Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon
oorlog af nie,” sug Ofer. “En Dan Halutz is so groen in sy pos as kan kom.”
Ruwth kyk bekommerd na haar seun. “Ek dink dis rampspoedig om ’n minister van verdediging soos Amir Peretz te hê wat niks van oorlog af weet nie. En Dan Halutz, wat van die lugmag af kom, as stafhoof van die IDF.”
Ofer knik. “Ek hoop nie sy plan is om alles in Libanon onder bomme te steek nie. Ons het die infanterie nodig om in te gaan. Die Vader weet, ons het nou die ervaring van Shaul Mofaz, ons ou man van verdediging, broodnodig – én Bogie Ya’alon, wat die IDF so uitstekend hanteer het.”
“Ja, en Bogie is mos sommer op vervroegde pensioen gesit oor hy nie ten gunste van die onttrekking uit Gasa was nie,” sê Ruwth verontwaardig. “En dit ten spyte van die feit dat hy Israel se beste taktikus in die terreuroorlog van 2000 tot 2005 was.”
Ofer knik. “In die toesprake wat hy gehou het nadat hy gedwing is om af te tree, kon ’n mens duidelik sien hoe goed hy die bedreiging begryp waarmee Israel te doen het. Iets wat ek eerlik nie van die Olmert-regering kan sê nie.”
Toe daar ’n stilte kom, vra Marc so gelykmatig moontlik: “Yhoshi was gisteraand en vannag so siekerig dat ons nie by televisiekyk uitgekom het nie. Het hulle al iets van die ontvoerdes gehoor … en wat van die beseerdes?”
Ofer en Shoshana kyk na mekaar.
“Is dit die laaste nuus wat jy gehoor het?” vra Ofer.
Marc se maagspiere trek saam. “Wat dan nog?”
“Daar is agt soldate in die aanval dood.”
“O, nee!”
Sy oom knik. “Hulle het nou ook die name bekendgemaak van die twee wat ontvoer is. Eldad Regev en Ehud Goldwasser. David het ons vanoggend gebel om te sê hy is opgeroep en om van Ehud te vertel. Hulle het mekaar verlede jaar redelik goed leer ken toe hulle in die Galil saam reserwediens gedoen het. Sal jou interesseer om te weet dat sy ouers in Suid-Afrika woon.”
“O so?”
“Dis reg, ja. Hy is maar een en dertig, getroud met ’n baie oulike vrou wat ons ook al ontmoet het. Ek het haar naam vergeet …” Hy kyk hulpsoekend na sy vrou.
“Karnit,” sê sy sag.
“Ja, Karnit. Pragtige meisiekind. Udi, soos hulle hom noem, is omgewingsingenieurswese aan ’t swot aan die technikon in Haifa. Baie begaafde ou, sanger, fotograaf. Ek weet hy het die hele Australië op ’n motorfiets platgery.”
“Wat vir my so hartseer is, is dat David sê gister was Ehud se laaste dag van reserwediens, die laaste patrollie,” sê Shoshana. “Dit was ’n gewone roetine-patrollie, twee Hummer-jeeps met vyf soldate elk. Op ’n burgerlike pad, binne ons landsgrense. Hisbollah het letterlik elke internasionale wet oortree, maar daar kraai nie ’n haan na nie.”
“Ek neem aan daar’s ook geen nuus oor Shalit nie?”
Ofer skud sy kop. “Hamas dring aan op ’n uitruiling van gevangenes – honderde Palestyne in Israelse tronke vir Gilad Shalit.”
“En dit sal Israel nie maklik doen nie.”
“Nee. Dit bring ons weer by die ou, ou dilemma. Anders as by die vyand, is menselewens vir Israel soveel werd dat byna enige prys betaal sal word om één soldaat te red. Maar in die verlede het die vrylating van Arabiese gevangenes ’n vloedgolf van terreur losgelaat wat die lewens van baie meer Israeli’s gekos het as die soldate wat bevry is. Dié keer is die situasie nog ernstiger, want Hamas beheer die Palestynse owerheid. Enige vrylating van gevangenes sal Hamas se hand net sterk en die boodskap uitstuur dat terreur betaal.”
“Verskriklik as dit jóú kind se lewe is wat op die spel is,” fluister Shoshana.
“Tien maande nadat ons laaste soldaat Gasa verlaat het, nadat ons daardie een en twintig pragtige nedersettings vernietig het, is die leër terug daar,” sê Marc. “Presies wat Sharon se kritici gesê het sal gebeur.”
