Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon
weer na haar toe en slaan sy arm om haar skouer, trek haar teen hom aan. “Jy moet aanvaar dat jou skoondogter ’n Israeli is, my skat. ’n Turksvy. Hulle steek van buite as jy hul binnekant probeer oopmaak.”
“Dis moeilik vir my,” sê sy skaars hoorbaar.
Hy soen haar in haar hare asof sy ’n kind is. “En jy moet jou seun laat gaan, hy is nie meer by jou in die huis nie.”
Twee
Jerusalem
Woensdag 12 Julie 2006
Al geluid wat die stilte in die lugtige lokaal verbreek, is die gekras van houtskool oor papier. Die geur van dennebome voor die groot raam versmelt met dié van verf en boetseerklei. Daar is maar ses studente by die Woensdag se vroegoggendklas. Marc glimlag met die meisie wat hulle vanmôre as ’n model gebruik. Sy is baie jonk. Eintlik nog ’n tiener. Maar dis vir hom duidelik dat sy volkome op haar gemak is. Haar weerbarstige rooibruin krulhare is hoog agter haar kop vasgebind om haar delikate profiel bloot te lê. Sy dra ’n eenvoudige, vloeiende wit jurk wat elke kontoer van haar lenige jong liggaam blootstel. Sy gaap en strek haar hande bo haar kop uit voor sy weer haar posisie inneem.
Marc beweeg ongemerk na ’n plek waar hy ’n goeie uitsig op Yusuf by sy esel het. Yusuf is een van sy Arabiese studente en geweldig talentvol. Hulle het mekaar die vorige jaar ’n stuk beter leer ken toe Yusuf met hom kom gesels het oor die feit dat hy, wat uit ’n vroom Moslem-geslag kom, kort tevore die Christelike geloof aanvaar het.
Hy staan stil na die jong man se werk en kyk en voel hoe die haartjies op sy voorarm orent kom. Die werk is besonders goed. Met deernis merk hy hoe sterk sy eie invloed daarin sigbaar is. Deur Yusuf se oë kyk hy na die meisie op die stoel. Sien hy die ligte beweging van haar asemhaling teen die sagte materiaal van die jurk. Hy glimlag effens toe hy sien hoe die jong man se hand om die houtskool liggies bewe, hoe sweet teen sy hemp se rug uitslaan.
Moeiteloos en met ongelooflike helderheid vlieg sy gedagtes na tien jaar gelede, na toe hy nog in Suid-Afrika was. As gevolg van sy fenomenale talent het Simon, sy onderwyser by die kunsskool op Stellenbosch, hom by sy eie huis op Blaauwklippen net buite die dorp privaat onderrig gegee. Daar het hy ook Simon se vriend, die Joodse Baruch, ’n kunsdosent aan die plaaslike universiteit, leer ken. Tussen hom en Baruch het ’n vertrouensverhouding ontstaan en hy het voordat hy besef het dat hy self van Joodse afkoms is, baie van die Jode geleer. Toe Baruch kort daarna in ’n tragiese motorfietsongeluk dood is, het dit Marc aangespoor om Israel toe te gaan en met Baruch se suster kontak te maak. Op presies dieselfde tydstip het hy ontdek dat hy ’n Jood is en het sy besoek aan Israel ’n reis na sy eie wortels geword. Noudat hy ingedagte na Yusuf se werk staan en kyk, onthou hy helder hoe hy vir die eerste keer ’n naakmodel moes skilder.
Stellenbosch
Mei 1996
Die son breek helder deur toe hy sy fiets langs die houthuis op Blaauwklippen staanmaak. Dis skaars drie-uur. Hy is vroeg, want dis Vrydag, die skool kom twee-uur uit.
In die ateljee sit die meisie op die mat saam met Simon en Baruch en koffie drink, en hy wonder hoeveel hulle haar van hom vertel het. Sy kyk hom ’n paar oomblikke lank ondersoekend aan, maar toe glimlag sy ontspanne en druk haar vingers deur haar kort blonde hare. Sy het ’n sakkerige bruin hemp aan wat tot oor die knieë van haar jeans hang. Dis vir hom moeilik om na haar kaal voete te kyk en na haar ekspressiewe skraal hande. Ná ’n rukkie voel hy die klam sweet onder sy arms.
In die een hoek van die ateljee, langs die groot venster, is ’n groen skerm wat hy nog nie tevore opgemerk het nie. Baruch gee ’n beker koffie aan en lê ongemerk sy hand ’n paar oomblikke op sy skouer. Met die roer voel hy dat daar heelwat meer suiker in is as wat hy normaalweg drink. Baruch glimlag onderlangs vir hom toe hy opkyk, maar sê niks.
