Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock
gee en sy die wyn!”
“Man,” kom oom Karel tussenbeide, “jy laat my nou baie gevlei voel. Oor my mooi dogter en my lekker wyne. Wag, ek gee jou sommer nou al ’n botteltjie van Fleur du Vin se Chenin Blanc saam. Jy sal dit mos nie hou tot die skole begin nie!”
Frans beluister die gesprek met stipte aandag. Sy skerp blik gaan van Danien se angsvallige, blosend-verleë gesig na Paul se kalme onverstoorbaarheid. Toe tik hy hom kameraadskaplik op die skouer.
“Ja, nè? Danien gaan vriende nodig hê as ek en Anel eers weg is Leiden toe. Sy’s gewoond aan ’n ouer broer wat ’n ogie hou.”
Dit lyk asof Paul baie daarop sal wil sê, maar hy glimlag net stilweg instemmend.
“Drink saam met ons koffie,” sê tant Jacomien haastig, altyd gou om ’n atmosfeertjie te wil teëwerk. En met die kinders weet ’n mens deesdae nooit, sê haar effens gekwelde uitdrukking. Een oomblik is hulle kalm en volwasse soos hul jare, en net die volgende is daar onderstrominge wat ’n mens verontrus.
Paul bly nog lank sit en toe hy eindelik loop, wink hy vir Danien om saam te kom. Sy trek teësinnig die voordeur agter hulle toe. Vir die eerste maal is hulle alleen en sy voel geheel en al oorstuur. Sy hou van hierdie man. Baie ook. Hy is en bly een van die gaafste, mees gebalanseerde mense wat sy ken. Dis net dat sy wens dat hy liewer op ’n ander planeet gewoon het. Sy kyk hom sprakeloos aan waar hy onder die flou stoeplamp staan, maar toe sy haar asem intrek om te praat, sit hy gou ’n vinger op haar lippe.
“Sjuut. Moet jou nie ontstel oor my geskenk nie. Dis bloot bedoel om jou plesier te verskaf. Niks meer nie.”
“Dankie. Dis baie mooi … en … jy is welkom om te kom saamdrink!”
“Sjoe!” hy lag, “dis nou vir jou ’n manier om ’n ding te sê!”
Maar dit raak eensklaps stil tussen hulle en sy skrik haar lam toe hy met sy hand sag oor haar wang vee.
“Nag, mooiste Danien. Droom so ’n bietjie van my.”
Daarmee draai hy om en binne ’n paar tree het Die Vallei se gitdonker nag hom ingesluk.
Danien slaak ’n suggie van suiwer verligting en wil net weer ingaan toe sy ’n sagte fluistering regs van die dik stoeppilaar in die struike hoor: “Haai, kom hier!”
Sou dit hy wees? Sy tuur stip die donkerte in, maar sien net die flitsliggies van ’n paar vuurvliegies dieper die bosse in.
“Kom tog nou!”
Toe eers gewaar sy die wasige wit van ’n figuur net langs die groot struik.
“Alfons?”
“Wie anders, my lief?” fluister hy terug.
Sy weet nie of sy die “my lief” is nie, maar haar bene dra haar geluidloos oor die houtstoep en sy steek haar arms uit toe sy by hom kom. Sy hoor die lae lag in sy keel toe hy haar vasgryp en dieper agter die struik intrek. En die skerp intrek van sy asem net voordat sy mond op hare neerkom en haar kop agteroor knak onder die drif daarvan. Sy skuif haar arms onder sy sterk skouers deur en klem hom vas asof sy hom nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen haar wange, weer haar mond en steek sy gesig in die sagte warmte van haar nek.
“Vier dae,” sê hy gesmoord, “en tien ure, ses minute … Die hemel weet hoeveel eindelose sekondes …”
“Dit was te lank,” fluister sy.
“Veels te lank. En ek dag ek moor ou Paul toe hy aan jou wang vat! Moet jy hom so baie sien?” Hy lig sy kop en sy kan net die effense blink van sy oë uitmaak.
Sy druk haar kop teen sy borskas vas en sug. “Ek nooi hom nie, Alfons. Maar waarom … kom jy nie?”
Hy raak beeldstil, toe sê hy hees: “Ek kan nie … mag nie … Nie nou al nie.”
“Wanneer dan?”
’n Vensterraam net bo hul koppe skuif oop en hulle versteen. Dis Anel en sy staan ’n oomblik afgeteken teen die lamplig en uitkyk op die nag. Toe draai sy haar stadig om en loop dieper die kamer in.
