Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie
kan belowe, is dat ek jou lewend en ongeskonde by jou oupa en ouma sal besorg as jy hier bly en nie probeer ontsnap nie, al moet ek ook my eie lewe daarvoor waag. Dit is ’n belofte, Katrien!”
“Jy dink net aan die geld. Geld! Geld wat jy sal kry uit ander mense se eiendom. Hoe kan jy verwag dat ek sulke beloftes moet glo? Jy sal te bang wees ek herken jou later.”
“Al wat ek vra, is dat jy my moet vertrou.”
“O, jy is haatlik! Ek . . .” Haar keel trek toe en magteloos soek haar verstand na nog iets om by te voeg.
“Dit is hierdie stilsittery wat jou so omkrap. Kom ons gaan soek iets wat jy vanaand kan eet.”
“Ek wil nie eet nie.”
Dewald staan op en hou sy hand na haar toe uit. “Stap saam; die stap sal jou goed doen. As jy hier wil bly, moet ek jou weer vasmaak en dit sal jou nog meer frustreer.”
Katrien sug soos ’n ou vrou, maar sy staan darem op en stap hut toe om haar hoed te gaan haal.
“Dit is nie nodig om ’n hoed op te sit nie; die son is al besig om te sak hier in die berg.”
Sy meet die son met haar oë en besluit dan dat hy gelyk het. Die paadjie tussen die kranse en rotse deur is hobbelrig en ongelyk en plek-plek moet hulle oor rotse klouter. Die oefening is egter vir Katrien salwend na die stilsittery die afgelope twee dae en sy geniet dit meer as wat sy gedink het sy sou.
By ’n hoë miershoop staan ’n plaat paddastoele, so groot soos borde, wit en oopgevlek in die namiddagsonnetjie.
“Daar is jou groente. Ek het dit gisteraand gesien toe ek kom jag het.”
“O, ja, dit sal heerlik wees! Ek is dol hieroor.”
Dewald pluk drie grotes en oorhandig een aan haar. “Ek verbeel my daar is ’n emmertjie vet in die hut. Maak dit sommer daarin gaar.”
“Ja, ek het die vet vanoggend gesien toe ek daar skoongemaak het. Ek gaan die paddastoele vir ons in die ysterpot bak.”
“Ek dog jy het nie honger nie!”
Katrien glimlag stralend na Dewald en hy voel hoe sy hart wild bokspring.
“Ek was net nie lus vir vleis nie.”
In ’n gemoedelike stilte stap hulle saam terug. Langs die pad is pragtige veldblomme en Katrien pluk vir haar daarvan ook ’n bossie. “Wat wil jy daarmee maak? Kan ’n mens dit dalk eet?” Katrien kyk verleë na die blomme in haar hand en wil dit dan weggooi, maar Dewald keer vinnig. Sy hand sluit ’n oomblik lank warm oor hare.
“Ek maak net ’n grappie. Hou dit. Dalk laat dit jou beter voel.” Verleë kyk sy na hom. Sy wens sy kon meer weet van hom en hom beter verstaan. Sy wens sy kon weet wat in sy kop aangaan. Sy wil weet of hierdie woorde eg en opreg is en of dit alles deel van ’n uitgewerkte plan is.
By die kamp word die blomme in een van die koffiebekers vol water gesit en dan plaas sy dit in die middel van die lendelam tafel.
Die sampioene is ’n welkome verandering ná die wildsvleis en pap en Katrien eet soos ’n mens wat weke laas kos gehad het.
Al Katrien se vriendelikheid en onderlangse blikke help egter nie veel nie. Slaaptyd maak Dewald haar sonder verskoning weer met die tou aan sy voet vas.
Vanaand kan sy egter nie weer so maklik aan die slaap raak nie, ten spyte daarvan dat die sterre vrolik flonker en die koel nagluggie lawend is. Soos gisteraand het hulle die velle na buite gedra en ’n paar tree van mekaar af elkeen ’n bed opgemaak, maar sy is vanaand pynlik bewus van Dewald wat hier so naby haar slaap. Miskien is dit omdat sy effe gerus geraak het deur die dag. Hy het die afgelope twee dae nog nie een keer geprobeer om haar leed aan te doen of selfs net aan haar te raak nie. Iets is egter vir haar nie pluis nie en sy kan net nie haar vinger daarop lê nie.
