Die tonnel. Ena Murray

Die tonnel - Ena Murray


Скачать книгу
en hy vervolg: “Ek sê nie dat ek hierdie … plan van jou pa goedkeur nie, alhoewel ek besef dat dit ál manier was waarop hy vir jou sowel as vir Ilse kon help. En het jy al daaraan gedink, Mynhardt, dat dit nie vir hom werklik nodig was om jou in ag te neem nie? Wat het jy in die verlede vir hom beteken dat hy aan jou moes dink tot nadeel van sy eie kind? Ek het Ilse nog nie eens ontmoet nie, maar ek het al van jóú gehoor.”

      “Die geklets van die ledige, ryk tannies van ons stad!” laat Mynhardt sarkasties hoor.

      “Ek hou my nie op met kletsery nie. Maar jy is ’n bekende persoon, ’n gewilde jong man, en alles wat jy doen, word deur die publiek raakgesien.”

      “Hoekom het u dan nie my stiefpa daarvan vertel nie? Dan sou hy nie hierdie onsinnige testament opgestel het nie!”

      “Ek het nie die moed gehad nie. Hy het die afgelope tyd sy mening omtrent jou verander en heelwat vertroue in jou gekry. Ek het eenvoudig net nie kans gesien om hom van jou drinkpartye en ontelbare flirtasies te vertel nie.” Jakobus huiwer, maar hoewel Mynhardt se gelaat strak en bleek is van ingehoue woede, het hy blykbaar niks hierop te antwoord nie. “Later, toe ek wel die moed gehad het om hom oor jou lewe in te lig, was hy sterwend. Daar was geen tyd om te verspeel nie. Hy kon skaars die testament onderteken voordat alles verby was.”

      “En nou sit óns met die gemors!” merk Mynhardt verbitterd op.

      “Wel, as ek jy was, sou ek uit dankbaarheid op my knieë gegaan het!”

      Die twee mans kyk mekaar takserend aan en dan staan Mynhardt haastig op.

      “Wanneer u met Ilse ook gepraat het, kan u weer met my in aanraking kom.”

      Mynhardt verlaat die kantoor met gemengde gevoelens. Toe hy ’n ruk later die motor weer tot stilstand bring, is hy verbaas om te sien dat hy ingedraai het by die hekke van die groot erf wat sy oorlede stiefpa as trougeskenk aan sy tweede vrou gegee het. Hy weet nie hoekom hy juis hierheen gery het nie, want hy het sy eie groot, moderne woonstel in die middestad.

      Dan trek ’n beweging tussen die blomme sy aandag en ’n oomblik later beweeg ’n meisie in ’n rolstoel stadig in sy rigting. Sy oë vernou terwyl hy haar aanstaar.

      Ilse kyk eers op toe haar stoel ’n paar treë van hom af is. Haar gelaat verbleek van skrik toe sy die roerlose gestalte meteens voor haar sien staan. En toe sy in sy koue, bestuderende oë kyk, vou haar hande senuweeagtig inmekaar.

      Mynhardt se frons verdiep toe hy die vrees in haar oë gewaar. Dis meteens of iets te groot binne-in hom word. Die begeerte om sy sterk hande om die skraal skouers te span en haar uit die stoel te ruk, is byna oorweldigend. Sy lippe bewe om uit te skree: “Loop! Staan op en lóóp!” Sy hande vou krampagtig saam en in sy magteloosheid wil hy haar seermaak, verneder en breek. Hy kyk na die reisdeken om haar bene en ’n oomblik lank voel dit vir hom asof hy sy hele toekoms, al sy drome, al sy ideale, in ’n hopie op haar skoot sien lê. Daar is ’n blinde waas voor sy oë; dan skuif die sluier voor sy oë weg en sien hy hoe onnatuurlik groot haar gesperde oë in die wasbleek gesiggie vertoon.

      “Ilse!”

      Die enkele woord ontglip sy lippe en die veragting wat daarin saamgevat is, skok selfs vir hom. Dan verskyn ’n bitter hoonlag om sy mond en dan, met ’n laaste veragtende kyk na die reisdeken om haar bene, draai hy om en stap haastig terug na sy motor.

      Verslae staar Ilse die motor agterna totdat dit deur die hekke verdwyn. Sy klem die armleunings van die stoel so styf vas dat haar kneukels wit deur die dun vel skyn. Wat gaan met Mynhardt aan? wonder sy. Hy het so snaaks gelyk. Daar was ’n vreemde lig in sy oë. En die veragting in sy stem … Dit het aan afsku gegrens! ’n Vreemde gevoel van onrus word in haar wakker, ’n gevoel dat daar meteens ’n dreigende wolk oor haar hang. ’n Koue rilling gaan deur haar en eensklaps voel sy bang … só bang en alleen. Vinnig swaai sy haar stoel om en stuur dit behendig in die rigting van die huis. Maar dan ruk haar hart weer eens tot stilstand. ’n Tweede motor ry deur die hekke en kom stadig in die rylaan op.

