Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
Wat het Joe daarmee te doen?”
“Jy het die man skoon uit sy bloedgroep uit. Vandat jy gekom het, loop hy rond soos ’n gans wat die weerlig in die ooste sien uitslaan. Wat het jy met die stomme kêrel aangevang?”
“Niks.”
Garth lag. “Jou doepa is blykbaar kragtig, dié dat meneer M ook met sulke dweepoë oor sy cappuccino na jou gestaar het.”
Cecilia kan verstaan hoekom Melt gemaan het Garth moenie haar ore dronk klets nie. Hy is soos ’n kwetterende spreeu.
“Moet jy nie die kombi uitstuur lughawe toe nie?” herinner sy hom.
“O hel!” Hy kyk op sy horlosie en hardloop by die kantoor uit.
“Onthou die katte en die kaviaar!” roep sy agter hom aan.
Sy gaan sit agter haar lessenaar, verstel die monitor en bekyk die briefhoof. Garth het haar ’n klomp werk gespaar. Hy gaan haar teen die mure uitdryf, maar hy is pret en mens kan nie help om van hom te hou nie.
Sy voel beter noudat sy weet Melt het nie ’n vrou nie. Dis nie te sê daar sal ’n verhouding tussen hulle ontwikkel nie. As hy pas geskei is, is hy in hierdie stadium seker ook nog bietjie vuisvoos en versigtig vir vroumense – in dieselfde bootjie as sy. Dit pas haar dat hulle ’n suiwer platoniese werksverhouding het.
10
Teen die daaropvolgende Maandag begin Cecilia ingeburger voel. Haar vuurdoop en die eerste week van haar nuwe lewe is verby. En sy leef nog, al het sy meer as een keer tien dode gesterf. Of soos Garth dit gestel het: “Die slaggate misgetrap en binne-in die sloot geval.”
Haar meubels het elkeen sy regte staanplek gekry en haar skilderye hang. Haar e-pos werk en sy het ’n lang geselsbrief van haar ma gekry. Die een nadeel van haar bedanking by Jakaranda-lugdiens is die Madrid-kuiertjies wat opgedroog het. Haar ouers kan dalk Kerstyd ’n plan maak om in Suid-Afrika te kom kuier, maar intussen het Vera belowe om gereeld in te loer wanneer sy ’n Madrid-vlug doen.
En glo dit of nie, haar ouers se eertydse voornemende skoonseun ook. Daar is nie kwade gevoelens tussen hulle en Steve nie. Cecilia weet wat hulle dink: Eendag vind sy en Steve dalk uit dit was alles ’n misverstand en dan kom hulle weer by mekaar uit. Haar ma maan altyd dat ’n mens nooit moet sê: Fonteintjie, ek sal nie weer van jou drink nie.
Nadat sy ’n nuwe selfoon gekry het, het sy die oue minder gereeld aangeskakel. Steve se oproepe was natuurlik van die eerstes wat deurgekom het. Maar dof en onduidelik, asof hy vanuit ’n duikboot op die seebodem gebel het. Hy was op Da Vinci-lughawe in Rome en daar was baie steurings op die lug. Hulle kon mekaar skaars hoor tussen die weergalmende eggo’s en fluitende wind deur.
Die volgende dag het Sue Bernard vir Cecilia ’n ruiker rooi rose gebring wat by ontvangs afgelewer is, met ’n kaartjie daarby: Rose kan dit duideliker sê as ’n selfoon. Ek is vandag liewer vir jou as gister, en ek sal jou môre liewer hê as vandag . . .
Sy het haar voorgeneem die rouperiode is verby. Maar die eerste keer in ’n lang tyd het sy daardie nag weer slapeloos rondgerol. Later opgestaan en met ’n koppie tee in die sitkamer gaan sit, terwyl Vera se woorde in ’n e-pos deur haar kop bly draai het: Melanie sê jy het toestemming gegee dat sy jou eks mag erf. Is jy seker? Gaan dit nie later dalk jou en Mel se vriendskap bederf nie? Hoe gaan jy voel as jy haar en Steve saam sien?
Sy was omgekrap oor haar ma en oor Vera se opmerkings. Hulle het destyds saamgestem dat Steve nie haar liefde werd is nie. Hoekom nou skielik terugkrabbel en suggereer dat sy mettertyd sal afkoel, en dat sy dalk te kras geoordeel het?
Die jop by Mlala hou haar aan die hop, maar is veel bevredigender as om skinkborde te dra en veeleisende passasiers te pamperlang. Dis so ’n vreugde om terug te wees in haar geboortewêreld dat sy nie terugverlang na Lugdiens se eksotiese bestemmings nie. Eendag sal sy weer oorsee gaan – ’n rugsak pak en die stukkies van haar hart gaan losmaak waar dit nog aan al die sentimentele plekke vasklou.
