Sonneblomstraat 7. Ena Murray
moet maar terug na madame Veronique.
Natuurlik word daar ook hard in madame Veronique se eksklusiewe boetiek gegis oor wat met die Cloetes gebeur het.
“Haai, foei tog, ek kry mevrou Cloete so jammer. Sy was baie gaaf daardie dag met die aandrok, en meneer Cloete ook. Hy het my so ’n groot fooi gegee.”
Maar mevrou Duvenhage het min simpatie. “Hmpf! Met gesteelde geld kan ek ook groot fooie uitdeel.”
“Haai, mevrou Duvenhage!”
Madame het ook ’n mening: “Sy het gelyk, Annatjie. Daar is miljoene rande verduister … en dit het aan ander mense behoort.”
Annatjie lyk bekommerd. “Nou laat julle my baie sleg voel. Moet ek nie maar die geld teruggee nie? Dalk het hulle dit nou bitter nodig.”
“Moenie verspot wees nie, kind!” lag madame. “Jý het niks gesteel nie. Jy het eerlik gewerk daarvoor. En daardie paar rand sal aan die Cloetes se basse geen verskil maak nie. Ek dink nie al gee jy hulle ook twee miljoen rand, sal dit die geringste verskil maak nie. En amper het ek ook geld belê. Gelukkig was my spaargeld nog vas in daardie stadium, anders was ek tot my verdriet vandag veel armer.”
Soos altyd draai Annatjie daardie middag ná werk weer eerste by Sonneblomstraat 7 in. Met haar koppie koffie voor haar, bring sy weer die nuus van die dag ter sprake. Tant Bes se radio speel pal in die kombuis en sy is op die hoogte van sake.
“Ja, Annatjie, toe jy my vertel het dat die vrou sommer so op ’n ingewing duur ingevoerde rokke koop, het ek my bedenkinge gehad. Die mense wat dink fonteintjies kan nie opdroog nie, maak ’n fatale fout … ” Sy kyk die jong meisie skerp aan. “Spaar jy nog elke maand gereeld, Annatjie?”
“Ja, tant Bes. Elke maand sit ek weg. Ek spaar vir ’n deposito op ’n woonstel wat nader aan my werk is. Madame Veronique sal my help om ’n lening te kry.”
Tant Bes frons kwaai. “Ek hou niks van ’n afbetalery nie. Dis hoe mense in die skuld beland. Jy koop kontant of jy bly daarsonder. En hoekom wil jy skielik uit Jan Bom padgee? Is ons nie meer goed genoeg vir jou nie?”
“Haai, tant Bes, hoe kan tannie nou so praat? Ek wil maar net ’n bietjie nader aan die werk wees, dis al. Ek wil nie regtig uit Jan Bom padgee nie. Hier ken ek almal en almal ken my. In my woonstel sal dit seker baie alleen wees.”
“Ja, en dis wanneer jy verkeerde geselskap gaan soek. Bly jy maar net hier en spaar elke maand sodat jy niemand in die oë hoef te kyk nie.”
“Tant Bes is seker reg. Maar dan sal ek darem baie graag vir my ’n motor wil aanskaf,” laat sy hunkerend hoor.
Tant Bes is dadelik by met die regte raad: “Daarmee skort niks nie, maar jy spaar totdat jy genoeg het en koop dit kontant. Jy koop nie goed op skuld nie, Annatjie. Jou pa is nie meer hier om jou op die spoor te hou nie. Jy gaan nie dinge doen wat jy voor jou siel weet jou pa nie sou goedkeur nie.”
“Nee, tant Bes. Natuurlik nie, tant Bes. Dit sal dan maar ’n tweedehandse motor wees. Ek sal horingoud wees voordat ek genoeg gespaar het om ’n nuwe motor kontant te koop. Maar ek stem saam. Skuld is ’n nare ding. Om bokant jou vuurmaakplek te lewe, is om jouself op te hang. Kyk hoe lyk dit vandag by die Cloetes.” In haar verbeelding sien sy weer die huis en die swembad en die meubels en die pragtige kandelare. “Dit help nie jy het alles wat geld kan koop, maar jy kan nie slaap nie … ”
Tant Bes glimlag vir die ernstige gesiggie. “Toemaar, my kind. Dis geen skande om eerlik arm te wees nie. Dis ’n skande om oneerlik ryk te wees. Armoede het ook sy pluspunte, my kind. Dink net hoeveel mense rol vannag onrustig in hul beddens rond oor hierdie Rock Trust-ding. Maar nie een van Jan Bom se mense verloor ’n sekonde slaap daaroor nie!”
Annatjie glimlag, knik. “Dis waar. Ek dink Jan Bom se mense is van dié wat die rustigste slaap, want hulle het niks wat oorvloedig of ekstra is nie.”
