Flenters. Paulina Carolina du Plessis
Jy bid en vra God om jou wysheid, insig, kennis, leiding, krag, baie geduld en hope genade direk uit die hemel te stuur. Jy stel Hom aan as die bestuurder van die projek en jy loop agter Hom aan. Al gaan dit soms rof en stamp jy jou tone teen die harde klippe van die werklikheid, en al val jy soms jou knieë en hande nerfaf, moet jy vashou aan Hom. Loop tree vir tree agter Hom aan, want Hy ken die pad.
Daar woon ses en dertig mense (meestal kinders) in ’n drieslaapkamerhuis. Party woon in die garage en ander in ’n geroeste woonwa en flentertent. Alles is vervalle. Tydens my eerste besoek kyk ek om my rond en wonder hoekom hulle nie ten minste die mure kan was nie. Dit is baie vuil; seep en water sal die ding doen. Maar ek besef dit gaan so sleg, seep is ’n luuksheid en dus nêrens op ’n inkopielys nie. Mieliemeel staan boaan die lys. Eintlik is daar nie ’n lys nie, want daar is nie veel om te onthou wanneer inkopies gedoen word nie.
Die kindertjies loer grootoog na die vreemde vrou in die sitkamer. Ek groet vriendelik, maar daar is geen reaksie nie. Een of twee waag dit om nader te sluip en styf teenaan die pleegsorgmamma te kom staan. “Wat het julle nodig?” vra ek onbeholpe en dink terselfdertyd dis nou ’n stupid vraag. Hulle het alles nodig!
Toe ek terugry, wens ek ek was baie, baie ryk. Dan sou ek sommer by die eerste winkel gestop en voorrade gekoop het. Handy Andy is steeds boaan my lysie, want die plek moet skoon kom. Maar ek is nie baie, baie ryk nie, net beskikbaar om te wys Jesus gee regtig om.
Los jou tjekboek en gaan gee net ’n bietjie om.
Yahweh-Yireh
Behoorlike projekbeplanning en -bestuur is so belangrik. Anders begin dinge verkeerd loop en neem dit baie tyd en wysheid om alles weer op dreef te kry, veral in die geval van ’n projek wat lankal begin skeef loop het en nie deurlopend geëvalueer is nie. Dit is in sulke tye dat wonderwerke gebeur.
Waar begin ’n mens wanneer jy ’n pleegsorghuisprojek erf waar net mooi niks in plek is nie? Daar is net ’n klomp kindertjies in nood (heeltemal te veel vir ’n drieslaapkamerhuis). Daar was amper nie eens tyd om ’n behoorlike evaluering van die projek te doen nie, want alles was die hoofprioriteit.
Die eerste groot uitdaging was om vir die kinders kos te kry. Een e-pos later en die kos begin van alle oorde af inkom.
Toe besluit die verhuurder van die huis dat die huismamma ’n jaarkontrak moet onderteken en ’n astronomiese bedrag huur moet betaal vir dié krot van ’n plek. Here, stuur asseblief vir ons ’n prokureur om die wetlike goed te hanteer, want hier kom moeilikheid, bid ek terwyl ons die huis besoek.
Die volgende oomblik hoor ek een van die mense wat daar sit, is ’n prokureur. Die verhuurder laat weet ons toe dat hy nie met “skelms” wil werk nie en gee per SMS kennis dat hulle onmiddellik moet uittrek, soos in dadelik. Waarheen trek ’n mens met twintig kinders en versorgers sonder ’n ander blyplek en geld? Ons het nie geweet nie, maar die Here het alles fyn beplan. Hy het ons volgende adres geken.
Binne vier en twintig uur het ’n donateur vir ons ’n enorme huis gratis beskikbaar gestel, ’n huis met baie kamers. Ek onthou Jesus se woorde aan sy dissipels toe hy vir hulle gesê het hulle moenie bekommerd wees nie, want daar is baie kamers in sy Vader se huis (vgl Joh 14:2).
Binne vier dae het ons gepak en getrek. Wat ’n ervaring! Soveel mense het opgedaag met bakkies, sleepwaens en motors om alles op te laai dat ons ’n verkeersknoop in die straat veroorsaak het. Ek het net besef hoe wonderlik die Here is en hoe sy kinders net inklim en help. Mense wil so graag help; hulle weet net nie altyd waar en hoe nie.
Vir die eerste keer daardie aand kon die kinders in hul eie beddens slaap en nie drie-drie op ’n enkelbed en vyf wat dwars lê op ’n dubbelbedmatras op die vloer nie. Daar was genoeg kos, baie klere en alles wat ons nodig gehad het. Dit was nogal ’n belewenis om te sien hoe die kinders die eerste week of wat in en om die huis rondhardloop. Die ruimte was oorweldigend.
