Die tonnel. Ena Murray

Die tonnel - Ena Murray


Скачать книгу
na haar stiefbroer en sy vriende gestaar terwyl hulle op die groot, groen grasperke voor die huis gespeel het. Later, toe hulle groter was en Mynhardt gedurende universiteitsvakansies meisies huis toe gebring het, is sy direk beveel om uit sy pad te bly, want haar gebrek sou Mynhardt in verleentheid bring. Dit was nie moeilik om te gehoorsaam nie, want teen daardie tyd het haar stiefma gesorg dat sy ’n woonstelletjie aan die een kant van die huis gehad het sodat sy nooit met Mynhardt en sy vriende in aanraking gekom het nie. Soms het sy gedink Mynhardt het heeltemal vergeet dat hy nog ’n stiefsuster het, tot die dag toe sy dit gewaag het om ’n bietjie tussen die blomme te gaan rondry. Sy het byna haar rolstoel omgegooi en sou haarself lelik beseer het, as dit nie was vir Mynhardt wat haar net betyds gevang het nie. Sy het opgekyk na hom en daar het meteens iets snaaks met haar hart gebeur. Sy het hom byna nie herken nie. Sy het haar blik oor hom laat dwaal, oor sy fors gestalte, sy donker, golwende hare, en toe het sy vas in sy donkerbruin, deurdringende oë gekyk.

      “Mynhardt!”

      Sy was bly om hom weer te sien en die uitroep het spontaan oor haar lippe gekom. Maar toe het sy die twee meisies agter hom gewaar en pynlik gebloos. Sy het haar stoel omgeswaai en dit so vinnig moontlik in die rigting van die huis gestuur, want die vrees vir mense en dat hulle haar sou seermaak, was weer op die voorgrond. Maar sy was nie vinnig genoeg nie en haar hart het ineengekrimp toe sy Mynhardt hoor sê: “Dis my stiefsuster. Julle moet haar maar verskoon. Sy is maar van kleins af so … snaaks.”

      Op daardie oomblik het sy hom gehaat. Al die onregverdigheid van die verlede het in haar hart opgestoot en sy het haarself vertel dat sy hom haat. En tog het sy beeld in haar hart bly voortlewe. Sy het dieselfde vreemde gevoel in haar binneste ervaar toe sy hom weer gesien het nadat hy uit die buiteland teruggekeer het. Elke keer daarna moes sy van haar swaargewonne kalmte prysgee wanneer hy in haar teenwoordigheid was. Nie dat hy eintlik aandag aan haar gegee het nie, maar net die noem van sy naam het haar hande onverklaarbaar laat bewe. Sy het aan haarself erken dat sy bang is vir hom, bang vir die vreemde emosies wat hy in haar wakker maak.

      Ure van bittere trane en eensaamheid het haar eindelik sover gebring om haar gebrek te aanvaar en daarin te berus, maar vanaand herleef sy weer daardie gevoel van verbittering en frustrasie. Haar hele wese roep uit na daardie dinge wat ’n normale vrou as haar geboortereg beskou – ’n man en kinders van haar eie. En nou het daardie droom nader aan die werklikheid geskuif as wat sy durf hoop het, en tog … Die onmoontlikheid daarvan dring ten volle tot haar deur. As sy net nie verlam was nie … Haar oë rus magteloos, wanhopig op die buitelyne van haar bene wat sigbaar is in die halfskemerte van die kamer. Sy weet dat daardie dinge nie vir haar beskore is nie. Sy roep Mynhardt se beeld in haar gedagtes op soos hy die middag voor haar gestaan het, sy mond honend, sy oë vol afsku. Warm trane brand agter haar ooglede en haastig druk sy haar gesig in die kussing.

      Hoekom moet ek verlam wees? Hoekom kan ek nie soos ’n normale vrou wees nie? Leer my tog om te loop! Loop! Loop! roep haar hart wanhopig, opstandig teen haar lot uit terwyl haar vuisies magteloos teen die kussing slaan. Maar terwyl haar trane die kussing vlek, bly die beeld van ’n jong man prominent in haar gedagtes: ’n jong man met donker, golwende hare, en onuitspreeklike veragting wat in sy oë weerkaats.

      Twee weke later sit Ilse weer op dieselfde plek onder die groot boom waar sy en Jakobus Stander tee gedrink het. Hierdie keer is daar egter ’n netjiese kanttafeldoek oor die houttafel gegooi. Aan die teegerei is dit duidelik dat sy gaste verwag.

      Sy sit baie stil, haar blik vasgenael op die twee groot, versierde ysterhekke. ’n Ruk later ry ’n motor by die oprit op en word kort daarna deur nog een gevolg. Die twee mans klim uit en sluit hulle by mekaar aan. Woordeloos stap hulle na haar toe.

      “Goeiemiddag, Ilse,” groet Jakobus Stander haar en druk ’n vaderlike soen op haar voorkop.

