Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie
hom aan sy bos digte, swart hare vas en trek met al haar krag.
“Eina!” Hy los haar voet en gryp dan haar hande op sy kop vas en maak hulle sonder inspanning los. Sy oë is kwaai toe hy haar twee hande stewig vasvat en haar nader trek. “Luister, nou kry jy end met hierdie kinderagtigheid! Dink jy miskien dit is vir my lekker om aan jou te vat? Jy tart my! As jy jou skoene self uitgetrek het, sou dit nie vir my nodig gewees het om dit te doen nie. As jy graag wil hê ek moet aan jou raak, sê net so; ek doen sulke ou dingetjies sommer gratis.”
Katrien is sprakeloos van verontwaardiging en probeer wild haar hande uit syne losruk.
Dewald los haar en stap ’n tree of twee weg. Daar gaan hy staan en beskou haar met sy arms oor sy bors gekruis.
Katrien kyk nie in sy rigting nie. Sy trek net haar sandale vinnig uit en gooi dit in sy rigting. Sy maak die borde en bekers met soveel drif bymekaar dat Dewald net stilweg glimlag. Sy gryp die pappot aan sy hingsel en storm af fontein toe.
Dewald bied nie aan om haar te help nie, maar gaan sit net stil onder die boom met ’n vreemde glimlaggie om sy mond.
Katrien praat nie weer met hom nadat sy teruggekom het van die fontein af nie. Later in die oggend maak sy die hut met soveel energie en opgekropte frustrasie skoon dat die stof behoorlik in ’n wolk daarom hang. Alles wat wasbaar is in die hut, het sy uitgewas, en toe nog die vloer met ’n takbesempie wat sy gemaak het, uitgevee. Teen die tyd dat sy met die hut klaar is, is sy asvaal van die stof en taai van die sweet.
Met haar handdoek en seep en ’n stel skoon klere wat sy in die saalsak gehad het, kom sy by die hut uitgestap.
Dewald grinnik in haar rigting en dit maak haar woedend. Sy gaan sit ’n entjie van hom af en maak haar sandale stil-stil los. Sy tel dit op en gaan sit dit netjies langs mekaar voor hom neer. Sonder om weer in sy rigting te kyk, tel sy haar goedjies op en stap met die voetpaadjie af fontein toe.
Katrien is maar versigtig en was eers haar hare terwyl sy nog haar vuil klere aanhet. Sy wil so kort moontlik in haar Evasgewaad wees.
Die bad was vinnig maar tog heerlik verfrissend en sy voel ’n ander mens toe sy klaar is. Sy was haar vuil klere uit en hang dit oor ’n bos om droog te word. Haar hare is lank en dik en sy vryf dit ywerig droog met haar handdoek.
“Liefie!”
“O!” Katrien kners op haar tande van frustrasie.
“Hoekom draai jy so lank? Is jy nog daar?” Katrien antwoord hom nie. Met verbasing en genoegdoening hoor sy met sy volgende roep ’n duidelike toon van kommer in sy stem. “Liefie! Katrien!”
“Ek is hier.” Katrien is ongeduldig en sommer weer van voor af onvergenoeg.
Dewald is besig om die vleis stukkend te sny om te braai toe sy by die hut terugkom. Katrien gaan bêre haar handdoek en seep, vat dan haar borsel en gaan sit onder die boom om die lang hare uit te borsel sodat dit kan droog word.
Dewald bekyk haar ingedagte. Sy lyk so bekoorlik en vroulik met die lang hare wat amper tot in haar middel hang! Dit vang nou die sonstraaltjies op en blink vrolik.
Hy sout die vleis en trek die rooster nader.
“Ek wil tog nie eet nie, dankie.” Katrien sien nie kans vir die groot stukke vleis vandag nie. Dit is warm en sy het nie lus vir kos nie.
“Jy moet eet.”
“Ek voel nie honger nie.”
Dewald sug. “Ek is jammer, dame, maar dit is al wat ek jou kan aanbied: net vleis!”
’n Flou glimlaggie trek om Katrien se mond en sy kom nie agter dat sy hom heeltemal vriendelik antwoord nie. “Ek was nog nooit ’n groot vleiseter nie. Oupa terg my altyd daaroor. Hy sê ek is nie ’n regte Suidwester nie. Ek is baie lief vir groente en . . . dan het ek ’n vreeslike soettand. Ek sien altyd kans vir ’n soetigheidjie.” Dewald het in alle geval genoeg vleis vir haar ook gebraai, maar sy drink net koffie. Sy voel Dewald se blik kort-kort peinsend op haar en dit ontsenu haar heeltemal. Haar hare hang nog steeds soos ’n mantel om haar skouers en sy voel gereeld daaraan of dit nog nie droog is nie. Toe sy tevrede is, borsel sy dit agtertoe en begin dit vleg.