“Ek hoor hierdie militêre operasie in Gasa heet ‘Summer Rain’.” Ruwth skud haar kop meewarig. “Vir my sal dit die trane wees van die 8 000 Tora-onderhoudende pioniers wat verlede somer daar gestort is toe dieselfde soldate hulle uit hul huise weggeskeur het.”
Hulle gesels nog ’n rukkie, maar dan moet hulle gaan. Ofer bied aan om Marc huis toe te neem en hierdie keer neem hy die aanbod geredelik aan. Hy het ’n dringende verlange na sy vrou en kind.
Maar eers wil Ofer vir sy seuns en al die ander jong gelowige soldate bid.
Hulle staan in ’n nou sirkeltjie en hou mekaar se hande vas. “Ons Vader in die hemel, mag hulle U werklik ken in hierdie dae en u stem duidelik hoor. As U met hulle praat, mag hulle weet dis U wat praat en hoor wat U sê hulle moet doen. Here van die leërskare, Bewaker van Israel, wees U hul Beskermer wat liggaam, siel en gees betref. Laat hulle tog van u teenwoordigheid bewus wees en beskerm die eenhede waarin hulle en ander gelowiges dien. Vir die hele IDF, Ewige van Israel, sprei u tallit oor hulle en bewaar hulle. In die naam van Yeshua vra ons dit, Adonai.”
Rivkah het donker kringe onder haar oë en Yhoshi is steeds huilerig toe Marc by die huis kom.
“Hy het vandag nog niks geslaap nie. Ek dink hy mis jou,” sê sy.
Marc neem die baba by sy vrou. Toe die kleintjie sy natgeswete koppie in die holte van sy nek en skouer lê en die laaste snikke geleidelik bedaar, ril hy onwillekeurig. Hy voel die kind se traannat gesiggie teen sy nek. Toe hy na Rivkah kyk, sien hy ook in haar oë dit wat hy nie in woorde kan omsit nie. Hy steek sy hand na haar uit en haar vingers krul om syne.
“Hy’s nie meer koorsig nie.”
“Nee, gelukkig nie. Ek het stroop by die apteker gekry.”
“Jy moet in die bed kom. Ek sal hom aan die slaap maak.”
Sy knik. “Ek maak net gou vir ons iets ligs om te eet.”
Hy dink daaraan dat sy ook vandag niks geëet het nie en heeldag alleen by die siek kleintjie was. Hy slaan sy arm om haar en hou haar saam met die kind styf vas.
“HaShem,” pleit hy in sy hart en laat sak sy gesig in haar hare, “laat hierdie verskriklike woede wat nou losgebreek het, ons asseblief nie ook uitmekaar ruk nie. Bewaar hulle wat ek liewer as my eie lewe het, asseblief.”
“Jy’t gehoor van die agt soldate van gister?” vra sy gedemp.
Hy knik.
“Verskriklik.”
Hy sus Yhoshi teen sy skouer en praat kalmerend met hom. Die kind raak byna onmiddellik aan die slaap, sy een handjie styf om Marc se hemp geklem. Marc maak die vingertjies versigtig los en lê hom neer. Hy trek die raam bokant sy bedjie toe. Die lug is koeler as die vorige aande. Dit was die hele dag bewolk.
Rivkah het die tafel voor die venster gedek. Marc glimlag toe hy sien sy’t kerse aangesteek, al is dit nog lig buite.
“Het ons iets om te vier?” vra hy.
“Miskien.” Sy bloos effens.
Sy bring vir hulle elkeen ’n bord van die ligte visgereg wat sy gemaak het en hy vra nie verder uit nie. Hulle eet dit saam met ’n groot bak heerlike somerslaai en vrugte. Hy vertel haar van die gesprek in Ruwth se woonstel.
“Ses jaar nadat ons uit Libanon weggehardloop het en elf maande nadat ons die setlaars uit Gasa geruk het, is ons nou terug op albei plekke. Rakette val voortdurend in die noorde en in die suidweste.”
Rivkah haal haar skouers in ’n siniese gebaar op. “En hoe ’t ons op dié jammerlike plek beland? Toe ons eensydig uit Suid-Libanon onttrek het, het ons Hisbollah ’n oorwinning gegee wat hulle nie verdien het nie. En dít het Hamas en die ander Palestynse terreurorganisasies aangemoedig om te glo dat hulle ons ook uit Gasa sou kon verjaag. En for that matter ook uit Israel self. Toe ons verlede jaar uit Gasa padgegee het, het ons bewys dat hulle nie verkeerd is nie.”
Marc knik. “Ja,