Danda op Oudeur. Chris Barnard
teen die binnedeur hang ’n klomp ou klere en ’n karwats, en naby die een hoek hang ’n afdruk van Hans-die-Skipper wat plek-plek deur vismotte bygekom is. Origens is daar net ’n tafeltjie en drie stoele.
Danda gaan sit.
“Ek is bly jy’t gekom,” sê Kalkoen. Sy groot rooi lel bewe effens as hy praat. “Is jy nou seker jy’t vir niemand hiervan gesê nie?”
Danda knik.
“Want as jy het, gaan jy spyt wees, gehoor!”
“Ek het vir niemand gesê nie. Maar as ek nie vanaand by die huis is nie, gaan my pa my begin soek.”
Kalkoen lag sy eienaardige laggie. En asof iemand hom koggel, hom probeer na-aap, kom ’n ander gelag skielik van vlak anderkant die buitedeur. Kalkoen skrik en draai om deur toe, kyk na Danda, kyk weer na die deur.
“Toe maar,” sê Danda, “dis maar net my kraai.”
Netnou nog was hy vies toe die kraai so ongevraag by hom opdaag, maar nou is hy ineens bly om te weet Kiki is naby. Dis ’n soort troos.
Kalkoen loer by die buitedeur uit, maak die deur weer toe en kom nader geskuifel. Hy kom sit op ’n stoel langs Danda.
“Jou pa het by Pontak-hulle ’n boot gekoop voorlaaste jaar, en hy’t ’n jaar gekry om die boot klaar te betaal. Is dit reg?”
Danda knik.
“En toe die jaar verby is, toe’s die boot nog nie klaar betaal nie.” Danda kan sy oë nie wegkry van die bewende rooi lel onder Kalkoen se ken nie. “Toe gee hulle hom nog drie maande om te betaal. Reg?”
Danda knik.
“En toe die drie maande verby is, toe skuld jou pa nóg. En toe vat hulle die boot by hom weg. Reg?”
“Nee,” sê Danda. “Hulle het gesê hulle sal die boot ses maande by hom huur vir die geld wat hy nog skuld. Dan kan hy weer die boot kry.”
Kalkoen lag, en buitekant aap Kiki hom weer na. “Wie sê vir jou so?”
“My pa sê so. Dis hoekom hy nou in die dokke werk. Tot die ses maande verby is. Dan gaan hy weer terug see toe.”
“Met sy boot?”
Danda knik.
Kalkoen sit hom ’n hele rukkie doodstil en bekyk. “Het jou pa ’n kontrak laat opstel vir hierdie huurstorie?” vra hy.
“Hy’t my nie gesê nie.”
Kalkoen sukkel orent en skuifel buitedeur toe. Hy maak die deur oop en loer om die kosyn. “Luis!” roep hy. “Alles nog reg?”
Danda hoor iemand antwoord.
“Gaan haal daardie vent en bring hom hiernatoe,” beveel Kalkoen en maak weer die deur toe. Hy kom terug na sy stoel en neurie skielik weer die vals deuntjie van die vorige aand.
Danda sê maar niks, want dit lyk asof KalkoenViljoen voorlopig van hom vergeet het.
Toe is daar voetstappe buite, en ná ’n rukkie gaan die deur oop. Luis loer in en staan opsy, en agter hom verskyn ’n tamaai maag. Danda kan sy oë byna nie glo nie. Hy kom vinnig orent, maar Kalkoen druk hom weer plat op sy stoel.
“My diep vriend Danda,” sê Sarel Vetvoet en glimlag van oor tot oor. “Ek dág mos ek hoor jou kraai hier buite!”
2
Vetvoet kom met twee, drie lang treë nader, gryp Danda aan die bo-arms en tel hom in die lug op. Kalkoen Viljoen wil nog tussenbeide kom, maar Sarel draai net sy rug op hom, lag ’n slag diep uit sy maag en sit Danda weer netjies op sy voete neer. Hy sê niks, hou net aan lag, en ’n oomblik lank wil Danda hom verbeel die ou grote se oë blink darem vreeslik eienaardig.
“Ek het drie Dinsdae verniet vir jou op die strand gewag,” sê Danda. “Waar was jy?”
Vetvoet kyk na Kalkoen en Kalkoen draai om na Luis. “Toe, Visagie,” sê hy, “wat staan jy hier? Loop pas die werf op!” Die baardman knik eerbiedig en verdwyn oor die drumpel.
