Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux


Скачать книгу
nog steeds nie reg nie.

      “Hoekom nie?” vra sy, die trane opgedroog.

      “Ek gaan dit nie antwoord nie,” sê hy. “Maak nie saak wat ek sê nie, jy gaan dit verdraai om soos ’n belediging te klink.” Hy tel haar hand op. “So kom ons vergeet van alles. Ek sal net suutjies hier sit en jou hand vashou.”

      “Mens het nie ervaring nodig daarvoor nie,” stem sy saam.

      Hy lig een vinger en vee oor haar lippe. “Dink jy jou gebrek aan ervaring is ’n probleem?” vra hy sag.

      Sy kyk net vinnig op na hom en weer weg. Vir die volgende vyftien minute of so hou hy hom besig met – vir hom – ’n unieke proses: hy leer haar soen. Toe sy uiteindelik wegbeur van hom is haar hare deurmekaar en haar oë verward.

      “Therese,” sê hy en kyk haar vraend aan, want daar is iets in haar oë wat hom ontstel. ’n Verslaentheid, ’n emosie waaraan hy nie ’n naam kan gee nie. “Wat is dit? Weet jy dat ek . . . totaal versot geraak het op jou? Ek wil met jou trou.”

      “Nee!” kryt sy en stryk haar hare plat. “Nee, dit moes nie só ver gegaan het nie. Moenie so iets sê nie. Ek wou jou net ’n les leer.”

      Hoofstuk 13

      Hy sit terug asof sy hom geklap het. “Jy wou my net ’n les leer,” herhaal hy stadig. “Wat sê jy nou vir my?”

      Sy trek haar rok reg, druk die voorkant plat soos sy destyds met die kragie van die donkerblou rok gedoen het. “Ek wou kyk of ek dit ook kan regkry,” sê sy in ’n plat stem. “En ek het. Jy’t my by . . . e . . . jou laat slaap.”

      Hy spring op, sy hande diep in sy sakke, ’n afskuwelike, koue krieweling teen sy rug af. “Doelbewus?” vra hy in ’n koue stem. “Wat was dit – nog ’n weddenskap? Seker met Sandra.”

      Sy skud haar kop. “Sal jy my nou huis toe neem? Dis laat. Ek is vaak.”

      “Jou elektriese kombersie wag tog nie,” sê hy snydend. “Dis nie meer só koud nie. Of was dít ook net ’n truuk? Ja, dit was seker. Jy wou kyk of ek sal kompeteer met ’n elektriese kombers. Is dit wat dit was?”

      “Nee, ek hou van warm kombersies.”

      Hy gaan sit in die stoel oorkant haar. “Miskien moet jy van voor af begin.”

      “Ek wil liewers huis toe gaan,” sê sy koppig.

      “Nie voor jy vertel het nie, Therese. Met wie was die weddenskap?”

      “Met myself, behalwe dat dit nie ’n weddenskap was nie. Dit het begin toe ek jou ma . . . toe ek . . .”

      “My ma?” vra hy ongelowig. “Waar kom my ma in die prentjie in? Het jy en sy saamgesweer? Ek was onder die indruk julle het mekaar op die plaas eers ontmoet.”

      Sy skud haar kop. “Nee, sy was hier. Het by jou gekuier en jy’t vir Sandra gevra om haar vir middagete te neem. Sandra was besig en jy’t haar net gevra om te help omdat jy nog nie ’n nuwe meisie gehad het nie. Was nie lank ná ek begin werk het nie.”

      “Dit moet twee jaar gelede gewees het!”

      “Ja,” sug sy. “So iets.”

      “En toe?” hits hy haar aan. “Moenie skaam wees nie, ons weet nou dit was alles aangeplak, jy kan net sowel die waarheid praat.”

      “Ons het net gaan eet. Gesels.” Sy kyk op na hom. “Ek het dadelik van haar gehou.”

      “Dis irrelevant. Was dit sy wat jou gevra het om haar stoute seun ’n les te leer?”

      “Natuurlik nie,” sê sy gegrief. “Sy sal nie so iets doen nie, sy’s mos lief vir jou.”

      “Ek weet. Ek het nog altyd gedink ek kan op haar staatmaak, sy speel nie speletjies nie. Het nie dubbele agendas nie.”

      “Sy’t oor jou gepraat, al die meisies. Gesê jou leefwyse bekommer haar.”

      “Wat jy toe indrink en wat jou toe laat besluit vir hierdie een sal ek ’n les leer?”

