Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
’n standbeeld staan Wanya en afkyk op die roerlose figuur op die bed, kyk in die oë wat soos marmeroë na niks staar. Dan is hulle terug in die gang, terug in die motor, eindelik terug na haar woonstel.
Sy kyk nie na hom nie, sê net gedemp: “Ek sal graag nou alleen wil wees. Asseblief.”
Daar is geen antwoord nie, sy hoor net die voordeur toeklik.
Dis ’n nag van diepe selfondersoek, van absolute eerlikheid teenoor eie hart én God. Maar toe die nuwe dag breek, staan elkeen by hul onderskeie vensters en soek na die laaste sterre. In die lang nag wat verby is, het hulle skuld bely, erkentenisse gemaak … maar daar is ook ná stryd en trane en gebede berusting gevind. Albei sien in hierdie môre die pad duidelik voor hulle uitgestippel lê. Albei besef daar is geen ander pad nie. En albei maak gereed vir die nuwe dag met die besef dat daar iets is wat diep in die hart weggebêre moet word nog voordat dit eens tot volle bewuswording gekom het.
In die dae wat volg, stap elkeen sy eie paadjie van aanvaarding op sy eie manier. Deur te konsentreer op die taak op hande; deur vertroosting te vind in diens aan ander.
Dis Wanya wat eerste die meisietjie in die bure se agterplaas opmerk. Die kind staan deur die ogiesdraad en loer na die bedrywigheid voor tant Bes se kostafels. Wanya kry ’n blaaskansie en stap vinnig daarheen, maar sy is skaars halfpad of die meisietjie gewaar haar en laat spaander.
“Is hier nuwe intrekkers by nommer 9?” wil sy van tant Bes weet terwyl sy en Vitorie fluks met die skottelgoed vorder.
“Nie waarvan ek weet nie, maar dit kom en gaan maar gedurig hier langsaan. Hoekom vra jy?”
“Ek het vandag ’n vreemde gesiggie by die draad gesien. Miskien was dit maar net ’n kind wat nuuskierig was.”
Maar die volgende dag gewaar sy die kleintjie weer, en sy besluit om haar uit ’n ander hoek te nader. Sy is byna by haar toe die kind haar gewaar en soos ’n verskrikte vlakhaas weghardloop. Wanya kyk haar fronsend aan.
Die dag daarna bly sy op die uitkyk vir haar, maar tot haar teleurstelling daag sy nie op nie. Die volgende dag is Sondag.
Sy doen alles moontlik om haar gedagtes in toom te hou, om nie terug te dink aan die vorige Sondag nie. Maar dit gaan swaar. Sy trek haar aan, stap na die Engelse kerkie laer af in die straat en vind vrede en rus in die gewyde atmosfeer. Maar die onrus is weer in haar toe sy die woonstel binnestap. Sy spring aan die werk, maak die plekkie van hoek tot kant skoon, was selfs ’n paar stukkies klere uit … en nog is dit ’n lang middag en aand wat voorlê.
Hy sal nie kom nie. Sy weet dit. Sonder woorde was die stille begrip tussen hulle: Jou pad is jou pad … en my pad is my pad.
Verlig en vreugdevol haal sy die volgende oggend die bus. Dit voel vir haar of sy uit ’n tronk ontsnap het. Sy kan nie langer in daardie woonstel bly nie. Sy sal gek word daar.
Daar het ’n vae plan in haar vorm aangeneem en sy opper dit later huiwerig teenoor tant Bes.
“Annatjie bly mos alleen sedert haar pa se dood, nè, tant Bes?”
“Ja, my kind. Sy wou eers ’n woonstel nader aan die werk kry, maar het toe daarteen besluit. Gesê sy sal ons ou klomp te veel mis.”
Wanya besluit om deur te druk. “Ek het gewonder, tannie … Dink tant Bes sy sal omgee as ek haar vra of ek nie by haar kan intrek nie? Ek sal my kant bring in alles.”
Tant Bes kyk op. “Maar dis ’n wonderlike idee, hartjie. Hoekom het ons nie al vroeër daaraan gedink nie? Sy is dan nie so alleen nie en jy is nader en hoef nie meer bus te ry nie … Maar natuurlik sal sy instem. Finansieel sal dit haar baie help.”
“Ek sal eers by Roelof toestemming moet kry.”
“Watter toestemming moet Roelof gee?” vra ’n stem agter haar en sy kyk verras om, die vreugde en weersiens onverbloem in haar oë.
