Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
egter haar oë en maak haar stewig vas. “Ek sal jou aan die boom ook moet vasmaak, want ek vat nie die perde saam nie.”

      Sy staan op soos ’n skaap wat ter slagting gelei word en stap nader aan die stam van die boom.

      Dewald buk skielik af en tel haar in sy arms op. Vrees laat haar ’n oomblik lam voel sodat sy net stil na hom kan lê en staar. Dit is eers toe Dewald in beweging kom dat die besef tot haar deurdring wat hy wil doen en sy begin wild skop en met haar liggaam wriemel.

      “Ek dink jy moet liewer in die hut gaan wag. Dit is koeler daar.” Hy wag nie op bevestiging van haar nie, maar stap by die hut in en sit haar op die bed neer. Stewig bind hy haar hande en voete aan die bed vas. Sy beweeg effens. As sy stil lê, behoort sy heeltemal gerieflik te wees, besef sy gou.

      “O, jou nare, ongevoelige bees! Het . . . julle geen respek vir iemand anders nie? Wat wil jy met my maak? Skiet my en kry klaar!” Haar stem eindig in ’n snik en sy draai haar kop vinnig weg.

      Dewald moet hard sluk aan die knop in sy keel. Hy draai dus vinnig om en stap uit.

      Katrien hoor sy voetstappe wegsterf en begin wild aan die toue ruk en pluk. Sy besef uiteindelik die nutteloosheid daarvan en haar liggaam raak stil terwyl warm trane oor haar stowwerige wange loop. Die rustigheid in die hut en die heerlike koelte druk saggies haar ooglede toe en sy raak rustig aan die slaap.

      Katrien keer stadig tot die werklikheid terug. Hier tussen die berge word dit vroeg donker en sy sukkel om haar tyds­besef reg te kry toe sy wakker is. Sy beur orent, maar dan rem die toue aan haar hande en voete en sy sak weer magteloos terug. Haar hart gaan wild en benoud aan die klop toe sy Dewald se groot gestalte in die deur van die hut opmerk. Sy wonder hoe lank hy al daar staan. Eers toe hy beweeg, sien sy dat dit sy liggaam is wat die hut so verdonker het en dat dit nie regtig al so donker is buite nie.

      “Ek het darem ’n springbok gekry. Ek het dit al klaar afgeslag. Kom maak asseblief vir ons die lewer gaar, toe!” Sy stem is sag en vriendelik en dit stel Katrien nog meer op haar hoede. Dit word donker; hy sal seker nou met sy streke begin.

      Hy maak eers haar voete los en buig dan nader om haar hande ook los te maak. Hy is so naby aan haar dat sy die stof en sweet aan sy liggaam kan ruik.

      Sy vryf haar seer polse en swaai dan haar bene van die bed af. Dewald staan opsy sodat sy kan verbykom en sy stap met ’n stywe rug by hom verby, sonder om weer na hom te kyk.

      Die springbok hang reeds afgeslag aan die boom en eenkant in ’n bord is die lewer en vetdermpie neergesit.

      Kort voor lank lê die lewer sissend op die rooster en roosterkoeke is besig om goudbruin te bak. Sy het ’n bietjie rysmiddel in die kardoesie gekry en is verbaas dat dit nog goed genoeg is.

      Katrien sien Dewald se oë hongerig op die kos gerig en sy snork verontwaardig. Hy is menslik genoeg om honger te voel, maar nie menslik genoeg om ander mense se goed uit te los nie.

      “Wat is jou naam?”

      Katrien kyk gesteurd na hom. “Ek dink nie dit het iets met jou te doen nie.”

      Dewald grinnik en vee vinnig oor sy mond sodat sy nie die glimlag moet sien nie. Die klein skepseltjie is darem verskriklik astrant en nie juis bang nie. “Ek kan tog nie vir jou ‘juffrou’ sê nie.”

      “Ja, jy kan! Ek is nie jou soort nie. Ek steel nie ou mense en weeskinders se goed, hul laaste hoop, nie.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Moet net nie vir my sê julle is so edel dat julle net ons beeste vir ons wil aanjaag Windhoek toe nie.” Katrien se stem drup van sarkasme.

      “Ek bedoel van ou mense en weeskinders.”

