Gister se verlange. Annelize Morgan
die einde van ons reis, Rozanne.”
“Vir my is dit net die begin,” sê sy effens hees. “Ek is bang vir wat hier op my wag.”
“Jy het my nog nooit vertel waarom jy gekom het nie. Ons het oor alles gepraat behalwe dit.”
Sy byt op haar onderlip.
“Ek wou nie daaraan dink nie, dis al. Nou kan ek jou seker maar vertel.” Sy haal diep asem en vertel die verhaal soos wat sy dit van die moederowerste en van Gabrielle gehoor het. Sy wys hom die hangertjie wat sy om haar nek dra. “Dis al wat ek van my moeder het. Ek weet nie eens of sy nog lewe nie.”
Hy frons diep.
“Bérenice de Savoye … Nee, ek ken haar nie. Hier is De Savoyes in die Kaap en jy kan hulle gerus opsoek. Dalk kan hulle jou help.”
“Sal iemand nog weet wat twintig jaar gelede gebeur het?” vra sy onseker. “Dis lank gelede, weet jy?”
“Alle huwelike word in die Kasteel aangeteken. Jy behoort daar te gaan soek.”
Sy knik stadig.
“Dis darem ’n plek om te begin.” Sy kyk na hom. “Is Franschhoek ’n mooi plek?”
Hy glimlag.
“Dis pragtig. Dit lyk baie soos in Frankryk. Die Hugenote het die hele vallei daar verander in ’n wynbouery.”
Sy sluk hard.
“Hulle sal my haat. Ek is ’n Katoliek.”
Hy haal sy skouers op.
“Wat maak ’n mens se godsdiens saak? Hulle sal jou aanvaar soos jy is.”
“Nee, hulle sal nie. Soos my moeder het hulle ook hierheen gevlug oor hulle godsdiens. Ek sal vir hulle die simbool wees van al die leed wat hulle moes verduur.”
Hy aarsel.
“Jy kan ’n Protestant word … soos wat jou moeder was.”
Sy kyk vinnig na hom.
“En die mense wat my versorg en grootgemaak het, verraai?”
“Dink jy dan nooit aan wat hulle aan jou vader en moeder gedoen het nie? Hulle het jou en jou ma van mekaar geskei sonder dat sy ooit geweet het of jy ’n seun of ’n dogter was.”
Sy aarsel.
“Was dit dan verkeerd?”
“Dit was onmenslik,” sê hy met gevoel.
Sy kyk na hom.
“Jy is ook ’n Protestant,” sê sy.
“Ja, ek is.” Hier is die opening waarvoor hy gewag het, dink Armand. Hy kan hulle vriendskap net hier verbreek voordat dit te laat is. Sy sal seerkry, maar dit sal net haar eerste les in die beskawing wees. In die vervolg sal sy nie almal so maklik vertrou nie.
Voordat hy egter iets kan sê, praat sy weer: “Maar jy haat my nie. Jy is my vriend, Armand. Jy is die enigste vriend wat ek in hierdie vreemde land sal hê. Ek sal altyd die vrymoedigheid hê om na jou te gaan as ek ’n probleem het.”
Armand swyg. Vervlaks, dink hy ergerlik, nou het hy alles opgemors! Hy hou van haar en later sal dit ál hoe moeiliker wees om uit die situasie weg te kom.
“Ja, Rozanne, ek is jou vriend,” sê hy gelate en wonder wat dít vir hom uiteindelik gaan beteken. Hy kyk af na haar stil gesiggie en onthou daardie eerste dag in die kajuit. Dan kyk hy vinnig weg.
Ook Rozanne onthou daardie kosbare oomblik, maar sy praat nie daarvan nie. Niemand sal ooit weet hoe dié ontwaking haar innerlike lewe verander het nie. Dit is te groot vir haar om alleen te dra en diep binne haar knaag die skuldgevoel dat dit dalk verkeerd was. Hierdie nuwe lewe is nie sonder pyn nie, dink sy effens ongelukkig, maar miskien wil sy liewer nooit weer sonder dáárdie soort pyn wees nie.
Sy kyk weg na die glinsterende strand en asuurblou see. Daar iewers is haar moeder, die vrou wat haar twintig jaar gelede met soveel hartseer in die sorg van die moederowerste gelaat het. Hoe gaan sy die vrou as haar moeder herken? Is Bérenice de Savoye nie dalk lankal reeds dood nie? Dalk het sy kinders … en hulle sal haar, Rozanne, se broers en susters wees.
“Toe maar, kleintjie,” praat Armand weer, “só erg is dit darem nou ook nie. Jy sal jou ma kry.” Hy grinnik. “Ek het ’n tante Bérenice le Riche. Sy was ’n nooi De Villiers toe sy met oom Bertrand getroud is, maar ek is bevrees dat dit jou nie veel sal help nie. Die naam Bérenice is nou nie juis dun gesaai nie.”
“Was sy ’n kleinniggie van koning Lodewyk Veertien?”
Hy lag.
“Nee, sulke hoë adel was daar nie in óns familie nie. Ons is eintlik maar net doodgewone mense.”
Sy glimlag skeef.
“Wel, dan is dit nou daarnatoe. Dis jammer. Ek sou daarvan gehou het as jou tante my ma was.”
Hy glimlag en voel soos ’n skurk dat hy haar die hele tyd op ’n afstand gehou het. Sy is maar net ’n verskrikte, onseker klein mensie wat na haar verlede soek. Hy sit sy arm impulsief om haar skouers.
“Ons sal saam na haar soek, Rozanne. Jy sal in die nedersetting bly en wanneer ek kans kry, sal ek na jou toe kom en dan kan ons saam planne maak om jou ma te kry.”
Sy glimlag gelukkig.
“Dankie, Armand. Ek is bly jy is bereid om te help.”
Die skuite skuur teen die skip aan en dan word die eerste passasiers na die wal geroei. Teen die aand sal almal aan wal wees en sal Rozanne se nuwe lewe begin.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.