Dis tant Bes wat verduidelik en hy kyk vraend na Wanya. “Wil jy liewer by Annatjie kom bly?”
Haar oë raak versluier. Nee, nie regtig nie. Nie as ek weet jy sal soms onverwags opdaag vir ’n kort besoekie nie. Nie as ek weet dat jy soms, soos vroeër, met teerheid en begrip met my oor gister sal praat en my sal bemoedig vir môre nie. Maar jy sal nie weer kom nie. Ek weet … En die eensaamheid en verlange dryf my tot raserny in daardie woonstelletjie. “Ja, asseblief.”
“Ek sien geen rede hoekom nie. As Annatjie gewillig is … ”
Hy is al by die motor toe iets haar byval en sy hom vinnig agternaloop. Sy vertel hom van die meisietjie en hy frons.
“Ek is nie bewus van nuwe intrekkers nie. Maar ’n mens weet nooit nie. Kyk of jy haar vanmiddag weer sien en volg haar. Miskien is sy maar net nuuskierig. Bel my kantoor toe as jy iets vasgestel het.”
Hy kyk haar vas aan en dis met inspanning dat sy omdraai en begin wegstap.
“Wanya … ” Sy kyk terug. “Ons is vriende, is ons nie?”
“Natuurlik.”
“En ek het steeds jou belofte dat jy met my kontak sal maak as jy my nodig het?”
Ek het jou nodig, maar ek kan jou nie roep nie … Oë is die spieël van die hart en hulle spreek soms ’n taal wat die lippe nie durf praat nie.
“Tot weersiens.”
“Tot siens … my vriend.”
6
Natuurlik is Annatjie onmiddellik te vinde vir die voorstel dat Wanya by haar intrek. Sedert haar pa oorlede is, het die huis baie groot en eensaam geword. Sy het al skuldig gevoel dat sy ’n hele huis tot haar beskikking het terwyl daar so ’n groot woningnood vir behoeftiges bestaan. Sy het juis gehoor van ’n man en sy dogtertjie wat in ’n buitekamer bly. Natuurlik kan Wanya by haar intrek.
Dis via tant Bes dat die ooreenkoms beklink word, want Wanya is reeds smiddae huis toe wanneer Annatjie van die werk af kom.
“Hier is jou vier rokke wat Annatjie gemaak het. Sy het gesê jy moet maar praat as daar fout is, sy sal regmaak.”
Maar daar is nie fout nie en Wanya vra: “Het sy nie gesê wat skuld ek haar nie?”
“Sy sê jy skuld haar niks nie, hartjie.”
“Maar … ”
In die deur glimlag Roelof met sagte oë. Wanya het reeds diep in tant Bes se hart ingekruip en daar is al van die jonger tafelloseerders wat Wanya, soos Pikkie, ook tannie Hartjie begin noem het. “Jy moet nog leer, my hartjie, dat party dinge ’n prys het en ander nie. Naasteliefde het nie ’n prys nie … en Annatjie se hart loop oor van naasteliefde. Sy wou dit graag vir jou doen. Daar is nie ’n rekening nie.”
Wanya sluk, sit haar arms om tant Bes en druk haar innig vas. “Julle klomp hier is die wonderlikste, dierbaarste mense op die hele aarde! Sê vir haar ek sê baie, baie dankie.”
“Ek hoop ek tel ook onder hierdie spesiale groepie mense?”
’n Onbewaakte oomblik lank lê haar hart weer in haar oë. Maar dan sak die sluiers en sy sê tergend: “Ek sal eers goed daaroor moet nadink!”
“Miskien sal ek tog kwalifiseer as ek jou my goeie nuus meedeel. Ek het met die woonstelopsigter gepraat en hy sê as jy dadelik wil gaan, is dit in orde. Jy hoef nie eers ’n kennisgewingmaand uit te bly nie, want daar is ’n lang waglys.” Hy glimlag toe hy die vreugde in haar oë sien. Hy onthou haar geskokte reaksie toe hulle die eerste dag voor Sonneblomstraat 7 stilgehou het. Sy het amper met afgryse gevra: Moet ek hiér werk? Nou lyk dit of sy die grootste geskenk op aarde ontvang het omdat sy in Jan Hofmeyr kan kom bly. “Ek kan jou help trek sodra jy gereed is.”
Daardie middag lê sy die meisietjie letterlik voor en sy is reeds by haar voordat sy gewaar word. Wanya kry haar aan die een armpie beet toe sy wil weghardloop.
“Toe nou, my meisietjie. Ek sal jou niks maak nie.