Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
Hulle praat nie veel op pad kerk toe nie, maar dis ’n stilte wat nie hinder nie. Hy slaak innerlik ’n sug van verligting en voel tevrede en dankbaar. Sonder dat sy hom dit hoef te vertel, weet hy instinktief sy het haar stryd betreffende haar man klaar gestry. Die skaduwees onder haar oë vertel hom dat dit nie ’n maklike stryd was nie. Maar sy het vrede gemaak met wat sy weet haar te doen staan. As dit dan nie ’n pad van liefde kan wees nie, miskien nooit weer sal wees nie, is daar nog altyd die pad van plig. Hy het dit vir haar uitgespel en sy het dit aanvaar. Sy durf Niel nie nou in die steek laat nie. Dan sal hy heeltemal ten gronde gaan.
Sy luister met aandag na die preek: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Paulus het voorwaar baie gehad waarvan hy hom moes losmaak. Hy was ’n koelbloedige moordenaar van onskuldige mense. Hy was ’n vervolger van mense wat hom geen kwaad aangedoen het nie. Hy was ’n besetene wat ’n onheilsoorlog teen weerlose mense gevoer het. Voorwaar baie waarvan hy hom moes losmaak. As Paulus dit kon doen met en deur die genade van God, kan elke ander mens dit ook doen, maak nie saak wat jou oortreding of sonde was nie. Erger as Paulus s’n kan dit beswaarlik wees. Hy het dit gedoen. God het hom gehelp. Jy kan dit ook doen. God sal jou ook help.”
Sy is skaars bewus daarvan dat sy haar hand uitsteek, maar haar vingers word dadelik vasgevang, warm toegevou.
“Maar om jou net los te maak van die boeie wat jou gebind het, is nie genoeg nie. Wat baat dit ’n gevangene wie se boeie ontsluit is om in sy sel te bly sit? Dan moet hy uitstap in die sonlig van God se genade en hom uitstrek na ’n nuwe toekoms volgens God se wil. Dán eers kom daar sin in sy losmaak van gister se dinge … wanneer hy hom uitstrek na dié dinge wat sy Skepper oorspronklik vir hom bedoel het … die mooie, die goeie, die regte.”
Dis weer stil tussen hulle in die motor en haar blik is so na binne gekeer dat sy nie eens agterkom hulle is nie by haar woonstel toe hy die motor tot stilstand bring nie. Hulle is buite die stad by ’n pragtige eetplek en sy herken dit dadelik. Sy en Niel het ook soms Sondae hier kom eet. Sy kyk hom vraend aan, en hy glimlag.
“Ek het gedink ons twee kan ’n slaggie bederf word en vanmiddag hier eet. Sal jy?”
“Maar … ”
“Maar wat?”
“ ’n Mens moet bespreek.”
“Ek weet. Ek het bespreek.” Toe sy nog aarsel, frons hy liggies. “Wil jy nie? Is jy bang hier is dalk bekendes?”
“Nee, nee, dis nie dit nie.” Sy frons. “Dis net … Ek wou nie vroeër vra nie, maar … Is daar nie iemand wat sal omgee dat ek hier saam met jou eet nie? Is jy getroud, Roelof?”
Hy kyk haar stil aan. “Daar is niemand wat sal omgee of te na gekom sal word as jy saam met my hier eet nie, Wanya.”
“O.” Sy glimlag. “Dit sal lekker wees om ’n slag weg te kom van die woonstel af. Dankie, maar … is ek toegelaat om hier te kom?”
Hy glimlag. “Sekerlik, veral in die teenwoordigheid en met die toestemming van jou toesigbeampte. Kom, Wanya. Ek sien ook uit na hierdie ete. En daarna … ” Hy weifel, vervolg dan: “Ná die ete wil ek jou iets gaan wys.”
Terwyl hulle eet, merk sy op: “Jy weet so alles van my af, maar ek weet niks van jou af nie.” Sy voeg haastig by: “Dis nie dat ek wil indring nie, maar dis seker maar net menslik om nuuskierig te wees.” Sy voel skielik verleë onder sy reguit blik. Wat moet hy van háár dink? “Ek is jammer. Vergeet daarvan.”
Maar sy hand lê skielik oor hare op die tafel. “Ek dink ook dis tyd dat jy meer van my te wete kom. Dan sal jy verstaan.”
Sy lyk verward. “Wat verstaan?”
Hy kyk haar half moedeloos aan, trek sy hand terug en sê: “Baie dinge. Ons kan seker maar gaan.”
Tot haar verbasing ry hulle ’n ruk later by die hek van ’n begraafplaas in. Sy kyk vinnig na hom, maar kan niks wys word uit sy gesigsuitdrukking nie. Hy hou stil, stap om om die deur vir haar oop te maak en sy voel skielik ontsteld. Sy het die gevoel dat sy oortree.
