Danda op Oudeur. Chris Barnard

Danda op Oudeur - Chris Barnard


Скачать книгу
uit die hok. Kiki en Vlooi is ook dadelik by, vas daarvan oortuig hulle is weer soos gister op pad strand toe. Vlooi blaf en draf kort-kort hek se kant toe.

      “Nee,” sê Danda, “vanmiddag bly julle by die huis. Ek kan julle nie elke dag so bederf nie.” Sindo wip tot op sy skouer en probeer sy hempsak bykom om te sien of daar nie dalk iets te peusel is nie; Kiki probeer dieselfde doen en dis nie lank nie of die nagaap en die kraai is aanmekaar. Dit kos Danda twee snye brood gaan haal om die vrede te bewaar.

      Maar sy aandag is nie by die diere nie. Hy speel wel met hulle, gesels met hulle, maar sy gedagtes loop die tyd vooruit, kantien toe. Die diere voel dit aan. Hulle word self onrustig en geïrriteerd – en teen drie-uur besluit Danda om maar te stap. Hy sluit Sindo en Ratel toe, beduie vir Kiki dat hy nie mag saam nie, klop Vlooi nog vir oulaas op die kop en maak die hekkie agter hom toe.

      Dis ’n kwartier se stap tot in Houtstraat. Danda loop af tot naby die kaai en kom met Dokstraat terug, voor die kantien verby. Alles lyk doodgewoon, soos dit maar op ’n Woensdagmiddag op Oudeur lyk. Eriksson die kroegman staan in die Rooi Haan se deur met iemand en gesels, ’n paar matrose drentel straat af, oom Tops sit op sy pandjieswinkel se stoep ’n koperkan en blink vryf, ’n bedelaar staan op die hoek van Dok- en Waterkantstraat windskeef tussen sy krukke ’n hoed en rondhou. Danda loop naby hom verby en kyk om, vas in die man se oë. Maar toe hy sien Danda kyk, draai hy weg.

      Halfvier, terug aan die bopunt van Houtstraat, gaan sit Danda op die randsteen en wag. En dis toe dat hy skielik die gelag agter hom hoor. Nog voor hy omkyk, weet hy al dis Kiki. En ja, daar sit die kraai op ’n brandweerkraan en vere stryk, houtgerus en doodtevrede noudat hy sy baas opgespoor het.

      Maar Danda is dadelik omgekrap: “Kiki, blikskater, wat maak jy hier? Ek het jou gesê jy bly by die huis!” Die kraai kyk anderpad, ongesteurd. “Sie jy, man; terug huis toe is jy!” Danda probeer hom met swaaiende arms verdryf. Maar Kiki sit hom net só en kyk, en lag dan sy skril kraailaggie.

      Tyd om die dekselse voël nou terug te neem huis toe is daar nie. Danda gaan stadig nader, gryp die kraai vas, tik hom met die vinger op die kop en steek vir hom ’n preek af. Maar Kiki laat hom nie sommer intimideer nie. Hy pik en krap met sy pote. Danda gooi hom in die lug op en sjoe hom weg, maar dit help nie. Kiki se vlerke skiet oop en hy sweef af dokke se kant toe.

      Die klein swernoot! dink Danda moedeloos. Hoekom hy nou juis vanmiddag uitkies om streke uit te haal! Die afgelope maande was hy baie gehoorsaam – hy het nie eens meer gelol om te wil saamgaan skool toe nie. Kan dit wees dat die kraai onraad vermoed?

      Danda begin stadig met Houtstraat afstap. Af en toe gaan hy staan. Kiki is nêrens te sien nie. Maar toe hy eenkeer weer omkyk, sien hy die bedelaar van netnou aan die bopunt van die straat staan.

      Daar is ’n heining langs die sypaadjie, en anderkant die hei­ning is ’n terras met ’n trap wat na die geboue onderkant die straat lei. Van die sypaadjie af kyk ’n mens op die dakke van die Rooi Haan en die pandjieswinkel en die vismeule se skure. Dis ’n hele konglomerasie van dakke en skewe mure en trappe en balustrades. Die geboue is vas aan mekaar en lyk soos een lang kasarm.

      ’n Raps voor vier staan Danda by die hek na die werf waar­van Kalkoen gepraat het. Hy kyk links en regs. Die bedelaar staan nog steeds op dieselfde plek, maar hy kyk anderpad.

      En dan sien Danda nóg iemand. Konstabel Tiens. Dié kom ewe ongeërg, doodrustig, op die oorkantste sypaadjie aangedrentel, hande agter die rug. ’n Oomblik lank oorweeg Danda dit om vinnig teen die steil kliptrap af te klim tot waar die konstabel hom nie kan sien nie, maar iets laat hom dink Tiens het hom klaar gewaar. Danda stap by die hek verby en gaan ’n paar treë verder weer staan. Hy maak of hy na Kiki soek.

