Gister se verlange. Annelize Morgan

Gister se verlange - Annelize Morgan


Скачать книгу
haar.

      “Jy praat asof dit ’n dogtertjie is.”

      “Ek raai net. Ek wou bitter graag ’n dogter gehad het.”

      Gabrielle glimlag effens.

      “Ek sal die kind van jou vertel wanneer die tyd ryp is. Dit sal tog niks minder as reg wees nie. ’n Kind het ouers …”

      Bérenice glimlag deur haar trane.

      “Dankie, Gabrielle … baie dankie …”

      Twee dae later neem Bérenice van die nonne afskeid. Hulle het vir haar padkos ingepak en nuwe identiteitspapiere gegee. Nou is sy Bérenice de Villiers. Dit was haar nooiensvan en sy het dit so aanvaar. Met die brief van die moederowerste in haar sak en die klein kruisie om haar nek is sy redelik veilig.

      Sy glimlag oor die kruisie. Wat maak dit saak dat sy nie ’n Katoliek is nie? Die simbool van die kruis is nog net dieselfde en dit geld vir almal op aarde. Dit sal haar dra deur die moeilike tyd wat voorlê en haar hoop gee vir die toekoms. Dit sal haar altyd aan die klooster herinner en aan die moederowerste wat haar pyn en angs begryp het.

      Sy gee die hangertjie met die afbeelding van haar moeder aan die ou dame.

      “Gee dit aan die kind. Dit hoort so.” Sy aarsel en sê dan: “Ek gaan na die Kaap de Goede Hoop. Dit was my en Louis se droom om daar ’n nuwe lewe te begin.”

      Die moederowerste knik en neem die hangertjie by haar.

      “Mag dit goed met jou gaan, Bérenice.”

      “Merci …”

      Bérenice draai vinnig om en laat die twee nonne en die moederowerste alleen op die drumpel van die klooster agter. Sy wil nie terugkyk nie. Iewers in daardie groot, koue gebou is haar baba. Nou sal nog net die lang jare van wag kom. Miskien, wie weet, sal haar kind eendag na haar toe kom. Sy sal geduldig wag en altyd bly hoop. Dis al wat sy nog kan doen.

      2

      Twintig jaar gaan gou verby as ’n mens nie op iets wag nie. Vir Bérenice het elke dag traag verbygesleep en haar blik het gedurig op die blou vertes gebly. Haar kind was nooit uit haar gedagtes nie. Veral nie nadat sy en Bertrand ontdek het dat sy geen kinders kan hê nie; die wesentjie wat nog iewers daar in Frankryk was, was die enigste wat sy ooit sou hê. En met die eensame, leë jare het die verlange gegroei.

      Bertrand was die enigste een wat van die kind geweet het. Sy het hom laat belowe dat hy dit aan niemand sou vertel nie … en hy het nie. Sy wou nie bejammer word nie en sy wou ook nie hê dat goedbedoelende mense die kind moes probeer opspoor nie. Sy het op die moederowerste vertrou. Tog het sy soms gewonder of die ou dame nog leef. Sy moes teen hierdie tyd al naby die sewentig jaar oud gewees het. Leef ’n moederowerste dan só lank?

      Vyf jaar gelede is Bertrand le Riche skielik oorlede ná ’n kort siekbed. Hy het die fortuin wat hulle saam oor die jare versamel het, alles aan Bérenice bemaak. Dit was tog immers sý wat die geld verskaf het vir die plaas en die verbeterings. Hy het self maar bitter min besit … net sy groot liefde vir die jong vrou met die groot, ondempbare hartseer wat sy saam met haar gedra het. Hy het haar lief en leed gedeel en eindelik ook haar liefde gewen.

      Nou is Bertrand dood en wag sy in afsondering en eensaamheid op hulle landgoed, L’Espérance. Hoop, het hulle die plaas gedoop. Sy het altyd bly hoop.

      Haar lewe is ook nie heeltemal eensaam nie. Bertrand se broer, Gilles, woon op die buurplaas met sy vrou, Célia, en hulle seun Jacques. Hulle kom dikwels kuier en dit verkort die lang dae vir Bérenice. Hulle oudste seun, Armand, is vier jaar lank al weg en niemand weet wat van hom geword het nie. Hy het net eendag die wye wêreld ingevaar nadat hy en die skone Angélique de Ville rusie gehad het. Daarna het niemand ooit weer ’n woord van hom gehoor nie.

      In die klooster van Dijon verloop elke dag soos die vorige. Die jag op die Protestante is lankal iets van die verlede en die families in Frankryk treur nog net oor hulle geliefdes wat die land so vinnig moes verlaat.

