Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray


Скачать книгу
Bes se stem is skielik baie streng: “Annatjie, jy moet liewer nie hierdie storie versprei nie. Dis bloot die verbeeldingsvlug van ’n kind wat baie graag ’n ma van haar eie wil hê. Vergeet daarvan.”

      Maar nie een van die twee kry dit vergeet nie, en toe Roelof weer sy opwagting by tant Bes maak, is dit die eerste saak wat sy aanroer terwyl sy hom noukeurig dophou.

      “Lala het met die storie by Annatjie aangekom dat Wanya haar nuwe ma gaan word. Annatjie sê sy was baie oortuigend daaromtrent. Maar, Roelof, dit is mos nie moontlik nie.”

      Sy blik verraai niks nie, maar hy kyk weg toe hy antwoord: “Hoekom is dit onmoontlik, tant Bes?”

      Tant Bes klink sommer vererg. “Maar natuurlik is dit onmoontlik! Sy is ’n getroude vrou! Sy het nog nooit van skei gepraat nie.”

      “Ons weet nie wat in ’n ander se hart omgaan nie, tant Bes.”

      “Maar dit is jou plig om met haar te praat en hierdie ding stop te sit. Sy is jou verantwoordelikheid.”

      Maar hy skud sy kop, staan op. “Ek glo Johan sal ’n voorslagbraaier wees. Hy was ’n boer.” Hy buk af en soen haar vlugtig op die hare, druk haar hand. “Wat ook al gebeur, my tannie, Wanya se geluk is die belangrikste, nie waar nie? Nie ek of tant Bes kan aan haar voorskryf nie. Tot siens.”

      Toe hy uit is, vee tant Bes oor haar oë. Dis maar ’n deurmekaar wêreld hierdie … Die partytjie is ’n reusesukses. Die Jan Bommers vergeet vir een aand van al hul probleme. Kersvader laat die kinders se oë skitter en Johan speel die rol onverbeterlik. Almal wat sy eerste dae in Jan Hofmeyr onthou, kan kwalik glo dis dieselfde man. En vir almal is die geheim nie meer ’n geheim nie. Want Lala, oortuig deur die vurige soen, het nie net haar vreugde met Annatjie gedeel nie. Sy het ook ewe voorbarig aan haar maatjies vertel wat in die toekoms gaan gebeur. Johan se optrede plaas ook die seël daarop, en vir baie Jan Bommers is dit ’n uitgemaakte saak: Op ’n dag gaan Lala haar nuwe ma kry.

      Tant Bes en Annatjie kyk ook maar stilswyend toe hoe Johan nooit ver van Wanya af is nie, hoe die drie langs mekaar op die gras sit en eet en die perfekte prentjie van ’n gelukkige gesinnetjie uitmaak. Johan en Lala se oë straal en Wanya, merk hulle op, het nog nooit so ontspanne gelyk en so baie geglimlag en gelag en geskerts soos vanaand nie. Nee, Lala is seker reg. Hier is iets aan die broei.

      Maar die glimlaggies en skerts is weg toe Wanya laatnag voor haar venster staan en na buite kyk. Sy kyk met traannat oë na die sterre en voordat sy bedwaarts keer, prewel sy sag: “Waar jy jou ook al bevind, Roelof … ’n geseënde Kersfees.”

      Kersoggend word rustig deurgebring. Sy en tant Bes gaan saam kerk toe en nuttig ’n ligte maaltyd van koue vleis en slaai. Hoe Johan ook al daarop aangedring het, het sy geweier om die middag saam op ’n uitstappie te gaan. Sy het geweet sy kon nie. Sy het ’n besoek om af te lê. So is hy en Lala en Annatjie maar alleen weg in haar klein motortjie.

      “Hoe gaan jy by die gevangenis kom?” wil tant Bes bekommerd weet.

      “Ek gaan ’n taxi laat kom.”

      “Wanya … ” Tant Bes kyk haar stip aan. “Jou persoonlike sake is jou eie, kind, maar dink jy nie dit het tyd geword dat jy Johan vertel dat jy ’n getroude vrou is en met wie jy getroud is nie?”

      Wanya frons. “Daar is niks wat tussen ons kan vorder nie. Dit weet tannie tog.”

      “Maar Johan weet dit nie. En die hele Jan Hofmeyr dink julle staan op trou.”

      “Wat?” Sy luister verslae terwyl tant Bes verduidelik, en protesteer dan: “Johan het maar net sy dankbaarheid betoon toe hy my gesoen het. Daar steek niks in nie?”

      “Is jy seker, hartjie?” Sy laat haar blik sak voor die reguit vraag. “Wanyatjie, dis vir niemand ’n geheim hoe Johan oor jou voel nie. Hy gaan seerkry. En Lala ook. En dalk ook ander mense.”

      “Wat bedoel tannie?”

