Die tonnel. Ena Murray
“Dít klink interessant,” het Jakobus opgemerk. “Daar behoort nie probleme te wees nie. As jy die geld net aan hom geleen het, is hy verplig om ná jou … ná jy … weg is, die geld in die boedel in te betaal.”
“Dis heeltemal reg, maar ek weet dat my tyd baie min is. As ek binne die volgende paar maande sterf, sal Mynhardt finansieel nie sterk genoeg wees om die geld in te betaal nie. Dán sal hy werklik bankrot wees.”
“Maar hy sal seker êrens geld kan leen. Hy is ’n bekende figuur in die sakewêreld.”
“Nie soos sake vandag staan nie, my vriend. Was dit ’n kleiner bedrag, miskien ja, maar drie miljoen rand …”
“Ja, dis waar. Nou, aan watter plan het jy gedink?”
Daar was ’n oomblik lank stilte en toe het Markus peinsend vervolg: “Al sou Mynhardt ook die geld kon inbetaal en al sou Ilse daardie groot bedrag erf en geldelik onafhanklik wees vir die res van haar lewe, is daar nog steeds ’n gevaar aan verbonde. Ilse het tot dusver ’n baie beskermde lewe gelei. Tot my skande kan ’n mens dit amper ’n kluisenaarsbestaan noem. Ek voel baie bekommerd oor haar toekoms. Sy het geen ondervinding van mans nie en as sy eendag ’n ryk erfgenaam gaan wees, sal daar sekerlik ook geldwolwe wees wat haar ter wille van die geld enigiets sal wysmaak. Ek durf haar nie aan so ’n gevaar blootstel nie. Op die een of ander manier sal ek haar teen sulke mans moet beskerm. Ek het my plig as pa teenoor háár ook lank genoeg versuim.”
“Dus?”
“Dus is ek verplig om iets te doen wat nie deur ander, en seker ook nie deur Mynhardt en Ilse, as regverdig beskou sal word nie, maar as ek hulle albei wil help, is daar vir my net hierdie een weg oop.” Hy het na sy vriend gekyk. “Ek sal weer daaroor nadink, maar sodra ek definitief besluit het, sal ek jou laat roep. Ek weet my sake is veilig in jou hande.”
“Ek sal my bes doen, my vriend,” het Jakobus gerusstellend en effens aangedaan geantwoord.
’n Week later is hy een nag deur die skril gelui van die telefoon wakker gemaak. Dit was Liza wat hom na sy vriend se huis ontbied het. Hy het dadelik gegaan. Toe hy in die kamer kom, het hy die skaduwee van die dood aangevoel.
“Jakobus! Gou! Pen en papier! Skryf!” het Markus hom aangejaag.
Hy het die woorde neergeskryf wat die sterwende man hom voorgesê het. Alhoewel hy sy bes gedoen het om sy emosies in toom te hou, kon hy later nie meer stilbly nie.
“Markus, hierdie plan van jou is te ongelooflik … te onmoontlik! Dis …”
“Ek kan nie nou met jou redeneer nie, Jakobus. Daar is nie tyd nie! Het jy alles neergeskryf?”
Die sieke se stem het swaar en moeisaam geklink. Jakobus het geknik.
“Lees dit asseblief weer vir my,” het die sterwende man beveel.
Toe die prokureur se stem wegsterf, het hy tevrede geknik.
“Ek wou nog die plan met jou bespreek het, maar … soos dit vir my lyk … is daar nie meer tyd nie …”
’n Verpleegster het oor Markus gebuk en die sweetdruppels met ’n nat lap van sy gesig afgevee.
“Ek het die dokter ontbied. Hy is seker al op pad,” het sy gesê en toe na Jakobus gedraai: “Die pyn moet onbeskryflik wees.”
“Dankie, suster. Ek kan … dit byna … nie meer … uithou nie. Jakobus, kom … nader …”
Hy het gehoorsaam en sy vriend se bewende hande in syne toegevou.
“Ek is hier, Markus,” het hy met ’n growwe stem geantwoord.
“Jakobus, jy moet vir hulle sê … dat ek dit gedoen het omdat ek hulle liefhet … hulle wil help. Dis al plan … hulle te beskerm …”
Jakobus kon net knik. Voordat die dokter die naald laat wegsak het in die uitgeteerde arm, het Markus Rademeyer bewerig maar duidelik sy naam onderaan die papier geteken wat Jakobus vir hom vasgehou het.