      Konstabel Tiens steek die straat oor en stap reguit op hom af. “En waar drentel jy rond?” vra hy.

      “Ek soek my kraai,” sê Danda.

      “As hy hier rond weggeraak het, dan kan jy maar weet die hawe se spul maer katte het hom al lankal opgevreet.”

      “Nie Kiki nie,” sê Danda. “Hy’s te slim vir ’n kat.”

      Konstabel Tiens lag amegtig en sy snaakse boepmagie skud. “Jy ken nog nie die hawekatte nie. Hulle is erger as hiënas.”

      Skielik word Danda koud. Want bo teen die bult begin die toringhorlosie vieruur slaan. En Tiens gaan leun teen die hekkie en vou sy arms soos hy altyd maak as hy lekker wil gesels.

      “Ek moet loop,” sê Danda. “Ek het nog baie werk.”

      “O,” sê Tiens. “En wat van jou kraai?”

      “Hy sal seker maar vanself weer huis toe kom.”

      “Hm,” sê konstabel Tiens en blaas onder sy swart hangsnor deur. “Ek wou eintlik nog met jou gepraat het ’n slag. Jy moet een middag daar by die stasie ’n draai kom maak. Ek het so ’n gevoel jy kan my dalk help met ’n ding.”

      Danda sê niks. Hy wag om te sien of Tiens gaan loop. Maar die konstabel bly staan asof hy nog die hele middag tyd het. Danda huiwer nog ’n rukkie, tel ’n klippie op, gooi dit in die lug en vang dit weer, gooi dit, vang dit, gooi dit, vang mis.

      “Tot siens, Oom,” sê hy skielik en draai om en begin haastig straat op stryk. ’n Honderd tree verder kyk hy om en sien die konstabel in die teenoorgestelde rigting aanstap. Toe vlieg Danda om en nael terug vir al wat hy werd is. Hy haal die hek sonder om aandag te trek, glip deur, hardloop val-val teen die trap af en kom voor ’n sinkdeur tot stilstand. Moet hy hier in? Hy stoot die deur oop en stap deur. En die volgende oomblik kry ’n groot hand hom aan die pols beet.

      Dis ’n vreemdeling wat langs hom staan, ’n groot man met ’n matroospet op die kop, ’n welige bos baard en net ’n gaatjie in die kop waar sy regteroor moet wees.

      “Hoekom is jy laat?” vra die man.

      “Ek het … Ek wou …” stamel Danda en sluk. Eensklaps kan hy vóél hoe klop sy hart hier bo in sy keel.

      “Kalkoen het vir jou gesê jy bring niemand saam nie, of hoe?”

      Danda knik.

      “Nou wat maak Tiens dan hier bo in die straat? Toe, moenie staan en stry nie – ek het gesien hoe praat julle daar bo!”

      “Maar ek het hom … Hy’t my –”

      Die man los sy pols en stoot hom vooruit. “Kom,” sê hy. “Jy kan jou storie vir Kalkoen vertel. En om jou onthalwe hoop ek jy’t ’n ordentlike storie, my maatjie. Anders weet ek nie.”

      Danda weet nie watter kant toe nie, want voor hom is vier of vyf verskillende deure. Die man stamp hom nog ’n slag vo­rentoe en stuur hom met die hand na die regterkantste deur. Die deur gaan oop en Kalkoen Viljoen staan voor hulle.

      Danda steek in sy spore vas. Want nou, in die daglig, sien hy vir die eerste keer hoe lyk Kalkoen Viljoen régtig. Hy het nie net ’n gebreklike voet en ’n krom hand en ’n haakneus en klein ogies nie – hy het ook ’n eienaardige rooi lel onder sy ken, kompleet nes ’n kalkoen s’n. Vandaar seker sy bynaam.

      Kalkoen sê niks, staan net eenkant toe sodat Danda kan binnekom, en die ander man stoot hom oor die drumpel die skemer vertrek binne. “Tiens is weg,” sê die baardman, “maar ek vertrou nie die vrede nie.”

      “Wat se stories het jy aan die konstabel staan en verkoop?” vra Kalkoen.

      “Hy’t maar net verbygeloop en toe begin hy met my gesels,” sê Danda. “Hy praat altyd met my as hy my in die straat kry.”

      “Waaroor het julle gepraat?” wil die baardman weet.

      “Stil, Luis, ek sal die vrae vra!”

      “Hy’t gevra wat soek ek, toe sê ek ek soek my kraai.”

      “Wat se kraai?”

      Luis, die baardman, gee ’n snorklaggie. “Hy’s mos die knaap wat die dieretuin aanhou.”

      Kalkoen knik.

      “Sit


Скачать книгу