Die Wonder van die goddelike liefde. Chris Norden van der Merwe
EN WIL
Daar is ’n noue verband tussen wil en glo. Die Evangelie van Markus vertel die verhaal van die verlamde man wie se vriende hom na Jesus gebring het om genees te word. Toe hulle Jesus nie kon bereik nie omdat ’n skare mense om hom versamel was, het hulle ’n opening in die dak gemaak en hom daardeur laat afsak tot voor Jesus. Hulle vermetelheid het waarskynlik die huiseienaar ontstel, maar Jesus het hulle gedrag goedgekeur: “Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, jou sondes word vergewe!’ ” (Markus 2:5). Behalwe dat ons in hierdie verhaal sien wat vroeër reeds genoem is, dat Jesus die genesing van die liggaam met die genesing van die siel verbind, is daar ook ’n ander belangrike les hieruit te leer: Jesus waardeer die moeite wat die verlamde man se vriende ter wille van hom gedoen het. Hy is beïndruk dat hulle soveel vir hul vriend omgee en so vasberade is om hom gesond te kry. Geloof, met ’n sterk wil, doelgerigtheid en die weiering om deur struikelblokke gekeer te word, is die soort geloof wat Jesus waardeer.
Dikwels regverdig ons ons ongeloof met allerhande verskonings, maar ons verberg die ware rede daarvoor – ons wil nie ’n geloofslewe lei nie. A.N. Wilson, outeur van ’n biografie oor C.S. Lewis asook ’n biografie van Jesus wat sterk van die Evangelies afwyk, het hieroor in die Daily Mail in ’n artikel met die opskrif “Religion of hatred” (beskikbaar op die internet) geskryf. In die artikel verduidelik hy hoekom hy hom tot die ateïsme gewend en later tot die Christendom teruggekeer het. Hy ontleed sy onderliggende motiewe baie eerlik:
Why did I, along with so many others, become so dismissive of Christianity?
Like most educated people in Britain and Northern Europe (I was born in 1950), I have grown up in a culture that is overwhelmingly secular and anti-religious. The universities, broadcasters and media generally are not merely non-religious, they are positively anti.
To my shame, I believe it was this that made me lose faith and heart in my youth. It felt so uncool to be religious. With the mentality of a child in the playground, I felt at some visceral level that being religious was unsexy, like having spots or wearing specs (Wilson, 2009).
Toegang tot die geloofslewe is geleë in die wil – in die gewilligheid om voor die wil van God te buig, om ons onvermoë te erken om onsself te red en om God se verlossing te aanvaar. Daarom is geloof nou verbonde aan nederigheid; ons moet in nederigheid erken dat ons God nodig het. Hoogmoedige mense kan nie hul gebrokenheid erken of die knie voor die Almagtige buig nie. Hulle beroem hulle op hul grootheid, terwyl die nederiges hul oor God se grootheid verwonder. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar dank die Fariseër God dat hy beter as ander is, terwyl die tollenaar bid om God se genade vir hom, ’n sondaar. Jesus eindig die gelykenis deur te sê die tollenaar, eerder as die Fariseër, is deur God geregverdig, want: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word” (Luk 18:14).
TWYFELAARS WAT GLO
God se genade is die kern van die Christelike leer: die leerstelling dat ons nie deur goeie werke gered word nie, maar deur die geloof in Christus. Die feit dat ons deur die geloof gered word, kan mense maklik verlei tot die dwaling dat hulle hulself kan red deur hul geloof, en dan word Christus op die agtergrond geskuif. Hulle lê klem op die krag van hul geloof; nie op die genade van God in Christus nie. Vir hulle is geloof ’n goeie werk, ’n prestasie, ’n uitlaatklep vir hul onderdrukte hoogmoed. Die ware boodskap van die Evangelies is anders.
In Markus 9 word die verhaal vertel van die seun wat stom was en stuiptrekkings gekry het; wie se pa hom na Jesus toe gebring het om hom gesond te maak. Jesus se reaksie is tipies van Hom: “Vir die een wat glo, kan alles” (Markus 9:23). Sy opmerking toets die pa en dié besef dadelik dat hy nie die toets kan slaag nie, want sy geloof is nie sterk genoeg nie. Maar net soos die vriende van die verlamde man, laat hy hom nie keer nie, selfs nie deur sy ontoereikendheid nie. Hy het ’n brandende behoefte aan Jesus se hulp, en diep gekweld roep hy uit: “Ek glo,” met die erkenning daarby: “Help my in my ongeloof” (Markus 9:24). Die vader moes van Jesus se genesingskrag geweet het; hy het rede gehad om in Jesus te glo en tog twyfel hy. Hy is duidelik ontsteld oor sy onvolkome geloof – die ou Afrikaanse vertaling noem dat hy hierdie woorde “met trane” (1953-hersiening) uitgeroep het. Die vader wil glo, maar kan nie heeltemal nie en dan tree Jesus se genade in werking. Uit die verhaal blyk dit dat die genade van Jesus voldoende vir ons halfhartige geloof is; selfs vir ons halfhartige wil. Hoewel Hy nooit sy wil op ons sal afdwing nie, is Hy gewillig om ons swak wil en ons twyfelende hart by te staan solank ons begeer om te wil en te glo. Ons swakheid stel juis sy genade in werking.