Hy het na die dokter en verpleegster gewys en eers nadat hulle as getuies geteken het, het hy sy oë tevrede gesluit om hulle nie weer oop te maak nie.
En nou sit en kyk Jakobus na die breë, ongenaakbare rug van Mynhardt Wessels. In sy hart is ’n innige jammerte, ’n jammerte vir sy vriend wie se lewe so eensaam en liefdeloos was, ’n jammerte ook vir hierdie woedende jong man en die hulpelose Ilse wat agtergebly het.
“Hy moet van sy kop af gewees het!”
Mynhardt swaai om en sy donker oë kyk blitsend na die prokureur. Maar die ouer man hou sy hand gebiedend omhoog.
“Ek sal maar aanneem dat jy dit nie werklik bedoel nie …”
“Maar natuurlik bedoel ek wat ek sê! Geen normale mens sal so ’n vergesogte, veragtelike …”
Jakobus val hom beslis in die rede: “Ek is bevrees jy kan maar daardie gedagte uit jou kop sit. Jou stiefpa was verstandelik so normaal soos ek en jy toe hy hier geteken het. Die dokter en verpleegster het as getuies geteken en as jy my nie wil glo nie, kan jy enigeen van hulle gaan spreek.”
Mynhardt voel meteens asof ’n band stadig maar seker om sy keel span. Vir hom as selfstandige en onafhanklike mens was dit ’n bitter pil om te sluk toe hy noodgedwonge sy stiefpa om finansiële hulp moes vra. Maar die wete dat daardie stuk papier voor die prokureur sy hele toekoms beheer, is nóg swaarder … onuithoudbaar! Hy klem sy kake opmekaar.
Jakobus staan op en stap om sy lessenaar. “Mynhardt, jy beskou hierdie hele saak net uit jóú oogpunt. As jy in jou pa se plek was, sou jy miskien dieselfde gedoen het.”
Daar kom egter geen versagting op Mynhardt se gelaat nie. Terwyl Jakobus weer gaan sit, kyk hy Mynhardt ernstig aan.
“Ek was by jou pa toe hy sy laaste woorde uitgespreek het,” vervolg hy sag. “Hy was ’n groot vriend van my, en ek is dankbaar dat ek in sy laaste oomblikke by hom kon wees.” Hy maak swaar keel skoon. “Hy het my ook ’n boodskap gegee om aan julle oor te dra … aan jou en Ilse.”
Hy voel die donker oë op hom en hy kyk op.
“Hy het gesê: ‘Sê aan hulle dat ek dit gedoen het om hulle te help. Omdat ek hulle liefhet. Dis al plan om hulle albei te beskerm …’ ”
Mynhardt lag smalend.
“O, dís wat hy dit noem, vaderliefde! Ba!”
Daar verskyn ’n pyntrek op die prokureur se gesig.
“Die jeug is so lief om gou te oordeel,” laat hy dan sag hoor.
“Ek is ’n man van vyf-en-dertig, nie meer ’n kind nie!”
“En jy dink jy het die wêreld se wysheid in pag!”
Jakobus begin stadigaan sy humeur verloor. “Jy mag vyf-en-dertig wees, maar jy weet nog níks van die lewe nie! Nee, my jong vriend, jy weet nog nie wat lewe is nie, want jy het nog nooit werklik swaargekry nie. Jy dink omdat jy jou sakeonderneming van bankrotskap moes red, omdat jy finansiële probleme te bowe moes kom, dat jy weet wat swaarkry is en dat jy jou die reg mag toe-eien om ’n ander se dade te oordeel. Nee, Mynhardt, ek het deur die jare geleer – en jy kan my maar glo dat ek weet waarvan ek praat ná dertig jaar as prokureur – dat dit nie uiterlike omstandighede is wat ’n mens louter nie. Dis dié dinge hier in jou hart, die verliese wat ’n mens nie in rand en sent kan bereken nie, wat van jou ’n man maak, wat ’n volwasse gees skep, wat aan jou die lewenswysheid gee en die reg om te oordeel – ás daar dan so ’n reg aan die mens toegesê is.” Sy oë raak nog ernstiger. “Jy het tot dusver nog net oor die oppervlak van die lewe geskaats. Maar eendag gaan daardie dun lagie ys onder jou voete breek en dan gaan jy seerkry.”
“U praat in raaisels,” antwoord Mynhardt en kyk die prokureur stip in die oë. Waarop sinspeel die man? wonder hy.
“Dan is dit beter dat ons maar padlangs praat,” vervolg Jakobus en sy oë