Tydlose liefde. Elsa Winckler
sal haar neem,” sê sy ma ferm en staan op. “Jy sal net verder met die arme kind sukkel. Kom, Kalinda, jy is seker stokflou. Die oom het al jou motor omgetrek soontoe en jou tas uitgelaai, ons stap sommer oor, dis net ’n paar treë.”
“Oulike meisiekind,” sê die oom toe sy vrou en die nuweling wegstap. Zach kyk hulle agterna.
“Baie, baie, baie mooi bene,” mymer Lukas, en Zach draai net betyds sy kop om te sien hoe Lukas amper kwylend die meisiekind agternakyk.
Zach kyk verbaas en half geïrriteerd na sy broer. “Ja? En van wanneer af sien jy weer vroumense se bene raak? Het jy nie girls vir ewig en altyd afgesweer ná … wat was haar naam nou weer?”
Lukas se glimlag verdwyn. “Cecile.”
“Ek onthou vir haar. So ’n blonde enetjie wat jy hier aangebring het,” sê sy pa. “Ek het gehou van haar. Wat het nou weer gebeur? Hier kom so baie meisiekinders kuier, ek kan nie tred hou nie.”
Lukas wys met sy vinger na Zach. “Zach is die een wat die lang stringe girls het, Pa, die een met die drie-dates-en-dis-verby-reël. Vir my was daar Cecile. En toe is sy weg en wat ook al tussen ons was, is verby. Dis dit.”
Zach voel soos ’n luis. Hy onthou hoe teen die grond sy broer destyds was. “Lukas, ek is jammer. Ek –”
“Dis orraait. Ek sal dit maak.” Lukas kyk op en sy oë vonkel weer. “Maar dit beteken nie ek kan nie ’n mooi been raaksien nie.”
Zach tel sy glas op en glimlag. Hy gaan hom nie laat uitlok nie. Hy weet presies hoe mooi haar bene is. Dat sy broer dit ook raaksien, daarvan hou hy nie baie nie. En hy weet nie regtig hoekom dit hom pla nie.
Vroumense hou van altyd af vir hom ’n bekoring in. Hy hou van hulle. Hy verstaan hulle nie altyd nie, maar hy hou van hulle. ’n Slanke nek, ’n mooi been, ’n wilgerlatlyf, ’n ronder lyf, dit maak nie saak nie. Hy word elke keer betower. Hy kan hom verkyk aan die manier waarop ’n ken gelig word, hare oor ’n skouer gegooi word, wimpers teen ’n sagte wang fladder. Hulle ruik lekker, hulle voel lekker, hulle soen lekker, en ja, hulle vry lekker. Watter volbloed man kan ’n vrou weerstaan?
Hel, hy hou van vroumense. Van baie vroumense. Daarom die “reël”, soos Lukas daarna verwys. Dis nie asof hy dit so beplan wanneer hy ’n meisie begin uitneem nie. Dis net, ná drie dates is hy gewoonlik gereed om aan te beweeg. Is die opwinding weg, is hy … wel, verveeld. Hy het lankal besluit dat die Westerse idee van ewige trou belowe aan een persoon heeltemal belaglik en onuitvoerbaar is. Hoekom jou aan een girl vasmaak as daar so baie mooi, sexy meisies rondloop?
Die enetjie van oor die waters interesseer hom. Sy’s mooi, vrek mooi. Maar hy hou nie van die hol kol wat hy skielik op sy maag gekry het toe hy haar sien nie. En die vuishou van begeerte wat direk daarop gevolg het, het hom heeltemal onkant betrap. En toe moes hy net aan haar vat en toe is sy mond droog, sy hande dom.
Hy kan nie onthou dat hy al ooit so op ’n vrou gereageer het nie. Hy wat gewoonlik so gladdebek is, het glad nie geweet wat om te sê nie. Dalk was hy te lank weg uit die beskawing. Of die longontsteking wat hy in Antarktika opgedoen het, het hom meer aangetas as wat hy gedink het.
En genadiglik is sy nie lank hier nie. Wat kan nou in tien dae gebeur? Hy moet hom maar skaars hou. Buitendien, hy moet eintlik by sy blyplek in Clifton uitkom. Hy het reëlings wat hy moet tref en die Kaapse naglewe roep hom.
Die rondawel is ruim en luuks toegerus. Kalinda kyk vinnig in die sitkamergedeelte rond. “Alles is so keurig gedoen, tannie. Ek gaan lekker bly.”
“Dankie, kind. Ek hou van mooi goed en geniet dit om gereeld die plekke oor te doen. Tot die oom se frustrasie, natuurlik. Is jy seker jy het nie nog iets nodig nie?” Sy stap na die voordeur.
“Nee, baie dankie. Ek dink ek sal soos ’n klip slaap vanaand. Ek kan nou voel hoe moeg ek is.”
