Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
hy weeg ’n ton, en sy wiele kort olie,” skimp sy met ’n kreun en ’n steun.
Hy verwyder sy arm. “Oppas, jy gaan seerkry! Gee dat ek stoot, ek is sterker as jy.”
Sy stap vooruit en sê ’n dankgebedjie op toe sy Melt se motor ongeskonde op die parkeerplek sien staan. Sy gaan nie die stomp tuinvurk vir die veiligheidswag nodig hê nie, maar moontlik later vir die Laeveldleeu . . .
Leo laai die groot goed in die kattebak en pas die luidsprekers op die smal agtersitplek in. Hy hou sy hand uit vir die sleutel. “Sal ek die wiel vat, pop?”
Cecilia sidder. “Jy hoef nie, dankie.”
“Ek gee nie om nie.”
Ék gee om, dink sy. En Melt gee om. En die arme Merc gee om . . . Sy klim agter die stuurwiel in en gee Leonardo ’n glimlag wat hopelik sy tone boontoe sal laat krul. “Deel van Mlala se vyfsterdiens.”
Dit was ’n gevaarlike woordkeuse. Leo is dadelik geïnteresseerd terwyl hy langs haar inskuif. “Klink belowend . . . Wat alles is nóg ingesluit?”
Cecilia hou haar dom. “Drie etes per dag. DStv, lugverkoeling, breëband-internet, 24-uur-kroegdiens, en so meer.”
Voor hy weer ’n gaping kan vind, beduie sy na Leeukop en Blinkwaterberg wat op die horison uitrys, en vertel die een en ander omtrent besienswaardighede waarby hulle verbyry. Terwyl sy gesels, kyk Cecilia ongemerk op haar horlosie. Sy kou haar onderlip en waag dit om die petrolpedaal bietjie dieper in te trap, hoewel sy weet dis futiel. Sy is hopeloos laat en Melt se tyd is beperk. Hy sou nie gewag het nie.
Dalk is dit beter so, dat sy uit sy pad uit bly. Wat ook al die belangrike saak is waaroor hy met haar wil praat, sal tot later moet oorstaan. Sy onderdruk ’n gevoel van teleurstelling.
Die parkeerplek op die punt van die voorste ry word blykbaar vir meneer M gereserveer. Mlala se veiligheidswag herken van ver af die sportmotor en wink haar nader.
“Alles reg, juffrou Louw?” wil hy weet en roep ’n bagasiejoggie nader.
Sy streel oor die enjinkap. “ ’n Wa om voor parfuum aan te sit.”
Hy knik. “En ’n nuwe stel spênners te koop.”
En ’n nuwe rok . . . “Het Suidewind Safari’s se toerbus al ingekom?” vra sy.
“Ja, juffrou Louw. Net voor eenuur, betyds vir middagete. En die Sitrusraad se mense ook.”
“Dankie, meneer . . . e . . .” Sy wens sy het Melt se gawe gehad om almal se name te onthou.
“Pottie. Die van is Potgieter, maar almal sê sommer Pottie.”
By ontvangs bied Cecilia vir Leonardo yskoue vrugtesap aan en reël dat verversings vir hom en sy tegniese span na die Lapa gestuur word. Dan oorhandig sy hom aan Sue Bernard.
“Dra ’n pantserharnas en hou ’n hokkiestok naby om jou mee te verdedig,” fluister sy onderlangs. “Moenie vir hom sê jou naam is Sue nie, liewer Anna of Marie of iets.”
Sy kyk op haar horlosie. Die kalf is klaar in die put, nog ’n paar minute ter wille van ’n goeie saak sal nie ’n verskil maak nie. “Sue, is jy getroud?” wil sy weet. “Het jy ’n man of ’n jaloerse kêrel wat ’n bokser is?”
Sue lyk verbaas. “Nie een nie. Hoekom?”
“Sommer net gewonder, ten bate van iemand,” antwoord Cecilia ontwykend. Sy verwyder ’n dooie strelitzia uit die toonbankrangskikking en luister na ’n gas se klagte oor ’n lugreëlaar wat soos ’n grassnyer klink pleks van ’n yskas. Klêk-klêk, pleks van brrr . . .
Op pad na die hysbak steek sy vas en kyk om na Sue. “Terloops, Garth sê jou oë lyk soos Delft-porselein. Ek dag ek sê dit vir jou, want wat is die nut van ’n kompliment as dit nie by die regte persoon uitkom nie?”
Sue bloos. “Garth is gaaf. Jy kan maar vir hom sê ek sê so . . . ”
“Sal so maak,” belowe Cecilia.