      “Nee. Ek het eers die aand by Petro – toe jy en Jenny daar sit en gesels . . .” Sy lyk verontwaardig. “Ek kon nie help om te hoor nie! Toe besef ek jy’s jou ma se seun en Sandra se kêrel.”

      “Ek was nog altyd my ma se seun en lankal nie meer Sandra se kêrel nie, maar gaan voort. Toe dring jy jou aan my op, want al het ek nie jou naam geken nie, het jy myne geken.”

      Sy skud haar kop. “Nee, ek’s nie goed met name onthou nie.”

      “Asseblief,” sê hy, spring op en begin heen en weer loop. “Jy het presies geweet wie ek is en wat ek doen. Gemaak asof jy nie weet nie, knaend gevra of ek ’n messelaar is.”

      “Jy bou huise,” sê sy gekrenk. “As jy hulle kan teken, kan jy darem seker ook twee bakstene opmekaar messel. En as ek geweet het, was dit vir ’n . . . vir ’n ander rede.”

      “Laat ek raai.” Sy stem is ysig en aanvallend. “Jy het geluister na wat my ma gesê het. En ongetwyfeld na wat Sandra gesê het. Die meisies is almal mooi en sexy en voor op die wa. Hoe kan jý my aandag trek? Ek weet, kom ons probeer onskuld. Ja, hy is al verveeld met die poppies, kom ons probeer hom wen met onskuld en eksentrisiteit. Hy gaan net belangstel as ons hom iets kan bied wat die ander nie gehad het nie. Ons tree dus so eksentriek op as wat ons kan, dit mag hom frustreer, maar hy kan onmoontlik verveeld raak. Ons trek anders aan, ons kam ons hare anders, ons – aarde, ja, kom ons gooi sommer ’n vrees vir spinnekoppe of luiperds ook in. Ja, dit sal werk, hy is tog ’n galante man, hoop ons.”

      “Dis nie waar nie,” sê sy.

      “Natuurlik is dit. Was die slaap in my arms die finale triomf of was dit die soen? Is jy teleurgesteld dat ek té galant was? Wou jy gehad het ek moet jou daar in die rondawel oorrompel? Sou dit die triomf wees wat jy vir Sandra kan vertel? Jy, die gewone bibliotekaresse, het die groot minnaar aan jou voete gehad!”

      “Nee,” sê sy weer.

      “Dis nie nodig om langer hierdie rol te speel nie,” sê hy bitsig en klap sy hand teen sy voorkop. “Hoe kan ek so dom wees? Dit was die huweliksaansoek. Vanselfsprekend, want kyk, dít is die finale triomf. Daarvan kan jy seker wees. Daar mag al baie meisies gewees het, maar ek het nog nóóit vir enigiemand gevra om met my te trou nie. Jy kan nou hier uitloop en vir almal sê hulle het jou nie geglo nie, maar ek het jou gevra om met my te trou.” Hy bestudeer haar lyf. “Dra jy ’n versteekte mikrofoon? Wie gaan jou glo sonder bewyse?”

      “Ek dra nie ’n mikrofoon nie!” sê sy onstuimig. “En ek wil huis toe gaan. As jy my nie wil neem nie, sal ek ’n taxi bel.”

      “’n Taxi? Kan jy nou skielik ’n taxi bel? Hoekom kon jy dit nie daardie aand doen nie? Tsk,” klik hy sy tong. “Ek bly maar stiksienig, nè? Jy moes hier bly. Op my bank slaap. Hier wees as ek wakker word. Eksentrieke gedrag, soos ek gesê het. Hoe lank het dit jou gevat om op hierdie spesifieke werkwyse te besluit – twee jaar? Ek kan dit sien. Mooi bene alleen gaan nie my aandag hou nie, ’n mooi lyf ook nie. Al die meisies was mooi gebou.”

      “Ek sou nie so trots wees as ek jy was nie,” sê sy. “Jy is die een wat hulle as kommoditeite gesien het.”

      “O, jy was briljant. En wat, sou ek graag wou weet, het jou die reg gegee om enigsins in te tree? Wat het my leefwyse met jou te doen? My ma wil al lankal hê ek moet gevestig raak en met een of ander standvastige meisiemens trou. Wat het jou laat besluit jy is die een om my ’n les te leer?”

      Sy kyk af na haar voete. “Ek wou sien of ek dit kan doen.”

      Hy staar na haar. “En jy het,” sê hy asof hy dit self nie kan glo nie. “Jy het.”

      Sy kyk vinnig op. “Theo . . .”

      Hy hou sy hand afwerend voor hom. “Ek wil regtig nie hoor nie. Ek het ten minste aan die begin .


Скачать книгу