“Juis. Maar dit is seker ’n vreeslike gevoel om te dink jy het meer as genoeg en een oggend word jy wakker en kom tot die besef dat jy skaars genoeg het om van te leef. Hou jy maar kop, kind. Spaar maar waar jy kan, maar moet tog nie vrekkerig wees nie. Jy moet altyd iets hê om uit te deel aan dié wat dit nodiger het as jy.”
“Dit laat my dink … Ek wil Pa se elektriese kombers maar vir Nellie gee. Ek is nog jonk genoeg om daarsonder klaar te kom. Die arme Nellie kla so in die winter oor haar been.”
Tant Bes knik, kyk haar goedkeurend aan. “Dit sal vir haar baie beteken, Annatjie. Sy sal baie bly wees.”
Tant Bes kyk haar oudergewoonte agterna toe sy aanstap huis toe. Glimlaggend sê sy by haarself: “Jý is die ryk een, Annatjie, nie mevrou Cloete nie. Jý het die rykdom wat die Cloetes van Sandton nog nooit gesmaak het nie. Jý is die miljoenêr, nie hulle nie.”
Wanya besef in die maande wat volg dat sy beslis nie meer miljoenêrstatus het nie. Die dag breek aan dat Niel Cloete gevonnis word: agt jaar tronkstraf waarvan die helfte opgeskort is vir vyf jaar. Niel se hoofadvokaat verduidelik aan Wanya wat die vonnis behels.
“Dit beteken dat hy vier jaar effektiewe gevangenisstraf moet uitdien.”
“Niel moet vir vier jaar … tronk toe?”
Advokaat Pelzer se oë rus simpatiek op die bleek gesig wat die afgelope tyd duidelik vermaer het. Hy wonder of sy besef die ergste lê nog voor. Hy verduidelik vinnig verder: “Hy is verplig om een derde van die vier jaar te sit. Daarna kan ons aansoek doen om parool. Hy sal dus ’n bietjie langer as sestien maande … e … weg wees. Dit is darem nie só lank nie. Alles sal van Niel self afhang. Hulle sal nie parool weier as hy hom goed gedra nie.”
Haar kop sak. Soos ’n kind in ’n koshuis, dink sy dof. Kan ’n mens sterf van skaamte en skande?
“Het jy al gedink waarheen jy wil gaan?”
Sy kyk hom onbegrypend aan.
Hy voel skielik ongemaklik. Die vrou besef klaarblyklik nog nie ten volle wat haar getref het nie. “Die huis en sy inhoud word verkoop om soveel moontlik te verhaal om die skuldeisers te vergoed. In hierdie stadium bereken ons dit op so twintig sent in die rand.”
“Jy bedoel … álles word verkoop? My huis … alles?”
“Alles, Wanya. Ook jou nuwe motor. Net jou heel persoonlike besittings sal jy kan saamneem waarheen jy ook al gaan. Wat is jou planne?”
Daar is geen planne nie, wil sy sê. Watse planne kan ’n mens hê wat een oggend opstaan en besef hy of sy besit absoluut niks nie? “Ekke … ek sal seker na my ma-hulle toe gaan.”
Hy knik. “Dit sal verstandig wees. Niel sal dan ook meer gerus voel oor jou.” Die kyk in haar oë laat hom nadink. Hy sug innerlik. Ja, dis ’n bietjie laat om nóú oor sy vrou en haar welsyn bekommerd te raak. Hy moes aan haar gedink het toe hy sy slim planne gesit en beraam het. “Daar is ’n bietjie kontant tot jou beskikking. Jy sal nie meer kan leef soos jy daaraan gewoond is nie, Wanya, maar jy sal met goeie berekening kop bo water kan hou. Ek het nog nooit gevra … Het jy opleiding in enige rigting? Jy sal daaraan moet dink om te gaan werk. Nie net vir die inkomste nie, maar ook om jou gedagtes besig te hou terwyl Niel … nie hier is nie.”
“Ek was ’n model toe ek Niel ontmoet het.” Sy kyk vlugtig na die spieël teen die muur agter hom. Haar mond trek wrang. Soos sy nou lyk … Sy bring haar blik terug na syne, trek haar skouers agteroor. “Ek sal regkom, dankie.”
Hy staan op. “Jy het my telefoonnommer. Bel my asseblief as jy dit nodig vind.”
Toe sy terugkom van die voordeur, staan Thomas voor haar. Hy lyk verleë. Hy wil maar net seker maak … gaan madame hom behou of … ? Natuurlik! Haar personeel weet wat aangaan. Soms weet hulle nog voor jou, soos dit ook nou blyk. Advokaat Pelzer het haar maar pas ingelig oor haar finansiële situasie, maar Thomas weet blykbaar reeds dat sy hom nie meer kan bekostig nie.
“Ek is bevrees ek kan jou nie behou nie, Thomas. Maar ek sal jou ’n goeie getuigskrif gee. Jy sal glad nie sukkel om … ”
“Mevrou