In die hysbak kruis sy drie vingers: dat daar nie weer ’n kragonderbreking is nie, dat haar inmenging met Sue en Garth nie boemerang nie, en dat ’n wonderwerk asseblief gebeur het sodat Melt vir haar gewag het.
Maar blykbaar het sy nie genoeg Brownie-punte opgebou nie.
“Meneer Meiring was hier, ja,” bevestig die kelner by die Impala. “Tot amper halfdrie. Nee, hy het niks geëet nie, nie eens ’n cappuccino gedrink nie. Net ongeduldig gelyk, en toe later opgestaan en geloop.”
Cecilia wil huil. Dis belangrik om te weet wat Melt met haar wou bespreek het, al is dit sommer of sy tevrede is met die mat in haar kantoor. Die gesprek met kaptein Doep en Leonardo se vatterigheid het haar ontstig. Sy verlang na Melt se rustigheid, sy warm, diep stem en breë skouers. Al is dit net vyf minute, wil sy by hom wees. Dankie sê vir die leen van sy lieflike motor en die vertroue wat hy in haar bestuursvernuf gestel het. Sommer net hom sien en naby hom wees . . .
“Het hy dalk ’n boodskap gelaat?” Toe die kelner sy kop skud, probeer sy weer: “Of weet jy dalk waar hy nou is?”
“Ongelukkig nie, juffrou Louw.” Haar gesig wys blykbaar dat sy troos nodig het. “Kan ek vir jou ’n lekker cappuccino bring?” bied hy aan.
Sy skud haar kop. Dit sal soos plastiek smaak.
Sy gaan help Garth sitrusvrugte uitpak en dra Sue se boodskap oor. Sy kuier saam met die Suidewind-toergroep, doen ’n vlugbespreking vir ’n oorsese passasier en verstel die grassnyer in suite 448 terug na ’n yskas toe.
Sy maak ’n draai by die Lapa en dwing haarself om beleef teenoor Leonardo te wees, belang te stel in die nuwe luidsprekers wat hy wil uittoets en ’n getekende foto van hom met grasie te ontvang, terwyl sy tussenin sy seekatgrepe probeer ontglip. Ná twintig minute daarvan beskou sy haar plig as afgehandel. Sy gryp die skinkbord met leë glase en ontsnap kombuis toe.
Nou het sy ’n warm bad en ’n uur alleentyd verdien, besluit sy. Op pad na haar chalet breek sy ’n paar geel soetdoringtakkies af om in ’n glas water op haar spieëlkas te sit. Sy kyk verras na die tarentaalveer wat op die patio lê en buk om dit op te tel. ’n Geskenk, soos die Snow Goose en Boerneef se berggans ook ’n veer laat val het . . .
Sy is in ’n sentimentele luim. Sy bêre die gespikkelde swartbont veer om dit as ’n boekmerk te gebruik. Dan sit sy die Pavarotti-CD op, steek ’n kers aan en gaan bad in die mooi badkamer van oker en klei en klip.
In die middel van Nessum Dorma lui haar deurklokkie. Cecilia kreun. Melt het die eerste dag gewaarsku sy is vier en twintig uur aan diens, maar sy het gehoop op ’n bietjie rus en vrede ná ’n vermoeiende dag. Dis waarskynlik een van die skoonmakers, en die versoeking is groot om te skree die vrou moet môre terugkom. Maar straks is dit ’n krisis of ’n hotelgas wat haar soek. Sy sug terwyl sy die kers doodblaas, uit die bad klim en haar japon aantrek.
Toe sy die deur oopmaak, kyk sy vas in Leonardo se grynsende gesig, gehul in ’n bierwalm.
“Haai daar, Suzy-Floozy,” groet hy met ’n sleeptong.
“Wat soek jy hier?” vra sy bot.
“Vir jou,” antwoord hy en glip in voor sy die deur kan toedruk. Sy oë flikker oor die diep V tussen die pante van haar japon en hy lek met die punt van sy tong oor sy vlesige bolip.
Cecilia pluk die japon toe tot bo teen haar ken. “Dis my privaat woonplek hierdie en jy kan nie sommer ongenooi instap nie!” roep sy vererg uit.
Hy beweeg nader. “Jou lýf het my genooi, van vroeg af al. Daardie borste en bene vra om aan gevat te word . . .”
“Jy is onsmaaklik!” Sy stoot die deur wyd oop en wys met haar vinger na buite. “Uit hierso! Nou, op die daad!”
Hy grynslag suggestief. “En wat as ek nie wil nie? As ek liewer by my Suzy vir die nag wil kuier, wat ingesluit is by die vyfsterdiens?”
“Jy