Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 9 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
(lock) – toestel om ’n deur of ander voorwerp te sluit.
verweer (weathered) – oud en verniel
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Was die houtkapper gretig om die reuseboom te begin afkap? Hoekom sê jy so? |
2. | Hoe lank het dit die houtkapper geneem om die boom te kap tot dit begin val het? |
3. | Dit was moeiliker om die reuseboom af te kap as enige ander boom. Noem twee redes hiervoor. |
4. | Beskryf in jou eie woorde, in drie volsinne, hoe die bos gelyk en geklink het in die oomblikke nadat die boom geval het. |
5. | Neem die boom en die bosbokkie menslike eienskappe aan soos in ander volksverhale? Waarom sê jy so? |
6. | Gebeur daar toweragtige dinge in hierdie verhaal soos in ander volksverhale? Hoekom sê jy so? |
7. | Hoe weet ons die dinge in hierdie verhaal het baie lank gelede gebeur? |
8. | Watse lewensles leer ons uit hierdie verhaal? Skryf een sin in jou eie woorde. |
9. | Word die verhaal in die eerste persoon of in die derde persoon vertel? Hoekom sê jy so? |
10. | Wie is die skrywer van hierdie verhaal? |
Postaktiwiteit (verryking)
Hierdie verhaal bevat wel eienskappe van die volksverhaal, soos jy in jou antwoorde op die vrae sou agtergekom het. Die skrywer is Belcampo en dit kom uit sy bundel wat in 1964 verskyn het onder die titel Verborgenheden (letterlik in Engels concealed things).
Beskou jy “Die houtkapper” as ’n volksverhaal? Verduidelik hoekom jy so sê.
Melina sing ’n noot
Nataniël
Prelees – groepbespreking
Molle lewe in tonnels onder die aarde en mens sien hulle dus nie dikwels nie. Het jy al ’n mol gesien?
“So blind soos ’n mol” is ’n bekende Afrikaanse idioom wat gebruik word om te sê iemand kan nie sien nie. Molle het wel oë maar dit is baie klein of met vel bedek. Omdat hulle onder die grond woon, het hulle oë oor eeue se ontwikkeling heen in onbruik geraak.
Die skrywer Nataniël is ook as sanger bekend.
Die verhaal
Ver van hier, iewers tussen oos en wes, iewers tussen hoog en laag, iewers tussen vandag en lank gelede, lê die koninkryk van Fludwanga. Fludwanga is ’n klein, klein landjie, omring deur ’n hoë, hoë muur. Binne is daar een stad, Baraknalla, drie dorpies, ses plase, twee woude en een groot meer.
Die inwoners van Baraknalla het nooit die dorpies besoek nie, die inwoners van die dorpies het nooit die plase besoek nie en die inwoners van die plase het nooit die stad besoek nie. Om die waarheid te sê, niemand het van mekaar geweet nie. Hulle het ook nie geweet dat daar buite die mure van hulle landjie ’n wye wêreld met duisende ander mense is nie.
Die rede hiervoor is dat almal agteruit geloop het. Hulle het ook agteruit gery met hulle fietse en motors. Selfs die boere op die ses plase het agteruit geploeg en gesaai. Die meer was propvol spekvet visse, want almal het agteruit vis gevang en kon nooit ’n enkele vis in die hande kry nie. Niemand weet hoe hierdie agteruitlopery begin het nie, dit was maar altyd net so. Daar was ook nooit ’n besoeker om hulle reg te help nie, want niemand kon die groot hek in die muur so agterstevoor oopkry wanneer daar geklop is nie. Vir honderde jare het mense hulle gang só gegaan, elkeen met ’n dik gebreide mussie. (Dit was noodsaaklik, want hulle het hulle koppe gereeld gestamp.) Tot op ’n dag.
In die middel van Baraknalla het ’n teater gestaan, ’n pragtige gebou van klip en gekleurde glas. Dit is ’n plek waar mense konsert hou of ballette opvoer of met mooi kostuums in operas sing. Maar die teater het dolleeg gestaan, want met al die agteruitlopery het mense later ook verkeerdom begin sit en só kon niemand die verhoog sien nie.
Net ’n entjie van die teater af, diep, diep onder die grond, verby alle boomwortels, rioolpype, elektriese kabels en geheime kelders, het ons heldin gewoon. Haar naam was Melina Mol.