      Jakobus Stander het haar reeds gewaar. Toe hy uit sy motor klim, stap hy reguit op haar af. Hy frons toe hy die bleek gesiggie en bang oë sien. Dit lyk behoorlik asof sy bang is dat ek haar leed sal aandoen, dink hy verwonderd. Daarom glimlag hy op sy breedste toe hy by haar kom en hou sy hand uit.

      “Jy is Ilse, nie waar nie?”

      Sy knik woordeloos en lê terselfdertyd ’n bewende hand in syne. Sy vingers sluit sterk, gerusstellend om hare, en dis asof die vrees effens uit haar oë verdwyn.

      “Ek is Jakobus Stander,” stel hy homself bekend.

      “Ek weet. U was ’n vriend van Pappa.”

      “Jy weet van my?” vra hy verras en kyk haar belangstellend aan.

      “Ja. Pappa het soms van u gepraat en eenmaal ’n groepfoto waarop u ook is aan my gewys.” Dan wink sy met ’n maer hand. “Kom ons gaan sit daar onder die boom by die tafeltjie, dan kan Liza vir ons tee bring.” Toe hy in haar rigting beweeg om haar stoel te stoot, sê sy vinnig: “Dis nie nodig nie, dankie. Ek is al gewoond daaraan. Dis in elk geval ook al oefening wat ek kry.”

      Die belangstelling in sy oë verskerp. Daar was geen bitterheid in haar stem met die laaste sin nie, maar ’n kalme berusting. Toe sy begin praat het, is hy ook dadelik deur haar lieflike stem getref. Terwyl hy haar tersluiks bestudeer, bemerk hy die fyn struktuur van haar gesig en besef dat sy in werklikheid ’n mooi meisie is. Met ’n bietjie aandag sal sy in ’n beeldskone vrou ontwikkel. Die fyn gesiggie word omring deur kort, ligbruin krulle, en haar liggaam lyk tenger en breekbaar in die groot rystoel. Dan kom sy blik tot stilstand op die reisdeken om haar bene en hy frons bekommerd.

      Ilse, wat hóm ook die hele tyd dopgehou het, voel instinktief aan dat hierdie man nie op ’n blote besoek hier is nie. Dieselfde gevoel van onrus herleef weer in haar hart. Sou sy besoek enige verband hou met Mynhardt se vreemde optrede van netnou? wonder sy onrustig.

      “Hier kom Liza met die tee. Sy het ons seker al gewaar,” verbreek sy die stilte.

      Die huishulp sit die skinkbord op die tafeltjie neer en glimlag breed vir die gas.

      “Dis Liza, meneer Stander. Sy het my grootgemaak,” verduidelik Ilse.

      “Ons ken mekaar al, nè, Liza?” sê-vra Jakobus vriendelik.

      “Ja, meneer. Ek is bly meneer het daardie aand gekom, anders was Ilse se pa alleen toe hy …”

      “Ja,” val hy haar vinnig in die rede. “En ek is net so bly dat jy hier is om Ilse te help.”

      “Ek is baie lief vir haar. Sy is soos my eie kind. Het ek dan nie vir haar van …”

      “Liza, ek is seker die kos is besig om aan te brand. Moet jy nie eers gaan loer nie?” val Ilse haar in die rede en met ’n gemompelde verskoning haas die swart vrou haar terug na die huis. Ilse glimlag verskonend. “U moet haar maar verskoon, meneer Stander. Wanneer sy op daardie onderwerp kom, kos dit omtrent ’n bom om haar stil te kry!”

      Jakobus lag.

      “Dis alles reg, Ilse. Jy gee nie om dat ek jou so noem nie, nè? Jy kan my gerus maar oom Jakobus noem. Ons sal in die toekoms nog baie met mekaar te doen kry en formele aanspreekvorms het my nog nooit aangestaan nie.”

      “Goed, oom Jakobus,” stem sy in en weet meteens dat sy vandag ’n vriend bygekry het. Sy het tot dusver ’n baie geslote lewe gevoer en baie selde met mense in aanraking gekom. Sy het selfs in die teenwoordigheid van haar familie ongemaklik en selfbewus gevoel. Maar hierdie man is anders. Sy voel sommer tuis in sy geselskap en die vriendelike, opregte, belangstellende kyk in sy oë het dadelik haar vertroue gewen.

      “Nou ja, dan verstaan ons mekaar, my kind. Ek het nog nie my meegevoel met jou pa se heengaan betuig nie.”

      Sy kyk hom ’n oomblik stil aan en sê dan eerlik: “Dankie … maar hy was ’n vreemdeling vir my. Ons het mekaar skaars geken. Ek sal baie vals wees as ek voorgee dat daar met sy dood ’n groot leemte in my lewe gekom het. Maar hy wás my pa, die enigste lewende


Скачать книгу