Sonneblomstraat 7. Ena Murray
meer tussen ons nie.”
“Dit sal op ’n dag rustiger gaan. Ek doen dit tog vir jou ook. Of dink jy alles wat jy hier om jou sien, val sommer soos manna uit die hemel neer?”
Sy swyg maar. Sy geïrriteerde houding maak haar net nog ongelukkiger.
Die volgende dag bars die bom.
Die naam Rock Trust staan groot op elke koerant se voorblad. Dis selfs hoofnuus oor die radio en televisie. Daar is groot fout met Rock Trust en die miljoene wat die publiek daarin belê het, is in gevaar – hulle kan hul geld verloor. Nie net die rykes word geraak nie, maar veral dié mense wat dit die minste kan bekostig, die afgetredenes en pensioentrekkers wat deur die hoë rentekoerse verlei is om die neseier wat ’n leeftyd lank vir die oudag bymekaargemaak is, ten beste te benut. Of so het hulle gedink … Maar die kans dat hulle gaan verloor, is baie goed. Dit is wat Wanya in die koerante lees en oor die televisie hoor.
Geskok en desperaat wil sy by haar man weet: “Niel, wat is aan die gang?”
“Hou maar jou neus hier uit, Wanya. Jy verstaan daar tog niks van nie.”
Ontredderd keer sy hom in die gang voor op pad deur toe. “Nee, ek verstaan niks van jou geldsake af nie, maar wat ek wel verstaan, is dat onskuldige mense, mense wat jou vertrou het, hul geld gaan verloor. Mense soos my pa. Hy het óók in jou Rock Trust belê. Die oes waarvan jy gepraat het . . Was dit toe al die tyd die oeste waaraan ánder mense geswoeg het, wat jý toe soos ’n dief gaan afmaak het?”
Hy staan bleek en gespanne voor haar … en lyk glad nie meer soos die man met wie sy ’n paar jaar gelede getrou het nie. Hy ís ook nie, besef sy toe hy haar ru wegdruk en bars laat hoor: “Man, ek het nie tyd vir jou sedepreke nie. My advokate wag vir my.”
Maar die hulp van die beste advokate in die land kan nie verhoed dat die dag aanbreek dat Niel Cloete in hegtenis geneem word vir bedrog nie. ’n Bedrag van meer as tweehonderd miljoen rand word genoem … Tweehonderd miljoen rand het skielik tussen neus en ore verdwyn. Die wyses skud hul koppe. Sal die mensdom dan nooit leer nie?
En skielik, soos met ’n towerslag, verander Wanya se daaglikse roetine so onherkenbaar dat haar verstand dit nie heeltemal verwerk kry nie. Ook Niel Cloete kom skielik in aanraking met dinge wat hy nooit geken het nie, nooit sou glo hy ooit sou ervaar nie. Soos om in sy luukse kantoor gekonfronteer te word deur die lang arm van die gereg. Om voor jou geskokte personeel tussen twee speurders uit te stap, bekendes in die hysbak raak te loop en te besef dat hulle weet wat aan die gebeur is. Om in ’n polisiekantoor soos net nog ’n landsburger behandel te word, beleef maar onpersoonlik. Die óú Niel Cloete het in sy luukse kantoor op die tiende verdieping agtergebly. Hiér is hy net nog ’n burger wat die wet oortree het. Soos die ou voor hom en die een ná hom, moet hy sy hande uitsteek vir die noodsaaklike vingerafdrukke, word hy na ’n sel gelei en die deur sonder seremonie agter hom gegrendel. Om hom sien hy ’n toneel wat hy geglo het sý oë nooit sal aanskou nie – ’n enkelbed met ’n dun sponsmatras en ’n bruin kombers daaroor. ’n Toiletbak van vlekvrye staal in die een hoek, ’n kassie langs die bed … kaal mure … en ’n deur met ’n opening in die middel waardeur oë jou vier-en-twintig uur van die dag kan dophou.
Hy is geregtig op regshulp, maar daar moet volgens vasgestelde riglyne gehandel word … So bring Niel Cloete sy eerste nag in ’n sel deur en Wanya slaap soos soveel kere tevore alleen in die groot huis in Sandton. Slaap … ? Nee, lê wakker en tel die lang nagure om.
Weer is dit hoofnuus in die media. Dit is immers hul taak om die publiek op die hoogte te hou. Duisende niksvermoedende mense het hul kosbare geldjies aan Niel Cloete toevertrou.
Die volgende oggend om halfnege word ’n miljoen rand aan borggeld betaal. Niel Cloete se paspoort word in veilige bewaring geneem. Die saak sal oor ’n maand voorkom; intussen is hy distriksgebonde en moet hy hom daagliks by die polisiekantoor aanmeld.
Man en vrou se oë ontmoet toe hy die huis binnestap. Op albei se gesigte lê die spore van ’n slapelose, kommervolle nag. Woordeloos, sonder ’n groet, stap hulle in teenoorgestelde rigtings – sy om die kombuis te gaan sê dat daar ontbyt vir meneer gemaak moet word en dat sy self niks wil hê nie; en hy slaapkamer toe om te gaan bad en te probeer om die nag in die sel van hom afgewas te kry.