“Kan ek maar praat, kameraad,” vra Sarel na Kalkoen se kant toe. Kalkoen trek sy skouers op, half traak-my-nie, en gaan sit.
“Ek het vir hulle gesê,” sê Sarel. “Ek het gesê laat kom vir Danda. En hulle het almal gesê jy sal g’n kom nie, jy gaan kop uittrek, jy gaan nie die moed hê om alleen hier in hierdie hool te kom inkruip nie. Toe sê ek vir hulle: julle ken nog nie vir Danda nie. Ek en Danda het saam honderde kilometers deur oerwoude en storms en droogtes gesukkel, saam-saam tussen die adders en die ongediertes deur; Danda is g’n papbroek nie. Hè, Kalkoen? En julle’t vir my gelag, Kalkoen. En kyk hier. Hier staan hy!”
“Sê wat jy wil sê,” antwoord Kalkoen en kyk anderpad.
“Nee, kameraad,” hou Vetvoet vol, “erken nou maar jy was verkeerd. Vra nou maar ekskuus. Kyk, hier staan hy!”
Kalkoen knik net, haal ’n langsteelpyp uit sy sak en soek sy vuurhoutjies.
Vetvoet stoot ’n stoel nader onder Danda in en hy self gaan sit op een van die kratte. “Jy’t gedink ek bly sommer net weg, nè, Noag? Jy’t seker begin reken ek het voet in die wind geslaan toe ek nie opdaag nie. O-ho nee. Nie Sarel Vetvoet nie. Nie só maklik nie. Ek meen, ons het mos darem al ’n tak of twee saam gebreek, ek en jy. Ons het ’n hele rivier saam mak gemaak. Kalkoen, kameraad, ek moet jou vertel van die keer toe ek en hierdie kêreltjie ’n krokodil laat versuip het. Jy skrik jou koud as jy dáárdie storie hoor!”
Danda besef weer: vir Vetvoet is dit lastig om aldag aan die waarheid getrou te bly. Hy is nie gelukkig as hy nie ’n bietjie bylas nie.
“Hy praat darem baie groot,” sê Kalkoen, “vir ’n man wat in die knyp sit.”
Danda kyk na Vetvoet. “Hoekom sê hy so?”
“Ons sal wel hier uitkom,” sê Vetvoet. “Gee net kans. As ek en klein Noag eers ’n slag koppe bymekaargesit het, dan moet jy weet: hier kom nou ’n ding.”
Kalkoen grinnik, suig aan sy pyp. “Praat maar, Sarel,” sê hy. “Ek stel nie in praat belang nie.”
Omdat die venster en albei die deure toe is, begin dit bedompig raak in die vertrek en Danda kan voel hoe sweet sy hande. Maar dit pla hom nie so veel nie. Hy wil weet wat met Vetvoet aan die gang is. En waar staan Kalkoen Viljoen in die saak? Is hy Sarel se vriend of is hy juis die oorsaak van alles wat nou aan die gebeur is?
Kiki sit weer ’n keel op buite en Kalkoen lig sy kop effens en luister. “Daardie kraai gaan moleste maak,” sê hy. “As hulle hom hier rond gewaar, gaan hulle weet die knaap is hier. En dan sit ons.”
“Wat sal hulle hier kom soek?” vra Vetvoet.
“Hulle is die ene ore en oë; jy weet self. Ek reken julle moet praat en klaarkry.”
Vetvoet lag weer. “Jy sê niks, Noag?”
Sedert die tyd toe Danda en sy diere met die tuisgemaakte vlot die lang riviertog afgelê het, het hy by baie van sy vriende die bynaam Noag gekry. Maar dit was Sarel Vetvoet wat hom eerste so genoem het.
“Wat kan ek sê?” Danda sluk. “Ek weet nie waarvan julle praat nie …”
Kalkoen lag sy rare laggie en sukkel orent. “Hierdie man hierso,” sê hy, “is in die moeilikheid. En sommer diep in die moeilikheid.” Hy steek sy pyp in sy mond, kou dit ’n slag, en praat dan langs die pypsteel verby. “Ek gee jou drie raaie hoekom.”
Danda skud sy kop.
“Is dit waar dat jy verlede jaar op ’n vlot met ’n spul diere rivier af gekom het hawe toe?”
“Ja,” sê Danda.
“Is dit waar dat Vetvoet met jou saamgekom het?”
“Ja.”
“Is