Sy draai op haar rug en vou haar arms onder haar kop in. “Hoekom slaap jy nie?”
“Ek is bang!”
“Vir my?”
“Ja.”
Hy sit skielik regop en beweeg sy lang lyf vorentoe sodat hy langs haar is. “Jy moenie vir my bang wees nie. Ek het belowe om jou veilig by jou ouma en oupa te besorg.”
“Hoe kan ek jou tog glo?”
“Jy móét my glo, Katrien! Dit is die enigste manier waarop jy lewend hier gaan uitkom.”
Katrien sug en Dewald hoor die verlatenheid in haar stem. “Wat sal dit help om lewend hier uit te kom? Wie dink jy sal ooit weer in my belangstel? Ek wat ’n week of dalk langer saam met ’n rower en veedief in die berge moes deurbring.”
“Toemaar, ek sal met jou trou.”
“Ag, moenie geklik wees nie. As ek lewend hier uitkom, dan sit jy in die tronk.”
“Ja, dit is ook weer waar.” Dewald kruip stil terug na sy eie lêplekkie.
Lank lê en worstel elkeen met sy eie gedagtes. “Dewald . . .”
“Ja, liefie?”
“Ag, moet tog nie so eenvoudig wees nie.” Sy hoor hom saggies in die donker lag en vererg bly sy stil.
“Wat is dit, Katrien?”
“My ouma en oupa . . . Sal . . . jy net vir hulle laat weet wat met my gebeur het? Ek bedoel . . . hulle is al oud en dit is beter dat hulle weet ek is dood as dat hulle die res van hul lewe bly hoop dat ek tog maar eendag sal terugkom.”
“Dit sal mos nie nodig wees nie, liefie. Ek het mos belowe om jou lewend hier uit te kry.”
“Ek twyfel baie sterk daaraan. Julle gee tog nie om wat met iemand anders gebeur nie. Vir julle is dit sommer net ’n avontuur, want die geld wat julle hieruit maak, mors julle seker op die eerste dorp op vroue en drank uit.”
“Darem nie hierdie keer nie, liefie. Ek hou niks van drank nie en ek het mos hierdie keer ’n vrou.”
Verskrik bly Katrien stil. Het sy nie dalk nou slapende honde wakker gemaak nie? “Jy . . . e . . .” Katrien huiwer ongemaklik.
“Ja?”
“Jy is anders as wat ek my voorgestel het ’n rower en dief behoort te wees.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ag, ek weet nie. Vergeet dit.”
“Jy bedoel ek kyk so mooi na jou? Ek rand jou nie aan en sleep jou nie aan jou hare rond nie?”
“Ja, dit is miskien wat ek bedoel.”
“Ek belowe ek sal jou ongeskonde hier uitkry, maar jy wil my nie vertrou nie.”
“Dewald, sal jy my nie asseblief help om my beeste terug te kry nie?”
“O, jou Delila! Nee, my liefie, ek kan regtig nie.”
Die sug wat saggies uit haar borskas ontsnap, klink so pateties dat Dewald homself moet inhou om nie op te spring en haar styf teen hom vas te druk nie.
Dit is lank stil en Dewald het gedink sy slaap al toe die stemmetjie weer bewerig uit die donker kom. “Dewald . . . ons het nie meer geld nie. Die beeste is ons enigste hoop. Daar het nou bek-en-klouseer in Ovamboland uitgebreek. Dit is hoekom ek hierdie tog alleen aangepak het voordat dit daar na ons toe versprei. Oupa is oud . . . Ons kan nie weer van voor af begin nie.”
Sy stem is dik en ongewoon hees toe hy haar uiteindelik antwoord: “Jy moet nou slaap. Dit is al laat.”
Met ’n bang gevoel kruip Katrien in ’n stywe bondeltjie. Sy het nog heeldag haar hoop daarop gebou dat hy dalk so ’n bietjie verlief op haar sou raak en dan bereid sou wees om haar te help. Nou lyk dit asof hierdie hoop van haar ook maar net ’n neweldroom was.
Katrien weet nie wanneer sy aan die slaap geraak het nie, maar stadig dring die vrolike getjilp van die voëltjies deur die slaapnewels.