Geloof behaag God, maar daar is ook ’n soort twyfel, ’n eerlike twyfel, wat God behaag. Dit word duidelik uit die boek Job. ’n Reeks rampe tref Job en sy familie, en dit is begryplik dat hy, ’n regverdige man, vrae begin stel oor die regverdigheid van God wat soveel rampspoed oor hom laat kom. Waarom is dit dat ’n goeie mens ly en dat slegte mense so dikwels voorspoedig is? Sy vriende wat gekom het om hom te troos, kies God se kant in die dispuut; hulle verseker Job dat die fout by hom lê. Hy moes êrens iets verkeerd gedoen het, want God se handelinge kan tog nie onregverdig wees nie. Nóg Job, nóg sy vriende word ingelaat in die misterie van God se redes vir sy handelinge, maar Job word aan die einde van die boek wonderlik bemoedig. Vir Elifas, een van die Jobstroosters, sê God egter: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie” (Job 42:7). God verkies iemand met opregte vrae en eerlike twyfel bo dié met konvensionele “vroom” woorde sonder insig.
GELOOF EN GOEIE WERKE
Christene redeneer dikwels onder mekaar oor die verhouding tussen geloof en goeie werke. Maar om geloof teenoor goeie werke te stel, is foutief, want hulle is twee kante van dieselfde muntstuk. Paulus beklemtoon dat ons deur geloof, slegs deur geloof, gered word; Jakobus, daarenteen, wys op die belangrikheid van goeie werke. Hy skryf: “ ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak 2:26). Paulus gebruik Abraham as voorbeeld om te verduidelik hoe regverdiging deur die geloof tot stand kom; Jakobus, aan die ander kant, wys daarop dat Abraham se geloof tot handeling oorgegaan het, sodat Abraham deur sy dade geregverdig is (Jak 2:21, 22). Ragab, die prostituut, een van die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word, het die Israelitiese verkenners in Jerigo verwelkom en hulle in haar huis weggesteek. Jakobus gebruik haar om die belangrikheid van dade te illustreer. En, inderdaad, as ’n mens die lewe van die gehoofshelde van Hebreërs 11 nagaan, word dit duidelik dat geloof by hulle almal met goeie werke gepaardgegaan het. Jakobus is reg wanneer hy sê geloof en werke hoort bymekaar; die een is dood sonder die ander.
Christene verrig nie goeie dade om God se guns te wen of die mense te beïndruk nie. Hulle doen dit uit dankbaarheid teenoor God en omdat hulle vir hul medemens omgee. Die volgorde van geloof en werke is dus anders as wat ’n mens sou verwag: Eers word ons sonder goeie werke gered, maar wanneer ons uit genade gered is, word ons tot goeie werke geroep. Ons moet ook onthou dat goeie werke nie eers ná bekering begin nie, en geloof hou nie by bekering op nie. Is daar nie iets goeds in die daad van bekering wanneer mense besluit om God te vertrou en hulle aan Hom oor te gee nie? Aan die ander kant, word ons goeie dade nie in geloof, in nederige afhanklikheid van God se leiding en genade gedoen nie?
Inderdaad, nou verweef met mekaar van die begin tot die einde van ’n Christen se lewe, is die totale afhanklikheid van God en vertroue op God aan die een kant, en aan die ander kant ’n aktiewe reaksie op God se genade en ’n gewillige betrokkenheid by die goeie dade waartoe God ons roep. Om ’n beeld van C.S. Lewis te gebruik: dis soos die twee lemme van ’n skêr; dis onmoontlik om te sê watter een die snywerk doen. Of soos iemand wat ’n marathon hardloop: Dis ’n kombinasie van eie inspanning en hulp van buite. Die een wat die wedloop suksesvol voltooi, kan sê: “Magtie, maar ek het goed gehardloop! Ek het nie tou opgegooi toe ek gedaan gevoel het nie; ek het volhard tot die einde. Ek het diep en ritmies asemgehaal, en my arms en bene het die werk gedoen wat van hulle verwag is.” Maar so iemand sou ook kon sê: “Alles is darem nie net aan myself te danke nie. Die kos wat ek vooraf geëet het, die vloeistof wat ek ingeneem het, ook gedurende die wedloop, het my die krag gegee wat nodig was. Sonder die hulp wat ek van helpers langs die pad gekry het, ja, ook sonder die vars lug wat daar was om in te asem, was ek verlore. Selfs die liggaam wat gehardloop