“Laat dit so loshang. Dit is mooi.”
Katrien kyk verbaas na Dewald wat nou skielik verleë lyk. Sy skud haar kop ongelowig, maar diep binne-in haar flikker ’n vlammetjie van hoop. Dan is daar die stadige ontwaking van ’n nuwe plan. Sy sal hom versigtig na haar kant toe oorhaal. Sy het een bate, en dit is dat sy ’n vrou is. Dalk kan sy tog sy belangstelling so ’n klein bietjie prikkel; hy het tog ’n reputasie met vroue. Miskien kan sy hom oorhaal om haar te help.
“Dit is te warm wanneer hulle so loshang.” Sy staan later op en maak die vuil borde en bekers bymekaar. “Stap saam met my fontein toe. Die dorings steek my te veel wanneer ek elke keer sonder my skoene moet gaan.”
Dewald gooi sy kop agteroor en lag dat die klank dawerend teen die rotse vasslaan. “Wel, dit is een manier om jou onderdanig te hou: ek jaag jou net die dorings in!”
Katrien glimlag stram, maar trek darem ook nie haar skoene uit nie.
Dewald staan geduldig op en vat die borde en bekers by haar. Sy stap voor hom in die voetpaadjie en hy verkyk hom aan haar netjiese, skraal postuurtjie in die kakiebroek en -hemp. Die dik, bruin vlegsel lê breed en blink agter haar rug en swaai liggies heen en weer. Sy buk by die fontein en was die borde en bekers terwyl Dewald haar met stil, onpeilbare blou oë dophou.
“Waaraan is jou ouers dood?”
Katrien kyk verbaas uit haar gehurkte posisie op na hom. Toe sy die vriendelike belangstelling in sy oë sien, byt sy die sarkastiese antwoord wat op haar tong was terug en waag sy die eerste tree op die pad van haar nuwe, gewaagde plan. Sy skud die water van die bekers af en staan op. “Hulle het verdrink.”
Stil en sonder veel emosie vertel sy hom die storie terwyl hulle terugstap. Sy sien die meegevoel op sy gesig en verander dan haar stemtoon en borduur so ’n bietjie oor die swaarkry. Sy vertel van haar oupa wat al so oud is en van die beeste wat hul laaste hoop was, aangesien hulle soveel teëspoed gehad het.
Toe sy oordrewe hartseer sug, draai Dewald vinnig sy gesig weg sodat sy nie die vonkeling in sy oë moet sien nie.
Katrien bêre die borde en bekers en kom sit by hom onder die boom. “Waar kom jy vandaan?” Dewald haal net sy skouers op en kyk by haar verby. Katrien gee egter nie so gou moed op nie.“Leef jou ouers nog?”
“Ja.” Dewald krap met ’n stokkie in die grond en kyk nie op nie.
“Woon hulle hier in Suidwes?”
“Ja.”
“Watter deel?”
“Wat wil jy maak as jy weet?”
“Dalk ontmoet ek hulle eendag, dan kan ek darem vir hulle vertel watter soort seun hulle het.”
“Wat sal jy hulle vertel? Dat ek mooi na jou gekyk het en jou geen leed aangedoen het nie?”
“Gmf! Maar ek moet darem kort-kort hier in die dorings in sonder skoene, anders word ek vasgemaak.”
“Jy soebat dan om vasgemaak te word! As jy nie so koppig is nie, sal ek dit nie hoef te doen nie.”
“Dewald . . .” Hy kyk stadig op en hul oë meet mekaar ’n tydlose sekonde lank. “Laat my asseblief gaan, anders sal ek my mense nie meer kan inhaal nie. Lukas is ’n ou man en sy vrou, Anna, is ook by hulle. Hulle . . . gaan hulle seermaak en . . . ek móét probeer om die beeste terug te kry. Ek kan nie sonder die geld teruggaan huis toe nie . . . asseblief, Dewald!”
“As ek jou laat gaan, sal jy nooit by jou huis uitkom nie – met of sonder geld.”
Magteloos druk Katrien haar kop op haar opgetrekte knieë terwyl trane van frustrasie stadig tussen haar toegeknypte ooglede deur sypel.
’n Groot hand kom rus swaar op die blink, bruin hare en vryf dit dan baie liggies.