Melina was anders as enige ander mol op aarde. Sy was ’n deftige dame, altyd uitgevat in tabberds uit die beste molboetieks. Sy het in ’n weelderige tonnel vol ornamente, gebreekte beelde, porseleinskerwe, halwe teekoppies, gekraakte horlosies en enige versierde ding wat deur die lomp inwoners van Baraknalla weggegooi is, gewoon.
Melina het baie goed geweet sy is ’n mol, en dat sy in die donker moet woon, uit mense se pad moet bly en veral dat sy glad nie mooi is nie. Maar sy het ’n droom gehad. Sy wou vreeslik graag sing. Nie saggies sing soos iemand wat besig is met strykgoed, ook nie saamsing soos ’n goeie mens in ’n kerk of koor nie. Nee, Melina wou alleen sing, hard en hoog, soos ’n beroemde sangeres in ’n opera.
Elke dag het sy geoefen tot sy pootuit en duiselig was. ’n Tonnel is nie ’n plek vir ’n singery nie, haar kop het gepyn en haar ore het gesuis. Maar sy het uitgehou en aangehou – eendag sou sy op die verhoog wees, ’n mol met ’n rol.
Elke nag het sy haar kop iewers by ’n gat of ’n drein uitgesteek en tussen Baraknalla se vullisdromme rondgesnuffel op soek na ’n koerant. Sy wou weet of daar iewers op aarde ’n teater of ’n opera is vir molle. Maar omdat Baraknalla se mense niks geweet het van die buitewêreld nie, was hulle koerante ook dolleeg.
Melina wou net begin moed opgee. Sy het haar ogies op skrefies getrek en uit die donker na die mense van die stad geloer. Dalk moet ek ook maar agteruit beweeg en van alles vergeet, het sy gedink.
Elke nag het sy haarself probeer opbeur en na mooi goed gaan soek; soos ’n borsspeld of ’n verlore oorring. Deur tonnels en pype het sy gewoel, tot sy een nag op ’n plek beland waar sy nog nooit was nie. Dit was donker, stowwerig en muwwerig, presies soos ’n mol daarvan hou. Melina het saggies begin sing. Haar stem het geëggo, oor en oor.
Melina het besef sy is in ’n teater! Bewerig het sy tot op die verhoog gekruip. Sy het diep ingeasem en ’n noot gesing. Dit was ’n verskriklike geluid – selfs nie eens ’n geoefende mol kan mooi sing nie.
Agterin in die teater het die opsigter wakker geskrik. Nog nooit het hy ’n geluid in dié plek gehoor nie. Hy’t opgespring en die kollig aangeskakel. Soos ’n wit straal het die lig Melina getref. Sy het haar boeglam geskrik en nog ’n noot gesing, hoër en harder as die vorige een.
Die hele Baraknalla het gebewe. Niemand het al ooit só iets gehoor nie. Hulle het vreesbevange in mekaar begin vasloop.
Melina was verblind en verbouereerd. Toe sing sy nog ’n noot.
Dit was net te veel vir die inwoners van die stad. Hulle het omgedraai en vorentoe begin hardloop. Vir die eerste keer in hulle lewe kon hulle vinnig beweeg en sien waarheen hulle op pad is. Hulle het oor die mure geklouter, hulle het die groot hek oopgestoot. Party het na die dorpies en plase gehardloop, ander is sommer net iewers heen.
Vandag is Melina Mol beroemd. Almal ken haar, want almal weet sy het hulle daardie nag laat vorentoe beweeg.
En dit, liewe jong vriend, is vir ons almal ’n les: As dinge moeilik raak of agteruitgaan, as daar hartseer of swaarkry is … sing, sing en sing! Dit maak alles beter.
Woordverklarings
agteruitgaan (degenerate) – slegter word
eggo (echo) – die terugkeer van klank na die rigting waar dit vandaan kom
geëggo (echoed) – verledetydsvorm van “eggo”
geoefende (skilled) – gesê van iemand wat iets goed kan doen omdat hy/sy dit so baie geoefen het.
mussie (beanie, cap, beret) – hoofbedekking sonder ’n rand, pas styf om die kop
muwwerig (musty) – klammerig, bedompig
vreesbevange (panic-stricken) – bang, angstig