      Ilse kyk dankbaar na hom. Sy weet dat hy deur hierdie gebaar aan haar wil wys dat sy op hom kan reken, wat haar besluit ook al mag wees. Sy waag dit om vinnig na die ander persoon te kyk, maar sy geslote gesig vertel haar niks.

      “Goeiemiddag, Ilse.”

      “Middag, Mynhardt.” Dan vervolg sy meteens weer senuweeagtig: “Sit gerus. Ek skink eers vir ons tee.”

      Jakobus probeer om ’n gesprek aan die gang te sit, maar die lang, swanger stilte stem hom ook neerdrukkend. Later is daar volkome stilte, elkeen se gedagtes worstel met dieselfde probleem.

      “Dit sal beter wees as ons nou maar liewer tot die punt kan kom,” sê die prokureur terwyl hy sy leë koppie neersit. “Daar is nog ’n week oor, maar indien julle besluit het om saam te gaan met die eerste deel van die testament, is daar baie dinge wat gereël moet word. ’n Mens kan nie sommer net na ’n landdros toe stap en gaan trou nie. Daar is ’n hele paar vorms wat ingevul moet word en nog ander dinge wat in orde gebring moet word.” Hy swyg en kyk Ilse dan direk aan. “Wat het jy besluit?”

      Daar is ’n oomblik lank stilte en sy is bewus van die skerp oë wat op haar gerig is. Maar sy waag dit nie om na Mynhardt se kant toe te kyk nie. Sy lig haar ken op en hoewel haar hande bewe, is haar stem kalm en gelykmatig toe sy antwoord: “Ek is jammer, maar ’n huwelik tussen my en Mynhardt is buite die kwessie.” Sy kyk die prokureur vas aan en ’n vlugtige oomblik sien sy verligting in sy oë. Dan skraap sy al haar moed bymekaar en draai na die stroewe jong man wat langs die prokureur sit. “Jy moet my nie kwalik neem nie, Mynhardt. Dit is nie dat ek iets persoonliks teen jou het nie, maar ’n meisie soos … soos ek kan nie van trou droom nie. Dis tog vanselfsprekend. Pappa het dit miskien goed bedoel, maar …”

      Haar stem sterf weg en sy bloos pynlik onder die bestuderende, koue oë van haar stiefbroer.

      “En jy, Mynhardt?” vra Jakobus onseker.

      “Ek is bereid om met haar te trou.”

      Jakobus frons en die twee mans kyk mekaar stip aan. Ilse snak na asem.

      “Mynhardt, jy kan dit nie werklik bedoel nie!” roep sy ge­skok, verward uit.

      Hy kyk haar onpersoonlik aan.

      “Hoekom nie?” vra hy koel. “Ek wil my onderneming red. Dit is by my die hoofsaak.” Hy staan op. “Dit lyk my nie ons sal vanmiddag eenstemmigheid bereik nie. Ons moet maar die oorblywende week van grasie gebruik om weer oor die saak na te dink.”

      Jakobus kyk hom fronsend, ontevrede aan.

      “Maar as Ilse klaar besluit het, is …”

      Mynhardt se oë vernou.

      “Ek het die reg op nog ’n week,” val hy hom in die rede.

      Jakobus staan op en kyk die jonger man agterdogtig aan.

      “As jy daarop aandring, kan ek nie weier nie, maar Ilse het klaar besluit en ek sien geen rede hoekom die saak nog ’n week langer moet sloer nie.”

      Daar verskyn ’n vreemde lig in Mynhardt se oë. Dan glimlag hy meteens vir Ilse.

      “Besluite kan soms verander word,” merk hy droog op. “Volgende week, Saterdag, is die tyd verstreke. Ons sal mekaar dus weer Vrydagmiddag hier ontmoet. Baie dankie vir die tee.”

      Met ’n kort kopknik verlaat hy hulle.

      Daardie aand sit Ilse in die sitkamer. Hoewel haar hande besig is met breiwerk, is haar aandag nie by wat sy doen nie. Herhaaldelik herleef sy die gebeure van die middag, maar hoe sy ook al probeer om Mynhardt se houding en besluit te verstaan, kan sy net nie daarin slaag nie. Sy kan haarself net nie voorstel dat ’n man tot sulke uiterstes sal gaan nie – en dit bloot vir geld! Hý wat in die verlede sy bes gedoen het om sy vriende uit haar pad te hou, wat skaam was om haar as sy suster bekend te stel! Hy wat jare lank saam met haar in een huis gelewe het en nooit die moeite gedoen het om haar op te soek en haar eensame lewe te probeer veraangenaam nie.

      Ja, hý wil nou met haar trou … Besef hy dat dit vir ’n leeftyd sal wees? Besef hy dat hy haar dan as sy vróú aan die wêreld sal moet bekend stel, dié persoon vir wie daar in die verlede geen tyd of plek in sy lewe was nie? Sien hy werklik kans om alle hoop op huweliksgeluk en kinders van sy eie oorboord te gooi ter wille van ’n paar miserabele


Скачать книгу