Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
uit my pad uit bly!”
Die Mercedes se enjin brul en sy ruik rubber toe Melt wegtrek. Sy wonder of dit is hoe hy gewoonlik ry, en of hy self ook opgewarm is, dié dat hy die arme motor so moor
. . .
Hulle gesels nie veel nie. Sy voet is swaar op die petrolpedaal tot hulle verby die gholflandgoed, die piesangplantasies en suikermeule is. Van daar af ry hy stadiger en draai links af op ’n kronkelende grondpad.
“Ek het ’n tafel bespreek by Frangipani-gastehuis, wat oor die Krokodilrivier uitkyk, met die wildtuin aan die oorkantste oewer. Hulle maak heerlike calamari. As jy gelukkig is, sien jy seekoeie, en dalk olifante wat kom bad. En die grootste bonus: waar niemand ons ken nie en ek jou hand kan vashou sonder dat die hele personeel ons aanstaar.”
“Dit klink heerlik.”
Sy een mondhoek wip tergend. “Watter deel? Die wildtuin, die calamari, die olifant, of dit wat daarop gevolg het?”
“E . . . alles,” erken Cecilia blosend.
“Ek kan meer ambisieuse dinge doen as net jou hand vashou,” bied hy hulpvaardig aan, en geniet dit toe die blos op haar wange verdiep. “Weet jy hoe verruklik mooi jy is, meisiekind? Die soort nimf vir wie ’n man blomme koop tot sy geld opraak, en dan die park s’n steel.”
Hy klink soos Steve – voor dinge tussen hulle verkeerd geloop het. Net nie lelies nie, dink sy. Enige ander soort . . . Sy sal elke blom pars en byvoeg in haar plakboek van spesiale herinneringe.
“Hoe voel jou nek en keel? Steeds sensitief?”
Dis wat hy gisteraand in die kamer ook gevra het, met sy hemelse lyf half bo-op haar . . . Sy kan nie glo dit was werklikheid nie.
“Beter, dankie,” antwoord sy, skielik ongemaklik. Sy was so lank aan Steve gewoond dat sy haarself amper al as oud en getroud beskou het. Al is dit Melt hier langs haar, voel dit vreemd om deur ’n ander man uitgeneem te word.
Sy stuur die gesprek in ’n meer alledaagse rigting. “Jy moet maar die gebreekte kleipot se vervangingswaarde van my salaris aftrek die einde van die maand.”
“Ek sal wag tot ek ’n gebreekte hart het voor ek vir jou ’n rekening stuur – met rente,” dreig hy.
Hy parkeer onder een van die bome waarna die gastehuis vernoem is. Hy help haar uit die motor en plaas sy arm liggies om haar skouers in ’n besitlike gebaar wat erotiese rillings langs haar ruggraat afstuur. Sy voel sy vingerpunte teen die kaal vel van haar rug raak: sterk, bruingebrande vingers, met kortgeknipte naels. Dieselfde vingerpunte wat gisteraand oor haar borste gestreel het en haar lyf in passie laat ontwaak het . . . Sy het nie vir Sue gejok nie. Sy is tot oor haar kroontjie malverlief op Melt Meiring.
Die tuin is ’n wilde lushof vol voëls, en ’n spekvet vlakvark trippel hulle tegemoet toe hulle na die toegerankte patio stap. By een van die verste tafels sit ’n groep mense, verder is die restaurant stil.
Op pad om vir haar ’n stoel uit te trek, beduie Melt met sy vinger sonder om ’n woord te sê. Cecilia kyk in die rigting waarin hy wys. Sy sien eers net ’n swartgrys kol tussen die riete, wat ’n klip of ’n droë boomstomp kan wees, en dan opeens roer om twee flappende ore, ’n slurp en ’n paar omkrultande te vorm. Sy trek haar asem in. Die scoop van die dag . . . mooier selfs as meneer M met sy strepieskuif en gespierde borskas in ’n syhemp.
Terselfdertyd klink die weeklag van ’n visarend onder by die rivier op. Melt se hande vou van agter om haar skouers en hy laat rus sy wang teen haar nek. “Ek is oneindig lief vir jou, Cecilia.”
Eendag as sy oud is, sal sy hierdie oomblik onthou as die mees volmaakte moment in haar lewe, mymer Cecilia. Sy kruis haar arms oor haar bors om sy hande in elk van hare vas te hou, terwyl hulle die grootvoet bekyk, al plunderend en knarsend deur die biesies.
“My dag is gemaak, nou kan ons maar huis toe gaan,” adem sy.
Melt stoot die spaghetti-bandjies van haar rok opsy en proe al teen haar rug af, sover hy kan bykom. “Is ’n olifant en ’n visarend genoeg vir jou?”
Sy vryf haar wang teen die agterkant van sy hand. “Dis die bonus. Die hoogtepunt is dat ons uitvoerende bestuurder my rugwerwels een vir een gesoen het.”
“Ek sal graag meer van jou wil soen – jou hele lyf proe, elke millimeter daarvan,” prewel hy met die punt van sy tong ondersoekend teen haar oor.
“Melt!” roep ’n vrouestem, gevolg deur naderende voetstappe oor die patio. ’n Aantreklike donkerkop stop by hulle tafel.
“Dis gaaf om jou weer te sien, vreemdeling! Ek het ’n spesiale calamari gemaak en Imke se gunsteling-rosé . . .” Sy bly stil, ’n hand voor haar mond gedruk. “Oeps! Het ek my voet daarin gesit?”
Melt kom regop en beweeg om die tafel. Toe hy opkyk, is sy gesig onleesbaar, sy oë steeds verskuil agter die donkerbril.
“Hallo, Tertia. Lekker om jou ook weer te sien, ná die lang tyd. Nee, jy het niks gesê wat jy nie moes nie,” antwoord hy gelykmatig.
Hulle gasvrou lyk steeds verleë. “Ek is jammer, ek het nie mooi gekyk nie. Die blonde hare en skraal figuur het met die eerste oogopslag soos Imke gelyk en –”
“Imke is op Badplaas. Hierdie is Cecilia Louw, skakelbeampte by Mlala. Cecilia, dis Tertia, eienaar van die Frangipani,” stel Melt hulle voor.
“Aangename kennis,” groet Tertia. “Ek is regtig jammer, hoor!”
“Cecilia verkies droë witwyn, met ys,” sê Melt bruusk en wend hom na haar. “Tertia maak ook heerlike bredies en bobotie. Wil jy die spyskaart sien?”
“Nee, calamari sal goed wees, dankie,” antwoord Cecilia net so neutraal soos hy.
“Reg so.” Tertia is duidelik verlig om te kan ontsnap. “Ek stuur ’n kelner met die wynlys.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.