“Kom,” sê Alfons vinnig. “Kom ons gaan strand toe dan sit ons op die sand en gesels. Hulle sal dink jy het saam met Paul geloop.”
Hulle loop katvoet oor die klam gras tot in die straat, en sy ril liggies.
“Ons het nie ’n flits nie. Ek verstom my dat julle ouens so gemaklik in die donker loop. Paul het ook sonder een hier aangekom.”
“Vergeet Paul,” brom hy, maar druk haar styf teen hom vas.
“Wat van die nagadders?” wil sy nietemin weet. “Hier’s mos baie!”
“Ag wag, ons stamp maar net ons voete, dan hoor hulle ons en seil weg!”
Maar tog, toe haar oë eers die nag gewoond is, kan sy heel goed sien, en hulle stap met gemaklike tred tot by die duinepaadjie wat see toe lei. Alfons loop voor met haar aan die hand, en toe hulle bo-op die duin kom en die strand onder hulle oopgesprei lê in die wit sterlig, voel sy lighoofdig van geluk en skoon betower deur die skoonheid van die aand.
Teenaan die duin, en naby die swart skadu’s van die bosse, gaan hulle sit. Sy kan sy gesig net uitmaak soos wat hy na haar kyk, en sy lig haar hand om met haar vinger oor sy glimlaggende mond te trek. Maar dis genoeg om hom dadelik na haar te laat reik. Met een haal trek hy haar teen hom vas, maar toe hy haar wil soen, sê sy hard: “Wanneer, Alfons? Wanneer gaan ons ophou om in die bosse skuil te hou uit vrees dat mense ons saam sal sien?”
“Jy laat dit baie lelik klink,” sê hy stug, maar sy lippe rus lig op haar voorkop.
“Dit lyk lelik,” antwoord sy sag. “En ek wil nie hê dat dit lelik moet lyk tussen ons nie. Vir my is dit so mooi.”
Haar stem het hortend en bewoë geklink, en hy druk haar spontaan teen hom aan, soen haar tóg totdat sy sag en gewillig teen hom leun.
“Vir my ook,” kry hy oplaas uit. “Dis die heel mooiste ding in my lewe. En, Danien … ek voel vir jou wat ek nog nooit in my bestaan vir enige mens gevoel het nie. Nie vir my ma nie, want ek het haar te kort geken, nie eens vir my tant Fienie vir wie ek bitter baie lief was nie. En … ek onthou die oomblik toe ek dit die eerste maal besef het. Jy was in matriek. Beeldskoon en skugter in jou eerste bikini. Ek kon my oë om die dood nie van jou afhou nie. So erg was dit dat tant Fienie my later daaroor aangespreek het. Kyk in jou gedagtes, Alfons, het sy gesê. Maar nie so oop en bloot nie. Jy sal die arme Danien skoon verskrik.”
Sy sit doodstil en luister na hom, hoor sy stem vlak teen haar oor, en sy wens met haar hele wese dat alles in ’n oogwink reg wil kom. Dat hierdie … hierdie ding wat hulle twee van mekaar weghou, so seker as wat die strand die skeiding tussen land en see is, wil verdwyn.
“Alfons,” sy sug, “vir my was jy altyd die een wat my beskerm het. Vreemd genoeg het ek dit dwarsdeur die jare met jou bly assosieer. Dié gevoel van totale geborgenheid. En dit net omdat jy my daardie dag op pad Klippiesbaai toe van die rots afgehaal het. Selfs honderde kilometers weg van jou af, kon ek my dáármee troos as iemand my selfvertroue wou aantas.”
Met die kort intrek van sy asem wat sy nou al leer ken het, draai hy haar om in sy arms en sy lig haar gesig met ’n glimlag na hom. Hy soen haar met ’n warme besitlikheid en groeiende drif en sy gee gewillig mee onder sy sterk hande wat haar vasvat asof hy ’n skielike skrik met fisieke aanraking wil besweer.
“Jy sê sulke mooi dinge,” praat hy oplaas teen haar mond, maar die bewing van sy liggaam teen hare en sy styf geklemde vingers om haar boarms, praat ’n ander taal.
“Wat is dit, Alfons?” Dit voel asof dié vraag uit haar binneste skeur, en sy moet op haar lippe byt om die trane te keer. “Wat is dit wat jou só maak?”
“Hoe?” kry hy dit skor uit.
“Bang … Jy is bang vir iets.”
“Wat ons van mekaar kan wegneem, ja. Ek sal sterf