Die telefoon lui en Alfred antwoord. Dis haar ma, kry Wanya die boodskap. Sy is bang om na die telefoon te stap. Hoewel sy weet dat hulle, soos die res van die land, bewus moet wees van wat aan die gang is, het sy nie die moed gehad om huis toe te bel nie. Maar nou wil haar ma met haar praat.
Dis pynlik. Sy sluk hard en dwing die woorde oor haar droë, koue lippe. “Dit gaan goed, Ma, dankie. Nee, alles is onder beheer. Nee, hy is terug by die huis. Hy is op borgtog uit. Moenie oor my bekommerd wees nie. Regtig.” Dan kom die vraag: “Ma, hoeveel het Pa belê? Was dit baie? Was dit ál jul spaargeld?”
Sy weet nie of sy die versekering wat sy kry, moet glo nie: “Moenie oor ons bekommerd wees nie. Ons kan dit hanteer. Ons het nog genoeg oor om van te lewe. Regtig, my kind, jy kan my maar glo. Jy … julle moet net sê as ons kan help. Wil jy nie maar ’n rukkie hierheen kom nie? Maar dan … jou plek is by jou man. Hy het jou nodig. Sterkte, my kind. Ons bid vir julle.”
In die weke wat volg, vind Wanya uit dat daar ander mense is wat nie na bid voel nie. Dis sý wat die telefoonoproepe ontvang en die spit moet afbyt terwyl Niel en sy advokate ure lank in sy studeerkamer agter geslote deure kopkrap en beraadslaag. Hy kom net uit daardie vertrek wanneer hy hom, soos hy verplig word om elke dag te doen, by die polisiekantoor moet gaan aanmeld en wanneer hy saans gaan slaap, of liewer snags … en dit het al gebeur dat hy sommer op die bank in die studeerkamer aan die slaap raak. Die telefoon op sy lessenaar is ontkoppel en dis Wanya wat die telefoon moet beantwoord, wat mense hoor huil, hoor vloek, hoor dreig. Later word Alfred aangesê om dit te beantwoord, met die opdrag om te sê dat niemand tuis is nie. Maar dit weerhou sommige nie daarvan om selfs teenoor die swart man hul paniek oor hul geld in geen onseker taal uit te spreek nie. Later besluit Alfred dat dit miskien maar beter sal wees om die gehoorbuis skuins op die mik terug te sit.
Pat Oberholzer en haar ander vriendinne se besoeke het soos water in ’n droë sloot opgedroog … en so ook die talle uitnodigings wat hulle in die verlede kwalik kon nakom. Geen tennis of brug- en teepartytjies meer nie; geen etes by ander van hul sosiale stand nie; geen glinsterdinees meer in vyfsterhotelle nie. Die groot huis in Sandton word stil – ’n kerker van eensaamheid en skande en trane.
Maar by die tennisbaan en brugpartytjies, by die etes en onthale gons dit … en daar word net oor een ding gepraat … Rock Trust en die ellende wat dit vir duisende mense inhou. Nie dat die lede van hierdie uitgelese groep regtig in ellende kan verkeer nie, al het van hulle ook groot bedrae geld belê. Soos die Oberholzers byvoorbeeld.
Pat vertel aan almal wat wil luister: “Charl het wel ’n paar miljoen rand belê, maar dit sal ons nie breek nie. Ons kan dit vat. Maar wat ’n skreiende skande is, is dat daar talle mense is wat sonder ’n enkele sent sit. Hulle wat oornag niks het om van te lewe nie. En weet julle wat? Amper was Charl ook in die sop. Niel wou hom knaend betrek by die direksie, maar ek het gekeer. Ek het gesê Charl het genoeg ysters in die vuur. Gelukkig tog, anders was ons ook nou kniediep in die gemors.”
“Hoe verwerk Wanya dit? Wanneer laas het jy haar gesien? Julle is mos groot vriendinne.”
“Ek het haar nog nie gesien nie. Ek kan dit maar reguit sê: Ek gaan nie saam met Wanya sit en huil nie. Dit sal die opperste valsheid wees. Sy het die voordeel van al daardie gesteelde geld terdeë geniet.”
“Pat! Hoe kan jy so iets sê! Die hofsaak kom eers aanstaande week op die rol. Paul sê dit kan wees dat dit swak bestuur was, of swak oordeel aan Niel se kant. Dat hy die geld belê het in projekte wat nie so winsgewend was as wat hy verwag het nie.”
Maar Pat snork minagtend en in die stilligheid is daar eenstemmigheid. Waar die geld ook al heen is, of dit in ’n private bankrekening in ’n Switserse bank is of bloot verdwyn het as gevolg van swak besteding en beplanning, mense het groot finansiële verliese gely en Niel Cloete is daarvoor verantwoordelik. Daar is ’n hele paar vroue wat nie sal erken dat hul mans hulle