoe die twee daar onder gedemp lag en gesels, volslae opgeneem in hul eie vooruitsigte.
Bo in haar kamer maak sy die kas oop. Agterin die boonste laai het sy Alfons se geskenk versteek. Sy en Anel en haar ma was weer eendag Plett toe om nog laaste inkopies voor Kersfees te doen. En sy was weer by die leerwinkeltjie in. Sommer maar net in die hoop. Die repiesgordyntjie het nie geroer nie, al het sy lank daarvoor bly talm. Hy het tog gehoor toe sy hardop op die strand aan Anel gesê het dat hulle maar wéér sal moet Plett toe, want haar ma se goedjies is nog nie alles gekoop nie. Of het hy? Sy oë was toe, waar hy op sy handdoek daar naby gelê het, maar of hy ooit na hul gesprekke geluister het, bly ’n vraag. Hy het in elk geval skaars daaraan deelgeneem. Byna asof hy hulle ander kwalik neem dat hulle ook daar is.
Sy het haar weggedraai van die stil gordyntjie en onsiende na al die leerware gestaar. Dis soos ’n spieëlgeveg, of ’n spel met die wind, het sy gedink. Of dalk hou ek my op met ’n vuurvliegie. ’n Aan-en-af-mens. Ek is nooit mooi seker of hy gaan kom of nie; of wat hy gesê het, nie dalk klaar vergete is nie.
Sy was só bedruk dat sy gewens het sy kon heeldag net daar in die skemerige ou winkeltjie bly, waar ’n mens met die instap al die leergoed kan ruik.
“Gaan u iets neem?” het ’n ouerige vrou haar oplaas kom vra.
“Ja,” het sy asemrig geantwoord. “Net ’n oomblik, asseblief.”
Sy het immers nog nie vir haar pa en Frans iets gekoop nie, en het lusteloos begin rondkyk. Maar sy was gou geïnteresseerd. ’n Notebeurs van buffelvel vir Frans en ’n mooi een van volstruisvel vir haar pa. ’n Oomblik het sy geaarsel, en toe ’n breë gordel van die rak gehaal. Vir Alfons. ’n Soort manifestasie dat daar iets tussen ons is, het sy gedink, en ’n bietjie lag vir haarself gekry. Waarom laat ek my so kasty? Hy het my lief. Al is dit nou nog so ’n wegkruipspeletjie.
Meer opgeruimd as in dae het sy haar by Anel en haar ma gevoeg, waar hulle in die Beacon Isle Hotel gesit en tee drink het, die gordel soos ’n kosbare pand in haar sak.
Ook nou beskou sy dit fyn voordat sy dit eers in sneespapier en toe in ’n blinkgestreepte papier toedraai. Sy oordink die woorde van die bygaande briefie ’n volle tien minute lank voordat sy eindelik net skryf: Vir Jou. Wanneer sy dit vir hom gaan gee, weet sy nie. Die geleentheid moet hom net voordoen!
Maar Kersaand daag op sonder dat Alfons naby die Fouchés kom. En dis ’n bedeesde Danien wat saam met haar familie om die Kersboom sit terwyl haar pa vir hulle uit Lukas 2 voorlees. Gaandeweg sypel die stille vrede van dié woorde ook deur na haar wankele gemoed en toe almal saamsing, doen sy dit met oortuigde oorgawe. Dis toe hulle begin presente uitdeel dat sy weer skrynend eensaam begin voel. En toe Paul Hough onverwags opdaag met ’n geskenkie vir haar, voel sy amper nog meer alleen.
“Jy moes dit nie gedoen het nie,” sê sy die geykte woorde en hy glimlag effens.
“Maar nou het ek, en ek hoop jy hou daarvan.”
Sy soen hom skrams op die mond en pluk lomp aan die pakkie om dit oop te kry. Dit voel vir haar asof almal se oë op haar hande is, maar ook sy snak na haar asem toe sy die inhoud sien. Dit is bepaald ’n peperduur silwerkraffie en ses kelkies, en toe sy stom-vraend na Paul kyk, sê hy glimlaggend: “Jy gaan verlang na Fleur du Vin as jy eers begin skoolhou. Toe dink ek om solank vir jou ’n kraffie te gee. Die wyn kan jy van die huis af bring en dan kan ons soms so teen skemer iets op die verlange drink.”
Daar sak ’n bedugte swye waarop Paul onverstoord voortgaan: “Noudat jy in Kaapstad gaan wees, sal ek en van my vriende mos soms vir jou kom kuier. ’n Mens kan nie so ’n mooi meisie laat vereensaam nie. Veral nie as ’n mens weet dat haar pa mos nie ’n kind wat hy op wyn grootgemaak het, dors sal laat ly nie!”
Almal lag en Danien sug verlig. Paul moet tog nou nie lol nie. Die geskenk is juis te gewigtig vir hul effense verhouding.
“Dis baie duur,” sê sy skamper. “Jy laat my skuldig voel.”
“Kom nou, Danien,” keer haar ma verleë, “’n mens ontvang ’n geskenk mos met meer grasie!”
Maar Paul lag hartlik nog voordat