      “Annatjie voel baie sterk aangetrokke tot Johan, maar omdat jy daar is … ”

      “Ek is nêrens nie, tant Bes! Ek gaan vanmiddag my man besoek.”

      “Dan oorweeg jy dit nie om van hom te skei nie?”

      Wanya sug. “Nee. Ek oorweeg dit nie.”

      “Dan is dit jou plig om reguit met Johan te praat. Jy kan dit nie langer uitstel nie. Hy is besig om sy hele toekoms om jou te bou.”

      Wanya lyk diep ongelukkig en ontsteld. “Ek het nie bedoel … Ek wou hom net help, tant Bes!”

      “Ek weet, hartjie. En jy sal hom weer moet help om onder ’n wanindruk uit te kom. Hoe gouer, hoe beter.”

      Soos voorheen, is hierdie besoek weer ’n groot beproewing vir Wanya. Maar vandag is dit boonop Kersdag – ’n dag wat die hart week en weerloos laat. Dis ’n dag waarop dierbares saam moet wees en nie deur digte glas na mekaar moet kyk nie. En haar gesprek met tant Bes het haar meer ontstel as wat sy laat blyk het. Tant Bes sê almal dink daar is ’n verhouding tussen haar en Johan … Almal?

      Soos altyd wanneer sy Niel se stoïsynse gesig deur die ruit sien, sak haar moed in haar skoene. Niel is beslis een van die gevalle waarmee Korrektiewe Dienste nie veel sukses behaal nie. Hy is verbitterd en ontoeganklik, maar sy gedrag is onberispelik. Daarvoor dra hy sorg, want hy gaan nie ’n dag langer hier sit as wat nodig is nie.

      Op haar “Geseënde Kersfees” knik hy skaars. Sy begin hom maar vertel van die vorige aand se partytjie in Jan Hofmeyr. Hy luister so stil dat sy wonder of hy ooit inneem wat sy sê. “Hulle laat nie toe dat ek self vir jou geskenke koop nie. Ek het geld inbetaal sodat hulle iets vir jou kon koop vir Kersfees. Hulle het gesê jy kan sê wat jy wil hê. Wat het jy toe gekry?”

      “Koekies en sigarette.” Sy mond trek wrang. “Ons het nie veel van ’n keuse nie.”

      “Wat het julle vanmiddag geëet?”

      “Die gewone. Dit was geen Kersmaal nie. Kersfees is vir goeie mense, nie vir moordenaars en diewe nie.”

      “O, Niel, asseblief, moenie so bitter wees nie!”

      “Jy weet nie wat jy sê nie, Wanya. Laat ek jou my spyskaart vir vandag gee: Ontbyt – mieliepap en brood en koffie; middagete – vyf snye brood met koeldrank; aandete – hoender, stampmielies, twee groentes en ’n hand vol droë­vrugte.” Sy kan hom net sit en aankyk. “En so lyk dit elke liewe dag. Soms is daar ’n stukkie vis in plaas van vleis. Maar elke liewe dag eet ek stampmielies en brood.”

      Haar ooglede val vlugtig. Hy het baie maer geword. Dan kyk sy weer pleitend omhoog: “O, Niel, hou net moed en hou uit, asseblief! ’n Groot deel is al verby. Wanneer jy die dag uitkom … ”

      “Wanneer ek die dag uitkom … Sal jy daar wees, Wanya?”

      Hy het dit nog nooit so direk gevra nie en haar maag gee ’n draai. Die hand wat nie die gehoorbuis vashou nie, bal tot ’n vuis saam, maar haar stem is egalig, selfs oortuigend: “Natuurlik sal ek daar wees. Ek wag vir jou, Niel. Ek is jou vrou.”

      Ná haar besoek aan Niel soek sy tant Bes se vertroostende teenwoordigheid op. Dikwels het sy al haar verdriet en hartseer teen die moederlike bors uitgehuil. Vandag het tant Bes egter ’n besoeker. Sy herken die motor dadelik en huiwer by die voorhekkie. ’n Paar maande gelede sou sy die vrymoedigheid gehad het om alles met hom te bespreek, maar sy het dit nie meer nie. Daar het ’n afsydigheid, selfs ’n afstand, tussen hulle ingetree wat vir haar onverklaarbaar is en diep seermaak. Net toe sy wil wegdraai en aanstap, gaan die voordeur oop en haar naam op sy lippe bring haar tot stilstand.

      Hy stap nader, steek sy hand uit. “ ’n Geseënde Kersfees, Wanya.”

      Sy kyk op in sy oë, maar sy blik is veraf, byna onpersoonlik. “ ’n Geseënde Kersfees, Roelof.”

      “Ek het vir tant Bes ’n geskenkie gebring,” verduidelik hy. “Sy sê my toe jy het Niel vanmiddag gaan besoek. Hoe gaan dit daar?”

      “Soos


Скачать книгу