      Die buitewêreld raak nie die inwoners van die klooster aan nie. Hulle is byna heeltemal afgesluit van dit wat om hulle gebeur. Die klooster is ook moeilik bereikbaar omdat dit so hoog teen die berge lê en veral in die winter waag niemand dit om teen daardie steil, verraderlike paadjie op of af te gaan nie.

      Nou is dit egter lente en die sneeu het lankal gesmelt. Af en toe kom daar ’n klein karretjie getrek deur ’n enkele perd teen die steilte op. Gewoonlik is dit iemand van die dorp wat kos en ander voorrade na die klooster bring.

      Tog het die tuin van die klooster verander. Die moeder­owerste, nou reeds bejaard, glimlag oor dié verandering en sy onthou die jong vrou wat twintig jaar gelede hier in die klooster geboorte geskenk het aan ’n dogter. Die baba was ’n fraai klein mensie en die nonne het almal saamgestaan om haar jaloers teen enige indringer te bewaak. Hulle wou die brose klein Rozanne nie verloor nie. Sy was soos ’n sonstraaltjie in die somber atmosfeer. Haar vrolike stemmetjie het soos ’n silwerklokkie in die groot klipgewelwe opgeklink. Sy het die son saam met haar van buite gebring. Sy was vir hulle soos ’n engel.

      Een nag word die moederowerste siek. Daar hang ’n stilte oor die klooster wat nooit voorheen daar was nie. Dertig jaar lank al is die ou dame aan die hoof van die klooster. Sy het baie van dié wat na haar gekom het, oorleef. Sy was die steunpilaar van die nonne.

      Twee dae lank lê sy en worstel met die dood in haar kamertjie. Gabrielle loop met rooi gehuilde oë deur die gange, en wanneer die moederowerste haar daaroor betig, huil sy net harder.

      Rozanne dwaal deur die kloostertuin wat sy met soveel liefde versorg. Die eerste rose het al begin oopgaan en die lelies by die spuitfontein hou hulle songeel kelke na die lig. Trosse wit blomme hang aan die klimop teen die ruwe klipmure, en purper flappe skuil in die koel skaduwees. Rozanne sien niks hiervan raak nie. Haar gedagtes is by die ou dame daar bo in haar karig gemeubileerde kamertjie. As die moederowerste sterf, sal alles hier dan tot ’n einde kom?

      “Rozanne!” roep Gabrielle van die deur af.

      Rozanne kyk vinnig op.

      “Wat is dit?”

      “Moederowerste wil jou sien! Maak net gou! Ek weet nie of sy nog lank sal kan uithou nie.”

      Rozanne tel die soom van haar rok op en hardloop agter Gabrielle met die trap op. Moenie sterf nie, Moeder, bid sy en sluk die trane terug. Moet my nie alleen laat nie!

      Sy skrik toe sy die geelbleek gelaat van die moederowerste sien. Die dowwe oë soek na haar en ’n fyn glimlag vorm om haar mond toe sy Rozanne herken.

      “Kom hier, kind. Ek moet met jou praat.”

      Rozanne gaan op die stoel voor haar bed sit en wag dat die ou dame moet voortgaan. Hulle het al baie gepraat oor allerhande dinge. Die gesprekke het nie altyd oor die godsdiens gegaan nie. Sy, Rozanne, is ook nooit gedwing om ’n non te word nie. Sou dit dalk nou die laaste versoek van die moederowerste aan haar wees?

      “Ek wil jou vertel van jou moeder, Rozanne.”

      Die meisie ruk orent. Dis een onderwerp wat nog altyd sorgvuldig vermy is.

      “Ek wil hê dat jy net moet luister. Gabrielle sal later al jou vrae beantwoord.” Sy haal diep asem en vertel die meisie alles wat twintig jaar gelede gebeur het. Sy vertel van Louis de Savoye en hoe hy gesterf het. Sy vertel van die nag toe Rozanne gebore is, en dan eers haal sy die hangertjie te voorskyn en gee dit aan die meisie. “Neem dit, Rozanne, en gaan soek jou moeder. Sy is iewers in daardie ver land aan die suidpunt van Afrika. Sy sal nog daar op jou wag.”

      Rozanne staar asemloos na die ou dame. Sy het ’n moeder wat sy nooit geken het nie en ’n vader wat vir sy geloof gesterf het. Sy is nou ’n Katoliek en hoe sal sy haar moeder in die oë kan kyk ná alles wat gebeur het? Dit was ’n fanatiese Katolieke koning wat die dood van haar vader veroorsaak het en haar van haar moeder geskei het. Sy ken net die lewe van ’n toegewyde Katoliek en nou moet sy haar Protestantse moeder gaan soek. Sal hulle mekaar nie dalk juis daarom haat nie?


Скачать книгу