Klawerjas. Adam Small
is altyd geleer: Nihil ex Nihilo – niks
kom voort uit niks. Is dit ’n oordeel
té haastig en gou, wat nie rekening hou
nie met die poësie? Want poësie
ontvou asof van nêrens af, is skielik
daar op jou papier, en hoe verklaar jy dit?
Mense sê my: Tog nie, jy het sóveel al
ervaar, en die nuwe woorde kom uit
daardie bron. Dan besef jy: die Nihil
– die Niks – is daardie ondergrondse
wateraar van die siel.
K – w
Daar’s ’n skoonheid omtrent elke
woord en letter van jou taal. In Afrikaans
is daar vir my iets besonder aantrekliks
omtrent die sáámlees en sáámhoor van die
letters “k” en “w”: klawerjas, kwesbaar,
kwessie, verkwansel, kwik, kwinkeleer,
kweper, kwintessens, kwajong, kwartel,
kwinkslag, karwats, kwas, kwêvoël, kwetter,
kwansuis, kwyn, lukwart, kriewel, kwelgees,
kwesel, kwatryn …
Watter wonderlike werklikheid is taal tog.
Moerdyk – Van Wouw
Ek word weer en weer gevra
hoe ’n gedig ontstaan.
Ek het verskeie beelde al van dié
gebeurtenis probeer gee – hier’s
nog een: om iets te teken, dan te
bou. Iets soos
Gerard Moerdyk se werk, elke
lang uur, lyn vir lyn, streep vir
streep, dan toesig oor die
bouwerk, soos dit steen vir steen
tot stand kom, muur vir muur,
en uiteindelik ’n struktuur is soos
die majestueuse een op die heuwel
bokant Pretoria.
Ook soos Anton van Wouw
se skepping van die beeld in
Bloemfontein van kinders en vrou –
hamer- en beitelslae, hou vir hou,
hartseer, woedend, maar ook
vreugdevol, totdat uiteindelik die
werk daar ís en ’n vaste ruimte vul:
onthul.
My woorde kom weer
Ek was lank stil, maar nou,
waarlik, kom die woorde weer.
Skoorvoetend eers, dan met langer
hale. Ek het té lank gehiberneer.
Dit was kompleet soos in
’n Pwasa-tyd, maar nou, gereinig,
is ek daaruit, en opgewonde soos ’n kind
vind ek skielik ek skryf weer my sélf
úit op papier – watter plesier. Kyk,
die magie van my hand het nie
verval nie. Ek sien ’n heelal opegaan
en helder lig stil-stil om my
uitstraal:
Het daghet,
Het daghet
overal.
Ek hoor ’n stem wat my vra: Adam,
wat het van jou Kaaps geword? Hierdie
nuwe verse klink só anders. Ek dink ná,
antwoord dan: My Kaaps is goeie geskiedenis –
die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die
stemloses. Maar daar kom ’n keer wanneer
’n digter ook aan sy eie belang sal dink,
homself as individu op die verhoog moet
bring. Daar’s immers werklikhede, van die
digkuns onder meer, ewe dringend tog
as dié van die ertappeleters van Van Gogh.
En ook, my Kaaps leef voort in die musiek van
hierdie nuwe verse, die paring van en speel
met binne- en buiteryme. Só bly die
Krismisbands en -kore, van tye her en nou,
in hierdie nuwe werk se landskap sing,
sing, sing en stap.
Damwal
Ek is half stomgeslaan
maar sit my nie teen,
probeer nie die damwal keer wat breek:
die water vat my heen.
Dis soos by Goree naby Robertson waar
ek ’n klein knaap was en bang, maar kordaat
nie weggeskram het van die sluis van die
oorvol plaasdam nie, dit aangedurf het,
en die water angstig sien kóm het,
die water,
die water.
Aan my skrywersvriende
Ek het Elsa Joubert laat weet ek was
lank stil, maar dat my woorde
nou weer kom,
en sy was daaroor bly.
Vir Antjie Krog het ek dit ook laat weet,
en sý was bly.
En ek het my skrywersvriend
Braam de Vries laat weet. Hy was
eweneens bly.
Ander kollegas het ek nie laat weet nie
maar is seker húlle ook was bly: André
wat aldeur waarderend was van my werk;
Joan Hambidge, met haar waardering
vir Kanna; en Breyten was kennelik bly.
Soos hy vroeër geskryf het: “… aan die einde
van die dag … is Adam Small … die man
wat van ons taal … ’n lokasie, dus ’n
plaaslikheid … universaliteit gemaak
het. Die poësie is dieper as die mond,
en met baie tonge.”
Breyten het my werk van die verlede só
goed verstaan. Nou, sê ek hom egter,
beweeg ek in ietwat anderste bane, en kom
ek deur ’n heelwat vreemder doeane
– alhoewel, op my Odysseus-reis, my hand
van indertyd duidelik genoeg wys. En
wat ek nou ook aan te bied het, laat ek as
’n