Tydlose liefde. Elsa Winckler
draai vinnig om. Kalinda kom die trappies opgestap, een wenkbrou gelig.
“Wel, ja,” lag hy terwyl hy hom verkyk aan die mosgroen van haar oë. Bliksem, maar die vroumens is mooi.
Dis asof die wenkbrou nog ’n ent hoë in die lug boog. “Dan moet jy baie desperate vroumense ken.” Sy stap verby hulle. “Ek het my motorsleutels kom haal. Ek dink jou pa het dit nog,” sê sy vinnig en stap die huis in.
Lukas lag weer en draf die trappies af na sy motor toe. “Dit lyk na één girl wat bietjie verstand het. Ek sal maar vir haar moet kom geselskap hou, lyk nie vir my of jy iets gaan regkry nie.”
Zach skud sy kop laggend. “Raak jy maar eers fiks, dan praat ons weer,” roep hy agter hom aan voordat hy omdraai terug huis toe.
“En Zach?” hoor hy Lukas se stem en draai terug.
“Maak ’n afspraak dat ek na jou bors kan luister. Het jy asmaprobleme gehad? Is dit die rede hoekom jy vroeër moes waai?”
Zach kyk hom geïrriteerd aan. “Nee, ek het nie ’n asmaaanval gehad nie, ek het longontsteking gehad. Maar ek is nou fine,” sê hy vinnig. “Ek is deur ’n reeks antibiotika, moet my nog ’n paar dae lank stil hou, dan is ek weer reg.”
“Daaroor sal ek besluit. Kom sien my.”
“Ek sê mos vir jou, my bors is oukei –”
“Anders sê ek vir Ma,” sê Lukas.
Zach gooi sy hande vies in die lug. “Lae hou, broer, baie lae hou. En onnodig, ek sê jou … ” Hy begin weer hoes.
“Maak ’n afspraak of ek sit vir Ma op jou,” knip Lukas hom kort en klim in sy motor.
Zach stap wrewelrig die huis in. Dis nou wat gebeur as jou broer ’n internis is. Jy kan net lyk of jy iets makeer, dan wil hy jou sien. Ja, hy het longontsteking opgedoen, maar die dokters by die Russiese basis op Novo het hom verseker hy is nou oukei. Hy het gedink hy het sy hoesbuie onder beheer, maar Lukas het agtergekom daar is fout. Nou sal hy maar weer plate moet laat neem en sy broer gaan sien, anders hoor hy nooit die einde daarvan nie.
Sy ma kom die gang af gestap. “Zach, kom sit by my en vertel nou eers vir my hoekom jy regtig so gou terug is? En hoekom is jy hier en nie in jou fancy plek in Kaapstad nie? Het jou gehoes iets daarmee te doen?”
Zach druk sy hande deur sy hare. “Ma, jy weet ek is vyf-en-dertig, nè? Nie vyf nie.”
“Ek weet dit, my kind, maar dit lyk my jy vergeet jy’s nie meer sewentien nie. Kom sit. Ek luister.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.