Ek glo met alles in my dat die Here gehoorsaamheid en eerlikheid seën. Daar was heelwat ongerymdhede in die projek, maar Hy het alles kom skoonmaak en oormaak en die vensters van die hemel bokant die huis oopgetrek.
Jesus het dit bedoel toe Hy gesê het: “Toe Ek dors was, toe Ek honger was, nie klere gehad het om aan te trek nie, siek was, in die gevangenis was … het julle vir my … of het julle nie vir My …” (Matt 25).
Glo dit maar: God sal voorsien, want Hy sien vooruit.
Deel brood en Brood uit
Jesus het gesê: “Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen. Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê” (Joh 15:16-17).
Dit is nou vier jaar sedert ek by die pleegsorghuis betrokke geraak het en ek kan getuig van die dramatiese verskil wat daar in die kinders is. Die hele atmosfeer in die huis het verander. Daar is werklik liefde, hoop en vreugde. Ek skryf dit toe aan die feit dat almal wat betrokke is, verstaan wat dit beteken om op verhoudingsvlak betrokke te raak by ’n projek.
Die tyd van tref-en-trap-projekte is verby. Langtermynverhoudings is die geheim vir sukses en volhoubaarheid, nie net groot tjeks nie. Dis baie makliker om goed en geld te gee as om regtig fisiek (jouself en jou tyd) te gee. Moet asseblief nie net kos uitdeel nie; deel ook die brood om van te lewe en Lewensbrood uit. Selfs Jesus het gesê ’n mens kan nie van brood alleen lewe nie (vgl Matt 4:4). Dit beteken egter nie dat ons almal moet evangeliseer en daar eindig dit nie. Dit beteken om op elke vlak van die lewe letterlik saam met iemand ’n pad te stap, met ander woorde, om saam met iemand te journey en sy storie deel van God se storie te maak.
Ons grootste armoede en honger is nie kos (brood) nie. Moeder Teresa het gesê: “Being unwanted, unloved, uncared for, forgotten by everybody, I think that is a much greater hunger, a much greater poverty than the person who has nothing to eat.”
Wanneer jy verstaan wat dit beteken om op verhoudingsvlak by mense betrokke te raak, sal jy ook ervaar wat dit beteken om ’n verskil te maak en ’n doel te hê om na te streef. Paulus het nie verniet gesê nie: “Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef ” (Ef 5:17).
Maak jy ’n permanente verskil daar waar jy besig is?
Operasie Tande
Ek is net elke keer opnuut verstom oor wat die Here by ons pleegsorghuis doen. Ek gesels met baie mense oor hul projekte en bedieninge en ek kan nie beskryf hoe swaar party van hulle kry nie. Dan buig ek net voor God en sê vir Hom so baie, baie dankie dat Hy ons huis so seën.
Een van die fokusareas van ons huis is om te voldoen aan die kinders se fisieke behoeftes. Dit sluit mediese sorg in. Die kinders se tande is in ’n haglike toestand. Uit die aard van hul agtergrond was nog nie een van hulle al ooit by ’n tandarts nie. Dis ’n luuksheid, never mind ’n vreesaanjaende uitstappie. Toe gebeur die wonderlikste ding: ’n Tandarts bied haar dienste gratis aan en ons neem die kinders die een ná die ander na haar toe. Sjoe, die Here is so oneindig goed vir ons!
Lizzy en Lensie (hulle was in daardie stadium albei vyf jaar oud) was ook daar. Hul tande is nog nie “getlek” nie, soos Lensie sal sê; die tandarts maak hulle net eers gewoond aan haar. Sy tel elke keer net hul tandjies en sit salfies aan. Dit is die wonderlikste vrou – ek is sommer lus om ook na haar toe te gaan. Daar is beslis engele onder ons.
Die tande waai andersins letterlik elke keer wanneer ons tandarts toe gaan. Nou die dag was die drie musketiers (dis nou die drie kleintjies) saam met my daar en so amper-amper het die hare ook gewaai. Ek het amper een van hulle daar gelos wat in die parkeerterrein besig was om ’n vloermoer (die mooi woord vir ’n tantrum) te gooi … Haai nee, dis ’n arme weeskindjie, dink ek skuldig, maar ’n vrek stout een!
Die kleintjies geniet die besoeke aan die tandarts. Dit verskaf hulle groot vreugde wanneer ek hulle neem. Ons neem twee van hulle op ’n keer.
So