Klawerjas. Adam Small
van kleur soos wat
die falende lig van die dag oor die hoë rotse
gespeel het. Dis iets goddeliks – nóg ’n beeld
van die betekenis van liefde.
Soms het ek en my Amerikaanse reisgenoot
saans ’n uur lank, voordat ons vir ete na ons
verblyfplek daar naby terug is, net daar gesit
en gekyk, in stilte.
Graaff-Reinet
Rosalie en ek
was vir ’n geleentheid in Cradock
en met die terugkeer Kaap toe
het ons van ’n hoogte af Graaff-Reinet
se Groot-Karoo gesien – die asembenemende
skakerings van vaal, hier en daar
’n groenigheid en ’n stippel rooi van aalwee.
Bowenal, die skriklike uitgestrektheid van
alles. En ’n mens sien daarná, met nuwe oë,
bewoë, die haai Karoo.
Andante Cantabile
By ’n uitvoering ter ere van Leo Tolstoi, van Tsjaikofski
se Strykkwartet no 1 in D majeur opus 11 was
Tolstoi in die gehoor, en ten aanhore van die
andante-beweging het hy gehuil. Waarop – so loop
die storie – Tsjaikofski gesê het hy wis, toe hy Tolstoi
sien huil, dat hy ’n groot werk geskep het.
Hierdie beeld van die groot skrywer en die groot komponis
oorrompel my heeltemal. Dit val binne die kader van
onoortreflik kunssinnige menslikheid.
Ek sê dan ook maar dat wanneer Rosalie my
Groot Liefdesgebed lees, sy bewoë is, met
trane in haar oë. Dan weet ek:
ek het ’n ontroerende gedig geskryf.
Nou vou ek jou toe
(’n gedig binne ’n gedig)
Rosalie het my hierdie woorde geskryf:
Jou hande
(Vir Adam van Rosalie,
met ons 43ste huweliksherdenking,
22 Desember 2012)
BA eerste jaar. Geskiedenis van die
Wysbegeerte 1. Taak 1. Gedagtegange
rakende die ontstaan van die heelal.
Thales, Anaximander en Anaximenes.
Water, vuur, lug. Boustene van die
univers. Meneer verduidelik. Ons vra
en luister aandagtig, knik nou en
dan instemmend. En ek dink, met
groot versugting:
Meneer, jou hande is so móói.
Vele take, toetse, eindeksamens, en
’n honneursgraad later, stap ek die
paadjie kansel toe, my pa aan my sy.
Jy wag daar. Lank reeds nie meer
Meneer nie. Laat gly my ringe tot by hul
rusplek op die basis van my trouvinger.
En, terwyl die heelal kantel, dink ek:
My lief, jou hande is só mooi.
Nou, vir reeds meer as veertig jaar,
verken en ken en koester jou hande my steeds.
My man, jou hande is so mooi.
Hierop het ek haar geantwoord:
Dan vou ek jou vannag in my arms toe,
en in die heilige donker van ons soel
kamer, sal ek naby jou kom, jou bemin,
en weet hoe goed dit vir ons is om al
die armsvol vreugde en liefde van ons
samesyn te ín, en te laat sin maak in
die lewe.
Frappant, sjarmant, pikant
’n Ligte, vrolike liefdesvers
vir jou – ’n piksoentjie
uit die blou – vinnig en gou.
Op vyf-en-sestig bly die taal van
jou lyf frappant, jou houding
sjarmant, jou hele geaardheid
pikant
soos die kos wat jy daagliks
vir ons maak
en voorsit met smaak.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.