Danda op Oudeur. Chris Barnard
hoe moeër hy is, hoe manker is hy.
Danda sit ’n hele ruk in die skaduwee van ’n deurmekaarbos. Hy wag om te sien of Luis dalk probeer agternakom. Maar ná omtrent ’n kwartier is daar nog geen teken van hom nie.
Luis het nie gejok nie. ’n Mens kan in iemand se oë sien as hy jok, en Luis se oë was swart en sonder die geringste sweempie van onsekerheid.
Kon Pontak-hulle vir Vetvoet kom haal het? Hulle het dalk geweet waar Kalkoen hom wegsteek. Dalk het hulle hóm gesien toe hy daar was en het dít hulle op Vetvoet se spoor gebring. Kiki het juis so lawaai.
Die wind skeer oor die bossies en die duine en in die weste stoot daar lae wolke voor die son in – groot, grys, slierterige wolke wat van die berge af see toe waai. Danda staan op, fluit vir die diere en begin stadig al tussen die duine langs aanstryk, terug Puntjie toe. Maar hoe verder hy stap, hoe haastiger word hy. Hoekom gee iemand pad sonder sy skoene en sy hemp as hy nie met geweld …
Maar Vetvoet is so sterk soos ’n bees. Dit sou ’n hele paar man moes gekos het om hóm saam te neem. En so ’n gestoei en gespartel sou mos aandag getrek het.
Danda begin weer draf.
Hy swaai regs en steek dwars oor die duinrûe. Maar Ratel sukkel om by te bly en kort-kort moet hy eers wag dat die ou manke kan rus. Sindo en Vlooi snap blykbaar dat daar onraad is, want albei is onrustig. Vlooi hardloop nie meer so ver vooruit nie; hy bly heeltyd naby en op sy hoede en Sindo probeer aanmekaar om onder Danda se hemp in te kom. Net Kiki het vrede met die wêreld, vlieg wye draaie, koggel vir Ratel en probeer sy bes om soos ’n hond te blaf.
Die see is skielik weer sigbaar voor hulle, vaal en vol donserige skuimkappies. Danda hou teen die laaste duin langs tot tussen Puntjie se eerste rotse. Toe begin hy moeg tussen die bome deur opsukkel in die rigting van die grot.
Hierdie keer is dit Kiki wat eerste kom waarsku. Danda is nog besig om homself uit ’n spul rankdorings los te woel toe die kraai skielik alarm maak en halsoorkop teruggefladder kom. Vir die eerste keer dié middag kom sit hy op Danda se skouer.
Vlooi weet ook al: dít doen Kiki nie om dowe neute nie. As hy sy streke so skielik laat vaar en kom geselskap soek, is iets nie pluis nie.
Danda gaan staan en bekyk die omgewing. Dis stil; net die wind waai. Die hond lig sy kop en besnuif die lug.
“Wat is dit, Vlooi?”
Ratel kom hygend by en snuffel aan Danda se voet.
“Vlooi?”
Die hond draf ’n entjie hoër teen die steilte uit, neus teen die grond, kry blykbaar ’n spoor, swaai regs, draf nog ’n entjie en gaan staan. Hy kyk na sy baas.
“Sien jy iets?”
Danda wag nog ’n rukkie. Toe begin hy so geluidloos moontlik verder klim. Die grot moet nou naby wees. Hy was nog net een keer vantevore daar, en soos hy onthou, was die ingang effens weggesteek tussen ’n paar groot rotse. En daar was ’n klos digte bome naby. Dit moet die plaat rooikransbome hier bokant hom wees.
Danda hou vir Vlooi dop en sien hoe die hond weer ’n spoor kry en soek-soek verder draf, al nader na die bome toe. Hy laat die hond maar begaan, onseker wat hy moet verwag en wat hom presies te doen staan. Net een ding weet hy sonder twyfel, en dit is dat daar iemand naby is.
Toe rol daar skielik iewers ’n klip los, en dit begin teen die steilte af bokspring. Vlooi blaf. En bo tussen die groot rotse, twintig treë van Danda af, staan Pontak.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.