“Roelof … Asseblief, ek het nie bedoel … ”
“Ek weet.” Hy hou sy hand uit. “Kom. Ek wil jou wys.” Hy staan regop voor haar, sy blou oë diep in hare. “Jy is die eerste mens met wie ek dit werklik deel. Kom.”
Hy kom tot stilstand by ’n kindergraf en Wanya se hart spring in haar keel toe sy die grafopskrif lees: Marius Rossouw. Sy lees die geboorte- en sterfdatum. Hy was maar vyf jaar oud. Uitgegraveer in die graniet, soos seker ook in die vaderhart, staan: Pappa sal jou nooit vergeet nie. Rus sag, my seun.
Dis lank stil. Sy het nie die moed om na hom te kyk nie en sy is ook nie in staat om iets te sê nie.
“Ek het aangedring dat Elsa en Marius met my moet saamry. Elsa wou nie, maar ek het my vervies en sy moes maar inwillig. Op pad na ons bestemming het die ongeluk gebeur. Klein Marius is op slag dood. Die ander party was die skuldige. Hy kon nie betyds stop nie, maar ek het self te vinnig gery. Ek was nog vererg omdat ek so met Elsa moes sukkel.”
Haar oë flits ontsteld na hom op. “Roelof, jy kan jouself nie verwyt nie! Dit was die ander man se skuld!”
Hy draai sy gesig na haar en haar hart ruk in haar. Die hartseer brand soos ’n blou vlam in sy oë. “So sê hulle, maar ek was agter die stuurwiel. My kind is dood. En ek wonder soms, as ek miskien ’n bietjie stadiger gery het, meer aandag gegee het aan die aankomende verkeer, meer op my hoede was … ”
“O, Roelof, nee!” Sy is by hom, slaan haar arms om sy nek, hou hom vas. “Nee, jy mag jouself nie so treiter nie! Daar is iets soos Godsbeskikking. Jy moet jou losmaak van hierdie verwyte en skuldgevoelens. Onthou vanoggend se preek. As jý jou nie kan losmaak nie, hoe kan ék ooit hoop om dit reg te kry? Jy het nie doelbewus jou kind se dood veroorsaak nie. Maar ek … Toe my probleme my wou oorweldig, het ek, in plaas van om te bid en genade te vra, my besope gedrink en ’n kind doodgery. As jý dit nie kan regkry om jou ongeluk te verwerk nie, hoe gaan ék dit ooit regkry?”
Daar is meteens ’n sagte glimlag om sy lippe en sy hande hou haar vas. “Maar ek hét dit verwerk, Wanya. Dis wat ek jou hier by die graf van my kind wou kom vertel het. Dis die boodskap wat ek vandag vir jou het: Jy kan ook. Jy kan jou losmaak van die skuldgevoelens van gister.”
Haar ooglede val en sy laat sak haar voorkop teen sy bors. “Dis nie in my geval so eenvoudig nie, my vriend. My skuld is baie groot. Daardie kind … Hy sou nog gelewe het as ek my nie aan drank te buite gegaan het nie.”
“My kind kon dalk ook nog gelewe het as ek nie so vererg en haastig was nie. Maar ook dit verstaan Hy en kan Hy vergewe.” Hy lig haar ken met sy hand, kyk met deernis na haar. “Wanya, Hy sê uitdruklik in sy Woord dat niemand Hom iets van die mens hoef te vertel nie: Hy ken hom. Hy weet dat ons stof is. Hy weet dat ons dikwels struikel en val. Hy weet dat ons probleme soms vir ons te groot word. Hy weet dat ons soms drange en gevoelens ervaar wat buite beheer raak. Hy weet al hierdie dinge. Daarom konsentreer Hy nie op ons val nie, maar op ons berou. Vir Hom is dit belangrik dat ons opstaan en die regte ding gaan doen. Ons kan verseker wees sy vergifnis is volkome.”
“Glo jy dit regtig, Roelof? Is dit regtig só eenvoudig?”
“Ek glo dit volkome en dis regtig so eenvoudig. Hy het begrip vir ons swakhede, Wanya.” Sy kop buig en sy woorde is net ’n fluistering teen haar lippe: “Ek glo Hy sal hiervoor ook begrip hê.”
Dis ’n lang en deernisvolle soen, ’n soen van begrip vir haar hartseer en vertwyfeling. Maar toe hul lippe eindelik van mekaar wegbreek, weet albei dit was ook baie meer. Hy staan weg en hulle kyk net na mekaar. Dan draai hy weg van die graf: “Kom. Daar is nog iets wat ek jou moet wys.”
Toe hy die motor weer tot stilstand bring, herken sy die gebou en hierdie keer is sy regtig bang om uit te klim. Maar soos iemand wat geen weerstand het nie, laat sy toe dat hy haar die groot gebou binnelei, die gange aflei totdat hulle by ’n deur indraai. ’n Vrou in ’n wit uniform glimlag in herkenning, groet vlugtig en stap dan uit. Willoos