Sy het haar visarend onder by die rivier hoor roep, en het met behulp van ’n hand vol broodkorsies vriende gemaak met die trop tarentale wat soggens by haar chalet kom ontbyt bedel. Al wat pla, is haar motor wat nog bekwaald in Joe se werkswinkel staan, die Yspaleis se kil houding en die dagbestuurvergadering drie maal ’n week in Melt se kantoor.
Hy het nog nie weer die toeryghemp aangehad nie, maar selfs in ’n formele pak klere met ’n konvensionele hemp en das vind sy dat haar gedagtes afdwaal, sodat sy agterna vir Garth moet vra wat oor spesifieke aspekte besluit is. Sy het ’n paar keer Melt se vraende blik onderskep en skuldig weggekyk, bang haar gevoelens is op haar gesig leesbaar.
Dis moeilik om vaag en ontwykend te wees teenoor hom, om verskonings te bedink hoekom sy nie kan gaan koffie drink of saamstap na die Lapa toe nie; hoekom sy altyd haastig of besig is . . . Dit was dus ’n verligting toe Melt ’n paar dae gelede weg is Pretoria toe en Arnold Jordaan die vergadering gelei het. Arnold is maklik om mee saam te werk, en selfs die Yspaleis was meer genaakbaar.
Maar Melt kom vandag terug, besef Cecilia toe sy Vrydagoggend wakker word. Al het sy gemengde gevoelens daaroor, is dit asof die son helderder skyn en die soetdorings geler blom. Sy soek deur haar klerekas en trek ’n perskepienk broekpak aan wat haar ’n lentegevoel gee.
“Jy lyk soos ’n suigstokkie, lekker genoeg om te eet!” vlei Garth haar toe hy op kantoor kom. “Ten bate van watter hunk – die Laeveldleeu of die loslappiebaas?”
“Dis ’n stokou broekpak,” jok Cecilia. “Ek wou hom al weggooi.”
Garth trek groot oë. “My wêreld, voos gedra en gewas en gestryk, met die prys nog steeds agterop die baadjie.”
“O aarde, issit?”
Cecilia voel agter aan die soom en pluk die etiket los. “Noem dit aan iemand dat ek ’n nuwe pak aangetrek het vir meneer M se terugkoms en ek vertel vir Sue jy slaap snags met ’n teddiebeer in jou arms,” dreig sy hom.
“Wie sê sy sal nie uit eie ervaring weet dis ’n storie nie?” troef Garth haar.
“Wens jy maar,” spot Cecilia en bekyk haar dagboek. “Wat is op ons program vir die dag?”
“Die sitruspromosie, Leonardo die Laeveldleeu wat arriveer, en die baas wat beïndruk moet word met ons arbeidsaamheid die afgelope drie dae.”
“Jy kan sommer nou begin,” sê Melt toe hy by die deur instap, betyds om die laaste item op Garth se lys te hoor.
Garth het op ’n kibboets in Israel gewerk, as kelner in Griekeland en as chauffeur in Westminster. Hy het genoeg selfvertroue om sy teenwoordigheid van gees te behou.
“Meneer M!” roep hy uit. “Ons het jou eers vanmiddag verwag!”
“Ek het vroeg gery ter wille van onafgehandelde sake hier.”
“Koffie en Maria-koeken?”
“Net koffie, dankie.”
Melt kom leun teen Cecilia se lessenaar. Sy glimlag en stem kry ’n ander kwaliteit. “En jy, perskebloeiseltjie? Net so arbeidsaam gewees soos jou kollega?”
Hy het opgelet wat sy aanhet . . . ’n Heerlike warmte bruis deur Cecilia. Sy vergeet van die gholftoernooi en die wildtuin-dagtoer wat sy gereël het. Sy kan aan niks intelligents dink om te antwoord nie, net droomverlore na hom staar. Hierdie man met die goue oë, wat diep spore in haar lewe kom trap het en al haar regte knoppies druk . . . Nou eers besef sy hoe leeg die Lodge was in die afwesigheid van sy dinamiese bestuurder. Drie dae was ’n ewigheid.
Sy is nie al een wat van die spoor af is nie. Melt lyk ook of hy ’n kompas nodig het. Hy neem die beker wat Garth vir hom aangee en roer die koffie om en om, al weet Cecilia hy het nie suiker ingegooi nie. Hy neem ’n sluk en kom blykbaar nie agter dis bitter nie.
“Ek is bly om jou te sien,” sê hy sag.
“Ek ook,” fluister sy.
Dis