Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
“Nee.” Sy skuif agteruit op haar stoel. “Asseblief, moenie. Ek is nie gereed vir so iets nie.”
Hy sit ’n servet in haar piering sodat die skuim nie moet drup nie. “Hoekom nie?” wil hy weet. “Wat makeer?”
“Ek werk vir jou; jy is my baas.”
Hy frons onbegrypend. “Wat het dit daarmee te doen? Ek het jou nie onregverdig bevoordeel nie; jy het die werk op eie meriete gekry. Die komitee het eenparig besluit dat jy die beste kandidaat was – dis nie dat ek my posisie misbruik het nie. Ek erken eerlik en openlik dat ek tot jou aangetrokke is, van die begin af. Ek het gedink jy kan die tekens lees en gehoop êrens in jou voel jy miskien ook ’n . . . ’n soort toegeneentheid teenoor my.”
Cecilia kan hoor hy het sy woorde versigtig gekies, maar hare kom agterstevoor uit.
“Ek het ’n verlede. Daar was . . . iemand. Dis nie nou ter sake nie, en dit beteken nie ek gaan my werk afskeep nie, maar die feit is dat ek mans afgesweer het. Ek hou nie van julle nie, ek wil nie vir julle lief wees nie en ek sal nooit met een van julle trou nie. Al hoekom ek hier sit, is omdat ek nie geweet het wat om in Tibet te doen nie. Ek kan nie bergklim nie en is nie die soort meisie wat in ’n klooster sal aard nie.”
Sy het verwag Melt gaan vra of al haar varkies op hok is. Maar hy sit gemaklik agteroor en vra nie waar Tibet of die klooster inpas nie. Toe sy dit waag om ongemerk na hom te loer, is sy verstom om te sien dat hy breed grinnik.
“Moenie vir my lag nie!” roep sy kwaad uit.
Hy lyk verbaas. “Ek lag nie vir jou nie. Ek geniet jou: die twee rooi kolle op jou wange en jou oë wat grasgroen word as jy kwaad is.”
Haar neus trek op ’n plooi. “Ek klink soos ’n appel.”
“ ’n Baie mooi appel,” beaam hy. “Een wat ek lus kry om aan te proe en te knibbel.”
“Daar doen jy dit weer!” beskuldig sy hom. “Ek weet nooit wat jy dink as jy jou so vroom hou en dit lyk asof jy jou eie privaat grap geniet nie!”
Melt is versigtig om geen uitdrukking op sy gesig te hê wat as ’n sweem van ’n glimlag beskou kan word nie. Al was haar woordkeuse snaaks toe sy netnou teen mans uitgevaar het, was daar dieselfde soort weerloosheid wat hom voorheen geprikkel het. Hy wil sy hand om hare vou, haar vashou en beskerm.
Cecilia is bly toe die kelner opdaag met die omelette, gevul met garnale, fetakaas en songedroogde tamaties. Hy laai roosterbrood, croissants, botter en ’n silwermandjie met ’n verskeidenheid konfytsoorte af.
“Kan ek nog twee cappuccino’s bring, meneer Meiring?” bied hy aan.
“Asseblief, Theunis. Dit lyk keurig, soos altyd. Alles reg met julle mense daar in die kombuis?”
“Aan die wiel, meneer.”
“En die nuwe stoof? Werk hy goed?”
“Aan die kook, meneer.”
“Gaaf. Ek merk julle is vol en die manne van die Gholf-uitdaagbeker begin inkom. Jy hoef jou nie verder oor my en juffrou Louw te bekommer nie, ons sal roep as ons iets nodig het.”
“Dankie, meneer. Smaaklike ete vir u!”
Melt herrangskik die tafel en skuif Cecilia se bord netjies reg voor haar. “Daarso . . . jou yskoue geklitste eiers!”
Sy gee hom ’n kyk en tel haar mes op.
Hy hou sy hande verontskuldigend op. “Ek lag nie. Ek is serieus en gewigtig, gevul met diepe erns.”
“Overgeset synde: ’n nors ou suurknol?”
“Knorrig,” beaam hy. “Lelik en gemelik.”