      “Wel, ek is ’n weeskind. My ouers is dood toe ek twee jaar oud was en ek bly by my ouma en oupa. Hulle is al baie oud en hierdie beeste was ons laaste hoop. Ons het baie teëspoed gehad en sonder die geld vir hierdie beeste sal ons die plaas moet verkoop.” Katrien sug en haar stem is bitter en ongelukkig. “Ek sien nie kans om die nuus vir my oupa te gaan vertel nie, daarom verkies ek dat julle my liewer doodskiet.” Haar oë is ysig toe sy hom vas aankyk.“Ek waarsku jou, ek sal elke geleentheid wat ek kry, aangryp om te probeer wegkom. Jy sal later verplig wees om my van kant te maak.”

      Dewald staan met een lang tree langs haar. “Luister, jy gaan dit nie vir my moeilik maak nie! Ek belowe jou, jy sal veilig hier uitkom. Vertrou my net!”

      “Vertrou!” Katrien gil die woord uit. “Vir jou? Moenie dat ek lag nie!”

      In doodse stilte skep Katrien vir hom kos in ’n bord en gee dit vir hom aan sonder om na hom te kyk.

      “Dankie!” Sy kyk verbaas op. “Jy het nog nie vir my gesê wat jou naam is nie.”

      “Ek het! Ek het vir jou gesê dit traak jou nie!”

      “Wel, dan sal ek jou maar ‘Liefie’ moet noem.”

      “My naam is Katrien.”

      “O!” Dewald glimlag breed. “Ek wonder of ek nie meer van ‘Liefie’ hou nie.”

      “O, jou haatlike ding!”

      Katrien staan op toe sy klaar geëet het en mik om fontein toe te stap.

      “Waarheen gaan jy?”

      “Meneer, ek is vandag nog heeldag vasgemaak. Dink jy nie ek mag myself vyf minute verskoon nie?”

      “Ongelukkig vertrou ek jou nie vyf minute alleen nie. Netnou verdrink jy jouself in die fontein en die ander sal my nooit vergewe as ek jou iets laat oorkom nie.”

      “Wel, dit is jou probleem.” Katrien kyk nie om nie, maar stap vinnig met die toegegroeide voetpaadjie langs fontein toe.

      Sy het skaars tien tree gevorder toe sluit Dewald se groot hand stewig om haar boarm.

      “Ek gaan saam.”

      “My liewe aarde, word dít my nie eens gegun nie? Menslik gesproke, meneer, sal dit nie moontlik wees om ’n week lank uit te hou nie.”

      “Goed, jy kan gaan, maar trek jou skoene uit.”

      “My skoene?”

      “Ja, jou skoene! Hier is ’n voetpaadjie tot daar onder en jy as gebore Suidwester sal tog nie mal genoeg wees om sonder skoene te probeer vlug nie.”

      “O! Jou . . .”

      “Ag, noem my sommer Dewald. Dewald Swart. Aangename kennis.”

      “O!” Katrien plons op die grond neer en ruk haar afgeleefde bruin sandale van haar voete af. Woedend gooi sy dit voor hom op die vloer neer. Versigtig vir dorings stap sy in die voetpaadjie terwyl sy oor haar skouers kners: “Eenvoudige ding!”

      Tien minute later kom sy stilstaan-stilstaan met die voetpaadjie langs terug. Sy het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om haar gesig en arms, asook haar voete, in die lekker koel fonteinwater te was, maar die dorings verrinneweer haar voete en sy stap woedend by Dewald verby sonder om in sy rigting te kyk. Sy krap vinnig in haar saalsak vir haar handdoek om haar gesig en arms mee af te droog.

      Buitekant tel sy haar sandale op om dit weer aan te trek sonder om in Dewald se rigting te kyk.

      “Wel, ek kan jou nie alleen hier los nie, en dit sal ook nie help ek vat jou skoene saam nie, dan spring jy dalk op die perd. Ek is jammer, maar ek sal jou weer moet vasbind, want ek wil gaan bad.” Katrien wens sý kan gaan bad. Sy sal dit egter nooit kan waag met hierdie sadis in die omtrek nie.

      “Jammer, liefie, ek kan nie anders nie, tensy jy wil saamkom.”

      “Eenvoudige ding!”

      “Haai! Dit is nie my naam nie. My naam is Dewald.” Woedend gluur Katrien hom net aan. “Kom! Vasmaaktyd!” Hy staan laggend nader en hou die tou na haar toe uit, maar sy klap dit woedend voor haar weg. “Ag, nee! Hoekom nou so kwaai?”

      “Los my uit! Ek kan nêrens heen gaan in die donker nie.”


Скачать книгу