“Ons moet aan die gang kom, mense, die son daal nou-nou op ons neer.” Toe Simon praat, staan die meisie op en strek haar soos ’n kat uit wat geslaap het. Dan verdwyn sy agter die groen skerm.
“Marc,” Simon neem hom aan die arm, “ek wil hê jy moet vandag net lyntekeninge met houtskool maak. Oor en oor totdat jy die gevoel kry van waarmee jy werk.”
Hy wil nie sy kop draai om te sien waar Baruch is nie, maar hy kan hom agter in die ateljee hoor beweeg. Dit troos hom. Hy vat die houtskool so styf vas dat dit tussen sy vingers breek.
Die meisie kom agter die skerm uit en gaan op die houtkombuisstoel sit. Sy is naak. Sy strek haar bene effens en leun met haar arms oor die leuning van die stoel, haar kop agteroor. Die son val skuins oor haar gesig en haar gepunte borste. Die tepels is lig-ligbruin. Hy sien die lig oor haar spoel. Dis asof haar vel gloei. Hy sien die skoon lyn van haar buik en haar heupe deurloop tot by die brug van haar voet. Hy sien die ligte polsing van haar keel. Sy sit baie stil, gebaai in die sonlig wat deur die venster oor haar stroom.
Hy ontwyk haar helder oë wat reguit na hom kyk. Hy lig sy hand om te begin teken, maar sy vingers het dom geword. Hy is bang hy laat die houtskool val. Sweet loop onder sy arms af en teen sy rug, en pêrel op sy voorkop.
Hy is bewus van Simon wat hom staan en dophou. En van Baruch agter in die ateljee. Toe begin hy teken. Versigtig. Die eerste lyne is hopeloos onwaardig. Hy sien dit onmiddellik. Sweet loop uit sy hare in sy oë en hy vee dit met die agterkant van sy hand weg. Maar algaande vloei sy vertroue terug. Sy hart hou op ruk in hom. Hy vergeet van die meisie wat saam met hulle op die mat koffie gedrink het.
Die skoonheid van lyn, van lig en skadu, van ronding en tekstuur, van komposisie, verbyster hom.
’n Groot, geluidlose roep gaan van hom af uit tot God, die Skepper.
Hy vee oor sy gesig en weet nie van die houtskool wat hy daarmee afsmeer nie.
Die eerste tekening is swak. Hy haal dit van die esel af sonder om na Simon te kyk en sit ’n skoon vel op.
Hierdie keer is sy vingers sekerder en die lyne vaster. Maar ook dié een frommel hy op. Dis eers met die derde poging dat hy diep asemhaal, gemakliker kan staan en wéét dit wat hy neerpen, is wat hy sien.
Hy kom nie agter Simon het die twee velle versigtig oopgevou, glad gestryk en op die tafel langs hom neergesit nie.
Die meisie draai haar effens meer na die son toe, trek haar bene op en slaan haar arms daarom. Haar gesig raak stralend. Dit laat hom aan Rembrandt dink. Hy kom skaars agter dat Simon haar steeds van posisie laat verander. Hy teken sonder om een maal moeg te word. Hy vergeet van tyd. Van Simon en Baruch. Van die model.
Kort ná vyf laat Simon haar aantrek. Dit het skielik kouer geword.
Hy sluit sy oë, meteens doodmoeg. Langs sy esel lê die middag se sketse opmekaar gestapel. Hy en Simon kyk sonder om te praat daarna. Later kom Baruch ook by hulle staan. Die meisie het in die kombuis verdwyn, hulle hoor haar daar met koppies kletter.
Simon sit die eerste en die laaste tekeninge naas mekaar op die werktafel neer. Hulle kyk daarna. Die verskil is geweldig.
“Sien?” vra Simon stil.
Hy knik, want hy verstaan.
“Wil jy koffie drink?”
“Nee dankie,” sê hy vinnig toe hy die meisie uit die kombuis sien kom, “ek moet ry.”
Baruch kom saam met hom buitentoe.
“Sy sal Dinsdag weer kom,” sê hy.
Hy knik.
Baruch grinnik effens. “Daar’s houtskool aan jou gesig.” Hy vee dit met sy duim af en Marc bly hom stilswyend aankyk. Hy voel gedreineer.
Toe klim hy op sy fiets en ry huis toe. Rondom hom verkleur die hemele sodat die populiere wasig-koper teen die aandlug word. Maar hy sien dit nie. Hy hoor nie die swerm voëltjies wat laag oor sy kop verbyvlieg nie. Hy dink hoe die lig op die meisie se vel gegloei het. Hy sluk …
Marc stap tot by Yusuf. Toe hy aan sy arm raak, skrik hy en kyk op. “Kan jy ’n oomblik agterbly ná die klas?”
“Seker, Meneer.”