Cecilia is seker hy rym sommer en daar is nie so ’n woord nie, maar sy stry nie, tevrede dat hy ’n ronde kan wen. Al trek sy gewoonlik aan die kort kant, geniet sy Melt Meiring se sin vir humor. Sy en Steve was altyd te intens, vol stormagtige emosies en kragmetings. Sy het soms die indruk gekry hy baklei net om agterna ’n verskoning te hê om op te maak. Met Melt is dit anders. Hy is rustig en ontspanne, prettig en op haar golflengte ingestel. Sy kan nie glo sy het hom gister nog “meneer” genoem nie.
“Ek was ook lelik en gemelik,” erken sy.
“Maak nie saak nie. Wees wat jy wil, ek hou van jou soos jy is.”
Haar hande is skielik lomp met haar mes en vurk. Sy neem ’n hap eier en kou sonder om te proe wat sy eet.
“Toe ek daardie eerste dag gesê het jy is ’n buffel, onredelik en arrogant,” verduidelik sy. “Dis wat een van die ander kandidate ná haar onderhoud gesê het. Een van dié wat jy afgekeur het. Dit was katterigheid en suur druiwe. Of dalk wou sy my bevooroordeeld maak.”
“Dalk was sy reg, dalk ís ek hiperkrities en vitterig.”
“Nee, jy is nie. Geensins. Jy was gaaf en simpatiek, wat ’n mens op jou gemak gestel het.”
Sy smeer botter op ’n stuk roosterbrood en kou ’n rukkie in stilte. Al bly hy haar baas, voel sy hulle is ook vriende, en haar nuuskierigheid kry die oorhand. “Ek het tien dae lank daaroor gewonder . . . Wat het jy in ’n stadium tydens die onderhoud onderaan my aansoekvorm geskryf?”
“Twee letters.”
Sy verstaan nie. “Watse twee letters?”
“ ’n Ja,” antwoord hy sonder skroom. “JA!!! Hoofletters en drie uitroeptekens.”
“Het jy toe al besluit ek is ’n geskikte kandidaat?”
“Nee, vroeër in die hysbak al, of eintlik in die foyer toe ek jou die eerste keer gesien het.”
“Ek dag jy het geskryf die kandidaat is neuroties en voorbarig, sy kan nie spel nie en het ’n lelike handskrif.”
Hy neem haar kleinbordjie, smeer die botter egalig oor die roosterbrood en sny dit in vier netjiese kwarte. Dan kyk hy ondersoekend op. “Het jy gehoor wat ek netnou gesê het, Cecilia?”
Sy knik. “En jy? Het jy gehoor wat ék gesê het?”
“Van jou verlede? Dat jy mans afgesweer het en nooit van een van ons sal hou of mee wil trou nie? Ja, ek het gehoor.”
Komend van iemand anders klink haar woorde verspot.
“Dié man wat gisteraand gebel het, met wie jy nie wou praat nie, nie oor honderd jaar nie . . . Is hy die ‘iemand’ in jou verlede?” Hy gee vir haar die tamatiesous aan, en toe daar steeds geen antwoord is nie, vra hy rustig: “Vertel my van hom?”
“Ek is seker jy wil nie my vervelige storie hoor nie . . .”
“Ek wil graag. Ek is ’n goeie luisteraar en my skouers is breed, as jy wil uitpak.”
Sy wil nie. Sy wil liewer uitstel. “Dis al laat. Moet jy nie op kantoor kom nie?”
Hy kyk op sy horlosie. “Ek moet Nelspruit toe gaan vir sake. Maar daar is nog genoeg tyd voor ek moet ry. Is hy by Lugdiens?”
Sy knik teësinnig.
“En is hy die rede waarom jy bedank het?”
“Een van die redes . . .”
Sy vertel hom so min as moontlik – net dat sy verloof was, dat onvoorsiene omstandighede voorgeval het, dat sy as gevolg daarvan die verhouding beëindig het en ’n nuwe lewe begin het.
Toe sy klaar is, lyk hy ingedagte. “Ek is jammer oor die persoonlike vrae tydens die onderhoud.”
“Jy hoef nie te wees nie. Dit was in ’n professionele hoedanigheid.”
“Net gedeeltelik,” erken hy. “Ek het vir geen van die ander kandidate gevra of hulle in ’n vaste verhouding is of trouplanne in die nabye toekoms het nie. Ek het my posisie misbruik om my neus in jou persoonlike sake te steek en ek vra om verskoning.”
“Dit