By die deur draai die tannie om. “Ek wil nog weet wat regtig vandag daar op die pad gebeur het, maar jy’s moeg. Môre is nog ’n dag.”
Kalinda haal een skouer op en glimlag effens. Die mense sal dink sy is heeltemal van haar trollie af. “Ek moet aan die slaap geraak het, ek weet nie eintlik nie.”
“Jy is moeg. Gaan bad lekker. Ontbyt is van so agtuur af. Ons kan dan verder gesels. En as ek reg onthou, gaan jy aandetes ook by ons neem … ”
“Ja dankie, tannie. Ek sal oor die middaguur heel waarskynlik iewers anders wees, maar ek behoort teen die aand terug te wees vir ete. Indien ek te laat is, maak dit nie saak nie, ek sal –”
“Dan sal ek vir jou uitskep en die bord hier kom los. Ons maak gewoonlik maar so. Nou toe, lekker slaap.”
“Weet jy hoe frustreer jy my!” skree Neil en gryp die stuk chilli-pizza uit die boks.
Hy gryp haar agter die kop vas en druk die stuk pizza in haar mond. “Toe, eet! Jy’t dit mos gekoop, so vreet dit op!” skree hy in haar oor en hy druk die stuk pizza nog dieper in haar mond in.
Sy probeer sluk teen die trane en wil naar word van die skerp smaak. Ja, sy het die pizza gekoop, omdat hy van baie sterk kos hou – sy kan dit glad nie eet nie en hy weet dit. Sy’t gedink sy doen ’n slag die regte ding.
“Lekker, nè? Jy’s so useless, jy kan nie eens ’n pizza koop nie,” pers hy tussen sy lippe deur.
Sy stik en hy stamp haar van die stoel af. Voordat sy kan opstaan, het hy haar weer agter die kop beet en smeer hy die pizza oor haar gesig.
En heeltyd skel hy, vloek hy haar totdat die trane agter in haar keel stol en die wanhopige kreet in haar binneste vries.
Met ’n snik skrik Kalinda wakker en sit regop in haar bed. Sy sit vinnig die bedliggie aan. Diep asemteug in, en uit. Sy probeer haar asemhaling reguleer. Neil is nie hier nie, hy kan haar nie weer seermaak nie, sy is geskei van hom. Twee jaar lank al. Sy raak rustiger.
Sy lag op ’n halwe snik. Dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat sy weer ’n nagmerrie het oor daardie verskriklike twee jaar in haar lewe. Aan die begin was sy dae lank ontsteld ná so ’n nagmerrie. Maar sy het nie kans gesien vir sit en derms uitryg by ’n sielkundige nie en het die aakligheid eenvoudig met ’n ysere wil uit haar kop probeer sit. As sy nie daaraan dink nie, kan dit haar nie hinder nie, was haar motto.
Geleidelik het die nagmerries minder en minder geword, totdat sy weer rustig kon slaap. Die blondekopman wat sy gesien het, het haar seker weer aan daardie tyd laat dink. Dis hoekom sy nou weer ’n nagmerrie gekry het.
Suurlemoene. Sy ruik suurlemoene. Soos wat sy vroeër in haar motor geruik het. Kalinda lig haar kop. ’n Lamheid sak oor haar. En dis nou skielik koud. Yskoud. Sy vat-vat met dom vingers aan die kombers en trek dit op tot teen haar ken. En dan sien sy haar. By die venster. Die vrou wat sy vroeër opgelaai het. Haar oë swem in trane en haar vingers draai die wit kantsakdoekie om en om.
Skrik laat stol Kalinda se bloed. Haar asem, wat rukkerig oor haar lippe spoel, maak wit wolkies voor haar gesig. Sy sit doodstil en haal amper nie asem nie. Sy knyp haarself. Jip, sy’s wakker. Wat beteken sy het nie vanmiddag aan die slaap geraak agter die stuurwiel nie.
Sy knip haar oë en toe sy hulle weer opmaak, is die vrou weg. Vir ’n paar sekondes sit sy asof gevries, maar dan spring sy uit die bed en hardloop na die venster. Haar oë gly soekend oor die maanverligte vlakte. Maar sy sien geen beweging nie. Dis net baie, baie stil.
Iets kouds gly langs haar ruggraat af en sy ruk om. Die bedliggie verlig die hele kamer. Daar is niks vreemds agter haar nie. Sy stap stadig bed toe en klim in. Dit moet haar verbeelding wees, sy is seker maar oormoeg, en oorstuur ná die nagmerrie. Sy skuif stadig teen die kussings af terwyl haar oë weer na die venster toe gly. Dié keer gewaar sy niks nie.
Kalinda kyk op haar horlosie. Dis tien minute oor twee. Die nag is nog lank. Sy sal nog ’n rukkie so lê en dan maar begin werk. Maar die bedliggie bly aan, dis vir seker.
Haar oë val toe. Iets omtrent die vrou pla haar.